2022-04-08
Johannes 9:4 NLV
Net soos die res van ons, het Jesus ook soms moeg geword (sien Johannes 4:6). Hy was egter nooit oor sy werk bekommerd nie. Hy het geweet wat gedoen moet word en die tyd wat dit sou verg en het ‘n span uitgekies om dit te bewerkstellig. Drie van sy span – Petrus, Jakobus en Johannes – was in sy binneste kring. Dis nie dat Hy hulle voorgetrek het nie; Hy het net die spesifieke gawes van die mense met wie Hy gewerk het geken en geweet wat Hy van elkeen nodig gehad het om die werk gedoen te kry.
‘n Belangrike stap om iets groots te bereik, is om te weet watter tipes mense jy gaan nodig kry. Met ander woorde, jy moet weet wie in jou span moet wees. Jesus het drie-en-‘n-half jaar bestee om sy dissipels op te lei voordat Hy verantwoordelikheid aan hulle gedelegeer het. Was Hy bang dat hulle foute sou maak, Hom in die skadu sou stel of Hom sleg sou laat lyk? Nee, Hy het vir hulle gesê: ‘Ek verseker julle, wie aanhou om in My te glo, sal ook die werke doen wat Ek doen; hy sal selfs nog groter dinge as dit doen omdat Ek na die Vader toe op pad is’ (Johannes 14:12 NLV).
Jesus was ‘n spanspeler wat dinge deur ander mense gedoen gekry het. Selfs wanneer jy egter ‘n taak opdeel, dit strategies beplan en uitstekende mense daarvoor werf, het jy nog een komponent nodig om sukses te behaal: spanwerk! Spanwerk is die gom wat mense bymekaar bring en hulle bymekaar hou. Daar is vandag meer as ‘n biljoen Christene in die wêreld. Dit alles het tweeduisend jaar terug by ‘n Man wat ‘n visie gehad het begin, ‘n Man wat ‘n span gewerf en opgelei het om daardie visie te vervul. As jy wys is, sal jy sy werksfilosofie bestudeer.
Sielskos: Lev 13:38-14:57; Luk 22:39-53; Ps 4; Spr 9:13-18
2022-04-07
Johannes 4:34 NLV
In plaas daarvan om Jesus tot die kerk op Sondae te beperk, kom ons bestudeer sy werksfilosofie (houding, waardes en beginsels) oor hoe om dinge gedoen te kry. Die beginsels waarvolgens Hy geleef het, verg die volgende:
1) Om duidelikheid oor jou opdrag te hê. Jesus het verstaan dat fokus nodig is om vaardighede en geleenthede ten volle te benut. As jy dus talentvol, energiek en aktief is en steeds nie konkrete resultate sien nie, mag jou probleem dalk ‘n gebrek aan fokus wees. Toe Nehemia besig was om Jerusalem se mure te herbou, het sy vyande ‘n boodskap gestuur en gesê: ‘…Kan ons mekaar… ontmoet?…’ (Nehemia 6:2 AFR83). Nehemia het egter geantwoord: ‘…Ek is met ‘n groot taak besig, ek kan nie nou daarmee ophou en julle ontmoet nie'(vers 3 NLV).
2) Om jou take in die volgorde van belangrikheid te prioritiseer. Wanneer jy nie die belangrikste take eerste doen nie, begin take hulself volgens hulle dringendheid reël. Wanneer dit gebeur, loop jy groot geleenthede mis. Die Bybel sê Jesus: ‘…moes deur Samaria reis’ (Johannes 4:4 NLV). Vir sy dissipels het dit seker soos ‘n afleiding gelyk, want dit was nie die kortste roete na hulle bestemming nie. Daar was egter ‘n vrou in Samaria wat Jesus wou verlos; iemand deur wie Hy ‘n hele stad met die evangelie sou bereik. Jesus was duidelik oor sy prioriteite. Is jy?
3) Om ‘n noukeurige rooster te skep. Met ander woorde, stel spertye vir jouself en hou daarby. Jesus het geweet dat Hy net drie-en-‘n-half jaar gehad het om sy werk te doen en Hy het elke dag laat geld. Een van die grootste leuens wat ons vir onsself vertel is: ‘Ek sal later daarby uitkom.’ Om sukses in die lewe te behaal, moet jy Jesus se werksfilosofie as jou bloudruk aanneem.
Sielskos: Lev 11:1-13:37; Luk 22:24-38; Ps 50:16-23; Spr 9:12
2022-04-06
2 Timoteus 1:7 DB
Die fondasie van goeie leierskap is selfversekerdheid. Paulus het vir Timoteus gesê: ‘Die Heilige Gees, wat deur God aan ons gegee is, is nie lafhartig nie, maar sterk. Hy maak ons ook sterk, gee vir ons liefde vir ander en help ons om nie verkeerde dinge te doen nie.’ Jy moet met sekerheid weet dat God jou geroep het, toegerus het en jou uiteindelike sukses gewaarborg het. Jy moet dit ook in gedagte hou wanneer ander mense nie meer van jou hou nie, wanneer die fondse opdroog, wanneer moraal afneem en ander mense jou verwerp. As jy onseker voel, sal vrees uiteindelik veroorsaak dat jy jou eie leierskap saboteer.
‘n Selfversekerde leier sien wat tans is, terwyl hulle hulle visie van wat kan wees, handhaaf. Hulle is selde tevrede met die huidige stand van sake. By definisie beteken om ‘te lei’ om voor te loop, nuwe grond te breek, nuwe wêrelde te oorwin en weg van die status quo af te beweeg. Ontevredenheid met die status quo beteken nie dat jy ‘n slegte houding het of kla nie; dit het te make met die gewilligheid om anders te wees en risiko’s te neem. ‘n Persoon wat nie die risiko van verandering wil onderneem nie, is iemand wat nie groei nie.
‘n Leier wat lief is vir die status quo, is een wat gou in ‘n volgeling verander. Baie mense is meer gemaklik daarmee om met ou probleme te sukkel as om nuwe oplossings te vind; risiko lyk vir hulle onveilig. Die geheim lê daarin om ‘n oorwinnende houding te hê – een wat in die versekering van wie jy is en wat jy geroep is om te doen, te vinde is. Dink daaroor!
Sielskos: Lev 8-10; Luk 22:14-23; Ps 50:1-15; Spr 9:10-11
2022-04-05
Johannes 8:32 NLV
Jesus het gesê: ‘en julle sal begryp wat die waarheid beteken, en die waarheid sal julle vrymaak.’ Dit verg dapperheid om ‘n pynlike realiteit in die gesig te staar. Dis makliker om op ‘n huwelik wat in die moeilikheid is op te gee, as om te bly en na ‘n beter plek toe te werk. Dis makliker om aan wanhoop en selfbejammering oor te gee as om terug skool toe te gaan en opleiding vir ‘n nuwe beroep te kry.
Dit verg dapperheid om vir jou beginsels op te staan wanneer jy in die spervuur beland. Iemand het egter gesê: ‘Tensy jy vir iets opstaan, sal jy vir enigiets val.’ Die waarheid is dat enige tyd wanneer jy gewillig is om vir iets op te staan of om iets nuuts te probeer, sal iemand jou teenstaan. Dis maklik om dapper te wees wanneer jy sterk voel, maar dis baie moeiliker om dapper te wees wanneer jy swak en onvoldoende voel. Dis egter dan wanneer jy dapperheid die nodigste het.
Generaal Omar Bradley het opgemerk: ‘Dapperheid is die kapasiteit om reg op te tree, selfs wanneer jy doodbang is.’ Dapperheid beteken dat jy sê: ‘As God dit beloof het, glo ek dit,’ en dat jy dan ten spyte van struikelblokke vorentoe beweeg.
As jy vandag ‘n dosis dapperheid nodig het, lees en mediteer oor die volgende verse: 1) ‘…wees sterk en moenie moedeloos word nie, want julle werk sal beloon word’ (2 Kronieke 15:7 NLV). 2) “Versterk die moeë hande van dié wat moeg geword het. Bemoedig dié wie se knieë swak word en knik. Sê vir dié wat bang is: ‘Wees sterk en moenie bang wees nie. Want julle God kom… om julle te red!'” (Jesaja 35:3-4 NLV). Dís dapperheid!
Sielskos: Lev 5-7; Luk 22:1-13; Ps 26; Spr 9:8-9
2022-04-04
Josua 1:9 NLV
Omdat God geweet het watter oorloë hy sou moes veg om die Beloofde Land in te neem, het Hy vir Josua gesê: ‘My opdrag aan jou is dat jy sterk en dapper moet wees…’ Jy sal altyd struikelblokke in jou pad hê wanneer jy vorentoe wil beweeg. H.G. Wells het gevra: ‘Wat op aarde sal ‘n man met homself doen, as iets nie in sy pad staan nie?’ Wat het hy daarmee bedoel? Dat teëspoed jou vriend is – selfs wanneer dit soos jou vyand voel. Elke struikelblok waarvoor jy te staan kom, openbaar jou sterkpunte en swakhede.
Die digter Ralph Waldo Emerson het geskryf: ‘Whatever you do, you need courage. Whatever course you decide upon, there is always someone to tell you that you are wrong. There are always difficulties arising that tempt you to believe your critics are right. To map out a course of action and follow it to an end requires some of the same courage that a soldier needs. Peace has its victories, but it takes brave men and women to win them.’
Enige tyd wat jy jou gemaksone verlaat en ‘n tree in geloof neem om God te volg, sal jy getoets word. Jy sal egter hoogtes bereik wat jy gedink het buite jou bereik is en verder gaan as ander mense wat meer talent het, maar met die status quo tevrede is. Paulus sê vir ons: ‘Ons gee nooit moed op nie, ook nie wanneer ons rondgestamp en mishandel word nie. Nee, dan byt ons eers vas, want God is die hele tyd by ons… Ons bietjie swaarkry hier en nou weeg nie op teen al die goeie dinge wat op ons wag in God se nuwe wêreld nie…’ (2 Korintiërs 4:16-17 DB).
Dapperheid is wanneer jy eenvoudig nie opgee nie.
Sielskos: Lev 1-4; Luk 21:25-38; Ps 18:30-50; Spr 9:7
2022-04-03
Romeine 6:14 NLV
As jy rose wil kweek, moet jy oorlog teen onkruid voer; andersins sal hulle jou tuin oorneem. Met ander woorde, jy moet die onkruid uitroei! Daar is ‘n geestelike parallel wat hier getrek kan word: Tensy jy sonde beslissend hanteer, sal dit jou lewe oorneem.
Paulus stel dit so: ‘Ons weet dat ons ou sondige self saam met Christus gekruisig is sodat die sonde se mag oor ons verbreek kan word en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie. Want as iemand sterf, word hy vry van die mag van die sonde. Aangesien ons saam met Christus gesterf het, weet ons dat ons ook deel sal hê aan sy lewe. Ons weet dit omdat Christus uit die dood opgewek is en nooit weer sal sterf nie. Die dood het geen mag meer oor Hom nie. Hy het eens en vir altyd vir die sonde gesterf en nou leef Hy vir God. Julle moet dus ook verseker weet dat julle vir die sonde dood is, en nou vir God lewe deurdat julle één is met Christus. Julle moenie langer toelaat dat sonde julle aardse lewe beheer nie; moenie toegee aan sy verleidelike begeertes nie. Julle is betrokke in ‘n geestelike oorlog. Moenie langer julle liggaamlike vermoëns as wapens van ongeregtigheid vir die sonde beskikbaar stel nie, maar stel julleself voortdurend vir God beskikbaar omdat julle uit die dood weer lewendig geword het. Stel al julle liggaamlike vermoëns as wapens van geregtigheid tot God se beskikking. Die sonde mag hoegenaamd nie oor julle heerskappy voer nie. Julle leef immers nie meer onder die verslawende mag van die wet nie, maar onder die bevrydende mag van die genade’ (verse 6-14 NLV).
Die woord vir jou vandag is dus – sê nee vir sonde!
Sielskos: Josh 2:1-24; Hand 9:20-30