Intimiteit met Jesus – die geheim tot oorwinning

2022-06-04
Filippense 3:10 NLV

Paulus het gesê: ‘Op hierdie manier kan ek Christus persoonlik ken en die krag beleef wat Hom laat opstaan het. Deur saam met Hom te ly kry ek deel aan sy dood’. Kom ons kyk in diepte na hierdie vers.

1) ‘Kan ek Christus persoonlik ken.’ In die Skrif, dui die woord ‘ken’ ‘n fisiese intimiteit tussen twee mense wat vir mekaar lief is, aan. Byvoorbeeld: ‘En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kain gebaar…’ (Genesis 4:1 AFR53).

2) ‘En die krag beleef wat Hom laat opstaan het.’ Wat in jou lewe is dood wat weer moet opstaan? Daar is geen probleem wat Christus se opstandingskrag nie kan hanteer nie. Hoe kry jy toegang daartoe? Wanneer jy intimiteit met Christus jou hoogste prioriteit maak, kan jy uit hierdie krag put.

Sommige van ons sou verkies het as die vers hier geëindig het. Die waarheid is egter dat indien jy intimiteit met Christus wil geniet, moet jy gewillig wees om ‘saam met Hom [te] ly.’ Lyding verwys in hierdie opsig nie na slegte allergieë of geld wat jy op die aandele mark verloor het nie. Vir Paulus het dit beteken om geslaan, verraai en onthoof te word. Dit het egter ‘n intimiteit met Jesus meegebring wat op geen ander manier ervaar kan word nie.

As jy ooit diep saam met ‘n ander persoon gely het, sal jy hierdie beginsel verstaan. Jy sal nooit ware intimiteit met iemand ervaar deur vir hulle te sê: ‘Ek wil slegs die goeie tye met jou deel’, nie. Dikwels ontstaan die sterkste bande deur die lyding wat ons saam ervaar; toetse wat veroorsaak dat ons mekaar op ‘n nuwe, dieper dimensie leer ken, liefhê en vertrou.

Sielskos: 1 Kon 16:1-18:15; Matt 14:13-21; Ps 121; Spr 12:23-24