Sleutels tot gebede wat beantwoord word (2)

2022-06-06
1 Johannes 5:14 NLV

Ken God se wil. Johannes skryf: ‘Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister. As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister, na wat ons ook al vra, weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, sal toestaan’ (verse 14-15 NLV). Een van die sekerste maniere om te weet dat jy volgens God se wil bid, is om volgens sy Woord te bid. Gebruik die Skrif om dit waarvoor jy bid, te rugsteun. Sê: ‘Here, U het dit in u Woord beloof en ek glo U daarvoor.’

Soms is daar dinge waarvoor ons wil bid, maar ons is nie seker of daardie dinge volgens die Skrif God se wil vir ons is nie. In daardie geval moet jy God vra om dit vir jou te gee as dit in sy wil is – en om jou te help om tevrede te wees met sy besluit. Sint Augustinus het gebid: ‘Gee dat ek u wil kan doen asof dit my wil is, sodat U my wil kan doen asof dit u wil is.’ D.L. Moody stel dit so: ‘Vra vir God wat jy wil hê en sê dan: ‘Laat egter nie my wil geskied nie, maar u wil.’ Die lekkerste ding wat ek in God se skool geleer het, is om die Here vir my te laat kies.’

Jy mag dalk moet wag, want God se tydsberekening is deel van sy wil. Wees geduldig; dit sal gebeur. Jy mag dit dalk nog nie sien nie, maar as God dit beloof het, is dit op pad. Onthou egter ook: As Hy nie dit vir jou gee waarvoor jy gevra het nie, sal Hy vir jou iets beters gee wanneer jy in geloof wandel en ‘n goeie houding behou.

Sielskos: 1 Kon 18:16-20:43; Matt 14:22-36; Ps 116; Spr 12:25

Sleutels tot gebede wat beantwoord word (1)

2022-06-05
Hebreërs 11:6 NLV

Net soos die regte sleutel die deur oopsluit, is daar Skriftuurlike beginsels wat waarborg dat jou gebede beantwoord sal word. Kom ons kyk die volgende paar dae daarna.

Geloof. ‘As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel. Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, daadwerklik beloon’ (vers 6 NLV). God reageer nie noodwendig op jou behoefte nie. Waarop reageer God dus? Jou geloof! Satan sal egter jou gedagtes met vertwyfeling probeer vul. Wanneer hy dit doen, moet jy jou hart ondersoek en kyk wat dit sê.

Jy kan God se Woord in jou hart glo, selfs wanneer jou gedagtes dit bevraagteken. Staan dus op dit wat in jou hart is en nie op dit wat in jou gedagtes is nie. Soms begin twyfel met afleiding. Wanneer jou aandag van God se beloftes afgelei word, begin jy twyfel. Soos jy meer en meer op jou probleme fokus, begin jou geloof wankel. Wanneer dit gebeur, moet jy soos ‘n laser op God se beloftes herfokus – en slegs skrams na jou probleme kyk. Moet hulle nie probeer ontken nie, maar moenie hulle onnodige aandag gee nie.

Die Bybel sê: ‘Maar, as ‘n mens bid, moet jy die vertroue hê dat God sal antwoord, want iemand wat twyfel, is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So iemand kan mos nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie. Hy is iemand wat nie tot ‘n besluit kan kom nie; op so iemand kan jy nie peil trek nie’ (Jakobus 1:6-8 NLV). Bly aan God se Woord geanker en moenie begin ronddryf wanneer jou omstandighede begin verander nie.

Sielskos: Lev 23:15-22; Hand 2:1-18

Intimiteit met Jesus – die geheim tot oorwinning

2022-06-04
Filippense 3:10 NLV

Paulus het gesê: ‘Op hierdie manier kan ek Christus persoonlik ken en die krag beleef wat Hom laat opstaan het. Deur saam met Hom te ly kry ek deel aan sy dood’. Kom ons kyk in diepte na hierdie vers.

1) ‘Kan ek Christus persoonlik ken.’ In die Skrif, dui die woord ‘ken’ ‘n fisiese intimiteit tussen twee mense wat vir mekaar lief is, aan. Byvoorbeeld: ‘En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kain gebaar…’ (Genesis 4:1 AFR53).

2) ‘En die krag beleef wat Hom laat opstaan het.’ Wat in jou lewe is dood wat weer moet opstaan? Daar is geen probleem wat Christus se opstandingskrag nie kan hanteer nie. Hoe kry jy toegang daartoe? Wanneer jy intimiteit met Christus jou hoogste prioriteit maak, kan jy uit hierdie krag put.

Sommige van ons sou verkies het as die vers hier geëindig het. Die waarheid is egter dat indien jy intimiteit met Christus wil geniet, moet jy gewillig wees om ‘saam met Hom [te] ly.’ Lyding verwys in hierdie opsig nie na slegte allergieë of geld wat jy op die aandele mark verloor het nie. Vir Paulus het dit beteken om geslaan, verraai en onthoof te word. Dit het egter ‘n intimiteit met Jesus meegebring wat op geen ander manier ervaar kan word nie.

As jy ooit diep saam met ‘n ander persoon gely het, sal jy hierdie beginsel verstaan. Jy sal nooit ware intimiteit met iemand ervaar deur vir hulle te sê: ‘Ek wil slegs die goeie tye met jou deel’, nie. Dikwels ontstaan die sterkste bande deur die lyding wat ons saam ervaar; toetse wat veroorsaak dat ons mekaar op ‘n nuwe, dieper dimensie leer ken, liefhê en vertrou.

Sielskos: 1 Kon 16:1-18:15; Matt 14:13-21; Ps 121; Spr 12:23-24

Ken jou snellers

2022-06-03
Psalm 37:8 NLV

‘n Geweer kan jou óf beskerm óf vernietig; dit hang alles af van wie die sneller trek. Woede werk op dieselfde manier; dis hoekom dit wys is om te weet wat jou snellers is.

Sommige van die algemeenste snellers deesdae is: 1) Wanneer jou regte geskend word. Is dit altyd sleg om kwaad te word? Nee, soms is die probleem wat jou die kwaadste maak die een waarvoor God jou geroep het om te help oplos. Die wêreld is ‘n beter plek as gevolg van die mans en vrouens wat hulle lewens daaraan toegewy het om siekte, armoede, korrupsie en onreg te beveg. Dis wat Jesus gedoen het toe Hy die geldwisselaars uit die tempel gejaag het. Die Bybel sê: ‘Moenie sondig as jy kwaad word nie… en die duiwel so ‘n houvas gee nie’ (Efesiërs 4:26-27 NLV).

2) Wanneer jy gefrustreerd is omdat dinge nie vir jou regloop nie. ‘n Onlangse nuusberig het vertel van ‘n man wat op sy bergfiets gaan jag het. Toe sy fiets kilometers van die huis af breek, het hy kwaad geword en dit aan flarde geskiet. Dit maak nie sin nie! Soos een skrywer opmerk: ‘Woede is ‘n wind wat die lamp van jou rasionele gedagtes doodblaas.’

3) Wanneer jy onder konstante stres is. Paulus skryf: ‘…ek [sê] aan elkeen van julle dat jy nie jouself moet oorskat nie…’ (Romeine 12:3 NLV). Deur te veel aktiwiteite in te min tyd in te pak, gaan dit stres veroorsaak. Dan voel jy skuldig en dink dat jy nie geestelik genoeg is nie.

In die lewe is daar altyd uitdagings, berei jouself dus daarvoor voor en laat tyd vir die onverwagse toe. ‘Moenie kwaad word nie… dit lei net tot jou nadeel.’

Sielskos: 1 Kon 14-15; Matt 14:1-12; Ps 117; Spr 12:20-22

Begin om dit te sê wat God sê

2022-06-02
Spreuke 18:21 NLV

Moenie praat sonder om te dink nie. Moet ook nie dinge sê wat God se Woord weerspreek nie. Dit is nie maklike beginsels om volgens te lewe nie, maar dit is kwessies van lewe en dood. Die Bybel sê: ‘Die tong het mag oor dood en oor lewe…’ Dit beteken dat jy jouself kan seën deur dit wat jy sê. Die Bybel sê: ‘Elkeen in die land wat bid dat dit met hom goed moet gaan, elkeen wat iets belowe, sal my Naam noem, want Ek is die God wat doen wat Ek belowe. Dit sal nie weer so sleg gaan met hulle nie…’ (Jesaja 65:16 ABA).

Let twee dinge in hierdie Skrifgedeelte op: 1) Jou eie woorde beïnvloed jou baie meer as enigiemand anders se woorde. Op die ou einde is dit nie wat ander mense sê nie, maar wat jy vir jouself sê wanneer hulle ophou praat het, wat saak maak. Jy kry altyd die laaste woord in!

2) Jy sal nooit die toekoms wat God vir jou beplan het ingaan, as jy nog in die verlede leef nie. Jy kan nie jou verlede uitwis nie, moet dit dus nie oor en oor in jou gedagtes herleef nie. God het gesê: ‘Vergeet al die dinge wat in die verlede gebeur het. Dis niks in vergelyking met wat Ek nog gaan doen nie. Ek gaan iets nuuts doen…’ (Jesaja 43:18-19 NLV).

Dis tyd om met God te begin saamstem en om te begin sê wat Hy oor jou sê. Dis geen geringe saak nie. Wat jy vandat jy soggens opstaan totdat jy saans gaan slaap sê, beïnvloed nie net jou dag nie; dit beïnvloed die hele uitkyk en rigting van jou lewe. Hou dit dus altyd in gedagte wanneer jy praat!

Sielskos: 1 Kon 12-13; Matt 13:47-58; Ps 82; Spr 12:18-19

Wanneer jy sterf! (6)

2022-06-01
2 Korintiërs 5:2 NLV

Dr Elisabeth Kübler-Ross, ‘n kundige op die gebied van dood en afsterwe en dr Raymond Moody Jnr, het saam met dr Kübler-Ross, ook ‘n bekende psigiater, die gevallegeskiedenis van meer as vyfhonderd mense wat weer lewendig geword het nadat hulle deur hul dokters as dood verklaar is, ondersoek. Die mense in die studie het óf ‘n plek van skoonheid, verwondering, vreugde en vrede beskryf, óf hulle het iets vreesliks beskryf. Hulle het ook beskryf hoe hulle buite hul liggame gesweef het. Nadat hulle ‘dood’ verklaar is, was sommige wat blind was in staat om te sien. Hulle het vertel van mense wat die kamer binnegekom het, hoe hulle gelyk het en wat hulle gedoen het terwyl hulle daar was. Tog, toe hierdie mense wat blind was terug lewe toe gebring is, kon hulle nie meer sien nie.

In sy boek, Life After Life, skryf dr Moody: “‘n Dokter het my vertel van sy ervaring toe hy ‘n man behandel het wat klinies dood verklaar is. Hy het daarin geslaag om die man weer by te bring, maar die man het hom daarna gedagvaar omdat hy hom, na die glorie wat hy beleef het, na hierdie ellendige bestaan teruggebring het. Een vrou het vertel dat sy afgekyk het op die dokters wat besig was om haar te probeer bybring en vir hulle probeer sê het: ‘Los my uit!'”

Die apostel Paulus verduidelik dit as volg: ‘Ons weet dat wanneer ons aardse verblyf, wat net ‘n tentwoning is, afgebreek word, ons ‘n permanente byplek by God het, ‘n huis wat nie met hande gebou is nie, maar wat vir altyd in die hemel bestaan. In hierdie tentwoning swoeg en kreun ons, want ons verlang daarna om ons hemelse woning te betrek’ (verse 1-2 NLV). Wanneer jy sterf – begin jy waarlik lewe!

Sielskos: 1 Kon 10-11; Matt 13:36-46; Ps 113; Spr 12:15-17