2020-07-29
Deuteronomium 28:1-2 NLV
Baie van God se seëninge kom met voorwaardes. Wanneer jy God se Woord in aksie sit, ontvang jy sy seën. Blinde Bartimeus was besig om te bedel toe Jesus verbygeloop het. Dus het hy uitgeroep: ‘…O Leermeester, dat ek kan sien!’ (Markus 10:51 NLV). Hy het geweet dat God se seën nie outomaties was nie, maar dit was binne sy bereik. In ‘n Peanuts strokiesprent, oefen Charlie Brown sy boogskiet-vaardighede. Hy skiet ‘n pyl na die teiken en verf dan ‘n kolskoot om die pyl, waar dit ookal land. Wanneer Lucy vir Charlie hieroor uitvra, sê hy: ‘Op hierdie manier tref ek altyd die teiken!’ Een skrywer sê: ‘Dis hoe party Christene lewe. Waar die pyle ook al mag land, gee hulle voor dat dit van die begin af die bestemming was.’ Hoe graag wil jy God se seën hê? Hoe toegewyd is jy? Die begeertes wat God in jou gees geplaas het en die doelwitte wat Hy in sy Woord geplaas het sal nie outomaties vervul word nie, maar hulle is wel bereikbaar. Eerstens moet jy ‘n sterk fondasie bou deur in God se Woord gevestig te word. Tweedens moet jy verwag om een tree op ‘n keer vorentoe te beweeg. Resultate sal nie oornag voorkom nie, maar hulle sal kom en jy sal die belonings vir jou toewyding sien. Derdens: Mik hoog, verwag God se beste en wees gewillig om vir Hom jou beste te gee. Petrus sê: ‘God het baie dinge vir julle gedoen, en daarom moet julle hard probeer om nie net te glo in Hom nie, maar ook om goeie dinge vir ander mense te doen en om wyse mense te wees. Julle moenie gou kwaad word nie, julle moet vas glo, julle moet vir God dien, julle moet lief wees vir mekaar…’ (2 Petrus 1:5-7 ABA).
Sielskos: Hand 24-26; Luk 10:1-12; Ps 78:9-16; Spr 16:25
2020-07-28
Romeine 4:23-24 ABA
Dink aan fondse wat van een rekening na ‘n ander oorgedra word. Banke doen dit elke dag. Verbeel jouself jy is haweloos en kan nie jou skuld betaal nie. Dan, in ‘n wonderbaarlike daad van genade, neem iemand al jou skuld oor en dra terselftertyd ‘n massiewe bedrag geld na jou rekening oor sodat jy nooit weer hoef te werk nie. Dis wat by die kruis gebeur het toe God al jou sondes na Christus se rekening oorgedra het; en al sy regverdigheid na jou rekening oorgedra het. Verbysterend, is dit nie? Sal jy sê: ‘Ek kan nie toelaat dat U al hierdie skuld alleen afbetaal nie, dus sal ek werk om te bewys dat ek u genade waardig is’? Dis wat ons doen wanneer ons ons goeie werke by Christus se voltooide werk ‘aanlas.’ Paulus skryf: ‘God het Hom wat nie sonde geken het nie, sonde gemaak ter wille van ons sodat ons, op grond van ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan word’ (2 Korintiërs 5:21 NLV). ‘Maar ek voel so skuldig wanneer ek sondig.’ Jy is veronderstel om skuldig te voel! Toe Christus egter jou sonde weggeneem het, het Hy ook jou skuld weggeneem. Wat voel jy dus? Innerlike konflik! Jou nuwe gees sê vir jou dat jy nie aan sonde kan toegee nie; dis nie meer wie jy is nie! Hoekom het God dit op hierdie manier gedoen? Omdat enige geregtigheid wat ons op ons eie houtjie kon verdien, ver tekort skiet van wat Hy vereis. Verbly jouself – vandag sien God jou as geklee in die geregtigheid van Christus, daarom sal jy altyd deur Hom aanvaar en liefgehê word.
Sielskos: Hand 22-23; Luk 9:57-62; Ps 78:1-8; Spr 16:23-24
2020-07-27
Spreuke 11:3 NLV
Nadat die profeet Samuel Israel vir veertig jaar lank gelei het, het hy nie ‘n afskeidspartytjie of ‘n goue horlosie gekry nie. Hy het iets baie beters in die vorm van hierdie aanprysing gekry: ‘…U het ons nooit op enige manier bedrieg of verdruk nie…’ (1 Samuel 12:4 NLV). Hy het hulle gelei, hulle opdragte gegee en hulle geseën, maar nie een keer het hy van hulle misbruik gemaak nie. Hoe verfrissend! Hoe merkwaardig – veral in vandag se wêreld van besigheid en politiek. Voor jy dus jou doelwitte stel, bepaal eers jou waardes. Waardes is soos skramrelings op die hoofweg; hulle keer dat jy nie van die pad af by die krans afry nie. Hulle bepaal hoe ver jy op twyfelagtige kwessies sal gaan. Die sleutel om ‘n lewe van betekenis en doel te lewe, is om te weet wat saak maak en waaraan jy waarde heg. Vir die meeste van ons is die probleem nie dat ons nie waardes het nie, die probleem is om hulle uit te lewe. Ons almal stel eerlikheid, integriteit en vergifnis hoog aan die prys, maar wanneer ons onder druk verkeer, lewe ons hulle regtig uit – veral ten koste van onsself? Om ‘n lewe van waardes uit te leef, kom met ‘n prys. Wat ons egter in ruil daarvoor kry is die vermoë om ons kop deur die dag hoog te hou en rustig in die nag te slaap. Amper net so belangrik is dat dit ons toelaat om te ontspan en onsself te wees. Die geestelike tol wat dit neem om te kul, te lieg en te steel is dreinerend. Dit kan jou letterlik moeg maak om die leuen van verlede week te onthou sodat jy jou nie vandag weerspreek nie. Wanneer jy ‘n lewe van integriteit leef, hoef jy nie oor sulke dinge bekommerd te wees nie!
Sielskos: Hand 20-21; Luk 9:46-56; Ps 46; Spr 16:20-22
2020-07-26
Psalm 46:11 NLV
Kom ons kyk na hierdie Skrifgedeelte. 1) “Wees stil.” Aktiwiteit wat uit angstigheid gebore word, verhoed inderwaarheid dat God jou wys dat Hy namens jou sterk is. Dit beteken nie dat jy passief of lui kan wees nie; dit beteken dat jy doen wat God jou lei om te doen, in plaas daarvan om Hom vooruit te hardloop. Dit beteken dat jy jouself aan Hom onderwerp deur stadiger te beweeg en te wag. Hoekom? Om seker te maak dat jy vrede het om die idees aan te pak wat jy glo Hy vir jou gegee het (sien Kolossense 3:15). Vra Hom om sy wil aan jou te openbaar en wees dan stil; en erken dat Hy in beheer is en weet wat Hy doen. 2) “Weet ek is God.” Wanneer jy nie vir God gehoorsaam, raadpleeg of sy tydsberekening in ag neem nie, verwyder jy Hom van die troon in jou lewe en probeer jy sy plek inneem. Jy kan dink hoe goed dit uitwerk, nè? Ons hoor baie van doelwitte en visies stel. Dis ‘n Skriftuurlike beginsel, want: ‘Wanneer ‘n volk nie duidelikheid het oor die wil van God nie, word hulle koersloos…’ (Spreuke 29:18 NLV). Die Bybel sê egter ook: ‘…Stadig maar seker breek die tyd aan wanneer die visioen waar sal word. Wag geduldig…’ (Habakuk 2:3 NLV). Jy sal nooit jou visie sonder die hulp van die Een wat dit vir jou gegee het, vervul nie. Die negentiende eeuse prediker, Henry Ward Beecher, het gesê: ‘Die krag van ‘n mens bestaan daaruit om die rigting uit te vind waarin God beweeg en dan daardie pad te vat.’ Onthou, jy verloor nie tyd wannneer jy op God wag nie. Moet dus nie toelaat dat ‘n self-help seminaar of ‘n Tipe A persoonlikheid jou druk om voor God uit te beweeg of op jou eie stoom aan te gaan nie.
Sielskos: Gen 39:1-39; Gen 45:1-13; Gen 50:22-26
2020-07-25
Matteus 26:41 NLV
Hoekom het Jesus vir sy dissipels gesê: ‘Wees waaksaam en bid. Anders sal die versoeking vir julle te sterk word. ‘n Mens se gees is wel gewillig, maar jou liggaam hou nie altyd by nie’? Omdat Hy weet dat ons nie sonder die inwonende krag van die Heilige Gees opgewasse is teen die versoekings wat oor ons pad kom nie. Jesus het nie aan die dissipels se liefde of hulle gewilligheid om Hom te dien getwyfel nie, maar Hy het geweet dat hulle dit nie in hulle eie krag kon doen nie. Jy kan ook nie. Jy sal nooit van versoeking ontslae wees nie, maar jy hoef nie daaraan toe te gee nie. Jou nuutgeskape gees kan inderwaarheid nie daaraan toegee nie, omdat sonde geen aantrekkingskrag het nie. Jou ou ‘vlees’ sal egter altyd tot sonde aangetrokke wees. Wanneer jy ‘n Christen word, verhoog die frekwensie, verskeidenheid en intensiteit van die versoekings wat jy in die gesig moet staar. Hoekom? Omdat Satan, ‘die verleier,’ nie maklik beheer opgee nie. Hy sal jou aanhoudend en op verskillende fronte aanval. Die Bybel sê dat ons voor baie beproewings te staan sal kom (sien 1 Petrus 1:6). Wat is die antwoord? Baie genade! Die oomblik wat versoeking sy lelike kop uitsteek en voor jy nog kans kry om daarop te reageer, put krag uit God se genade. Hoe doen jy dit? Jesus het gesê: ‘Vra God om julle te help om nie verkeerde dinge te wil doen nie. Ek weet julle sê julle wil graag die regte dinge doen, maar dit gebeur nie altyd so nie, nie waar nie? Wees daarom altyd op en wakker’ (Matteus 26:41 DB). Skape het nie die krag of die vaardighede om die wolf te oorwin nie. Hulle het egter die strategie! Hulle beweeg net nader aan die Skaapwagter, wat dan met die wolf afreken.
Sielskos: Hand 18-19; Luk 9:37-45; Ps 42:6-11; Spr 16:17-19
2020-07-24
Psalm 27:14 DB
Dawid het sy breekpunt bereik: ‘Dis net my geloof in die Here wat my staande hou. Sy goedheid dra my elke dag van my lewe. As ek dit darem nie geglo het nie…’ (Psalm 27:13 DB). Kan jy daarmee identifiseer? Het jy jou breekpunt bereik? Indien dit die geval is, het jy twee opsies: stort ineen of breek deur. Dit hang alles af van wat jy doen. Daar is ‘n ou gesegde: ‘Dieselfde sonskyn wat die botter smelt, verhard die klei.’ Wanneer moeilikheid kom, kan jy óf teen God draai omdat jy Hom gedien het en nie verstaan waarom Hy dit toelaat nie, óf jy kan na Hom toe draai vir krag en begrip. Soms verander God jou omstandighede; ander kere gebruik Hy dit om jou te versterk. Dit gaan nie oor jou nie, maar oor diegene wat God deur jou wil bereik. ‘In al ons swaarkry bemoedig Hy ons. Hy doen dit sodat ons ook in staat sal wees om mense in al hulle swaarkry by te staan…’ (2 Korintiërs 1:4 NLV). Niks betrap God onkant nie en niks is te moeilik vir Hom om te hanteer nie. Die situasie waarin jy jou tans bevind, kan ‘n platform word vir Hom om sy liefde en sorg aan jou te demonstreer. ‘die Here hou nooit op om vir ons om te gee nie. Hy bly getrou. Sy liefde het ons gespaar… ‘n Mens kan altyd op U vertrou. Elke oggend is U maar weer daar. Ek sê vir myself: ‘Ek vertrou die Here, want Hy gee vir my lewe.’ Die Here is baie goed vir elkeen wat wil doen wat Hy vra en elkeen wat op Hom hoop’ (Klaagliedere 3:22-25 DB).
Sielskos: Hand 16-17; Luk 9:28-36; Ps 42:1-5; Spr 16:16