2021-09-27
1 Korintiërs 9:22 DB
Paulus sou nie ‘n duim oor Bybelse waarhede toegee nie, maar wanneer dit by gebruike, tradisies en mense se voorkeure gekom het, het hy geweier om daaroor te baklei. Sommige van die Christene in Korinte het byvoorbeeld gedink dat dit sonde was om sekere soorte vleis te eet, omdat daardie vleis aan afgode geoffer is.
Het Paulus dus verklaar: ‘Ek gaan nie toelaat dat jy jou onskriftuurlike oortuigings op my afdwing nie’? Nee. Hy het geskryf: ‘…Party is daaraan gewoond om te dink ‘n afgod bestaan werklik. As hulle dan kos eet wat aan die afgode geoffer is, dink hulle dat hulle betrokke is by die verering van werklik bestaande wesens en hulle sensitiewe gewetens word met skuldgevoelens belas. Onthou, dis nie kos wat ons nader aan God bring nie. Ons verloor niks as jy nie eet nie en ons wen niks as ons wel eet nie. Maar wees versigtig dat jou vrymoedigheid om alles te eet nie jou medegelowiges met ‘n sensitiewe gewete in hulle geloof laat struikel nie’ (1 Korintiërs 8:7-9 NLV). Dan onderstreep hy dit deur te sê: ‘… Wat daar ook al van my gevra word om mense na die Here toe te lei, is ek bereid om te doen’ (1 Korintiërs 9:22 DB).
God het ons nie geroep om teologiese argumente te wen nie; Hy het ons geroep om mense vir Christus te wen. Wees dus genadig teenoor diegene wat nie soos jy dink, soos jy aantrek, of oor dieselfde dinge omgee waaroor jy omgee nie. Wees genadig teenoor diegene wie se aanbiddingstyl en fyner teologiese uitgangspunte van joune verskil. ‘Met totale beskeidenheid en sagmoedigheid, ja, met geduld moet julle mekaar in liefde verdra. Deur in vrede met mekaar te lewe, moet julle die eenheid wat die Gees bewerk het, bewaar’ (Efesiërs 4:2-3 NLV).
Sielskos: 1 Sam 8-10; Luk 23:26-34; Ps 54; Spr 21:18-21
2021-09-26
Psalm 25:16 NLV
Dawid, wat owerspel met ‘n ander man se vrou gepleeg het, het gebid: ‘Draai u gesig na my en bewys genade aan my, want ek is alleen en in diepe nood. Die kwellinge van my gedagtes word al meer. Verlos my tog uit hierdie ellende!.. Kyk hoeveel vyande is teen my, hoe hulle my haat met venyn! Beskerm my en red my! Bewaar my van vernedering, want ek vertrou op U. Mag opregtheid en eerlikheid my beskerm, want ek wag op U’ (verse 16-21 NLV). Hoe kan jy jouself in areas waar jy weerloos is, beskerm?
1) Deur naby aan God te bly. Wanneer jy eensaam is, maak dit nie sin om jouself van God af te sonder nie. Dit verhoog net jou blootstelling aan dinge soos ontrouheid, pornografie, dwelms en alkohol.
2) Deur nie meer weg te kruip nie. Raak betrokke by ‘n aspek in die bediening. Wees gewillig om meer toeganklik te wees, deur ander mense te leer ken en hulle toe te laat om jou te leer ken. Wanneer jy tyd met mense bestee wat waarlik vir jou omgee, hou eensaamheid op om so ‘n groot kwessie te wees.
3) Deur die fokus van jouself af te neem. Winston Churchill het gesê: ‘Ons maak ‘n bestaan deur dit wat ons kry, maar ons maak ‘n lewe deur dit wat ons gee.’ Oorwinning vind plaas wanneer jy na mense in nood uitreik; jouself vir hulle gee, vir hulle bid, vir hulle lief is en hulle dien.
4) Deur diegene te vergewe wat jou seergemaak het. Wanneer jy jouself isoleer nadat jy seergekry het, lei dit net tot bitterheid. Vergewe, gee dit aan God oor, laat Hom toe om jou oortreder te hanteer – en gaan met jou lewe aan.
Sielskos: Gen 24:1-51; 2 Kor 6:14-7:1
2021-09-25
Efesiërs 3:17 NLV
Het jou ouers jou ongelief laat voel? Het jou maat jou verlaat? Is jy in die verlede fisies, seksueel, geestelik of emosioneel mishandel? Hierdie is pynlike ervarings. Dis noodsaaklik om die bron daarvan te ontdek, veral as dit ‘n wortel van verwerping is.
Jy kan allerhande tegnieke gebruik om jouself beter te laat voel, maar sonder ‘n wortelsisteem van ‘n gesonde selfbeeld, sal niks werk nie. Foutiewe wortels bring foutiewe vrugte voort: gevoelens van minderwaardigheid, waardeloosheid, woede, die onvermoë om te vertrou en ‘n vrees vir intimiteit.
Hoe verander jy hierdie vrugte? Deur die wortel van die probleem aan te spreek. Hoe doen jy dit? ‘Mag Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy Goddelike grootheid aan julle die krag gee om innerlik sterk te word. Dan sal Christus deur die geloof in julle harte woon, en sal julle in liefde gewortel en gegrondves wees’ (verse 16-17 NLV). Die versekering van God se liefde kan genesing vir jou emosies bring. Jy hoef nie meer jou sin van veiligheid en eiewaarde uit jou familie van herkoms te kry nie, want: ‘…ons is nou reeds kinders van God…’ (1 Johannes 3:2 NLV). Onthou egter dat dit ‘n proses is.
Sterk wortels het drie dinge nodig: 1) Tyd om te groei. Om vol vertroue in jou identiteit as God se kind te word, is soos om nuwe skoene in te loop. Jy moet met hulle loop totdat hulle gemaklik raak. 2) Beskerming van dinge wat dood kan maak. Omring jouself met mense wat jou opbou, eerder as mense wat jou afbreek; mense wat ‘dieselfde kosbare geloof’ (2 Petrus 1:1 NLV), as jy het. 3) Geestelike voeding. Leer om te bid en jouself gereeld uit God se Woord te voed (sien Job 23:12).
Sielskos: 1 Sam 4-7; Luk 23:13-25; Ps 52; Spr 21:17
2021-09-24
Hebreërs 5:4 NLV
Wanneer dit kom by die wete oor wat God jou geroep het om in die lewe te doen, het jy twee opsies:
1) Spekulasie. Dr Hugh Moorhead, die hoof van die filosofie departement by die Northeastern Illinois Universiteit, het aan twee-honderd-en-vyftig bekende filosowe, wetenskaplikes, skrywers en kenners geskryf en vir hulle die eeue-oue vraag: ‘Wat is die betekenis van die lewe?’ gevra. Toe het hy hulle antwoorde in ‘n boek gepubliseer. Sommige het hul beste raaiskote aangebied, ander het erken dat hulle self ‘n doel vir die lewe uitgedink het en ander was eerlik genoeg om te erken dat hulle nie die vaagste benul het wat die betekenis van die lewe is nie. Dank God dat daar ‘n Skriftuurlike alternatief tot spekulasie is!
2) Openbaring. ‘En niemand kan ‘n hoëpriester word bloot omdat hy graag daardie ereposisie wil hê nie…’ Wanneer jy weet dat God jou geroep het om ‘n sekere ding te doen, kan jy verseker wees dat Hy die hulpbronne, wysheid, konneksies en strategie, sal voorsien. Wat meer is, is dat jy al hierdie dinge in sy Woord kan vind. Die Bybel is die oorspronklike eienaarshandleiding wat verduidelik hoekom jy lewe, hoe die lewe werk, wat jy moet vermy en wat jy in die toekoms kan verwag.
Paulus skryf: ‘Ons vertel vir julle van God se plan. Niemand het iets daarvan geweet nie, net God het daarvan geweet. Voordat God die wêreld gemaak het, het Hy begin om sy plan gereed te maak sodat ons eendag saam met Hom kan wees waar Hy Koning is’ (1 Korintiërs 2:7 ABA).
Jy is geneties geskape om ‘n sekere doel in die lewe te vervul. Om hierdie doel te ontdek, moet jy na God se wysheid en nie na die wêreld se wysheid nie, toe draai.
Sielskos: 1 Sam 1-3; Luk 23:1-12; Ps 34; Spr 21:14-16
2021-09-23
2 Timoteus 1:7 AFR53
Die Bybel sê: ‘Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing…’ Om vrees te oorkom, moet ons eerstens verstaan dat vrees ‘n ‘gees’ is en dat dit nie van God af kom nie. Elke keer wat jy dit besef, sal jy minder geneig wees om daartoe in te gee. Wat het God vir ons in die plek van vrees gegee? Drie dinge:
1) Krag. Ons praat nie hier van self-help tegnieke en stresbestuur nie. Dit gaan dieper as blote angsvermindering om jou lewe meer aangenaam te maak. Dis ‘n vaste oortuiging wat na die kern van jou wese gaan, dat alle dinge waaroor jy jou bekommer in die hande van ‘n liefdevolle God is wat net die beste vir jou in gedagte het. Daarom sal alles goed gaan en kan jy sonder bekommernis lewe.
2) Liefde. Die Bybel sê: ‘volwasse liefde dryf die vrees uit…’ (1 Johannes 4:18 NLV). Eers wanneer jy besef dat God, wat nooit van opinie oor jou verander nie, jou onvoorwaardelik liefhet, sal jy leer om jouself lief te hê en te aanvaar en dan in staat wees om ander mense lief te hê en te aanvaar. Kan jy jou die effek indink wat dit op jou vrees vir mense, vrees vir verwerping en vrees vir kritiek sal hê? Hierdie tipe liefde is meer as ‘n ‘goed voel’ emosie; dis ‘n lewensveranderende krag.
3) ‘n Gesonde verstand. Paulus skryf: ‘Elke hooghartige leuen wat die ware kennis van God probeer verdraai, loop ons met God se wapens onderstebo. En elke gedagte wat deur ons kop gaan, neem ons gevange en lewer dit aan Christus uit. Ons dink slegs wat Hy wil hê’ (2 Korintiërs 10:5 DB).
Hierdie drie dinge is God se antwoord op bekommernis.
Sielskos: Hoogl 5-8; Luk 22:63-71; Ps 39; Spr 21:9-13
2021-09-22
1 Johannes 4:18 NLV
Moderne wetenskap bevestig die waarheid van hierdie Skrifgedeelte: ‘Ware liefde het nie plek vir vrees nie; volwasse liefde dryf die vrees uit…’ Liefde en vrees is onversoenbaar; hulle kan nie gelyk bestaan nie. Kinders het twee basiese behoeftes: 1) ‘n Behoefte om hulle omgewing te verken. Dis hoe hulle leer, groei en ontwikkel. 2) ‘n Behoefte om veilig te voel. As hulle nie veilig voel nie, sal hulle nie hul omgewing verken nie.
Elke mens het ‘n veilige basis nodig van waar hulle kan ondersoek instel en groei. Navorsing bevestig dat, oor die algemeen, een ouer hulle kind meer sal aanmoedig om kanse en risiko’s te neem en hulle leer dat ‘n bietjie gevaar ‘n goeie ding is, terwyl die ander ouer gewoonlike die vertrooster en veiligheidsnet is. Die waarheid is egter dat enige ouer ‘n kind beide gawes kan gee.
Wanneer ons bang is, aktiveer ons liggaam sy simpatieke senuweestelsel. Ons harte begin vinniger klop, ons asem word korter en vlakker en ons spiere trek saam. Dus hardloop ons na ons nie-angstige teenwoordigheid toe: ons vertrooster, beskermer en ouer. Soos hulle ons vashou, neem die parasimpatiese stelsel oor. Ons hartklop neem af, ons asem word diep en egalig, ons spiere ontspan en bloed vloei terug na ons brein toe. ‘n Klein stemmetjie sê dan vir ons: ‘Ek kan weer uitgaan en die wêreld in die gesig staar.’
Dis ‘n feit dat volwasse liefde vrees in die fisiese ryk uitdryf. Dis ook waar in die geestelike ryk. Met ‘n God wat teer genoeg is om ons lief te hê en te vertroos, maar tog sterk genoeg is om ons rots en veilige vesting te wees, kan ons enigiets wat die lewe vir ons gee, oorkom en sterker as gevolg daarvan groei.
Sielskos: Hoogl 1-4; Luk 22:54-62; Ps 3; Spr 21:4-8