Fokus op dit wat goed is
2021-08-03Filippense 4:8 NLV
Die waarheid is dat ons nie baie ver hoef te soek om iets te kry om oor te kla nie. God het Adam en Eva in die tuin van Eden geplaas, waar hulle alles gehad het wat nodig was om gelukkig te wees. Waarop het hulle egter gefokus? Die een boom wat hulle nie kon kry nie!
God het die Rooi See wonderbaarlik geskei, die Israeliete deur die woestyn gelei en elke dag kos uit die hemel voorsien sodat hulle nie honger sou ly nie. Het hulle dit waardeer? Ja, vir ‘n rukkie. ‘Toe eers het Israel… sy lof besing. Tog het hulle gou sy dade vergeet…’ (Psalm 106:12-13 NLV). Dis hoekom Paulus skryf: ‘…beplan alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is… Dan sal die God wat vrede gee, by julle wees’ (Filippense 4:8-9 NLV).
Generaal Robbie Risner het die sewe jaar wat hy as krygsgevangene in ‘n Viëtnamese kamp deurgebring het, as die ‘wese van wanhoop’ beskryf. Hy het egter oorleef. Hoe? Hy het die deksel van ‘n vloerdrein afgekap en ‘n eensame grashalmpie gesien; die enigste stukke kleur in sy kleurlose wêreld. Risner het dit ‘n ‘bloedoortapping vir die siel’ genoem en elke dag begin bid, terwyl hy op die vloer gelê het en op daardie enkele grashalm gefokus het.
Wanneer dinge in jou lewe nie goed gaan nie, het jy ‘n keuse waarop jy kan fokus: vrees of geloof, wanhoop of hoop, probleme of oplossings. Selfs wanneer die probleem nie na wense opgelos word nie, sal God jou, wanneer jy op Hom fokus, bo jou omstandighede oplig en jou vrede te midde daarvan gee.
Sielskos: Deut 22-24; Luk 11:1-13; Ps 78:56-64; Spr 16:33