Radikale toewyding (1)
2020-09-09Galasiërs 2:19-20 NLV
Baie mense wil deesdae soveel as wat hulle kan vir hulself kry, terwyl hulle so min as moontlik in ruil daarvoor gee. Hulle wil in goeie tye vir hulle vriende daar wees, maar in die nie-sulke-goeie-tye afwesig wees. Dis hartseer dat nasionale statistieke hierdie gebrek aan toewyding bevestig. Die huwelikskoers neem af terwyl skeisake aan die toeneem is. Betrokkenheid by bediening en goeie sake wat behoeftige mense help, neem af. Hoekom gebeur dit? Omdat mense nie betrokke wil raak of deur verantwoordelikheid vasgepen wil word nie. Ons sien dikwels geleenthede om ander mense te dien as verpligtinge, dus vermy ons dit. Ons is die generasie met die kort aandagspan, gewoond aan vyftien-sekonde advertensies en kitskos. Ons wil hê dat ons preke eenvoudig moet wees, ons moet vermaak word en ons laat goed voel. Ja, radikale toewyding is seldsaam – maar dis wat God van jou verwag. Toewyding beteken dat jou belofte bindend is, of dit nou gerieflik is of nie. Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde: Toewyding aan jou huwelik. Die huwelik, soos God dit sien, is nie ‘n vyftig-vyftig kontrak nie. Dis ‘n wedersydse ineenstemming om 100 persent van onsself te gee. Dis ‘n lewenslange verbond tussen jou en jou eggenoot: ‘vir beter of vir slegter; vir ryker of armer; in siekte en in gesondheid; totdat die dood ons skei.’ Hierdie verbond is baie makliker om na te kom wanneer beide eggenote geleer het om soos Paulus te sê: ‘…Ek is saam met Christus gekruisig. Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my…’ Dit beteken dat die dood van selfbelang, die sleutel tot wonderlike verhoudings is.
Sielskos: Eseg 22-23; Luk 20:41-47; Ps 78:9-16; Spr 20:11-14