Probeer gebed – en om te vas!
2021-11-16Markus 9:29 AFR53
Staan jy voor ‘n probleem wat gebed nog nie opgelos het nie? Het jy ‘n geliefde wat deur dwelms, alkohol of ‘n ander destruktiewe krag gevange geneem is? Probeer om te bid – en te vas. Soms is die geestelike geveg waarin jy is so intens, dat dit nodig is om jou liggaamlike behoeftes te ontken en jou geloof deur gebed en deur te vas op te bou, sodat jy kan seëvier.
Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘Ek verseker julle, wie aanhou om in My te glo, sal ook die werke doen wat Ek doen…’ (Johannes 14:12 NLV). Tog, toe die dissipels met ‘n bose gees wat in ‘n seun met selfvernietigende neigings woon, gekonfronteer word, was hulle teleurgesteld omdat hulle gebid het en daar niks gebeur het nie. Toe hulle vir Jesus vra hoekom, het Hy vir hulle gesê: ‘…Hierdie geslag kan deur niks anders uitgaan as deur gebed en vas nie.’
Toe die Joodse volk met uitwissing bedreig is, kon net die koning hulle red. Dus het Ester gesê: ‘Gaan maak al die Jode wat jy in Susan kan kry bymekaar. Vas ter wille van my… Ek en my diensmeisies sal ook vas. Al is dit in stryd met die wette sal ek na die koning toe gaan…’ (Ester 4:16 NLV). Gevolglik is Haman, wat hulle uitwissing beplan het, aan sy eie galg opgehang en die hele Joodse volk is gered.
Daar is tye in jou lewe wat jy vir jou fisiese behoeftes nee moet sê sodat jy op jou geestelike behoeftes kan fokus. Om te vas verskerp jou fokus in gebed, versterk jou geloof, berei jou vir ‘n uitdaging voor en bring wonderbaarlike resultate mee. Om te vas gaan daaroor om ‘n eensgesindheid in jou soeke na God se hulp te hê – en dit bring groot resultate mee.
Sielskos: 2 Kro 8-11; Joh 11:17-27; Ps 8; Spr 26:23-26