2022-05-13
Genesis 22:16-17 NLV
God sal jou nie vra vir dit wat jy nie het nie, maar soms sal Hy jou vir die ding vra wat jy regtig graag wil behou. Hoekom? Om te sien of daar iets is wat vir jou kosbaarder is of waarop jy meer as op Hom staatmaak.
Abraham is soos niemand anders in die geskiedenis getoets nie. Hy het egter die toets geslaag en is soos min mense in die geskiedenis geseën. Verbeel jouself God sê vir jou: ‘…Neem jou seun, jou enigste seun… wat jy so liefhet, en gaan na die land Moria. Offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal wys’ (vers 2 NLV). Kan jy jou die vrae indink wat deur jou gedagtes sal maal? G’n wonder Abraham is ‘…vriend van God…’ (Jakobus 2:23 NLV) en ‘…die geestelike voorvader…’ (Romeine 4:11 NLV), genoem nie. Toe die toets verby was, het God gesê: ‘…Omdat jy My gehoorsaam het en nie eens jou geliefde seun van My weerhou het nie, neem Ek ‘n eed dat Ek jou oorvloedig sal seën. Ek sal jou nageslag vermenigvuldig tot ‘n ontelbare menigte, soos die sterre aan die hemel… Deur jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word. Dit sal alles gebeur omdat jy My gehoorsaam het’ (Genesis 22:16-18 NLV).
Hier is dus die vraag: Wat vra God van jou? Worstel jy tans daarmee? Weerhou jy dit wat Hy wil hê? Isak was die moeilikste saad wat Abraham ooit moes saai. Daardie saad het egter ‘n oes van seën geproduseer wat groter is as enigiets wat Abraham ooit kon gedroom het. Wat vra God vandag van jou? Wanneer jy ja sê vir Hom, sal jy ‘n hele nuwe vlak van seën in jou lewe ervaar. Probeer dit en kyk wat gebeur.
Sielskos: Num 22-24; Matt 9:1-13; Ps 44:17-26; Spr 11:12-13
2022-05-12
2 Timoteus 3:16 NLV
Het jy al ooit gesien hoe ‘n dokter mond-tot-mond asemhaling op ‘n pasiënt doen en die pasiënt weer self begin asemhaal? Dis wat gebeur wanneer jy oor God se Woord mediteer, omdat God self lewe in die Woord geblaas het. Verbeel jouself jy is by ‘n partytjie waar mense ballonne opblaas en hulle met ‘n speld bars. ‘n Wetenskaplike sou kon uitvind watter ballon joune was, omdat jou DNA (die genetiese samestelling wat jou uniek maak), in jou asem is.
Pas nou daardie beginsel op Bybelstudie toe en jy sal verstaan hoe noodsaaklik dit vir jou geestelike lewe is. Johannes sê vir ons: ‘…die Woord was self God’ (Johannes 1:1 NLV), enige tyd wat jy dus God se Woord inneem, neem jy ook sy karaktereienskappe in. Dis hoekom die Vyand jou so besig sal probeer hou dat jy nie tyd het om jou Bybel te lees nie.
Die waarheid is dat baie van die kwessies waarmee ons sukkel, opgelos of heeltemal ge-elimineer kan word as ons ‘n honger na God se Woord ontwikkel. Jeremia, wat so moedeloos was dat hy as ‘die huilende profeet’ begin bekendstaan het, het gesê: ‘Toe U met my gepraat het, was u woorde vir my soos kos wat ek kon eet. Ek was bly, want Here, God wat oor alles regeer, U het gesê ek behoort aan U’ (Jeremia 15:16 ABA).
Jesus het elke toets en beproewing moontlik deurstaan; Hy het selfs die Versoeker weerstaan. Wat was die geheim van sy krag? Hy het gesê: ‘…’n Mens het meer as brood nodig om van te lewe. Wat jy eintlik nodig het, is om te leef van elke woord uit God se mond’ (Matteus 4:4 NLV). Neem vandag God se Woord in – dis sy DNA.
Sielskos: Num 19-21; Matt 8:18-34; Ps 44:9-16; Spr 11:10-11
2022-05-11
Matteus 25:21 NLV
In die Skrif, beteken betroubaarheid om standvastig, stabiel, betroubaar en konsekwent te wees. Beskryf hierdie karaktereienskappe jou? Betroubaarheid betaal groot dividende by God. “‘n Betroubare man sal geseën word…” (Spreuke 28:20 NLV). Jesus het gesê: ‘…baie is geroep, maar min uitverkies’ (Matteus 20:16 AFR53). Hoekom is dit so? Omdat talent die deur vir jou kan oopmaak en vir jou die werk kan kry, maar karakter en betroubaarheid sal jou in die werk hou. Wanneer dit by betroubaarheid kom, sal God jou op twee maniere toets:
1) Jou betroubaarheid in iemand anders se visie. ‘En as julle nie betroubaar is met ander mense se geld nie, waarom sal julle met julle eie geld vertrou word?’ (Lukas 16:12 NLV). As jy krities, bytend, klaend of kompeterend is of jouself gedurig met ander vergelyk, word jy vir dit wat God vir jou in gedagte het, gediskwalifiseer. Betroubaarheid vereis dat jy met liefde en nederigheid dien.
2) Jou betroubaarheid in klein dinge. ‘Die eienaar het hom geprys en gesê: ‘Uitstekend! Jy is ‘n voortreflike slaaf; een op wie ek kan staatmaak. In die kleine het jy jou betroubaar bewys. Daarom gaan ek nog baie groter verantwoordelikhede aan jou toevertrou… Aan hulle wat dit wat aan hulle toevertrou is goed gebruik, sal nog meer gegee word… Maar van hulle wat niks kan wys nie, sal selfs die bietjie wat hulle het, ook nog weggeneem word’ (Matteus 25:23,29 NLV).
God wil weet dat Hy jou kan vertrou. Jy bewys dat Hy kan deur hoe goed jy ander dien en deur jou betroubaarheid in die klein dinge. Hierdie is bewese Bybelse beginsels wat nie net in geestelike kwessies werk nie, maar ook in die alledaagse lewe. Neem dus vandag ‘n paar oomblikke om met gebed jouself die volgende vraag te vra: ‘Is ek betroubaar?’ As jy is, sal God jou seën.
Sielskos: Num 16-18; Matt 8:1-17; Ps 44:1-8; Spr 11:9
2022-05-10
Filippense 3:14 AFR53
Paulus skryf: ‘…ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus. Laat ons almal dan wat volmaak is, so gesind wees; en as julle anders gesind is, sal God dit ook aan julle openbaar’ (verse 14-15 AFR53).
Paulus beskryf die Christen as ‘n skerpskutter. In Paulus se tyd sou die doel of teiken deur ‘n pyl getref word, maar in ons tyd kan die doel ook by ‘n skietbaan getref word. As jy al ooit op ‘n teiken geskiet het, weet jy die volgende:
1) Jy moet afleidings ignoreer. Wanneer jy die teiken in die oog het, kan iets so onbeduidend soos om op die verkeerde plek asem te haal, veroorsaak dat jy dit mis. Wat sê Paulus dus? Eenvoudig die volgende: ‘Vergeet wat agter jou en rondom jou is en bly daarop gefokus om die prys te verkry.’ Hy verwys nie hier na jou verlossing nie. Jesus het dit alreeds gekoop en vrylik deur genade aan jou gegee. Nee, hy verwys hier na die vervulling van jou Godgegewe doelwit en die beloning wat daarna op jou wag.
2) Jou koeël moet die regte hoeveelheid buskruit bevat. Anders sal dit nie die teiken haal nie. Kry jy die idee? Jou buskruit is jou krag! Waar kom jou krag vandaan? Van die Heilige Gees! Jesus het gesê: ‘Maar wanneer die Heilige Gees oor julle kom, sal julle krag ontvang en oral mense eerstehands van My vertel – in Jerusalem, oor die hele Judea, in Samaria, [en by die werk en in jou verhoudings], en tot die uithoeke van die aarde’ (Handelinge 1:8 NLV). Die woord vir jou vandag is dus – mik vir die doel.
Sielskos: Num 14-15; Matt 7:15-29; Ps 37:32-40; Spr 11:7-8
2022-05-09
Hebreërs 11:21 NLV
Die Bybel sê: ‘Omdat hy geglo het, het Jakob op sy sterfbed… biddend voor God gebuig terwyl hy op sy kierie geleun het.’ Verbeel jouself: Elke keer wat Jakob ‘n ervaring met God gehad het, het hy ‘n mes geneem en ‘n ring op sy kierie uitgekerf as ‘n herinnering daaraan. Hy sou sekerlik die nag waar hy met God gestoei het en waar sy naam tot ‘…Israel, want jy het met God en mens geworstel en volhard’ (Genesis 32:28 NLV), verander is, wou simboliseer. Nog ‘n ring sou die nag wat God vir hom ‘n leer met engele wat tot by die hemel gestrek het, gewys het, verteenwoordig. Met ander woorde, Jakob se kierie het ‘n leeftyd van ervarings met God verteenwoordig. Dis dus nie verrassend dat hy biddend voor God, terwyl hy op sy kierie geleun het, gesterf het nie!
Oorweeg nou die verhaal van die vrou uit Sunem in 2 Konings 4. Haar seuntjie het siek geword en gesterf, dus het Elisa sy dienaar Gehasi met sy kierie vooruit gestuur. Toe Gehasi egter die profeet se kierie op die kind se gesig sit, het niks gebeur nie. Eers toe Elisa self daar aangekom het, het die seuntjie weer lewendig geword (sien 2 Konings 4:32-35). Jy kan nie op iemand anders se kierie leun nie! Wanneer dit tyd is om die lewe se uitdagings – insluitend die dood – in die gesig te staar, kan jy net op die geloof wat jy gedurende jou persoonlike wandel met God ontwikkel het, leun.
Dis hoekom dit noodsaaklik is om getrou en konsekwent in jou geestelike reis te wees. Deur op sy sterfbed op sy kierie te leun, het Jakob in wese verklaar: ‘Die God wat my tot dusver bewaar, beskerm en voorspoedig gemaak het, sal my die res van die pad neem.’ Wat ‘n geseënde versekering!
Sielskos: Num 11-13; Matt 7:1-14; Ps 37:25-31; Spr 11:5-6
2022-05-08
2 Kronieke 25:2 NLV
Die vyand van passie is onverskilligheid. Jy kan deur die bewegings gaan, terwyl jou fokus deur ander dinge onderbreek word. Dis nie dat jy vir God nee gesê het nie; dis dat jy nie weerklinkend ja gesê het nie! ‘Amasia het gedoen wat reg was vir die Here, maar nie met sy hele hart nie.’
Dink daaroor: Op watter punt verlaat passie ‘n huwelik? Dit vind nie oornag plaas nie. Dit gebeur wanneer julle mekaar afskeep en mekaar as vanselfsprekend aanvaar. Miskien dink jy dat jou gebrek aan ywer nie so ‘n groot probleem is nie. Dink weer! Jeremia waarsku: “‘n Vloek rus op elkeen wat lui is om die werk van die Here te doen…” (Jeremia 48:10 NLV). Jy vra: ‘Hoe gebeur dit?’ Die Bybel sê vir ons: ‘Ja, die hart van hierdie volk het verhard geword, en hulle hoor swaar met hulle ore, en hulle het hulle oë toegemaak…’ (Handelinge 28:27 NLV).
Let op wat Jesus vir die eerste en twee laaste kerke in Openbaring gesê het: 1) ‘Maar Ek het hierdie klag teen jou: dat jy jou eerste liefde versaak het. Dink terug aan hoe ver jy uitgesak het en kom tot inkeer, en doen weer wat jy aan die heel begin gedoen het…’ (Openbaring 2:4-5 NLV). 2) ‘Ek ken jou handel en wandel. Ek weet dat jy nie koud of warm is nie. Ek sou wat wou gee as jy maar net koud of warm was. Omdat jy só louwarm is… is Ek op die punt om jou uit my mond te spoeg’ (Openbaring 3:15-16 NLV). Met dit in gedagte, is die woord vir jou vandag – wees passievol daaroor!
Sielskos: Jona 1:10-2:10; Matt 12:38-42