2020-09-13
Spreuke 22:6 NLV
Die Bybel sê: ‘Leer ‘n jongmens om die regte pad te kies, en wanneer hy eendag oud is, sal hy nie daarvan afwyk nie.’ Die waarheid is dat terwyl sekere universele beginsels van toepassing op alle kinders is, geen twee kinders dieselfde is nie. Dit sal ‘n fout wees om hulle te behandel asof hulle dieselfde is. Hier is twee van die grootste foute wat jy as ouer kan maak: 1) Probeer om jou kinders in jou ewebeeld na te maak. Net omdat jy ‘n goeie rugbyspeler op skool was, beteken nie dat jou seun in jou voetspore sal wil volg nie. Net omdat jy onderskeidings op skool behaal het, beteken nie dat jou kinders daartoe in staat is nie. Jy moet nooit luiheid aanvaar of beloon nie, maar jy moet aanvaar dat nie alle kinders ewe atleties of intellektueel begaafd is nie. 2) Probeer om jou kinders in dit wat jy wil hê hulle moet wees, te vorm. Moenie jou lewe deur jou kinders probeer herleef nie. Jy het jou kans gehad en net omdat jy nie ‘n professionele atleet kon word nie, beteken nie dat jy jou seun of dogter in daardie rigting moet forseer nie. Die Bybel sê dat jy jou kind moet leer om die regte pad te kies. Daardie pad is nie noodwendig die pad wat jy graag wil hê hulle moet volg nie. Jy moet daarna strewe om jou kinders ‘n gesonde selfbeeld te gee deur hulle te leer om te weet wie hulle is, van hulself te hou en te wees wie hulle is.
Sielskos: Luk 10:38-42; Joh 11:1-44; Joh 12:1-8
2020-09-12
Spreuke 29:17 NLV
Jare gelede het sosioloë en kindersielkundiges ‘n interessante ontdekking gemaak. Kontemporêre denkwyses het aangeneem dat kinders in hulle bewegings beperk sou voel as hulle speelgronde omhein was. Hulle het dus, gebaseer op daardie teorie, die heinings verwyder sodat kinders nie ingehok sou voel nie. Navorsers het egter gevind dat kinders toe meer geïnhibeerd in hulle aktiwiteite geword het. Hulle was geneig om in die middel van die speelgrond saam te drom en het tekens van onsekerheid getoon. Interessant genoeg het die kinders weer met groot entoesiasme en vryheid gespeel toe hulle weer die heinings opgerig het. Watter les kan ons hieruit leer? Ons almal het grense nodig – iets wat die perke van veiligheid en sekuriteit definieer. Die kundiges het ‘n teorie gehad dat grense kreatiwiteit beperk, maar die kinders op die speelgrond het bewys dat ons ‘n duidelik begrip van dit wat veilig en aanvaarbaar is, nodig het, sodat vindingrykheid kan floreer. Wanneer riglyne duidelik gekommunikeer word en wanneer die nagevolge om dit nie na te kom nie, verstaan word, sal jou kinders floreer en jy as ouer sal beter funksioneer. Daar is ‘n staaltjie van ‘n pa wat vir sy sestien-jarige seun sy eerste kar gegee het. Toe hy die sleutels aan sy seun oorhanding, het hy gesê: ‘Hierdie is ‘n towerkar, seun.’ ‘Regtig?’ het die seun gevra. ‘Ja,’ het sy pa geantwoord. ‘Een verkeersboete – en hy verdwyn!’ Die eerste kar wat jy vir jou kind koop, behoort ook ‘n ‘towerkar’ te wees. God het die reëls vir sukses in die lewe neergelê en Hy beloon diegene wat dit eer. In die woorde van die Skrif: ‘Hou hierdie wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees’ (Josua 1:8 NLV).
Sielskos: Eseg 31-33; Luk 21:25-38; Ps 78:40-55; Spr 20:22-24
2020-09-11
Spreuke 23:13 NLV
Wanneer dit by dissipline kom, moet jou prioriteit nooit jou eie gemak wees nie, maar die siel – die gedagtes, wil en emosies – van jou kind! Dissipline, of die gebrek daaraan, kan ‘n goeie of slegte kettingreaksie aan die gang sit. As jou kinders nie outoriteit in die huis respekteer nie, sal hulle dit nie in die skool, die regering, die kerk of selfs uiteindelik in die hemel, respekteer nie. Dis net ‘n klein stappie verder om teen die ouers wat God hulle gegee het te rebelleer, tot om teen die God wat hulle ouers aan hulle gegee het, te rebelleer. Dissipline moet gouer, eerder as later, plaasvind. Wanneer ‘n kind oud genoeg is om te verstaan wat reg is, maar kies om te doen wat verkeerd is, is daardie kind gereed om gedissiplineer te word. Die Bybel spesifiseer nie ‘n ouderdomsbeperking in die definisie van die woord ‘kind’ nie. Net omdat jou kind oud genoeg is om te bestuur, te skeer en op afsprake te gaan, beteken nie dat hulle nie meer gekorrigeer kan word nie. Hulle mag dalk te oud vir ‘n piets op die boud wees, maar daar is ander, meer effektiewe maniere om ‘n tiener te dissiplineer. As jy Spreuke versigtig lees, sal jy agterkom dat Salomo met ‘n seun praat wat oud genoeg was om by ‘n bende aan te sluit, deur seksuele sonde versoek te word, prostitute te besoek, skuld te maak en dronk te word. Hy het nie noodwendig van graadeentjies gepraat nie. Solank as wat jou kinders onder jou dak woon, val hulle onder jou jurisduksie en jy sal aan God verslag moet doen hoe jy jou outoriteit gebruik het of nie gebruik het nie.
Sielskos: Eseg 27:25-30:26; Luk 21:12-24; Ps 78:32-39; Spr 20:20-21
2020-09-10
Lukas 9:23 NLV
Hier is drie Bybelse voorbeelde van radikale toewyding: 1) Toewyding by die werk. In die verlede het werkgewers hulle werknemers waardeer en werknemers het hulle werkgewers en werke waardeer. Vandag se werkplek is dikwels vyandig, met werknemers wat hulle base kritiseer en die minimum werk doen, terwyl baie base toenemend veeleisend word en hulle werknemers as vanselfsprekend aanvaar. Dis nie God se manier nie. Sy manier vereis wedersydse toewyding tussen die bestuur en die werksmag. Paulus sê: ‘…julle [moet] na hierdie base van julle luister. Respekteer hulle en behandel hulle met ontsag. Wat julle vir hulle doen, moet julle eerlik en opreg doen, asof julle dit vir Christus doen. Moenie net hard werk as jou baas vir jou kyk om in sy goeie boekies te kom nie. Werk liewer hard omdat julle aan Christus behoort en doen wat God van julle vra so goed julle kan. Julle werk mos nie eintlik vir mense nie, maar vir die Here…’ (Efesiërs 6:5-7 DB). 2) Toewyding aan die kerk. Baie Christene neem ‘n kafeteria-styl benadering teenoor die kerk aan. Ons kies waarvan ons hou en los dit waarvan ons nie hou nie. Lidmaatskap in God se kerk vereis egter ‘n verbondsverhouding met ‘n liggaam van gelowiges wat vir mekaar omgee, mekaar koester, vir mekaar bid en saam die grootste taak vervul (sien 1 Korintiërs 12:12-31). 3) Toewyding aan Christus. Christus wil nie lou volgelinge hê nie (sien Openbaring 3:16). Hy het vir die skare gesê: ‘…As enigeen van julle my dissipel wil word, moet jy jou selfsugtige ambisie aflê, elke dag jou kruis opneem en My volg.’ Dit beteken dat jy nie meer jou eie wense en wil volg nie, maar Christus se wense en sy wil volg. Dit is radikale toewyding en jy is daartoe geroep.
Sielskos: Eseg 24:1-27:24; Luk 21:1-11; Ps 78:17-31; Spr 20:15-19
2020-09-09
Galasiërs 2:19-20 NLV
Baie mense wil deesdae soveel as wat hulle kan vir hulself kry, terwyl hulle so min as moontlik in ruil daarvoor gee. Hulle wil in goeie tye vir hulle vriende daar wees, maar in die nie-sulke-goeie-tye afwesig wees. Dis hartseer dat nasionale statistieke hierdie gebrek aan toewyding bevestig. Die huwelikskoers neem af terwyl skeisake aan die toeneem is. Betrokkenheid by bediening en goeie sake wat behoeftige mense help, neem af. Hoekom gebeur dit? Omdat mense nie betrokke wil raak of deur verantwoordelikheid vasgepen wil word nie. Ons sien dikwels geleenthede om ander mense te dien as verpligtinge, dus vermy ons dit. Ons is die generasie met die kort aandagspan, gewoond aan vyftien-sekonde advertensies en kitskos. Ons wil hê dat ons preke eenvoudig moet wees, ons moet vermaak word en ons laat goed voel. Ja, radikale toewyding is seldsaam – maar dis wat God van jou verwag. Toewyding beteken dat jou belofte bindend is, of dit nou gerieflik is of nie. Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde: Toewyding aan jou huwelik. Die huwelik, soos God dit sien, is nie ‘n vyftig-vyftig kontrak nie. Dis ‘n wedersydse ineenstemming om 100 persent van onsself te gee. Dis ‘n lewenslange verbond tussen jou en jou eggenoot: ‘vir beter of vir slegter; vir ryker of armer; in siekte en in gesondheid; totdat die dood ons skei.’ Hierdie verbond is baie makliker om na te kom wanneer beide eggenote geleer het om soos Paulus te sê: ‘…Ek is saam met Christus gekruisig. Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my…’ Dit beteken dat die dood van selfbelang, die sleutel tot wonderlike verhoudings is.
Sielskos: Eseg 22-23; Luk 20:41-47; Ps 78:9-16; Spr 20:11-14
2020-09-08
Deuteronomium 15:6 NLV
Soms vertrap die lewe jou so dat jy hoop en geloof opgee dat iets goeds ooit met jou sal gebeur. As dit is waar jy vandag is, lees hierdie woorde: ‘Ek weet wat Ek vir julle beplan het… Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê’ (Jeremia 29:11 NLV). God het ‘n plan vir elkeen van ons, maar nie almal van ons ervaar dit nie. Hoekom nie? Om twee redes: 1) Ons besef nie dat ons regte en voorregte het nie. Ons glo dat God ons kan red en hemel toe kan neem wanneer ons sterf, maar ons dink nie dat Hy enigiets aan ons verlede, ons hede of ons toekoms kan doen nie. 2) Ons lewe ver onder die vlak wat Hy vir ons in gedagte gehad het, omdat ons onsself in die verkeerde lig sien. Ons glo dat Hy enigiemand kan seën – behalwe ons – omdat ons nie waardig is nie. God het jou in die regverdigheid van Christus geklee, dus is jy waardig voor Hom en sal Hy jou ‘seën soos Hy belowe het.’ Wanneer ‘n koning in die Bybelse tyd die troon betree het, het hy seker gemaak dat die vorige koning en sy familie tereggestel is, sodat niemand teen hom kon optrek nie. Toe Dawid dus vir koning Saul vervang het, het Saul se kleinseun, Mefisobet, uit vrees na die woestyn toe gevlug. Dawid was egter ‘n ander tipe koning. In plaas daarvan om sy voorganger se familie uit te wis, het hy gevra: ‘…Is daar nog iemand van Saul se afstammelinge oor? Ek wil aan so iemand goeddoen ter wille van Jonatan’ (2 Samuel 9:1 NLV). ‘Hoekom sal God my seën?’ vra jy. Die antwoord is eenvoudig maar duidelik: ter wille van Christus!
Sielskos: Eseg 20-21; Luk 20:27-40; Ps 78:1-8; Spr 20:7-10