2022-04-26
Psalm 15:5 NLV
Ons lees in die Bybel: ‘As jy aanhou om vir iemand te sê hoe hy moet lewe, maar hy bly hardkoppig, dan sal dit gou sleg gaan met hom, en niemand sal hom kan help nie’ (Spreuke 29:1 ABA). Koning Salomo is bekend daarvoor dat hy die wysste man is wat nog ooit gelewe het. Hy het hierdie woorde geskryf, maar hartseer genoeg nie self daaraan gehoor gegee nie en tot ‘n val gekom. As dit met Salomo kon gebeur, is niemand van ons immuun daarteen nie!
Karakter het deesdae ‘n deurslaggewende saak geword, omdat soveel politici, sakelui en godsdienstige leiers in die openbaar tot ‘n val kom. Jy tree nie in ‘n vakuum as leier op nie. Jy beïnvloed baie mense en wanneer jy val, voel hulle die reperkussies daarvan.
Hoe kan jy dus daarteen waak om nie te val nie? Deur nie gawes bo karakter te stel nie. Ons het deesdae ‘n ongesonde tendens om iemand se gawes te vier en te beloon en hulle karakter oor te sien; beide moet egter ontwikkel word. Karakter is die somtotaal van jou daaglikse gewoontes.
Dawid gee ons agt karaktereienskappe in Psalm 15 om voor uit te kyk in ‘n leier wat ons respek waardig is: 1) Hulle het integriteit. 2) Hulle neem nie deel aan skinderpraatjies nie. 3) Hulle maak nie ander seer nie. 4) Hulle wys verkeerde dinge uit. 5) Hulle eer diegene wat in die waarheid wandel. 6) Hulle kom hulle beloftes na, selfs wanneer dit hulle persoonlik kos. 7) Hulle is nie ten koste van ander gierig vir wins nie. 8) Hulle is sterk en stabiel. Dawid sluit sy psalm af deur te sê dat: ‘Só ‘n mens sal vir altyd stewig staan.’ Dis hoe jy nie tot ‘n val kom nie!
Sielskos: Dan 3-4; Matt 2:1-12; Ps 7:1-9; Spr 10:16
2022-04-25
1 Samuel 18:9 NLV
Een van die ware toetse van leierskap is hoe jy op iemand anders se sukses reageer. Is jy bly, of voel jy in die geheim wrokkig daaroor? Voel jy of hulle op ‘n manier ten koste van jou geseën is? Koning Saul het vir Dawid gestuur om teen Goliat te gaan veg. Toe Dawid hom verslaan het en die Israeliete lofliedere oor Dawid begin sing het, kon Saul dit nie hanteer nie. ‘Van daardie dag af het Saul vir Dawid wantrou.’
Leiers wat selfvertroue kortkom is ‘n gevaar vir hulself, hulle volgelinge en die groepe wie hulle lei, omdat leierskap nie jou foute kamoefleer nie, maar uitstal. Onsekere leiers het oor die algemeen vier gemeenskaplike eienskappe:
1) Hulle voorsien nie ander mense van sekuriteit nie. Om ‘n goeie leier te wees, moet jy jou volgelinge goed oor hulself laat voel. Eer hulle. Beloon hulle. Bevorder hulle.
2) Hulle neem meer as wat hulle gee. Onsekere leiers soek aanhoudend na bekragtiging, erkenning en liefde. Dus fokus hulle om persoonlike sekuriteit te kry, eerder as om dit by ander in te boesem.
3) Hulle beperk aanhoudend hulle beste mense. Onsekere leiers sien nie hulle beste mense as kollegas nie, hulle sien hulle as potensiële kompetisie wat hulself dalk deur die range sal opwerk en hulle posisie sal bedreig. Sulke leiers vind oor die algemeen maniere om krediet vir werk wat deur ander mense gedoen is, te neem.
4) Hulle beperk aanhoudend hulle maatskappye. Wanneer volgelinge ondermyn word en nie erkenning ontvang nie, word hulle moedeloos en werk uiteindelik nie tot hulle volle potensiaal nie. Wanneer dit gebeur, ly die hele maatskappy daaronder.
Ondersoek vandag jou leierskapstyl en kyk of enige van hierdie skoene jou pas.
Sielskos: Dan 1-2; Matt 1:18-25; Ps 127; Spr 10:15
2022-04-24
Romeine 6:16 NLV
Paulus praat nie van die soort slawerny waar kinders vir sekshandel en immigrante vir dwangarbeid verkoop word wanneer hy skryf: ‘Besef julle nie dat dít waarvoor ‘n mens jou as slaaf beskikbaar stel, jou baas word nie?..’ nie. Wanneer dit by sonde kom, trek die Bybel ‘n lyn in die sand en sê vir ons om dit nie oor te steek nie. Hoekom? Omdat wanneer jy een keer oor die lyn trap, dit makliker is om dit weer oor te steek. Of jou ‘dwelmkeuse’ nou alkohol, onwettige of oor-die-toonbank dwelms, pornografie, dobbel of ooreet is, jy dink aan die begin dat jy die meester is en besef op die ou einde dat jy die slaaf daarvan is. Een van die grootste leuens wat ons vir onsself vertel, is: ‘Ek kan enige tyd daarmee ophou.’
Die Verlore Seun is vergewe en herstel, maar hy het steeds sy erflating verloor. Geestelik gesproke, kan jy jou selfvertroue voor God verloor. Persoonlik gesproke, kan jy jou selfwaarde verloor. In die openbaar, kan jy ander mense se respek en jou invloed by hulle verloor.
As jy nie versigtig is nie, kan selfs die ‘goeie’ dinge jou seermaak. ‘n Sterk werksetiek kan daartoe lei dat jy jou familie afskeep en jou huwelik verloor. Ure voor die televisie kan jou geestelike groei belemmer. Selfs te veel omsigtigheid en bedagsaamheid – goeie eienskappe – kan jou daarvan weerhou om ‘n tree in geloof te neem en jou Godgegewe potensiaal te vervul.
Wanneer God nee sê, is Hy nie besig om ‘n suurpruim te wees of om jou lewe moeilik te maak nie; Hy beskerm jou! As iets die potensiaal het om jou tot slaaf te maak, moet dit nie doen nie. As jy reeds verslaaf is, draai na God toe en Hy sal jou vrymaak.
Sielskos: Gen 6:9-8:4; Matt 24:37-51
2022-04-23
Efesiërs 5:31 NLV
Wanneer ons kinders klein is, is ons so besig om hulle van dinge soos liefde, beskerming, dissipline, opleiding en outoriteit te voorsien, dat dit voel of hierdie verantwoordelikhede vir ewig gaan aanhou. Dit doen egter nie. Wanneer ons kinders hulle laat tienerjare of vroeë twintigs bereik, moet ons die deur na die buitewêreld vir hulle oopmaak. As jy tans hierdeur gaan en angstig voel, moet jy probeer besef dat jy in een van die uitdagendste en moeilikste dele van ouerskap is. Jou neiging om die teuels styf vas te hou om jou kinders daarvan te weerhou om foute te maak, is natuurlik. Jou kinders is egter meer geneig om goeie keuses te maak as hulle nie gedruk voel om te rebelleer om sodoende hul vryheid te bereik nie.
Die eenvoudige waarheid is dat verantwoordelikheid en volwassenheid die beste in ‘n atmosfeer van vryheid floreer. Soos die Skrif sê: ‘Daar staan mos: “‘n Man sal weggaan van sy pa en ma…”‘ Die geheim tot sukses is om outonomiteit vir jou kind op die regte tyd, in die regte hoeveelheid en met die regte houding, te gee. Jou doelwit moet wees om onafhanklikheid bietjie vir bietjie deur die jare toe te laat, soos jou kinders in staat is om nuwe verantwoordelikheid te bestuur. Die finale vrystelling sal dan ‘n klein stappie in die rigting van vryheid, in plaas van ‘n vryval in anargie, verteenwoordig.
Ons almal leer uit ons foute uit. Jy het, en soveel as wat jy dit probeer vermy, sal jou kinders ook. ‘Wat moet ek dus doen?’ vra jy. Bid daagliks vir hulle, laat hulle in God se sorg vry en maak seker dat hulle weet dat jy altyd vir hulle sal lief wees en daar sal wees vir hulle.
Sielskos: 1 Kor 15-16; Matt 1:1-17; Ps 103:13-22; Spr 10:14
2022-04-22
Jakobus 5:16 NLV
Terwyl hy op vakansie in Engeland was, het D.L. Moody ‘n kerk in Londen besoek wat geestelik dood was. Die pastoor het hom herken en gevra om die oggend- en aanddiens waar te neem. Teësinnig het Moody ingestem. Na die oggenddiens het hy vir ‘n vriend vertel dat die gemeente so stug was dat hy skaars sy preek kon klaarmaak. Hy het gewens dat hy nooit sy vakansieplanne onderbreek het nie en het die heel middag opgesien na die aand se preek.
Agter die skerms, het iets egter gebeur waarvan Moody niks geweet het nie. Na die oggenddiens het ‘n bejaarde dame haar invalide suster vir middagete ontmoet en haar van Moody se opkomende aanddiens vertel. Haar suster het uitgeroep: ‘Ek bid al lank dat God vir Moody Engeland toe moet stuur! Sit weg die middagete, Sus. Ons sal die middag daaraan bestee om vir vanaand se erediens te vas en te bid.’
Toe Moody die preekstoel daardie aand bestyg, het ‘n ‘elektriese’ gevoel van God se teenwoordigheid die kerkruim gevul. Moody se preek was begeesterd en toe hy ‘n uitnodiging uitstuur vir mense om Christus te volg, het vyfhonderd mense gereageer. Hy het gedink hulle het hom dalk misverstaan, dus het Moody hulle gevra om weer te sit terwyl hy weer die evangelie verduidelik het. Maar toe hy ‘n tweede uitnodiging rig, het dieselfde vyfhonderd opgestaan om Christus te ontvang.
Wat het daartoe bygedra? Twee bejaarde dames wat besef het dat hulle kerk die vuur van God se Gees desperaat nodig gehad het. Hulle het God se belofte geglo: ‘…Die gebed van iemand wie se saak met God reg is, het ‘n kragtige werking.’ Jou gebede kan die vuur van God aansteek en groot dinge laat gebeur.
Sielskos: 1 Kor 12-14; Luk 24:50-53; Ps 103:1-12; Spr 10:13
2022-04-21
Matteus 6:18 NLV
Het jy al ooit ‘n konsert bygewoon waar hulle die nuutste oudiovisuele toerusting gebruik het? Die kans is goed dat jy jou aan die multidimensionele beelde en klanke vergaap het en na die tyd van die wonderlike vaardighede van die kunstenaars gepraat het. As die vertoning sonder enige foute afgeloop het, het jy heel waarskynlik nie aan die klank- en beligting tegnici gedink nie. Ons merk hulle gewoonlik slegs op wanneer die toerusting foutief is. Hulle is die onsigbare element; die mense wat hulle werk doen om die kunstenaar goed te laat lyk en klink. Die kunstenaars in die kollig ontvang die lof daarvoor. Dis hoe dit in die aardse koninkryk werk.
Die koninkryk van God werk egter op die beginsel dat ‘…baie wat nou so vernaam lyk, heeltemaal onbelangrik [sal] wees. En dié wat nou nie gereken word nie, sal eendag die belangrikste wees’ (Matteus 20:16 NLV). Jesus het gesê dat wanneer jy vas, bid en gee sonder om iets daarvoor te verwag, sal ‘…jou Vader wat alle geheime ken… jou beloon.’
Op ‘n groot skip is slegs die kaptein en ‘n handjievol offisiere op die brug sigbaar. Dis egter die bemanning onder die dek wat die skip se vordering oor die grootste deel van die skeepsreis, bepaal. In God se kerk, is dit die ‘bemanning in die enjinkamer’ wat getrou baie van die werk doen: die skoonmaakspan, kleuterskoolonderwysers, busbestuurders, karwagte, mense wat bejaardes in die ouetehuis besoek, mense wat na gevangenes uitreik en gebedsvegters.
Terwyl hoëprofiel mense gewoonlik die meeste lof kry, gee God spesiale erkenning en belonings aan die bemanning wat ongesiens hul werk doen! As jy een van hulle is, sal jy gou sy publieke aankondiging hoor: ‘…Goed gedoen, goeie slaaf; omdat jy in die geringste getrou was…’ (Lukas 19:17 NLV). Wanneer dit gebeur, sal niks anders meer saak maak nie!
Sielskos: 1 Kor 10-11; Luk 24:45-49; Ps 130; Spr 10:12