Leierskapsverantwoordelikheid (2)

2022-04-14
2 Korintiërs 3:5-6 NLV

Dit het goed met Dawid gegaan. Hy het oorlog na oorlog gewen. Alles wat hy aangeraak het, het in goud verander! Sukses kan egter na jou kop toe gaan en Dawid was geen uitsondering nie. Hy het begin wonder: ‘Hoe sterk is ons regtig?’ Op daardie punt het hy ‘n sensusopname gedoen en ontdek dat hy 1 100 000 mense wat militêre diens kon lewer…’ (1 Kronieke 21:5 NLV), gehad het. Dit kan enigeen van ons in die versoeking bring om te dink: ‘Met ‘n weermag van hierdie grootte en ons rekord van suksesse, het ons nie nodig om tot God te bid of Hom vir ‘n plan te vra nie.’ Op daardie punt het God ingetree, Dawid geoordeel en sewentigduisend Israeliete het onnodig gesterf (sien vers 14 NLV).

Hier is dus ‘n ander aspek van leierskap waarvan jy bewus moet wees: Jou foute het die potensiaal om ander mense seer te maak. Jy moet nie net verantwoording teenoor diegene bo jou doen nie; jy is verantwoordelik vir die mense onder jou. As jou goeie besluite die vermoë het om mense te seën en hulle te lei, het jou slegte besluite die potensiaal om hulle skade aan te doen.

“En Dawid het vir God gesê: ‘Ek was die een wat die sensus beveel het! Ek is die een wat gesondig het en verkeerde dinge gedoen het!.. O Here my God, laat u woede teen my en my familie ontbrand, maar moenie u volk vernietig nie!'” (vers 17 NLV). God het genadiglik Dawid se gebede beantwoord.

Jy het dus God se leiding vir jouself, die mense rondom jou en vir die genade om verantwoordelikheid te aanvaar wanneer jy misluk, nodig. Moenie jou mislukkings probeer wegsteek, ander probeer blameer of vir God probeer weghardloop nie. Erken jou foute, groei deur hulle en gaan voort om wyser te word.

Sielskos: Lev 24-25; Luk 23:18-25; Ps 69:1-6; Spr 10:5

Leierskapsverantwoordelikheid (1)

2022-04-13
1 Kronieke 21:1 NLV

Pas nadat hulle ‘n groot oorwinning oor die Filistyne behaal het, het koning Dawid ‘n groot fout begaan. In plaas daarvan om op God vir sy volgende geveg te vertrou, het hy ‘n sensusopname geneem om sy militêre krag te meet en sy kanse op oorwinning te bepaal. Gevolglik het sewentigduisend Israeliete omgekom. Hierdie verhaal leer ons drie belangrike lesse oor leierskapsverantwoordelikheid:

1) Jy is, as leier, Satan se spesiale teiken. Hy weet dat hy deur jou moet gaan om by ander uit te kom, dus sal hy elke strategie gebruik om jou neer te vel. Die gemiddelde raad van direkteure sou die sensusopname heel waarskynlik as ‘n goeie idee gesien het, maar God het dit as ‘n daad van arrogansie en ongeloof gesien.

2) Moenie aanmatigend wees nie. Moenie dat jou vorige oorwinning jou te selfversekerd oor jou volgende geveg maak nie. Die feit dat God pas vir Dawid ‘n groot oorwinning gegee het, moes hom meer, nie minder nie, afhanklik van God gemaak het. Paulus skryf: ‘Nie dat ons op eie houtjie iets kan bedink asof dit ons eie breinkind is nie. Ons bekwaamheid kom van God, wat ons bekwaam gemaak het…’ (2 Korintiërs 3:5-6 NLV).

3) Luister na wyse raad. Joab, een van Dawid se offisiere, het hom gewaarsku dat hy besig was om ‘n groot fout te maak. ‘Maar die koning het daarop aangedring dat Joab die sensus opneem…’ (1 Kronieke 21:4 NLV). Jy mag dalk groot gawes hê, maar jy het nie al die gawes nie. Waar jy blinde kolle het, het ander mense dikwels 20/20 visie. ‘…dit is veilig om baie raadgewers te hê’ (Spreuke 11:14 NLV), luister dus na die mense wat God in jou lewe geplaas het om jou te lei en te beskerm.

Sielskos: Lev 22-23; Luk 23:8-17; Ps 32; Spr 10:4

Verstaan jou wilskrag

2022-04-12
Romeine 12:3 NLV

Ons het oordrewe idees van ons vermoëns. Ons hou daarvan om te dink dat ons alles kan doen. Dit maak egter nie saak hoe gedissiplineerd jy is of hoe hard jy probeer nie, as jy jouself nie nugter kan beoordeel nie, stel jy jouself vir mislukking oop.

John Ortberg sê: ‘Wilskrag is beperk. Jy het nie aparte voorraad in verskillende areas nie. Dis hoekom ‘n lang lys nuwejaarsvoornemens amper altyd in die hek duik. Dit neem baie wilskrag om ‘n oefenprogram om gewig te verloor, te begin. Voeg daarby die voorneme om geld te spaar, jou kantoor skoon te hou en elke week ‘n boek te lees en jy stel jouself vir mislukking oop. Die meeste van ons se wilskrag gee in voor ons liggame ingee.’

Ortberg stel die volgende voor: 1) Skeduleer jou belangrikste take vir wanneer jou wilskrag die sterkste is. Vir baie mense vind dit in die oggend plaas. Een studie wys dat gevangenes ‘n beter kans op parool het as hulle saak in die oggende aangehoor word, wanneer die regter ‘n hoër reserwe wilskrag het en meer geneig is om ‘n kans te neem.

2) Bestee jou wilskrag met wysheid deur nie te veel take op dieselfde tyd aan te pak nie.

3) Stel doelwitte – maar nie te veel nie. Wanneer ons te min doelwitte het, dobber ons rond, maar te veel doelwitte veroorsaak dat ons onsself oor hulle bekommer, minder bereik en fisies en emosioneel daaronder ly.

4) Onthou dat die een daad van jou wil wat wilskrag opvul eerder as uitput, oorgawe is. God het bedoel dat ons gebed, afsondering, lofprysing en meditasie op so ‘n manier moet doen, dat dit ons sal herstel.

Sielskos: Lev 20-21; Luk 23:1-7; Ps 25:16-22; Spr 10:3

‘n Veilige plek om af te pak

2022-04-11
Galasiërs 6:2 AFR83

Het jy al ooit iets gesê wat jy gewens het jy kon terugneem? Jy het al, né? Chuck Swindoll skryf: ‘Ons tree impulsief op en besef, na die tyd, hoe dwaas ons was. Boonop maak ons die mense vir wie ons die liefste is, seer. Al hierdie dinge druk swaar op ons gemoed en ons wonder hoe enigiemand, veral God, vir ons kan lief wees. Wanneer ons so begin dink, moet ons ons gedagtes op die ‘mekaar’ in die Nuwe Testament rig. Wees lief vir mekaar, bou mekaar op, wys mekaar tereg, bemoedig mekaar, lewe in vrede met mekaar, bely julle sondes teenoor mekaar, praat met mekaar, bid vir mekaar. ‘Dra mekaar se laste…’ (Galasiërs 6:2 AFR83).

Dink aan twee bergklimmers. Een het ‘n ligte rugsak terwyl die ander arme siel onder sy bagasie steier. Dit kan ‘n langslewende wrok wees wat sy binneste vergiftig. Of ‘n gebroke verhouding met sy vrou of een van sy kinders wees. Die rugsak kan met onbetaalde rekeninge oorlaai wees. Die vraag is: Waar kan hy gaan om af te pak? Wat hy nodig het, is ‘n plek waar daar persoon-tot-persoon omgee en opregte deelname is. Waar hy vry, sonder skaamte, kan voel om sy geheim of stryd te deel. Waar iemand na hom sal luister, hom sal help afpak en hom nuwe krag sal gee.

Volwasse selgroepe is nie miniatuur kerkdienste nie. Hulle is groepe mense wat Christus liefhet en daarin glo om mekaar te help. Hulle wys nie vinger of preek of vergelyk nie. Hulle is jou broers en susters in Christus. Is jy by ‘n selgroep betrokke? Indien nie, oorweeg dit om by een aan te sluit of een te begin.’ Sodra jy begin afpak, sal jy agterkom hoeveel makliker die reis voel.

Sielskos: Lev 18-19; Luk 22:63-71; Ps 25:8-15; Spr 10:2

Watter ‘kleur’ is jou tong?

2022-04-10
Matteus 12:34 NLV

Toe Mary Southerland ‘n vreeslike koors ontwikkel het, het haar dokter vermoed dat sy virale meningitis opgedoen het. ‘Hoe lank het jy al die soliede wit laag op jou tong?’ het hy gevra. Die dokter het voortgegaan: ‘Die gesondheid van die tong is ‘n baie sterk aanduiding van die gesondheid van die hele liggaam.’

Geestelik gesproke is dieselfde beginself op ons van toepassing. ‘…Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. ‘n Goeie mens bring uit die oorvloed goeie dinge in sy hart goeie dinge te voorskyn en ‘n slegte mens bring uit die oorvloed slegte dinge in sy hart die slegte te voorskyn’ (verse 34-35 NLV)

Southerland gaan voort: ‘Die tong is ‘n geestelike termometer wat die toestand van die hart reflekteer. Woorde is kragtige gereedskap wat kan opbou en bemoedig, of kan afbreek en verwarring kan saai. Ons is al almal deur woorde wat in woede of uit ‘n gewonde hart gespreek is, seergemaak of selfs oorwin. As ek met my woorde spog, is my hart onseker. As my woorde vuil is, is my hart onrein en as my woorde krities is, is my hart met trots en woede gevul.

Salomo het gesê: ‘Woorde op die regte tyd gesê, is soos goue appels in ‘n silwer houer’ (Spreuke 25:11 NLV). Die regte woord, wat op die regte tyd en op die regte manier gespreek word, kan orde te midde van verwarring en lig op ‘n baie donker pad, meebring. ‘Die regverdige weet wat die gepaste dinge is om te sê…’ (Spreuke 10:32 NLV). God gee vir ons geestelike ‘radar’ sodat ons ‘n situasie kan oorweeg en die regte woord vir daardie omstandighede kan spreek. Ons moet net eers die ‘radarskerm’ raadpleeg voordat ons praat.’

Sielskos: Matt 21:1-16; Ps 118:19-29

‘n Hart van vleis

2022-04-09
Esegiël 36:26 ABA

Wanneer jy seerkry, is dit maklik om verskansings op te rig. Wees egter versigtig – ‘n beskermende muur kan in ‘n ‘klip-hart’ verander: wederstrewig, ondeurdringbaar en onontvanklik; selfs vir God.

Een Christenskrywer merk op: ‘Die enigste ding wat pynliker, met ernstiger gevolge, as ‘n gebroke hart is, is ‘n verharde hart. Paulus waarsku ons daarteen om toe te laat dat ons harte verhard: ‘…hulle is ver van God en hulle het nie die ware lewe nie omdat hulle niks van God wil weet nie. Hulle harte is so hard soos klip’ (Efesiërs 4:18 ABA).

‘n Sagte hart is nie swak of naïef nie. Inteendeel, wysheid, ervaring en geloof versterk ‘n hart wat deur deernis verweer en deur barmhartigheid besaai is. Na ‘n week wat soos een pynlike toets op die volgende gevoel het, het ek my beste vriendin in trane gebel. ‘Hoekom eindig dit nie? Hoe sterk wil God hê ek moet wees? Ek kan dit nie langer vat nie!’ Sy het uit haar Godgegewe wysheid geantwoord: ‘Miskien is dit andersom. Jy was nou vir lank sterk genoeg. God wil hê dat jou hart sag en oop moet wees.’

Ek het nie so daaraan gedink nie. Dis maklik om ‘n klip-hart in reaksie op hartseer, verraad of skande te ontwikkel. Ons dink dat dit ons van nog pyn sal beskerm. Die probleem met klip is egter dat dit niks voel nie – nie pyn nie, maar ook nie liefde nie. Dit is ‘n strik wat soos selfbehoud voel, maar inderwaarheid selfvernietigend is. God wil vir jou ‘n hart van vleis gee. Met sy liefde kan jy aan die einde van ‘n pynlike seisoen van verlies met ‘n hart wat toegewyd en gereed is vir die gawes wat Hy vir jou wil gee, na vore kom.’

Sielskos: Lev 15-17; Luk 22:54-62; Ps 25:1-7; Spr 10:1