Kommunikeer met jou familie
2021-08-01Spreuke 24:3 NLV
Die storms van die lewe sal toets of jy ‘n goeie werk met jou familie gedoen het. ‘n Belangrike sleutel om tuis sukses te behaal, is kommunikasie. Vra jouself dus die volgende vier vrae af:
1) Hoe goed kommunikeer ek met die mense wat ek liefhet? Jy mag dalk onbewus ‘n kommunikasiestyl aangeneem het wat nie goed werk nie. Slaan jy byvoorbeeld terug? Dit het ‘n vernederende effek. Domineer jy? Dit het ‘n intimiderende effek. Isoleer jy? Dit het ‘n frustrerende effek. Of werk jy saam? Dit het ‘n bemoedigende effek. As jy in die gewoonte is om enige ander kommunikasiestyl ipv die saamwerkende styl te gebruik, sal jy dit moet verander om ‘n goeie verhouding met jou familie te bou.
2) Het ek my kommunikasiedoders geïdentifiseer? Die Internet, selfone en televisie is van die groot sondaars. Sal dit jou verras om te weet dat die deursnee paartjie minder as ‘n uur per week in betekenisvolle gesprek deurbring, maar ongeveer vyf ure ‘n dag televisie kyk?
3) Moedig ek almal aan om hulle eerlike mening te deel? Wanneer hulle vrylik praat, kritiseer, pruil of slaan jy terug? Verskille in opinie kan gesond wees. Die Bybel sê: ‘Yster slyp yster…’ (Spreuke 27:17 NLV). Wanneer dit met respek hanteer word, kan verskillende opinies dinge vir almal beter maak.
4) Dink jy kreatief? Bestee julle tyd as ‘n familie saam? Bel jy jou maat gedurende die dag en probeer om hom/haar êrens vir middagete te ontmoet? Vat jy jou kinders skool of sportoefening toe sodat jy met hulle kan gesels? Kommunikasie kan enige plek plaasvind, maar dit vind slegs plaas wanneer jy dit ‘n prioriteit maak.
Sielskos: Lev 24:17-22; Deut 15:7-11; Matt 5:38-48