2021-10-03
2 Korintiërs 9:7 NLV
Ons almal gee om verskillende redes. 1) Sommige mense gee uit skuldgevoel. Hulle gee vir God se werk, omdat hulle sleg sou voel indien hulle dit nie doen nie.
2) Sommige mense gee uit gierigheid. Hulle gee net sodat hulle kan ontvang. Hulle staan op Skrifgedeeltes soos: ‘As julle gee, sal julle ontvang. Julle gawe sal na julle terugkom in volle maat, ingestamp, geskud om plek vir meer te maak, tot oorlopens toe vol. Met watter maat julle ook al meet – klein of groot – dit sal gebruik word om te meet wat julle sal terugontvang’ (Lukas 6:38 NLV). Wat is verkeerd met hierdie tipes denkwyses? Dit is ‘ek-gesentreerd,’ eerder as ‘ons-gesentreerd.’
3) Sommige mense gee om eer te ontvang. Jesus het gesê: ‘Wees versigtig! Moenie julle praktiese godsdiens in die openbaar beoefen sodat almal julle bewonder nie. Anders gaan julle julle beloning by julle hemelse Vader misloop’ (Matteus 6:1 NLV). God is nie net in dit wat jy gee geïnteresseerd nie, maar ook in hoekom jy gee. Hy kyk verder as die maat van jou gawe tot die beweegrede daaragter. As jy aan God uit gierigheid, skuld of glorie gee, skryf Hy ‘n groot, vet nul op jou rekening. Jesus het gesê: ‘Maar as jy mense in nood help, doen dit sonder groot vertoon. So sal jou hulpbetoon geheim bly, en jou Vader wat alle geheime ken, sal jou beloon’ (Matteus 6:3-4 NLV).
4) Sommige mense gee uit dankbaarheid. Hierdie is die mense wat vra: ‘Hoe kan ek die Here vergeld vir al sy goeie dade aan my?’ (Psalm 116:12 NLV), en hulle gee uit dankbaarheid. Dis die tipe gewer wat jy moet wees.
Sielskos: Gen 1:1-2:3; Joh 1:1-18
2021-10-02
Romeine 12:8 DB
Die Bybel sê: ‘…God [het] vir ons elkeen besondere hemelse geskenke gegee… As jou hemelse geskenk is… om jou besittings met ander te deel, moet dan nie suinig wees nie…’ (verse 6-8 DB). Elke gelowige ontvang die genade om te gee, maar sommige van ons het die gawe om te gee, ontvang. Wie is hierdie mense? Hulle het die Midas aanraking. Hulle weet hoe om slim beleggings te maak en ‘n goeie kopie raak te sien. Hulle trek inderwaarheid goeie kopies soos ‘n magneet aan. Hulle weet hoe om die beste opbrengs uit hulle beleggings te kry. As jy een van hierdie mense is, moet jy besef dat jou vermoë om rykdom bymekaar te maak ‘n gawe van God is: ‘Onthou altyd dat dit die Here jou God is wat vir jou die krag gee om ryk te word…’ (Deuteronomium 8:18 NLV). God sê ook: ‘…Ek is die Here jou God wat jou onderrig tot jou beswil, wat jou lei op die pad waarop jy moet gaan’ (Jesaja 48:17 AFR83).
Moet egter nie toelaat dat voorspoed veroorsaak dat jy trots word nie. Jy is nie ryk as gevolg van jou vermoë om sake te beklink nie, maar omdat God jou geseën het. Hy het dit vir ‘n rede gedoen; sodat jy ‘n seën vir ander kan wees. God het vir Abraham gesê: ‘…Ek sal jou seën sodat jy geëerd sal wees, en vir ander tog ‘n seën sal wees’ (Genesis 12:2 NLV). Dit beteken dat wanneer God jou op die skouer tik en vir jou sê om ‘n tjek uit te skryf, moet jy nie met Hom argumenteer nie. Vra net: ‘Hoeveel?’ Hoekom? Omdat God nie net kan gee nie, maar ook kan neem!
Sielskos: 1 Sam 20:30-23:29; Luk 24:25-35; Ps 60; Spr 22:7-11
2021-10-01
2 Korintiërs 8:7 NLV
Paulus skryf: ‘Aangesien julle in elke opsig uitmunt: in geloof, met die woord, kennis, groot ywer en die liefde wat ons aan julle betoon het, munt dan nou ook uit in hierdie liefdeswerk.’ Wat is die liefdeswerk waarvan Paulus hier praat? Om te gee! God het jou nie geroep om ‘n reservoir te wees wat al sy seëninge vir jouself opgaar nie, maar ‘n rivier wat sy seëninge na ander mense toe neem. Baie Christene het geleer hoe om te ontvang, maar nie hoe om te gee nie. As jy in die gewoonte kom om ‘n Christen te wees wat ontvang, eerder as om ‘n Christen te wees wat gee, sal jou geloofslewe opdroog en aan die wingerdstok sterf.
Daar is twee seë in Palestina wat beide deur die Jordaanrivier gevoed word. Een see is vars en loop oor van lewe. Visse swem daarin, groen plante en bome strek hulle takke oor die oewer uit en vestig hulle wortels om van die voedende water te kan drink. Die ander see bevat egter geen lewe nie. Geen vis kan daarin oorleef nie. Niemand kan van die water, wat vuil en besoedel is, drink nie. Tog word beide seë deur die Jordaanrivier gevoed.
Wat is die verskil? Die See van Galilea ontvang water van die Jordaan, maar dit gee ook water. Vir elke druppel wat in die see invloei, vloei daar weer ‘n druppel uit. Die ander see gaar egter sy water op. Elke druppel wat dit ontvang, word geberg. Die See van Galilea gee en lewe. Die ander see ontvang en gaar op en word die Dooie See genoem.
Wanneer jy opgaar en jou seëninge vir jouself hou, sal jy geestelik sterf. Wanneer jy egter mildelik gee, kry jy geestelik lewe.
Sielskos: 1 Sam 18:1-20:29; Luk 24:13-24; Ps 68:19-35; Spr 22:6
2021-09-30
1 Korintiërs 10:33 NLV
Hier is ‘n groep waarvan jy nie deel wil wees nie: ‘…jy moet ook dít weet… dat daar gedurende die laaste dae moeilike tye sal kom. Want mense sal net hulleself en hulle geld liefhê… hulle sal plesier liewer hê as vir God’ (2 Timoteus 3:1-4 NLV).
Daar is niks fout daarmee om geld te maak nie. Inteendeel, as jy die Here eer, sal Hy jou help om meer daarvan te maak (sien Deuteronomium 8:18, Jesaja 48:17, Lukas 6:38, 2 Korintiërs 9:8). Daar is egter ‘n Bybelse beginsel waarvolgens jy moet lewe om in God se seën te deel. Wanneer jy genoeg geld het om aan jou eie behoeftes te voldoen, moet jy gewillig wees om ja vir God te sê wanneer Hy jou vra om aan iemand anders se behoefte te voldoen.
As jy graag selfsug wil oorwin en meer vrygewig wil word, is daar ‘n paar stappe wat jy kan neem: 1) Gee iets weg wat jy eerder sou wil hou. Die doel daarvan is om jou gehegtheid aan materiële dinge te verbreek.
2) Beoefen anonieme welwillendheid. Los ‘n kontantgeskenk vir ‘n bejaarde, ‘n student of ‘n enkelouer in ‘n koevertjie. Moenie jou naam daarop skryf nie en moenie enigiemand daarvan vertel nie. Nee, jy kan dit ook nie van belasting aftrek nie. God beloof egter om dit veelvoudig aan jou terug te besorg, in die areas waar jy dit die meeste nodig het (sien Galasiërs 6:7).
3) Laat iemand wat jy vertrou, jou vordering monitor. Ontmoet hulle dwarsdeur die jaar en nooi hulle uit om nie te vra hoeveel geld jy gemaak het nie, maar hoeveel jy aan ander mense weggegee het.
As jy ernstig daaroor is om selfsug te oorkom, is hierdie die stappe wat jy gewillig sal wees om te neem.
Sielskos: 1 Sam 16-17; Luk 24:1-12; Ps 68:1-18; Spr 22:1-5
2021-09-29
Spreuke 19:17 NLV
Hier is vier maniere hoe jy goedhartigheid en vrygewigheid aan ander mense kan demonstreer.
1) Gee jou tyd. Deur ‘n paar ure van jou tyd aan iemand te gee, veral as jy ‘n besige persoon is, kan die wêreld vir iemand wat seer het, beteken.
2) Gee jou talent. Organisasies soos Habitat For Humanity en Dokters Sonder Grense gebruik die talente van begaafde mense om skuiling aan diegene in nood te verskaf en die lyding van mense te verlig. Dis Skriftuurlik! (sien Matteus 25:34-46).
3) Gee jou skatte. ‘Om na ‘n arm mens om te sien, is ‘n lening aan die Here. Hy sal jou daarvoor vergoed.’ Kan jy jou die rente wat God betaal, indink?
4) Gee jou geaardheid. Elkeen wat jy ontmoet, worstel met angs en veg oorloë waaroor hulle nie gewoonlik praat nie. Jou glimlag en woord van bemoediging kan dus vir hulle ‘n lewensboei wees wat hulle daardie dag help om kop bo water te hou.
Selfsug is so ingebore in elkeen van ons dat dit soos asemhaal is; ons doen dit sonder om daaraan te dink. Om dus te verander, moet ons ons prioriteite herrangskik, ons gedagtes herprogrammeer en besluit: ‘Ek sal nie hierdie dag laat verbygaan sonder om iets te doen of te sê wat iemand anders kan help, seën of bemoedig nie. God het vir Abraham gesê: ‘…Ek sal jou seën sodat jy geëerd sal wees, en vir ander tot ‘n seën sal wees’ (Genesis 12:2 NLV).
Bid vandag: ‘Vader, ek dank U vir elke hulpbron en voordeel wat U vir my gegee het. Help my asseblief om altyd te onthou dat daardie seëning van U af kom en dat ek hulle met ander, tot verheerliking van U, moet deel. In Jesus se naam bid ek dit, amen.’
Sielskos: 1 Sam 14-15; Luk 23:44-56; Ps 91; Spr 21:28-31
2021-09-28
1 Johannes 3:17 NLV
Op ‘n skaal van een tot tien, hoe dikwels dink jy aan die behoeftes van ander en probeer om daaraan te voldoen? Voor jy antwoord, lees eers die volgende: ‘Iemand wat ryk is aan aardse lewensmiddele en sy broers en susters sien gebrek ly, maar weier om ‘n helpende hand uit te steek – hoe is dit moontlik dat die liefde van God in daardie persoon woon?’
God vra nie van jou om vir ander mense op te offer tot by die punt waar jy jou eie gesondheid en geestelike welstand in gevaar stel en dan wrokkig daaroor voel nie. Hy verwag ook nie van jou om aan elke behoefte wat oor jou pad kom te voldoen nie. Hy daag egter die: ‘Wat kry ek daaruit?’ mentaliteit van ons samelewing uit, waar selfbevrediging, selfverbetering en selfverligting toenemend bemark word.
B.C. Forbes, die stigter van die Forbes tydskrif, het gesê: ‘Ek het nog nooit iemand, hoogmoedig of nederig, geken wat aan die einde van sy lewe spyt was omdat hy goedhartige dade gedoen het nie. Ek het wel meer as een geken waar die besef dat hulle selfsugtige lewens gelei het, by hulle gespook het.’ Jakobus skryf: ‘Sê nou jy sien ‘n Christenbroer of suster wat kos en klere nodig het, en jy sê: ‘Ek hoop dit gaan goed met jou; sorg dat jy warm aantrek en genoeg eet,’ maar jy gee nie vir daardie persoon kos of klere nie. Wat help dit dan? Dis duidelik: Om net te sê wat jy glo, is nie genoeg nie. Geloof wat nie dade word nie, is eintlik glad nie geloof nie – sulke geloof is dood en help niks’ (Jakobus 2:15-17 NLV).
Dink dus meer aan ander.
Sielskos: 1 Sam 11-13; Luk 23:35-43; Ps 13; Spr 21:22-27