Die wet van ligging

2020-07-23
Genesis 2:8 NLV

Eers het God die tuin gemaak, toe het Hy die mens gemaak en hulle in die tuin geplaas. Dit word die ‘wet van ligging’ genoem. Jy sal sukses behaal wanneer jy is waar God wil hê jy moet wees. Het jy al ooit die pyn van ‘n onwrigte gewrig ervaar? Dis aaklig. Dis soos om ‘jou eie ding te doen’ in plaas daarvan om God se wil te doen. Jy kan die maklike pad of die moeilike pad kies; God gee vir jou daardie opsie. Jy sal egter misluk as jy die verkeerde pad kies. Jona is ‘n voorbeeld hiervan – hy het gekies om nie na Nineve te gaan en daar te gaan preek nie, omdat hy nie van die mense wat daar gebly het, gehou het nie. Die laaste ding wat hy wou doen was om hulle te help, dus het hy van sy Godgegewe opdrag in Nineve probeer weghardloop. Gevolglik het hy in ‘n storm ingehardloop, verlies en ellende vir almal aan boord van sy skip veroorsaak en uiteindelik die bodem getref voor hy opgeëindig het waar God wou hê hy moes wees. Leer by Jona. Moenie sy dwase, duur en onnodige fout herhaal nie. Wanneer jy op die regte plek kom, moenie dink dat jou taak maklik sal wees of dat jy oornag sukses sal behaal nie. Die Amerikaanse prediker en skrywer, Phillips Brooks, het gebid: ‘Here, ons vra nie vir ligter laste nie, maar vir sterker rûe.’ Toe Paulus vir verligting gebid het, het God vir hom gesê: ‘…My genade is genoeg vir jou…’ (2 Korintiërs 12:9 NLV). Wanneer jy op die regte plek is en doen wat God wil hê jy moet doen, sal jy in omstandighede wat ander mense laat verkrummel, floreer, omdat jy God se genade het om dit te hanteer.

Sielskos: Hand 14-15; Luk 9:18-27; Ps 1; Spr 16:10-15

Jy is geroep om te oorwin

2020-07-22
Openbaring 2:7 NLV

Niks is groot as dit nie eers iets oorwin nie. Paulus skryf: ‘want hier staan nou ‘n wye deur vir my oop en daar is baie mense wat reageer. Daar is egter ook baie teenstanders’ (1 Korintiërs 16:9 NLV). Groot deure van geleentheid gaan met groot uitdagings gepaard, wat jou geloof sal strek. As uitstekende sukses maklik bekombaar was, sou almal dit bereik het. Hoe ontwikkel ‘n wurm in ‘n skoenlapper? Deur die kokon te oorwin. Sou dit makliker gewees het om in die gemak van die kokon te bly? Sommige dae is die stryd so groot, dat die wurm dit sekerlik dink. Die prys vir vryheid, die vermoë om te vlieg en te ontdek, is egter stoei, ontwikkeling en deurbraak. Daar is nie ‘n ander manier nie. Hoekom het Jesus sy dissipels in die storm op die see van Galilea uitgestuur? Om hulle te leer om Hom in elke situasie van die lewe te vertrou. Hy sou hulle binnekort verlaat het, dus het Hy moeilike situasies gebruik om hulle vir die toekoms toe te rus. Wat probeer jy vandag oorwin? In plaas daarvan om daaroor te kla, of God te vra om dit van jou weg te neem, probeer dit sien as voorbereiding vir dit waartoe Hy jou geroep het. Lees hierdie Skrifgedeeltes: ‘Gelukkig is die mens wat in beproewing volhard!..’ (Jakobus 1:12 NLV). ‘Gelukkig is dié wat vervolg word ter wille van wat voor God reg is, want hulle het deel aan sy koninkryk’ (Matteus 5:10 NLV). ‘Moenie toelaat dat die slegte julle onderkry nie, maar deur goed te doen moet julle die slegte hokslaan’ (Romeine 12:21 NLV). ‘Daarom moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Dan, wanneer die Bose julle aanval, sal julle weerstand kan bied…’ (Efesiërs 6:11 NLV). Jy is vandag geroepe om ‘n oorwinnaar te wees.

Sielskos: Hand 12-13; Luk 9:1-17; Ps 65; Spr 16:8-9

God kan jou weer voorspoedig maak

2020-07-21
Job 42:10 NLV

In sy boek, The Spiritual Lives of the Great Composers, bespreek Patrick Kavanaugh die musikale meesterstuk Die Messias wat deur George Frideric Händel gekomponeer is. Händel was ‘n onvoorspelbare komponis en het baie van sy loopbaan van een mislukking na die volgende deurgebring. In daardie dae was bankrotskap nie ‘n opsie nie en teen 1741 was Händel besig om in skuld te verdrink. Sonder ‘n wonderwerk, was die tronk onvermydelik. Hy het besluit om ‘n laaste konsert te hou en as mislukking op die ouderdom van ses-en-vyftig uit die bedryf te tree. Toe ‘n vriend egter vir hom die operastuk oor Jesus se lewe, gebaseer op sekere verse uit die Bybel gee, het alles verander. Händel het homself in sy werk gewerp en Deel Een in ses dae geskryf, Deel Twee in nege dae en Deel Drie ses dae later. Hy het koorsagtig gewerk, aangedryf deur ‘n oorweldigende doel. Diensknegte het sy etes buite sy deur gekos, bang om hom te onderbreek. Een keer, toe ‘n dienskneg dit waag om die deur oop te maak, het Händel, met trane wat by sy wange afloop, uitgeroep: ‘Ek dink ek het die hemel gesien en die grote God Homself!’ Hy het toe pas klaar die gevierde ‘Halleluja Koor’ geskryf. Wat ‘n wonderlike verhaal van verlossing! Die Bybel is vol van hulle. In die eerste een-en-veertig hoofstukke van die boek Job, beskryf hy alles wat hy verloor het: sy gesondheid, sy rykdom en sy familie. Dan lees ons in die laaste hoofstuk: ‘…die Here [het] hom weer voorspoedig gemaak… Die Here het die laaste deel van Job se lewe meer geseën as die eerste…’ (verse 10-12 NLV). Wat God vir George Frideric Händel en vir Job gedoen het, kan Hy ook vir jou doen wanneer jy jou lewe in sy hande plaas.

Sielskos: Hand 10-11; Luk 8:40-56; Ps 14; Spr 16:6-7

Die leeu en die lam

2020-07-20
Efesiërs 4:2 NLV

Een dag het ‘n leeu ‘n tier in die oerwoud raakgeloop. Hy het die tier se stert gegryp en gevra: ‘Wie is die koning van die oerwoud?’ Die tier het gedwee geantwoord: ‘Jy is, o magtige leeu.’ Volgende het die leeu ‘n apie gegryp en gevra: ‘En wie sê jy is die koning van die oerwoud?’ Die apie het nederig geantwoord: ‘Jy is, o magtige leeu.’ Toe het die leeu ‘n olifant raakgeloop en gevra: ‘Wie is die koning van die oerwoud?’ Die olifant het hom met sy slurp opgetel, in die lug rondgeswaai en hom teen ‘n boom vasgegooi, waar hy bloeiend en gebroke in ‘n hopie neergeval het. Die leeu het stadig opgestaan, sy wonde gelek en vir die olifant gesê: ‘Dis nie nodig om so rof te raak net omdat jy nie die antwoord ken nie.’ Die les uit hierdie verhaal is: Hoe groter jou gesag is, hoe genadiger moet jy teenoor ander mense wees. In die Skrif word daar na Jesus as die leeu en die lam verwys; Hy is die Leeu van die stam Juda en die Lam van God. Hierin wys Hy vir ons die kern van ware krag en leierskap. Wanneer jy vir die waarheid opstaan, moet jy soos ‘n leeu brul, maar wanneer jy met mense te doen kry, moet jy so sag soos ‘n lammetjie wees. Paulus spel dit duidelik in hierdie Skrifgedeelte uit: ‘Met totale beskeidenheid en sagmoedigheid, ja, met geduld, moet julle mekaar in liefde verdra.’ Weer skryf hy: ‘Verdra mekaar en as enigeen ‘n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het’ (Kolossense 3:13 NLV).

Sielskos: Hand 8-9; Luk 8:26-39; Ps 146; Spr 16:4-5

‘n Woord aan die sensitiewes

2020-07-19
Matteus 5:10 NLV

Jesus het gesê: ‘Gelukkig is julle wanneer julle bespot en vervolg word en allerhande leuens oor julle verspei word omdat julle my dissipels is. Wees bly, ja, jubel daaroor, want God sal julle ryklik daarvoor beloon…’ (verse 11-12 NLV). As jou vel dun is, sal jy altyd ‘n maklike teiken wees. Volharding, nie populariteit nie, is die geheim tot langtermyn sukses. Paulus het volhard toe sy vriende hom verlaat het, toe hy lelike briewe van die mense uit Korinte ontvang het, toe die Galasiërs hom teleurgestel het, toe die mense in Filippi hom mishandel het en toe hy in Athene bespot is. Hy skryf: ‘Wees op en wakker! Staan vas in wat julle glo! Wees moedig! Wees sterk!’ (1 Korintiërs 16:13 NLV). Kom ons kyk na hierdie vers: 1) Wees op en wakker. Die duiwel is daarop uit om jou waarde vir God se koninkryk te vernietig. Jou lewe is ‘n saad wat ‘n oes vir God op aarde kan meebring, beskerm dus jouself. 2) Staan vas in wat jy glo. Jy kan nie op jou omstandighede of ander mense se opinies staan nie, want dit verander aanhoudend. Jy kan net op God se Woord vas staan. 3) Wees moedig. Onvolwassenheid sal jou seermaak wanneer jy aangeval word. Die Bybel sê: ‘…Kom ons gaan eerder verder en word geestelik volwasse…’ (Hebreërs 6:1 NLV). As jy steeds dieselfde foute twintig jaar later maak, leer jy nie genoeg nie. 4) Wees sterk. Swakheid is ‘n uitnodiging aan die Vyand. God het vir sy mense belowe dat die Beloofde Land hulle s’n was, maar hulle moes daarvoor veg. Net diegene wat gewillig was om daarvoor te veg, het dit binnegegaan. Dieselfde geld vir jou.

Sielskos: Heb 11:8-12; Gen 17:1-27; Gen 22:1-18; Jak 2:21-24

Volharding

2020-07-18
Hebreërs 12:2 NLV

Jakobus skryf: ‘Gelukkig is die mens wat in beproewings volhard! As die toets sy geloof as eg bewys, sal hy die lewe as oorwinningskroon ontvang…’ (Jakobus 1:12 NLV). Dink jy daaraan om tou op te gooi? As jy egter jou huwelik, jou loopbaan of jou droom laat vaar, mag jy dalk vir die res van jou lewe daaroor spyt wees. God kan jou versterk en jou ‘n wenner maak, maar slegs wanneer jy op die pad bly. F.B. Meyer het gesê: ‘Jy kan nie die hulpbronne van God toets, as jy nooit die onmoontlike aanpak nie.’ Om tou op te gooi bou nie karakter nie, maar volharding doen. Dit ontwikkel iets in jou wat niks anders kan nie; dis hoekom God dit as iets goeds sien (sien Jakobus 5:11 NLV). Dit ontwikkel moed en dissipline en verander drome in realiteit. Niemand het meer as Jesus van volharding geweet nie. Hy het al die pad tot by Golgota volhard; waar hulle die hare uit sy gesig gepluk het, waar hulle sy vlees met ‘n sweep verskeur het, waar hulle Hom aan die kruis vasgespyker het, waar sy vriende Hom verlaat het, waar omstanders Hom gespot het, waar God sy gesig weggedraai het en waar die hel opgedoem het en geroep het: ‘Gee op!’ Die Bybel sê: ‘…Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur…’ God beloon diegene wat Hom daadwerklik soek (sien Hebreërs 11:6). Hy beloof dat jy Hom sal vind as jy Hom met jou hele hart soek (sien Jeremia 29:13). Hierdie belofte is op jou van toepassing. Sê dus vir God: ‘Ek is van plan om aan te hou en U te vertrou vir die krag om ‘n deurbraak te maak.’ Wanneer jy so bid, sal jy vind dat dit nie so maklik is om tou op te gooi nie.

Sielskos: Hand 6-7; Luk 8:16-25; Ps 140; Spr 16:3