Besit ‘n gesindheid van geloof
2021-11-17Filippense 1:12 NLV
Kort voordat hy tereggestel is, het Paulus geskryf: ‘Julle moet weet, liewe broers en susters, dat dit wat met my gebeur het, gelei het tot ‘n deurbraak vir die Goeie Nuus. Dit het vir almal hier, ook vir die soldate van die paleiswag, duidelik geword dat ek in die tronk is ter wille van Christus. En die meerderheid medegelowiges hier is só deur my gevangenskap in hulle vertroue in God versterk dat hulle dit al hoe meer waag om oor die boodskap van God te praat sonder om bang te wees’ (verse 12-14 NLV). Lateraan het hy geskryf: ‘Wees altyd bly… (Filippense 4:4 NLV). Paulus het ‘n positiewe geestelike gesindheid gehad. Hy kon nie sy omgewing beheer nie, maar hy het ‘n gesindheid gekies wat hom in staat gestel het om sy omstandighede te oorkom.
Wanneer jy mense ontmoet, sê jy vir jouself dat hulle jou in die steek gaan laat? Wanneer jy voor nuwe ervarings te staan kom, sê ‘n stem binne-in jou dat jy gaan misluk? Een middag toe hy in die park gestap het, het ‘n man op ‘n bofbalwedstryd afgekom. Hy het gestop en vir een van die seuntjies gevra wat die telling is. Die seuntjie het geantwoord: ‘Agtien teen niks – ons is agter.’ Die man het gesê: ‘Julle is seker moedeloos.’ Die seuntjie het geantwoord: ‘Hoekom sal ek moedeloos wees? Ons het nog nie eers ons beurt gehad om te kolf nie!’
Wat ‘n verskil kan ‘n gesindheid van geloof nie maak nie! Die laaste woorde in die Bybel is as volg: ‘Die genade van die Here Jesus sal by almal wees’ (Openbaring 22:21 NLV). Besit ‘n gesindheid van geloof – God sal jou die genade gee om dit te hanteer!
Sielskos: 2 Kro 12-15; Joh 11:28-37; Ps 50; Spr 26:27-28