Gebruik jou geloof

2022-05-25
Lukas 8:48 NLV

Die Bybel sê: ‘Daar was ‘n vrou in die skare wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het… Sy het van agter na Jesus gekom en die soom van sy kleed aangeraak. Onmiddellik het die bloeding gestop. ‘Wie het My aangeraak?’ het Jesus gevra… ‘…want Ek het genesende krag uit My voel vloei.’ Toe die vrou besef dat Jesus weet, het sy… vertel waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het’ (verse 43-47 NLV). Daar is drie belangrike lesse vir ons in hierdie verhaal:

1) Gryp jou oomblik aan. Hierdie vrou het verstaan dat Jesus op besoek aan haar dorp was en dalk nie sou terugkeer nie. Daar is ‘God oomblikke’ in jou lewe waar jy jou prioriteite moet herrangskik, jou vrees moet oorkom en jou geloof moet uitoefen.

2) Wees gewillig om ‘n ander benadering te volg. Aangesien sy as gevolg van die skare nie Jesus se aandag kon trek nie, het die vrou die soom van sy kleed aangeraak en is genees. Baie keer verg geloof dat jy die onbekende betree en iets doen wat jy nog nooit vantevore gedoen het nie.

3) Skep ‘n voorbeeld vir ander om te volg. Niemand het voor hierdie vrou al genesing ervaar deur Jesus se kleed aan te raak nie. Haar geloof het ‘n deur vir ander oopgemaak om haar voorbeeld te volg. ‘Toe die plaaslike mense dit hoor, het hulle… al hulle siekes na Hom toe gebring. Die siekes het Hom gesmeek om aan Hom te mag raak, al was dit maar net aan die onderste rand van sy jas. En almal wat daaraan geraak het, het gesond geword’ (Matteus 14:35-36 NLV).

God gebruik mense wat gewillig is om met tradisie te breek, om sodoende nuwe dimensies van sy krag oop te sluit sodat ander mense geseën en herstel kan word.

Sielskos: Heb 9:1-11:16; Matt 12:15-21; Ps 97; Spr 12:1-3

Voel goed oor jouself

2022-05-24
2 Korintiërs 4:7 NLV

Wanneer jy nie goed voel oor jouself nie, lewe jy met ‘n gevoel van onsekerheid. Jy strewe dan na ander mense se goedkeuring en wanneer jy dit nie kry nie, krimp jou selfwaarde. Gevolglik kom jy nie naby daaraan om jou Godgegewe potensiaal uit te leef nie. Jy is die enigste persoon van wie jy nie kan wegkom nie en totdat jy leer om jouself te aanvaar omdat God lief is vir jou en jou aanvaar net soos jy is, sal jy altyd met onsekerheid sukkel.

Goed of sleg, ons projekteer die gedagtes en gevoelens wat ons oor onsself het, op ander. As jy dus wil hê dat mense goed dink van jou, moet jy ‘n goeie opinie van jouself hê – wat op God se Woord gebaseer is. Die Bybel waarsku ons dat ons nie te veel van onsself moet dink nie – maar moenie tot die ander uiterste gaan nie. Deur in aanhoudende selfverwerping te lewe, is jy ‘n oop uitnodiging aan Satan, wat die Bybel sê soos ‘n brullende leeu is wat rondloop en soek na iemand om te verslind (sien 1 Petrus 5:8).

Jy sê: ‘Maar het Paulus nie geskryf: ‘…Nêrens in my liggaam skuil daar ‘n enkele stukkie goed nie…’ (Romeine 7:18 DB)?’ Ja, maar dit beteken dat jou goeie kwaliteite die bewys is dat God in jou lewe aan die werk is. Die Bybel sê: ‘Ons het hierdie skat egter maar net in breekbare kleipotte – die allesoortreffende krag kom van God en nie van ons nie’ (2 Korintiërs 4:7 NLV). In plaas daarvan om vandag op jou foute te fokus en sleg te voel, word bewus van die ‘skat’ van God se teenwoordigheid, krag en potensiaal wat binne-in jou lewe.

Sielskos: Heb 5-8; Matt 12:1-14; Ps 93; Spr 11:30-31

Trek vir sukses aan

2022-05-23
Romeine 13:14 NLV

Aangesien eerste indrukke saak maak, word ons aangemoedig om stylvolle klere aan te trek om sodoende sukses te behaal. Dis ‘n goeie ding. As verloste kind van God moet jou eerste belang egter nie wees oor hoe jy vir ander mense lyk nie, maar vir God. Net soos ‘n spieël jou fisiese voorkoms reflekteer, so openbaar die Bybel jou geestelike toestand. Jakobus skryf: ‘…As jy altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is dit so goed of jy kyk na jou gesig in die spieël sonder om iets aan jou voorkoms te doen. Jy bekyk jouself, gee pad, en vergeet wat jy gesien het. As jy jou egter verdiep in God se volmaakte wet – dié wet wat ‘n mens vrymaak – en jy dóén wat die wet sê en jy vergeet nie wat jy gehoor het nie, dan kan jy God se seën verwag op wat jy doen’ (Jakobus 1:23-25 NLV).

Jy moet elke dag tyd met die Skrif bestee; anders sal jou geestelike klere verslete word. Paulus skryf: ‘Nee, soos ‘n mens jou klere aantrek, moet julle die Here Jesus Christus ‘aantrek’, en nie ‘n duimbreedte toegee aan die begeertes van julle sondige natuur nie’ (Romeine 13:14 NLV).

Soos Chuck Swindoll opmerk: ‘Die grootste vyand van verandering is die selfvoldane sondige natuur binne jou. Soos ‘n bedorwe kind, het jy dit jare lank bevredig en daaraan toegegee, dus sal dit nie sonder ‘n woede-aanval tou opgooi nie. Die vlees sterf ‘n stadige, bittere, bloederige dood – skoppend en stoeiend al die pad af ondertoe.’

Blywende verandering vind nie maklik plaas nie. Verwag dus af en toe terugslae en moenie dat dit jou van stryk bring nie. Wanneer jy voel dat jy wil tou opgooi, gaan op jou knieë en vra God om jou weer op koers te bring. Hy sal dit doen.

Sielskos: Heb 1-4; Matt 11:20-30; Ps 88:9b-18; Spr 11:27-29

Maak by God voorspraak vir hulle

2022-05-22
1 Timoteus 2:1 NLV

Paulus skryf: ‘Eerstens spoor ek jou aan om vir alle mense te bid… Bid só vir konings en alle ander in gesagsposisies sodat ons in vrede en rustigheid, toewyding en eerbaarheid kan lewe. So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, want Hy wil dat almal gered word en die waarheid verstaan’ (verse 1-4 NLV). Voorspraak beteken om tussen partye, met die oog op versoening van die strydende partye, te bemiddel. Dit gebeur elke dag in ons hofstelsel waar prokureurs namens hulle kliënte voorspraak maak.

Dit het ook in die Skrif gebeur. Toe Israel ‘n goue kalf gemaak en dit aanbid het, het Moses namens hulle by God voorspraak gemaak deur te sê: ‘…Ag tog, Here, hierdie volk het ‘n verskriklike sonde gedoen… Wil U nie maar asseblief hulle sonde vergewe nie? As U nie wil nie, moet U tog maar my naam uitvee uit die boek waarin U dit opgeteken het’ (Eksodus 32:31-32 NLV). Dit het gewerk. God het vir Moses gesê: ‘Gaan nou en gaan lei die volk na die plek wat Ek vir jou gesê het. My engel sal voor jou uitgaan…’ (vers 34 NLV).

Later, toe Israel weer vals gode begin aanbid het, het Samuel gesê: ‘…Die hele Israel moet na Mispa toe kom. Dan sal ek vir julle tot die Here bid’ (1 Samuel 7:5 NLV). Gevolglik het die Here daardie dag ‘n groot donderstorm oor die Filistyne laat losbars en hulle so verwar dat Israel hulle verslaan het (sien 1 Samuel 7:10).

Voorspraak kan ‘n eensame besighed wees, asook harde werk. ‘…Hy bid altyd ernstig vir julle dat julle as volwasse gelowiges met volle oortuiging in alles die wil van God sal bly doen’ (Kolossense 4:12 NLV). Wanneer niks anders egter werk nie, sal voorspraak werk!

Sielskos: Gen 24:1-51; 2 Kor 6:14-7:1

Verstaan God se liefde vir jou

2022-05-21
1 Johannes 4:18 NLV

Vraag: Aangesien ons natuurlik aangetrokke is tot mense wat lief is vir ons, hoekom is dit so moeilik vir ons om in gebed na God toe te gaan? Antwoord: Omdat ons ‘n vars openbaring van sy liefde vir ons nodig het! Paulus het gebid dat die kerk in Efese sal ‘…kan ervaar hoe lief Christus ons regtig het. Sy liefde kan ons nie met woorde beskryf nie: dit is te groot en wonderlik…’ (Efesiërs 3:18 DB).

Die waarheid is dat God nie liewer vir jou kan wees as wat Hy op die oomblik is nie. ‘Hoe lyk sy liefde?’ vra jy. Kyk na die kruis. Selfs al was jy die enigste persoon wat nog ooit gelewe het, sou Jesus vir jou gesterf het. ‘Wat kos sy liefde?’ vra jy. Niks! Daar is geen voorwaardes daaraan verbonde nie. Jy het niks gedoen om dit te verdien nie en jy kan dit ook nie verbeur wanneer jy foute maak nie. ‘…hoegenaamd niks… sal ons ooit kan skei van die liefde wat God in Christus Jesus ons Here vir ons het nie’ (Romeine 8:39 NLV). Sodra jy dit aanvaar, kan jy jou swakpunte erken, God se hulp vra, sterker groei en die talente wat Hy vir jou gegee het, gebruik.

Omdat sy liefde die enigste perfekte liefde is, dryf dit jou ‘vrees’ uit. Waarvoor is jy dus bang? Dat jy nie sal kry wat jy nodig het nie? Dat jy iets sal verloor? Johannes sê vir ons: ‘Ware liefde het nie plek vir vrees nie; volwasse liefde dryf die vrees uit omdat vrees nog met straf behep is, en wie aanhou vrees, het nog nie dié volwasse liefde bemeester nie’ (1 Johannes 4:18 NLV). Vra God vandag vir ‘n nuwe openbaring van sy liefde vir jou, met die wete dat Hy vir diegene vir wie Hy lief is voorsien, koester en beskerm.

Sielskos: Jona 1-4; Matt 11:1-19; Ps 88:1-9a; Spr 11:24-26

‘n Liefde vir God se Woord

2022-05-20
Psalm 119:105 NLV

Die Psalmdigter beklemtoon twee belangrike dinge wat Bybelstudie vir jou doen: 1) Dit wys jou wat jou geestelike toestand is. In die Bybelse tyd was daar geen geteerde paaie nie, wanneer gaste dus iemand se huis binne gegaan het, het hulle eers stilgestaan en die sand, grond en vuilheid van hulle voete afgewas. Dis wat Bybelstudie vir jou doen. Dawid het gesê: ‘Hoe kan ‘n jongmens [en ‘n ouer een] ‘n skoon lewe lei? Deur gehoorsaam te wees aan u woord’ (Psalm 119:9 NLV).

2) Dit wys jou die regte rigting om te gaan. ‘U woord is… ‘n lig op my pad.’ Wanneer jy voor ‘n belangrike besluit te staan kom en nie weet watter kant toe om te gaan nie, sal God jou deur sy Woord lei. Dawid, wat lief was vir God se Woord en konstant daaroor gemediteer het, het gebid: ‘Leer my om u wil te doen, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei op ‘n pad wat gelyk is’ (Psalm 143:10 NLV). Baie van die foute wat ons maak kon voorkom gewees het as ons lank genoeg stilgestaan het om God se leiding te soek. Hy weet wat voor ons lê; ons doen nie. Dus: ‘Vertrou jou lewe toe aan die Here. Vertrou Hom, en Hy sal vir jou sorg’ (Psalm 37:5 NLV).

Net soos kinders geleer moet word om ‘n smaak vir gesonde kos in plaas van gemorskos te ontwikkel, so moet jy ‘n smaak vir God se Woord ontwikkel. Die Psalmdigter het gesê: ‘Ek verlustig my in u gebooie wat ek baie liefhet’ (Psalm 119:47 NLV). ‘U beloftes is deeglik beproef; u dienaar het dit lief’ (Psalm 119:140 NLV). Vra God vandag om jou ‘n liefde vir sy Woord te gee. Dis ‘n gebed wat Hy sal beantwoord!

Sielskos: Titus 1-3; Matt 10:32-42; Ps 75; Spr 11:23