2021-06-05
Jesaja 55:12 NLV
God sal sy wil op verskeie maniere openbaar. Een daarvan is om vir ons ‘n sin van ‘vrede’ te gee, wanneer ons die regte ding doen. Paulus skryf: ‘Verder, laat die vrede wat Christus bewerk het, in julle lewe skeidsregter wees…’ (Kolossense 3:15 NLV). Weer skryf hy: ‘…Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:7 NLV).
Jy hoef nie al die antwoorde te hê om vrede daaroor te hê nie. Generaal Eisenhower het voor die verantwoordelikheid te staan gekom om een van die grootste besluite te maak; om die datum van V-dag op die laaste oomblik te verander. As hy die verkeerde besluit gemaak het, kon duisende geallieerde soldate sterf. Hy was egter die hoogste bevelvoerder en die enigste man wat die besluit kon maak.
Toe hy daarop terugkyk, het hy geskryf: ‘Ek het geweet dat ek nie die nodige wysheid gehad het nie en na God toe gedraai. Ek het Hom gevra om vir my wysheid te gee. Ek het myself aan Hom oorgegee en Hy het vir my duidelike leiding gegee. Hy het my die insig gegee om te weet wat reg is en vir my die moed gegee om my besluit te maak. Uiteindelik het Hy vir my die vrede gegee in die wete dat, omdat God my gelei het om die besluit te maak, ek die resultaat aan Hom kon oorlaat.’
Voel jy vandag angstig omdat daar van jou verwag word om ‘n besluit te maak; een wat nie net jou nie, maar ander mense ook sal affekteer? Die woord vir jou vandag is – bid, vertrou op God vir leiding, vra Hom vir vrede, maak die besluit en vertrou Hom vir die regte resultaat.
Sielskos: Op 19-22; Mark 14:27-42; Ps 129; Spr 12:27-28
2021-06-04
1 Korintiërs 13:8 NLV
Liefde is ‘n kragtige mag en die Bybel sê dat dit nooit sal vergaan nie. Die meeste van ons het al die verhaal van Helen Keller gehoor, wat as kleuter na ‘n siekbed blind en doof gelaat is, maar ‘n impak op die wêreld met haar moed en goedhartig gemaak het. Daar is egter ‘n ‘storie agter die storie.’
Dit gaan oor ‘klein Annie,’ wat in die kelder van ‘n inrigting vir geestesversteurdes buite Boston toegesluit was – die enigste plek vir diegene wat hopeloos waansinnig was. Met tye het Annie soos ‘n dier opgetree en mense wat naby haar hok gekom het, aangeval. Ander kere, het sy daar in ‘n waas gesit.
‘n Ouerige verpleegster, wat hoop vir al God se kinders gehad het, het egter begin om haar middagete in die kelder buite klein Annie se hok, te eet. Sy het gehoop om op ‘n manier liefde aan Annie te kommunikeer. Een dag het sy haar nagereg langs Annie se hok gelos. Die volgende dag het die verpleegster gesien dat dit opgeëet was, dus het sy begin om elke Donderdag vir Annie nagereg te bring. Soos die weke verbygegaan het, het die dokters begin om ‘n verbetering in klein Annie te sien. Na verskeie maande, het hulle haar na die algemene saal geskuif. Uiteindelik het die dag aangebreek dat hierdie ‘hopelose saak’ kon huis toe keer. Teen daardie tyd was Annie al ‘n volwassene en sy het besluit om by die inrigting aan te bly en ander mense te help. Een van diegene wat Anne Sullivan – klein Annie – voor gesorg het, geleer het en gekoester het, was Helen Keller.
Omdat God vir ons lief is en nooit oor ons opgee nie, moet ons dit ook vir mekaar doen. Dis die woord vir jou vandag.
Sielskos: Op 15-18; Mark 14:12-26; Ps 124; Spr 12:26
2021-06-03
Psalm 63:2 NLV
Hoe lyk die eerste oomblikke van jou dag? Skakel jy die televisie aan, of haas jy jou na die badkamer, of begin jy dadelik op jou lysie vir die dag fokus?
Probeer eerder om stil daar te lê en God toe te laat om met jou te praat. Met jou gedagtes wat op ‘n skoon bladsy is en jou hart wat oop is, sal Hy vir jou insigte, idees, oplossings vir probleme en die wete dat Hy vandag by jou sal wees, gee.
Colleen Townsend Evans skryf: ‘Stilte hoef nie ongemaklik of verleë te wees nie. Om sonder woorde by die persoon vir wie jy lief is te wees, is ‘n pragtige en bevredigende vorm van kommunikasie. Ek onthou tye wat ons kinders na my toe aangehardloop gekom het, almal van hulle gelyk aan die praat oor die dinge wat die dag met hulle gebeur het – dit was wonderlik dat hulle hul gevoelens met my gedeel het. Daar was egter ook tye wat hulle net wou gehad het dat ek hulle moet vashou, hulle hare moet streel en hulle aan die slaap moet sus. So is dit ook soms tussen ons en God, ons Vader. Met tye sal jou kragtigste gebede gedagtes, eerder as woorde, wees. Jou woorde word deur jou woordeskat beperk, maar jou gedagtes het oneindige kapasiteit waarin God vir jou lewensveranderende konsepte kan gee.’
Paulus skryf: ‘…ons is ingestel om soos Christus te dink’ (1 Korintiërs 2:16 NLV). Word dus stil en laat Hom toe om sy gedagtes deur jou te dink. Johannes skryf: ‘Julle almal weet egter waaroor dit gaan, want julle dra die salwing van die Heilige Gees’ (1 Johannes 2:20 NLV). God kan jou laat ‘weet’ wat jy nodig het, gee Hom dus die eerste oomblikke van jou dag.
Sielskos: Op 10-14; Mark 14:1-11; Ps 4; Spr 12:25
2021-06-02
Prediker 9:9 NLV
Om jou huwelik te versterk, moet jy drie dinge besef: 1) Die huwelik is een van Satan se gunsteling teikens. Hy was kwaad omdat Job se familie God behaag het. Wanneer jou huis dus in harmonie en geseënd is, sal hy dit probeer aanval. Hy wil die derde party in jou verhouding wees; om kwaad te stook en teleur te stel deur jou swakpunte te gebruik. Hy inspireer onrealistiese verwagtinge en herlei jou aandag van diensbaarheid na selfsug toe. Hy wakker jou verbeelding deur ongesonde verhoudings aan, totdat God se teenwoording nie langer die fokus van julle huwelik en die oorheersende atmosfeer in julle huis is nie. Wees op jou hoede vir sy pogings en beskerm jou familie.
2) Jou ingesteldheid bepaal jou bui. Gedagtes het teenwoordigheid. Die oomblik wat iemand by ‘n kamer instap, kan jy konflik of tevredenheid, jaloesie of vreugde, ensovoorts aanvoel. Houdings is aansteeklik; hulle kan die klimaat in jou huis bepaal. Een man het agtergekom dat een televisieprogram ‘n seksuele rusteloosheid binne hom veroorsaak het, tot die punt waar hy sy vrou met die sensualiteit van die akteurs vergelyk het. ‘n Vrou het agtergekom dat sy onverklaarbare jaloesie teenoor haar man gevoel het nadat sy haar gunsteling sepieprogram gekyk het. Elke emosie het ‘n geboorteplek; wees dus sensitief teenoor enige veranderinge in jou huislike omgewing en jou innerlike lewe.
3) Deur te luister, sal jy verstaan. Liefde gaan daaroor om meer te luister en minder te praat. Luister lank genoeg vir weggesteekte emosies om uitgedruk te word. Luister versigtig genoeg om te kan verstaan. Luister akkuraat sodat jy jou maat se ware behoeftes kan assesseer. Die vrae wat jy vra sal wys hoe baie jy omgee, vra hulle dus op ‘n sagte manier en aanhoudend en bid voor jy reageer. Dis hoe jy jou huwelik versterk.
Sielskos: Op 5-9; Mark 13:24-37; Ps 121; Spr 12:23-24
2021-06-01
Spreuke 21:6 NLV
Een dag het ‘n predikant by die straat afgestap toe hy op ‘n groep seuns afkom wat ‘n hond omsingel. ‘Wat doen julle?’ het hy gevra. Een van die seuns het geantwoord: ‘Hy is ‘n rondloperhond in die buurt. Ons almal wil hom hê, maar net een van ons kan hom huis toe neem. Dus het ons besluit dat die een wat die grootste leuen kan vertel, hom kan huis toe vat.’
Die predikant het verklaar: ‘Julle seuns moenie ‘n kompetisie hou wat leuens behels nie!’ Hy het toe vir hulle begin preek met: ‘Dis sonde om te lieg,’ en geëindig met: ‘Toe ek julle ouderdom was, het ek nooit gejok nie.’ Daar was ‘n doodse stilte vir ‘n minuut. Net toe die predikant dink dat hy tot die seuns deurgedring het, het een van die seuns ‘n groot sug gegee en gesê: ‘Ag nou ja, gee die hond vir die dominee!’
Op ‘n ernstiger noot, leuens is altyd nadelig: 1) Jy moet altyd onthou wat jy gesê het en as jou geheue nie so goed is nie, is die kanse goed dat jy aan die kaak gestel sal word. 2) Jy moet met jouself lewe met die wete dat jy gelieg het en jou karakter geskend het. 3) Wanneer jy besluit om te bid, sal die eerste ding wat in jou gedagtes opkom, die laaste ding wees wat jy met God wil bespreek; jou leuens. 4) Anders as wat jy dalk mag dink, is verbode vrugte nie soet nie, dis suur.
‘Die tong het mag oor dood en oor lewe. Hulle wat lief is om te praat, moet saamleef met die gevolge van hulle woorde’ (Spreuke 18:21 NLV). Jy sal met die smaak van daardie leuen in jou mond moet saamlewe. Sal dit nie beter wees om net eerlik te wees nie?
Sielskos: Op 1-4; Mark 13:12-23; Ps 117; Spr 12:20-22
2021-05-31
Jakobus 1:3 NLV
Volharding laat jou aanhou wanneer jou vriende jou eenkant toe skuif, mismoedigheid fluister: ‘Gee op,’ en twyfel sê: ‘Dit kan nie gedoen word nie.’ Dis jou anker in die lewe se storms, jou kompas wanneer jy verdwaal en die dryfkrag wat jou by die volgende berg opkry. Jakobus sê: ‘…Wanneer ‘n mens se geloof ‘n toets deurstaan, veroorsaak dit dat jy kan volhard…’
Volharding ontwikkel jou geloof. Wanneer die proses voltooi is, sal God die toets beëindig, maar nie ‘n oomblik voor dit nie. Intussen is hier drie Skrifgedeeltes waarop jy moet staan: 1) ‘…Moenie bang wees nie, want Ek het jou verlos. Ek het jou by jou naam geroep. Jy is Myne. Wanneer jy deur diep water gaan, sal Ek by jou wees. Wanneer jy deur riviere gaan, sal hulle jou nie wegspoel nie…’ (Jesaja 43:1-2 NLV).
2) ‘…God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking sal Hy vir ‘n uitweg sorg sodat julle kan volhou’ (1 Korintiërs 10:13 NLV).
3) ‘…Ons hou aan om vir God te werk wanneer ons swaarkry, wanneer ons bang is, wanneer ons probleme het, wanneer mense ons slaan, wanneer ons in die tronk is, wanneer mense vir ons probleme gee, wanneer ons hard moet werk, wanneer ons nie kan slaap nie, wanneer ons honger is… Ons hou aan om die werk te doen wanneer mense goeie dinge oor ons sê en wanneer mense slegte dinge oor ons sê, ons hou aan wanneer hulle dink ons is nie belangrik nie en wanneer hulle dink ons is baie belangrik… Dit lyk of ons altyd huil, maar ons is bly… Ons lyk soos mense wat niks het nie, maar ons het alles’ (2 Korintiërs 6:1-10 ABA).
Volhard dus; alles wat jy tans beleef sal dit werd wees aan die einde.
Sielskos: 1 Kon 21-22; Mark 13:1-11; Ps 82; Spr 12:18-19