2021-06-11
Spreuke 14:29 NLV
Dis nooit in die haak om teenoor diegene wat God aan jou sorg toevertrou het, te ontplof nie. Die Bybel sê: ‘Moenie sondig as jy kwaad word nie. Moenie tot die aand toe kwaad bly, en die duiwel so ‘n houvas gee nie’ (Efesiërs 4:26-27 NLV). Satan wil graag toegang tot jou huis verkry om dit in ‘n lewende hel te omskep en elke keer wat jy ‘n woedeuitbarsting kry, wen hy grond. Dis hoekom die Skrif sê: “‘n Geduldige mens het insig. Iemand wat kort van draad is, stal sy dwaasheid uit.”
Die sleutel om jou woede te beheer, lê daarin om gesonde maniere te kry om daaraan uitdrukking te gee, sodat dit nie op die ou einde meer seermaak as wat dit help nie. Dis belangrik om jou gevoelens te deel, maar jy moet dit altyd op die regte manier doen. Op die ou einde van die dag gaan dit nie oor wie reg of verkeerd is nie, of wie die hardste kan skree nie. Dit gaan daaroor om die beste oplossing vir almal te vind.
Niemand kan altyd alles wees wat jy nodig het nie. Dis onmoontlik om ‘n langtermyn, liefdevolle verhouding te hê sonder om menslike swakhede te aanvaar nie. In plaas daarvan om dus op mekaar se tekortkominge te fokus, fokus op julle gesamentlike krag as familie. Die kliniese neurosielkundige Paul Pearsall, sê: ‘Die meeste van ons sal ons lewens vir ‘n familielid gee, tog lei ons te dikwels ons daaglikse lewe asof ons ons familie as vanselfsprekend aanvaar.’
Leer om jou humeur te beteuel; jou familie is dit werd. Wie anders is lief vir jou, ten spyte van dit wat jy doen? Waar anders kan jy die vertroosting en krag wat uit so ‘n ondersteuningstelsel spruit, kry?
Sielskos: 2 Kon 13-15; Mark 15:21-32; Ps 143; Spr 13:9-10
2021-06-10
Lukas 11:17 NLV
Hulle sê: ‘Die appel val nie ver van die boom af nie,’ en Jakob het dit verseker reg bewys. Aan die einde van sy lewe, toe hy moes begin voorberei het om sy seuns Simeon en Levi te seën, het hy vir hulle gesê: ‘Vervloek is [julle] woede…’ (Genesis 49:7 NLV). Hulle gedrag moes egter nie as ‘n verrassing gekom het nie. Die feit is dat Jakob hulle reeds deur sy eie voorbeeld gevorm het, toe hy sy eie pa (sien Genesis 27) en sy skoonpa (sien Genesis 30), om die bos gelei het. Sy ma het ook sy bedrog gefasiliteer. Gedragspatrone word van generasie tot generasie oorgedra.
Jou houdings en aksies sal jou kinders óf verwoes, óf seën. Die Woord van God sê: ‘Leer ‘n jongmens om die regte pad te kies, en wanneer hy eendag oud is, sal hy nie daarvan afwyk nie’ (Spreuke 22:6 NLV). Jou kinders kry meer as net jou gelaatstrekke by jou. Hulle eindig op met die waardes wat jy vir hulle geleer het en met die emosionele ingesteldheid wat jy vertoon het.
Moenie hulle by julle huweliksgeskille betrek nie. Die Bybel sê: ‘Moenie gou kwaad word nie; ergenis hoort by dwase’ (Prediker 7:9 NLV), en jou kinders is maklike teikens vir misplaaste woede. Selfs wanneer jou uitbarstings nie op hulle gerig is nie, ly hulle steeds onder die effek daarvan.
Jou baas wys jou byvoorbeeld by die werk tereg, dus kom jy by die huis soos ‘n beer met ‘n hoofpyn aan en veroorsaak dat almal jou vermy. Moenie toelaat dat jou woede amok maak nie. Koning Dawid het op die slagveld uitgeblink, maar by die tuisfront gesukkel. Dis dalk hoekom een van sy laaste Psalms as volg lees: ‘Sit ‘n wag voor my mond, Here, hou wag oor wat ek sê’ (Psalm 141:3 NLV).
Sielskos: 2 Kon 10-12; Mark 15:1-20; Ps 132:11-18; Spr 13:7-8
2021-06-09
Efesiërs 4:2 NLV
Sonder harmonie op die tuisfront, kan al jou suksesse in jou beroep leeg voel. Enige tyd wanneer dit makliker is om met buitestaanders, eerder as met jou eie familie, te praat, is iets gebroke – wat dringend reggemaak moet word. God het jou familie ontwerp om ‘n ondersteuningstelsel en ‘n veiligheidsnet te wees.
Sy Woord gee ons die beste resep om harmonie by die huis te kweek: ‘Met totale beskeidenheid en sagmoedigheid, ja, met geduld moet julle mekaar in liefde verdra. Deur in vrede met mekaar te lewe, moet julle die eenheid wat die Gees bewerk het, bewaar’ (verse 2-3 NLV). Let vier belangrike woorde in hierdie Skrifgedeelte op: ‘beskeidenheid,’ ‘sagmoedigheid,’ ‘geduld’ en ‘eenheid.’ Sonder hierdie noodsaaklike bestanddele sal dit nie werk nie!
Begin dus vir jou kinders bid, in plaas daarvan om reëls neer te lê wat afstand skep wanneer julle verskil. Julle sal nie altyd saamstem nie, maar julle kan leer om mekaar te waardeer, lief te hê en te respekteer. Elke familie gaan deur goeie en slegte tye. As jy egter verdwyn wanneer dit moeilik raak, sal jy die oes wat jy kon gehad het as jy gebly het, misloop.
Soms is die kind wat byvoorbeeld nie noodwendig met jou idees saamstem nie, of jou waardes omarm nie, of nie met die persoon trou waarmee jy gedink het hulle moes trou nie, die kind wat jou op die ou einde die meeste sal seën. Ja, dis ontstellend, maar niks daarvan maak op die ou einde saak nie, omdat familie ‘n lewenslange belegging is. Baie van diegene wat kies om te skei, wens dat hulle net ‘n bietjie langer uitgehou het of net ‘n bietjie meer liefde betoon het. Maak seker dat jy nie een van hulle is nie!
Sielskos: 2 Kon 7-9; Mark 14:66-72; Ps 132:1-10; Spr 13:4-6
2021-06-08
Openbaring 12:10 NLV
‘n Man wat in ‘n kantoor gewerk het, was mal daaroor om die nuwe werknemers ‘n spesifieke poets te bak. Hy sou hulle nader en fluister: ‘Hulle weet wat jy gedoen het,’ en dan met ‘n glimlag wegstap. Eerstens, sou die nuwe werknemers verdwaas lyk. Dan sou hulle angstig word en wonder: ‘Wat het ek gedoen?’ Dan sou hulle dink: ‘Wie is hulle? Wat weet hulle?’ en: ‘Wat sê hulle van my?’ Omdat selfs die onskuldigste mense ‘n outomatiese neiging het om weg te steek en te beskerm, sou die nuwe werknemer die hele dag senuweeagtig rondloop.
Dis presies hoe Satan te werk gaan! Hy gooi beswadderings rond. Daar is egter goeie nuus: ‘…Die aanklaer van ons medegelowiges is neergewerp, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het. En hulle het hom self oorwin op grond van die bloed van die Lam en die boodskap waaroor hulle getuig het…’ (Openbaring 12:10-11 NLV).
Daar is ‘n onfeilbare strategie om die stem van die aanklaer stil te maak. Herinner hom dat die bloed van Jesus Christus jou van alle sonde gereinig het. Net soos Jesus vir Satan in die woestyn oorwin het, so kan jy hom elke keer oorwin deur op die waarheid van God se Woord te staan. Paulus skryf: ‘Wie sal dit waag om ons aan te kla as God ons spesiaal uitgekies het?.. Christus Jesus is tog die Een… wat op die ereplek langs God sit en wat daar vir ons pleit’ (Romeine 8:33-34 NLV).
Hou dus op om jouself te oordeel. Jesus het gekom om jou te red en jou te laat weet dat die straf vir jou sonde weggeneem is en dat die krag daarvan oor jou lewe, gebreek is. God sien jou vandag as geregtig – en dis hoe jy jouself moet begin sien (sien 2 Korintiërs 5:21).
Sielskos: 2 Kon 4:18-6:33; Mark 14:53-65; Ps 48; Spr 13:2-3
2021-06-07
2 Korintiërs 3:18 NLV
Wanneer jy eers in ‘n groef is, is dit moeilik om daaruit te kom, veral as dit gemaklik is. Jy sal egter nooit word wat God wil hê jy moet wees, of alles wees wat jy kan wees, solank as wat jy verandering teenstaan en daarop aandring om te bly soos jy is nie.
Daar is twee tipes verandering. 1) Die verandering wat jy persoonlik moet maak. Die ruimtevaarder James Irwin het gesê: ‘Jy mag dalk dink dat om maan toe te gaan, die mees wetenskaplike projek ooit was, maar hulle het ons letterlik in die rigting van die maan gegooi. Ons moes elke tien minute ons koers aanpas en het slegs vyftig voet binne die vyfhonderd myl radius van ons teiken, geland.’ Op daardie vaart was elke verandering, maak nie saak hoe klein nie, noodsaaklik vir sukses.
Kom ons wees eerlik; ons hou nie van verandering nie, dus probeer ons dit so lank as moontlik teenstaan of uitstel. Tog is dit die enigste ding wat op die einde groei meebring. Die Bybel sê: ‘Hy wat hom nie wil laat reghelp nie, beland in armoede en vernedering. Hy wat ‘n teregwysing ter harte neem, ontvang eer’ (Spreuke 13:18 NLV). Wyse mense is gewillig om van plan te verander, dwase nie.
2) Die verandering wat slegs God kan maak. Sy doel vir jou lewe is om in jou die karaktereienskappe van Jesus te ontwikkel. Omdat dit nie deur jou eie inspanning bereik kan word nie, sê sy Woord: ‘Ons word al hoe meer verander om soos die Here te lyk, met ‘n heerlikheid wat steeds toeneem namate die Here, dit is die Gees, dit aan ons gee.’ Wat bring verandering mee? Om elke dag op God se krag staat te maak.
Sielskos: 2 Kon 1:1-4:17; Mark 14:43-52; Ps 1; Spr 13:1
2021-06-06
1 Petrus 2:21 NLV
Richard C. Halverson, voormalige kapelaan van die Amerikaanse senaat, het gesê: ‘Wil jy ‘n wenner wees? Ding dan met jouself mee, nie met iemand anders nie. Net omdat jy jou teenstander in die resies wen, beteken nie dat jy jou beste resies gehardloop het nie. Jy kan iemand anders wen en steeds nie jou volle potensiaal bereik nie. Om jou beste te wees, moet jy met jouself meeding. Oorwinning oor ander mag dalk die struikelblok wees wat tot die wenner se onvermoë om homself te oorwin, bydra. Oorwinnig kan jou trots, arrogant, onafhanklik, selfsugtig en soms wreed, maak. Om dit anders te stel, dis nie wat met jou gebeur wat die verskil maak nie, maar hoe jy dit hanteer. Die een wat ophou om geestelik volwasse te word, omdat hy dink dat hy meer van die Skrif as ander mense weet of meer sukses in die bediening behaal, is nog ver van wat Christus vir hom beplan het.’
Dit mag dalk goed lyk wanneer jy jouself met ander mense vergelyk, maar God se plan is om in jou die karaktereienskappe van Christus te produseer. ‘As Christene word daar van julle verwag om soos Jesus te leef. Hy het vir julle ‘n voorbeeld gestel hoe julle moet leef. Leef soos Hy geleef het. Onthou dan, Hy het vir julle gely en nooit iets gedoen waarvan God nie gehou het nie. Wat Hy gesê het, kan julle maar altyd glo. Hy het mense wat lelike dinge vir Hom gesê het, nie terugbeledig nie. Toe hulle Hom seergemaak het, het Hy nie gesê dat Hy hulle gaan terugkry nie. Hy was tevrede om alles in God se hande te los. God sal daarvoor sorg dat wat moet gebeur, sal gebeur’ (1 Petrus 2:22-23 DB).
Sielskos: 2 Kon 5:1-14; Joh 5:1-15