2022-05-31
Hebreërs 2:15 NLV
Die Bybel sê: ‘Omdat hierdie ‘kinders’ mense van vlees en bloed is, het Jesus ook ten volle mens net soos hulle geword. Want Hy kon net sterf as Hy ten volle mens was en Hy kon net deur self te sterf klaarspeel met hom wat mag oor die dood gehad het – die duiwel. Net op hierdie manier kon Hy ons almal vrymaak wat ons lewe lank uit vrees vir die dood in slawerny vasgevang gesit het’ (verse 14-15 NLV).
Die teoloog, Adolf von Harnack, het gesê: “Christus se graf was die geboorteplek van ‘n onvernietigbare oortuiging dat die dood oorwin is en dat daar ‘n ewige lewe is. Die sekerheid van die opstanding en van ‘n ewige lewe wat met die graf in Josef se tuin verband hou, het nie vergaan nie; en op die oortuiging dat Jesus leef, baseer ons steeds daardie hoop op burgerskap in ‘n Ewige Stad, wat ons aardse lewe die moeite werd en draaglik maak. Jesus het hulle verlos, wat hulle ‘lewe lank uit vrees vir die dood in slawerny vasgevang gesit het.'” Goeie nuus: Jy hoef nie uit vrees vir die dood in slawerny vasgevang te wees nie!
Dr Simon Greenleaf, professor in Regte aan Harvard en een van die wêreld se voorste kenners oor regsbewyse, het die soeklig van sy enorme kennis op die bewyse van die opstanding van Jesus Christus geskyn en elke draad van daardie bewyse aan die mees ingrypende kritiek blootgestel. Toe hy klaar was, het hy tot die gevolgtrekking gekom dat die bewyse van die opstanding so geweldig was dat dit in enige onbevooroordeelde hofsaal op aarde as ‘n historiese feit verklaar sou word. Wat beteken dit alles dus vir ons as gelowiges? Eenvoudig die volgende: Christus se opstanding waarborg ons s’n!
Sielskos: 1 Kon 8-9; Matt 13:24-35; Ps 108; Spr 12:14
2022-05-30
Psalm 17:15 NLV
Daar was nog nooit ‘n generasie van die mensdom wat nie in ‘n soort toekomstige lewe geglo het nie; of dit nou die gelukkige jagveld van die inheemse Amerikaners of die sensuele blyplek van saligheid van die Moslems is. Hoe verduidelik jy dit? Lank voor enige bewyse van hierdie wêreldwye geloof ingesamel is, het Cicero gesê: ‘In everything the consent of all nations is to be accounted the law of nature, and to resist it is to resist the voice of God.’
Die aand toe Sokrates dood is, het Crito vir hom gevra: ‘Op watter manier moet ons jou begrawe?’ Hy het geantwoord: ‘Net soos jy wil, jy moet my net in die hande kry en sorg dat ek nie van jou af wegloop nie.’
Plato het kragtige argumente ten gunste van onsterflikheid in sy Phaedo voorgelê. Groot denkers soos Thomas Carlyle, Thomas Jefferson en die Duitse digter Heinrich Heine het ook in onsterflikheid geglo. Alfred Lord Tennyson se bekendste gedig lui as volg: ‘For tho’ from out our bourne of Time and Place the flood may bear me far, I hope to see my Pilot face to face when I have crost the bar.’ Byron skryf: “I feel my immortality o’ersweep all pains, all tears, all fears, and peal, like the eternal thunders of the deep, into my ears this truth – ‘Thou liv’st forever!'”
Al hierdie groot denkers het die oortuiging van die Psalmdigter gedeel: ‘Maar omdat ek reg gedoen het, sal ek U sien. Wanneer ek wakker word, sal ek tevrede wees in u teenwoordigheid.’ As jy daaraan dink, beteken ‘goeienag’ hier op aarde net ‘goeiemore’ in die hemel.
Sielskos: 1 Kon 6-7; Matt 13:10-23; Ps 101; Spr 12:12-13
2022-05-29
Filippense 1:23 DB
William Jennings Bryan skryf in sy boek, Analogies of Nature, die volgende: ‘Christus het vir ons die bewys van onsterflikheid gegee en tog is dit nie regtig nodig dat iemand uit die dood moet opstaan om ons te oortuig dat die graf nie die einde is nie. As die Vader dit goeddink om met Goddelikke krag die akker aan te raak en dit in nuwe lewe te laat uitbars, sal Hy dan die siel van die mens, wat in die beeld van sy Skepper gemaak is, agterweë laat? As Hy afbuk om die roosknop die soete versekering van nog ‘n lente te gee, sal Hy dan weier om woorde van hoop aan die mens te gee wanneer die ysigheid van winter oor ons kom? As materie, wat deur die natuurkragte in ‘n verskeidenheid vorms verander word, nooit kan sterf nie, sal die gees van die mens dan vernietig word na ‘n kort besoek aan hierdie aarde? Nee, ek is so seker dat daar ‘n ander lewe is as wat ek seker is dat ek vandag leef!’
Paulus sê vir ons: ‘Om te lewe beteken vir my om vir Christus te lewe. Ek kan nog soveel goeie dinge vir Hom doen. Maar om te sterf sal aan die ander kant ook nie vir my sleg wees nie. Ek moet regtig erken, as ek tussen lewe en dood moet kies, weet ek nie watter een ek sou kies nie… Aan die een kant wil ek graag by Christus wees. Wat kan nou beter en lekkerder wees as dit? (verse 21-23 DB).
Dit maak dus nie saak hoe moeilik of geseënd jou lewe hier en nou is nie, jou beste dae lê nog voor; dae sonder einde waar jy die vreugdes van die hemel kan ervaar. Maak seker dat jy gereed is wanneer jou tyd aanbreek!
Sielskos: Gen 1:1-2:3; Joh 1:1-18
2022-05-28
2 Korintiërs 5:1 ABA
Wanneer jy sterf, verlaat jy eenvoudig ‘n mindere vorm van lewe en betree ‘n groter een. Dink aan die eerste wet van termodinamika: nie energie (soos jou gees en siel), of materie (soos jou liggaam) kan vernietig word nie. Hulle kan in ander vorms getransformeer word, maar hulle kan nie tot niet gemaak word nie. Burris Jenkins het dit so gestel: ‘Geen enkele atoom in die skepping kan ophou bestaan nie. Volgens die wetenskaplikes kan dit slegs van vorm verander. Ons kan nie enigiets verbrand nie; ons verander dit bloot van ‘n vaste vorm na ‘n gas toe. Geen energie of krag word ooit vernietig nie; dit verander net van een vorm in ‘n ander een toe.’ Wat gebeur dus wanneer jy sterf?
Die Bybel sê: ‘Wanneer ons liggaam eendag soos ‘n tent opgevou en in die grond weggebêre word, is dit nie klaar met ons nie. Gelukkig nie. Dan breek ‘n splinternuwe lewe by God aan wat nooit sal ophou nie. Terwyl ons nou nog in hierdie ou aardse tent van ons aansukkel, kry ons swaar. Ons sien baie uit na daardie nuwe hemelse liggaam… Intussen gaan dit maar bitter moeilik met ons hier in ons aardse liggaam. Ons sug en kla. Ons sien regtig uit na die dag dat hierdie sterflike liggaam van ons vervang word met ‘n nuwe liggaam. Dan sal hierdie sterflike liggaam van ons plek maak vir ‘n hemelse liggaam wat vir altyd sal bestaan… Om te verseker dat ons veilig by Hom sal aankom, het Hy sy Gees aan ons gegee. Die Heilige Gees is die waarborg dat God sy woord sal hou’ (verse 1-5 DB).
Dink so daaroor: Jou laaste dag op aarde sal jou beste dag ooit wees! Hoe wonderlik is dit nie?
Sielskos: 1 Kon 3-5; Matt 13:1-9; Ps 128; Spr 12:10-11
2022-05-27
Job 14:14 NLV
Die eerste sendelinge het na 616 N.C. by koning Edwin se hof in Northumbria, Engeland, aangekom. In sy groot saal, verlig deur die vlamme van talle fakkels, het hulle die evangelie aangebied. Een edelman het na die tyd gesê: ‘Die lewe is soos ‘n banketsaal. Binne is daar lig, vuur, warmte en feesviering, maar buite is dit koud en donker. ‘n Swaeltjie vlieg by die venster in en by ‘n ander venster uit. Dis hoe die lewe ook is. By geboorte kom ons uit die onbekende na vore en vir ‘n kort rukkie is ons hier en ervaar ‘n redelike hoeveelheid gemak en geluk. Dan vlieg ons weer na die koue, donker, onbekende donkerte uit. Kan hierdie godsdiens die donkerte vir ons verlig?’
Ons wat in die opstanding glo, kan met vertroue antwoord: ‘Ja!’ ‘n Foutiewe hartklop, ‘n kwaadaardige sel, of ‘n tragiese ongeluk kan die lewe soos ons dit ken, beëindig. Dis egter nie die einde nie. ‘En as God Hom nie lewendig gemaak het nie, is julle nog maar net soos julle altyd was, van kop tot tone in die sonde… Dan is nie net ons nie, maar ook al die ander Christene wat al dood is, sonder enige hoop totaal verlore. As Christenskap net iets beteken terwyl ons nog op hierdie aarde is en daar vir ons niks meer oor is daarna nie, is ons ‘n hopelose spul mense vir wie ander net baie jammer kan voel. Die waarheid is heeltemal anders: God hét Christus lewendig gemaak nadat Hy aan die kruis dood is. En Christus is maar die eerste Een van nog baie om te kom, dit waarborg Hy’ (1 Korintiërs 15:17-20 DB).
Vir die gelowige, is die einde van lewe op aarde die begin van ‘n glorieryke lewe saam met Christus in die hemel!
Sielskos: 1 Kon 1-2; Matt 12:38-50; Ps 45; Spr 12:7-9
2022-05-26
Filippense 2:3 NLV
Paulus skryf: ‘…Wees eerder nederig deur van medegelowiges meer te dink as van jouself. Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange. Julle gesindheid moet soos Jesus Christus s’n wees’ (verse 3-5 NLV).
Hierdie tipe denke druis teen ons natuurlike aard in, maar Jesus het ons gewys hoe om dit te doen. Terwyl Hy aan die kruis gehang het, het Hy tyd vir die veroordeelde misdadiger wat langs hom gekruisig is, gemaak (sien Lukas 23:39-43). Soos hy gestenig is, het Stefanus vir die mense gebid wat besig was om hom dood te maak en God gevra om nie daardie sonde teen hulle te hou nie (sien Handelinge 7:60 NLV). Nadat hulle geslaan en onskuldig in die tronk gegooi is, het Paulus en Silas die tyd geneem om vir hulle tronkbewaarder van die evangelie te vertel. Selfs nadat God ‘n kragtige aardbewing gestuur het wat hulle kettings gebreek het en die tronkdeure laat oopgaan het, het hulle agtergebly om vir hom te preek. Hoe aanloklik moes dit nie gewees het om te ontsnap toe die geleentheid hom voordoen nie. Hulle daad van liefde het egter die bewaarder genoop om te vra hoe hy gered kan word, en gevolglik is hy en sy hele familie vir Christus gewen (sien Handelinge 16:25-34).
Selfsug is ‘n instink waarvoor jy God se hulp daagliks nodig sal hê om te oorkom. Jy sal nooit ander mense wen deur net soos hulle te wees nie, dus is hier die vraag wat jy moet antwoord: Hoeveel van jou vriende en geliefdes kan Christus dalk leer ken indien jy wys dat jy waarlik vir hulle lief is, in plaas daarvan om hulle te ignoreer, te veroordeel of te verwerp? Probeer dit! ‘…Wees eerder nederig deur van medegelowiges meer te dink as van jouself.’
Sielskos: Heb 11:17-13:25; Matt 12:22-37; Ps 47; Spr 12:4-6