2022-04-20
Spreuke 24:16 NLV
As jy al ooit ‘n kind dopgehou het wat leer loop, sal jy weet dat om te val ‘n belangrike deel van die proses is. Om weer op te staan is noodsaaklik om die kind se balans en spiere te ontwikkel. Soortgelyk word ‘n bokser nie gediskwalifiseer wanneer hy platgeslaan word nie; hy word gediskwalifiseer wanneer hy val en nie weer opstaan nie. Boksers weet dat hulle dikwels sal val, dus fokus hulle op die kuns om veilig te val en vinnig weer op te staan. Kinders en boksers leer dat dit daaroor gaan om weer op te staan.
Die Bybel sê vir ons dat om te val algemeen onder die regverdiges en die goddeloses is. Dis die opstaan wat hulle van mekaar onderskei. ‘Selfs al val ‘n regverdige mens sewe keer, hy sal elke keer weer opstaan. Die goddelose mens sal bly lê na net een ramp’ (vers 16 NLV). Die goddelose bly lê – die regverdige staan weer op!
Sommige van God se grootste dienaars in die Skrif het in persoonlike mislukking geval. Abram het vir die farao oor sy vrou, Sarai, gejok (sien Genesis 12:11-17). Jakob het sy pa om die bos gelei en sy broer se geboortereg gesteel (sien Genesis 27:17-29). Moses was God ongehoorsaam deur uit woede die rots te slaan (sien Numeri 20:7-12). In plaas daarvan dat hulle egter gediskwalifiseer is, is daar ‘…oor hulle almal op grond van hulle geloof met soveel lof getuig…’ (Hebreërs 11:39 NLV).
Hoekom? Omdat hulle hulle sondes bely en God se vergifnis ontvang het. Hulle het met ander woorde geval, maar weer opgestaan. Wanneer jy val, kan jy ook weer opstaan. Dit is die ‘geloof’ gedeelte van jou reis. Wanneer jy bly lê aanvaar jy mislukking – maar wanneer jy weer opstaan word jou geloof geaktiveer!
Sielskos: 1 Kor 7-9; Luk 24:36-44; Ps 127; Spr 10:11
2022-04-19
2 Korintiërs 5:19 NLV
God het ons geskep om ongebroke genootskap met Hom en mekaar te geniet. Dis hoekom Satan se eerste plan was om ons van God – en van mekaar – te skei. Deur dinge soos trots, hardkoppigheid, verwardheid, wrokkigheid en selfsug te gebruik, dryf hy ‘n wig tussen ons in en polariseer verhoudings. Wat as ‘n misverstand begin het, eindig dikwels op in woedende rusies of toksiese stiltes wat vir ure, dae en selfs jare kan aanhou.
Ons mislei onsself ook deur te dink dat dit niemand anders se besigheid is nie. Die effek daarvan kan nie bedwing word nie. Dit affekteer elke verhouding in ons lewens – net omdat ons vasbeslote is om te bewys dat ons reg en die ander persoon verkeerd is. Dis nie net ‘n sielkundige probleem nie; dis ‘n sondige probleem wat ‘n goddelike oplossing benodig!
Paulus skryf: ‘Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en nie die mense se oortredings teen hulle hou nie…’ Sonde het ons verhouding met God vernietig. Tog het Hy die inisiatief geneem deur Jesus as ‘n ‘…losprys vir baie mense…’ (Markus 10:45 NLV), te gee, om ons met Homself te versoen. Versoening beteken om dit wat saamhoort weer bymekaar terug te bring!
Let op: God hou nie ‘…die mense se oortredings teen hulle…nie.’ Hy het dit aan die kruis gekanselleer en opgehou om dit teen ons te hou. Dit het ook nie daar geëindig nie. ‘…Die boodskap van die versoening het Hy aan ons opgedra om te gaan verkondig’ (2 Korintiërs 5:19 NLV), en om ons verskille met mekaar op te los. Soms beteken dit dat jy jou woorde sluk, die versoener word, die inisiatief neem en die stryd beëindig. Is jy vandag gereed om dit te doen?
Sielskos: 1 Kor 4-6; Luk 24:25-35; Ps 43; Spr 10:10
2022-04-18
Kolossense 3:13 NLV
Indien jy ‘n suksesvolle verhouding wil bou, moet jy op die ander persoon se sterkpunte, in plaas van hulle swakpunte, fokus. Benjamin Franklin het gesê: ‘Hou jou oë voor die tyd wawyd oop en na die tyd halfmas oop.’ Dis ‘n fout om te vinnig ‘n lewenslange verhouding aan te knoop sonder om die tyd te neem om eers die ander persoon te leer ken. As jy nie voor die tyd omsigtigheid aan die dag lê nie, sal jy na die tyd probleme hê.
‘n Belangrike verhoudingsbeginsel lê egter daarin om te leer om te vergewe en te vergeet. Vergifnis kan baie moeilik wees wanneer die oortreding groot is. Klein oortredings kan gewoonlik maklik en vinnig vergewe word; groot oortredings verg ‘n proses van genesing. Totdat jy egter besluit om te vergewe en te vergeet, kan hierdie proses nie begin nie.
Paulus skryf: ‘Julle is die mense wat God uitgekies het… Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek: deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld. Verdra mekaar en… vergewe mekaar. Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het. Die heel belangrikste wat julle moet aantrek, is die liefde. Die liefde bind alles volmaak saam’ (verse 12-14 NLV).
Een skrywer stel dit so: ‘As jy nie van iets hou nie, verander dit. As jy dit nie kan verander nie, verander jou houding daar teenoor. Moenie kla nie.’ Met ander woorde, wanneer jy iets nie kan verander nie, bid vir genade en leer om daarmee saam te leef.
Hoekom is dit nodig dat ons vergewe en vergeet? Omdat God so sê! Jy is nie ontwerp om die fisiese en geestelike stres wat met wrokkigheid gepaard gaan, te dra nie. Buitendien: Jy mag dalk self vergifnis nodig hê voor die dag verby is (sien Galasiërs 6:1).
Sielskos: 1 Kor 1-3; Luk 24:13-24; Ps 56; Spr 10:8-9
2022-04-17
1 Korintiërs 15:4 NLV
‘Die kern van die boodskap… was dat Christus, soos in die Skrif staan, vir ons sondes gesterf het. Ook dat Hy begrawe is en God Hom op die derde dag opgewek het, soos in die Skrif staan. Verder dat Hy aan Petrus verskyn het en daarna ook aan die twaalf apostels. Daarna het Hy aan meer as 500 van sy volgelinge tegelyk verskyn… Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en later aan al die apostels. Heel laaste van almal het Hy ook aan my verskyn…’ (1 Korintiërs 15:3-8 NLV).
Sommige van die geskiedenis se grootste denkers was eers ateïste voor hulle later hul vertroue in Christus geplaas het. Hoekom? Omdat hulle die bewyse ondersoek het! Hulle het geweet dat indien Jesus was wie Hy beweer het – vleesgeworde God wat menslike gestalte aangeneem het – wat vir ons sondes gesterf en weer opgestaan het, dat hulle ‘n lewensveranderende besluit moes neem: om Hom of te aanvaar, of te verwerp. Jy moet dieselfde besluit neem.
Petrus het vir die skare op Pinksterdag gesê: ‘Maar julle het… Hom aan die kruis gespyker en vermoor. God het Hom egter… weer laat opstaan…’ (Handelinge 2:23-24 NLV). Hulle het gevra: ‘…’Broers, wat moet ons doen?’ Petrus antwoord hulle: ‘Kom tot inkeer en maak reg met God’…’ (Handelinge 2:37-38 NLV). Daardie dag is drieduisend siele vir Christus gewen en die kerk het sy aanvang geneem.
Jesus het vir jou sondes gesterf en weer opgestaan, sodat Hy as voorstander jou voor die troon van God kan verteenwoordig. As jy wys is, sal jy Hom as jou Here en Redder aanvaar, met die wete dat Hy vir jou ‘n oorvloedige lewe nou en ‘n ewige lewe in die hemel, sal gee.
Sielskos: 1 Kor 15; Luk 24:1-12
2022-04-16
1 Korintiërs 15:55 NLV
Wetstoepassers gebruik lokvalle om slegte ouens om die bos te lei om hulle so tot ‘n val te bring. Dis wat God aan die kruis met Satan gedoen het. Vir drie dae het dit gelyk of Satan gewen het. Toe het Jesus uit die dood uit opgestaan en sy planne omver gegooi: ‘So het Hy die hemelse en aardse magte ontwapen. Hy het hulle in die openbaar bespotlik gemaak deur aan die kruis oor hulle te triomfeer’ (Kolossense 2:15 NLV).
Die ding wat Satan die meeste gevrees het; die geboorte van ‘n kerk met die krag om die wêreld deur die evangelie te verander, het gebeur. ‘Maar die heersers van hierdie wêreld het dit nie begryp nie. As hulle dit wel begryp het, sou hulle nooit ons Here aan wie die heerlikheid behoort, gekruisig het nie’ (1 Korintiërs 2:8 NLV).
Christus se vyande het selfs probeer keer dat die waarheid oor die opstanding bekend word: ‘Hulle het vir die soldate ‘n groot som geld aangebied en vir hulle gesê: ‘Julle moet vir die mense vertel: ‘Sy dissipels het mooi in die nag gekom terwyl ons aan die slaap was, en sy liggaam gesteel’…’ Die wagte het toe die geld gevat en gedoen soos aan hulle voorgesê is…’ (Matteus 28:13-15 NLV).
Hoekom haat sommige mense vir Jesus? Omdat die opstanding die fundamentele bewys is dat Hy die Here is! Jy kan immers nie gered word as jy nie in die opstanding glo nie: ‘Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Want as ons glo met ons hart, word ons vrygespreek en as ons met ons mond bely, word ons gered’ (Romeine 10:9-10 NLV).
Sielskos: Lev 26-27; Luk 23:50-56; Ps 69:7-21; Spr 10:6-7
2022-04-15
Matteus 27:29 NLV
Die gesangeskrywer Isaac Watts het geskryf: ‘See from His head, His hands, His feet, sorrow and love flow mingled down. Did e’re such love and sorrow meet, or thorns compose so rich a crown?’ Jesus het ‘n doringkroon gedra sodat jy ‘n kroon van heerlikheid kan dra. In die Skrif, verteenwoordig dorings sonde. Toe Adam en Eva ongehoorsaam was, het God gesê: ‘…Daarom vervloek Ek die grond… Dit sal vir jou dorings… oplewer…’ (Genesis 3:17-18 NLV). Later het Hy vir Israel gesê dat tensy hulle hulle vyande uitroei, sal hulle soos ‘…dorings in julle sye wees…’ (Numeri 33:55 NLV). Salomo het gewaarsku: ‘Op ‘n oneerlike mens se pad is daar dorings en lokvalle…’ (Spreuke 22:5 NLV). Jesus het ook gewaarsku: ‘Julle sal hulle aan hulle optrede uitken, net soos ‘n mens ‘n boom aan sy vrugte kan uitken. ‘n Mens pluk tog nie druiwetrosse van doringbosse af… nie’ (Matteus 7:16 NLV).
‘n Bekende outeur skryf: ‘Die doringkroon wat Jesus gedra het, verteenwoordig al ons sondes. Soos ons in die dorings van afguns, woede, skande, ontmoediging, skuld, bitterheid en onvergifnis vasgevang is, so het Jesus, wat nie sonde geken het nie, ‘n versoeningsoffer geword om ons sondes weg te neem (sien 1 Johannes 4:10). Nie een keer het Christus sy bonatuurlike magte vir persoonlike gemak gebruik nie. Met net ‘n woord kon Hy die harde aarde in ‘n sagte bed getransformeer het, die spoeg van sy aanklaers in hulle gesigte teruggegooi het en die hand van die soldaat wat die doringkroon gevleg het, verlam het. Hy het egter nie. In plaas daarvan, het Hy: ‘…die dokument met voorskrifte wat as klagstaat teen ons gedien het, uitgevee en dit van ons af weggevat deur dit aan die kruis vas te spyker’ (Kolossense 2:14 NLV).’ En Hy het dit met jou in gedagte gedoen. Ongelooflik!
Sielskos: Gen 22:1-18; Luk 23:26-49; Ps 22; Jes 53