2022-05-19
Psalm 119:15 NLV
‘n Ander woord vir meditasie is oorpeinsing of herkouing. ‘n Koei herkou haar voedsel. Sy eet gras, kou dit goed en sluk dit dan in. Dit sit dan vir ‘n ruk in haar maag en ‘n klein bietjie later bring sy dit weer op – met hernude smaak. Die koei kou dit nog ‘n bietjie en sluk dit weer in. Hierdie proses gaan in al vier haar mae voort. Dit is herkouing. Die koei verkry elke moontlike stukkie voeding uit die gras uit.
Meditasie is eenvoudig die vertering van gedagtes. Meditasie beteken nie dat jy jou gedagtes in neutraal plaas en aan niks sit en dink nie. Inteendeel, dis om ernstig na te dink oor wat jy lees. Jy staan byvoorbeeld by een vers in die Skrif stil en vra: ‘Wat beteken dit vir my lewe?’ Jy praat met jouself en met God daaroor. Die Bybel sê: ‘…julle moet altyd dink aan die dinge wat waar is, wat mooi is, wat reg is, wat rein is, wat pragtig en goed is. Ja, julle moet dink aan alles wat mooi is, alles waarop ‘n mens trots kan wees… dan sal God wat vrede gee, by julle wees’ (Filippense 4:8-9 ABA). Let op dat ons oor verskillende kategorieë moet nadink om, by implikasie, dit te vermy om oor die teenoorgestelde soort dinge te dink.
Kolossense 3:16 sê: ‘Laat die rykdom van alles wat Christus ons leer, julle leefstyl bepaal…’ (NLV). Jy moet elke dag tyd – ‘n minimum van tien tot vyftien minute – bestee waar jy gaan sit, ‘n deel van jou Bybel lees en diep nadink oor dit wat jy pas gelees het. Praat dan in gebed met die Here daaroor. Dit is die beginpunt vir geestelike verandering en groei.
2022-05-18
Spreuke 4:23 NLV
‘n Wyse persoon het een maal gesê: ‘Jy is nie wat jy dink jy is nie, maar wat jy dink – dit is jy.’ Blywende verandering begin altyd met nuwe denke. Hoe het jy ‘n Christen geword? Deur jou sondes te bely en jou vertroue in Christus te plaas. Die Griekse woord vir bekering is metanoia, wat beteken om jou gedagtes te verander. Ons verander nie deur wilskrag nie, maar deur die transformerende krag van God se Woord, wanneer ons dit gebruik om ons gedagtes elke dag te vernuwe.
Die Bybel leer ons duidelik dat die manier wat ons dink die manier wat ons voel bepaal, en die manier wat ons voel bepaal die manier wat ons optree. As jy dus jou aksies wil verander, moet jy na die bron terugkeer en die manier wat jy dink verander. Soms kan jy op ‘n gegriefde manier optree. Hoekom? Omdat jy gegriefd voel. Weet jy hoekom jy gegriefd voel? Omdat jy gegriefde gedagtes dink. Dieselfde is waar van woede, bekommernis, wellus en ander destruktewe gedagtespatrone.
Jesus het gesê: ‘en julle sal begryp wat die waarheid beteken, en die waarheid sal julle vrymaak’ (Johannes 8:32 NLV). Wanneer jy jou lewe op die waarheid baseer, met die regte soort gedagtes lewe – nie wanopvattings of valse oortuigings nie – en jou lewe daarop baseer om vanuit God se Woord te dink, sal jy vrygemaak word. Jy sal sien hoe jou ou gewoontes, gevoelens en optredes begin wegval.
Wanneer jy slegs daarop fokus om slegte gedagtes te verwyder, skep jy ‘n vakuum waarna slegte gedagtes kan terugkeer. Wanneer jy egter jou slegte gedagtes met goeie gedagtes – Skriftuurlike gedagtes – vervang, word jy deur God bemagtig om die lewe van seën wat Hy wil hê jy moet geniet, te leef.
Sielskos: Num 32:25-33:56; Matt 10:11-20; Ps 72:1-11; Spr 11:19-21
2022-05-17
Spreuke 20:30 NLV
Nog ‘n manier hoe God ons verander, is deur omstandighede. Probleme, druk, hartseer, moeilikheid en stres trek altyd ons aandag. C.S. Lewis het gesê: ‘Pyn dring daarop aan dat ons aandag daaraan gee. God fluister vir ons in ons plesier, maar skree vir ons in ons pyn.’ Die Bybel sê: ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet… Want God het hulle reeds vooruit geken, en Hy het hulle aangewys om soos sy Seun te word…’ (Romeine 8:28-29 NLV). Niks kan in jou lewe sonder jou hemelse Vader se toestemming, gebeur nie.
Die interessante ding oor hoe God omstandighede gebruik, is dat die bron daarvan geen verskil vir Hom maak nie. Ons bring dikwels probleme oor onsself. Soms word dit deur ander mense veroorsaak. Ander kere weer sorg die Vyand dat daar dinge met ons gebeur. Die bron van die omstandighede is egter irrelevant. God het gesê: ‘Ek sal dit by my plan vir jou lewe laat inpas, om jou soos Jesus Christus te maak.’ Dit beteken dat daar geen omstandighede is waaruit ons nie iets kan leer nie. Hoekom het Salomo gesê: “‘n Pak slae suiwer die kwaad. Dit maak die binnekant skoon”? Omdat ons slegs kan verander wanneer ons vrees vir verandering deur ons pyn oorskry word.
As jy meer soos Jesus wil word, dink oor die volgende Skrifgedeelte na: ‘Selfs al was Hy die Seun, het Hy gehoorsaamheid geleer deur wat Hy gely het’ (Hebreërs 5:8 NLV). As God die uitdagings, konflikte en omstandighede van die lewe gebruik het om sy Seun vir sy doelwit voor te berei, sal Hy dan ook nie dieselfde in ons lewens doen nie? In plaas daarvan om dus vanuit jou omstandighede te probeer ontsnap, leer uit hulle en word sterker.
Sielskos: Num 30:1-32:24; Matt 10:1-10; Ps 22; Spr 11:16-18
2022-05-16
2 Timoteus 3:16 NLV
Een van die maniere hoe God ons verander, is deur sy Woord. ‘Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te leer wat waar is en om ons te laat besef wat verkeerd is in ons lewe. Dit ruk ons reg en kweek ‘n regte leefstyl. Dit is God se manier om ons voor te berei, ten volle toegerus vir elke goeie ding wat Hy wil hê ons moet doen’ (verse 16-17 NLV).
Daar is ‘n verhaal van ‘n bekeerde kannibaal in die Suidsee eilande. Hy het by ‘n groot pot gesit en sy Bybel lees toe ‘n antropoloog hom nader en vra: ‘Wat doen jy?’ Die boorling het geantwoord: ‘Ek lees die Bybel.’ Die antropoloog het gespot en gesê: ‘Weet jy nie dat moderne, beskaafde mense daardie boek verwerp het nie? Dis niks anders as ‘n klomp leuens nie. Jy moenie jou tyd mors om dit te lees nie.’ Die kannibaal het hom op en af gekyk en stadig gesê: ‘Meneer, as dit nie vir hierdie boek was nie – was jy nou in daardie pot!’ Die Woord van God het sy lewe – en sy aptyt – verander.
As jy ernstig daaroor is om jou lewe te verander, moet jy gereeld jou Bybel lees, bestudeer en memoriseer. As jy dit nie doen nie, hoe kan jy verwag om in geloof te groei? Die Bybel sê: ‘Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap. En die aanhoor van die boodskap volg uit die prediking van die Goeie Nuus wat handel oor Christus’ (Romeine 10:17 NLV). Die Gees van God gebruik die Woord van God om ons meer soos die Seun van God te maak.
Sielskos: Num 27-29; Matt 9:27-38; Ps 62; Spr 11:15
2022-05-15
Filippense 2:12-13 AFR53
Die Bybel sê: ‘…werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.’ Hierdie Skrifgedeelte klink amper soos ‘n teenstrydigheid, nie waar nie? Dit is egter eerder ‘n paradoks. G.K. Chesterton beskryf ‘n paradoks as volg: “‘n Waarheid wat op sy kop staan om aandag te kry.”
Die sleutel om hierdie spesifieke paradoks te verstaan, lê in die klein woordjie uit. Let op dat die Bybel nie sê: ‘Werk vir jou heil’ nie. Om vir iets te werk beteken om dit te verdien. Die Bybel stel dit baie duidelik dat ons verlossing nie iets is waarvoor ons moet werk nie. Dis ‘n gratis geskenk uit God se genade (sien Efesiërs 2:8-9). Wanneer Paulus sê: ‘Werk julle eie heil uit,’ praat hy van ‘n geestelike oefensessie.
Wat doen jy tydens ‘n fisiese oefensessie? Jy ontwikkel en versterk die spiere wat God reeds vir jou gegee het. Om te oefen beteken om te groei en die meeste te maak van dit wat aan jou gegee is. Wat Paulus hier sê is die volgende: Ontwikkel jou geestelike lewe! God voorsien die krag, maar ons moet toegang daartoe verkry, die skakelaar aansit en dit deur ons lewens laat vloei sodat ons sy wil vir ons lewens kan vervul.
Hoe kan ons dit prakties uitvoer? Deur elke dag tyd te bestee om God se Woord te lees en te bid. Deur mekaar op te skerp en te versterk. Deur die gawes wat God vir ons gegee het, uit te oefen. Die waarheid is dat Hy reeds sy deel gedoen het; nou is dit jou beurt om jou deel te doen.
Sielskos: Gen 2:7-25; 1 Kor 15:39-55
2022-05-14
Eksodus 8:10 NLV
Elke plaag wat God op Egipte losgelaat het, het die spot met een van hulle gode gedryf. Byvoorbeeld, die Egiptenare het muggies verafgod, dus het God vir hulle ‘n magdom muggies – en paddas – gestuur. Uiteindelik het die farao vir Moses geroep en gesê: ‘Goed, ek gee op.’ Toe Moses hom egter vra: ‘Wanneer moet ek van die paddas ontslae raak?’ het farao geantwoord: ‘Doen dit môre.’ Hy moes seker mal gewees het? Hoekom sal jy nie dadelik van die paddas ontslae wil raak nie?
Ons doen egter dieselfde, nie waar nie? Ons stel die veranderinge uit wat ons weet vir ons goed sal wees. Miskien is ons te traag om om te gee. Miskien vrees ons die veranderinge omdat ons nie weet wat dit sal behels nie. Miskien is ons net te trots en hardkoppig. Wat die rede ook al is – ons stel uit.
NASA ruimte-ingenieurs sê vir ons dat die meeste brandstof wat deur ‘n vuurpyl verbruik word, in die eerste paar sekondes verbrand word. Dit verg ‘n enorme hoeveelheid energie en krag om die vuurpyl van die lanseerplatform af te beweeg. Wanneer dit eers aan die beweeg en op pad is, benodig dit baie minder brandstof en is dit makliker om te beheer en te stuur.
Dis een ding om te weet dat God jou probleem kan oplos en jou lewe kan verander. Dis ‘n ander saak om jou bewegingloosheid te oorkom en Hom toe te laat om dit nou te doen! Jesus Christus het die mag om vandag veranderinge in jou lewe te maak. Hy sal vir jou die krag gee om te begin en die krag gee om aan te hou. Dis nie te laat nie. Hy kan jou lewe weer herstel. Die woord vir jou is dus – doen dit vandag!
Sielskos: Num 25-26; Matt 9:14-26; Ps 57; Spr 11:14