2018-09-29
Eksodus 3:4 NLV
Moses het al die potensiaal in die wêreld op veertig gehad, maar soos ‘n verlore saak op tagtig gevoel. In plaas daarvan om God se wil op God se manier te doen, het hy probeer om God se wil te bespoedig en dit vir vier dekades vertraag! Op ‘n punt in ons lewe voel die meeste van ons dat die lewe ons verbygegaan het. Ons droom lyk soos ‘n verlore saak. Hierdie krisis bied ons ‘n keuse: Gooi handoek in, of gooi ons hoed terug in die ring in. Baie van ons gee op ons drome op omdat ons voel dat God op ons opgegee het. Ons dien egter ‘n God van restorasie (sien Joël 2:25). Moses se lewe is ‘n bewys dat dit nie saak maak hoeveel verkeerde draaie ons maak nie, dit is God se genade wat ons terug op die paraderoete kry. Moses het gedink dat sy verlede hom gediskwalifiseer het, maar God het dit gebruik om hom vir sy doelwit voor te berei. Niemand het die paleis se protokol so goed soos die prins van Egipte geken nie. Hy het immers daar grootgeword. Nadat hy vir veertig jaar skape opgepas het, het hy die wildernis geken – die wildslewe, die watergate, die weerpatrone. Moses het verkeerd opgetree voor hy begin reg optree het en dit mag dalk die geval met jou ook wees. Hier is egter die goeie nuus: God kan jou mislukkings in die verlede gebruik om jou karakter te bou en jou met die krag en wysheid toe te rus wat jy nodig het om jou doel hier op aarde te vervul. Dis wonderlik wat God met ‘n gebroke lewe kan doen wanneer jy vir Hom al die stukke gee.
Sielskos: 1 Kor 1-3; Luk 23:35-43; Ps 54; Spr 25:1-3
2018-09-11
Filippense 2:7 ABA
Jerusalem is deur mure omring en een van die maniere om die stad binne te gaan, was deur die Dalpoort. Toe Nehemia die mure herbou het, lees ons: ‘…die inwoners… het die Dalpoort herstel…’ (Nehemia 3:13 NLV). In ‘n Christelike lewe moet daar beide ‘bergtop ervarings’ en ‘dal ervarings’ wees. Kom ons kyk na nog ‘n bekende teksvers: ‘Maar dié wat op hulle hoop op die Here stel, sal hulle krag terugkry. Hulle vlieg soos arende. Hulle sal hardloop en nie moeg word nie. Hulle sal loop en nooit vermoeid word nie’ (Jesaja 40:31 NLV). Wanneer jy nie die krag het om een van hierdie dinge te doen nie, sê Paulus, ‘…na die hele geveg verby is, sal julle nog vas staan’ (Efesiërs 6:13 NLV). Daar is ‘n seisoen in jou lewe vir al hierdie ervarings, en jy moet dit aangryp. Die Bybel sê Jesus ‘…het Homself verneder… Daarom het God Hom belangrik gemaak…’ (Filippense 2:7-9 NLV). Lukas skryf, ‘Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle’ (Lukas 24:30 AFR83). Geseënd en gebroke – dit is steeds God se patroon. Hoekom? Sodat jy sy seëning kan hanteer en nederig kan bly. Jy is in die moeilikheid as jy meer van jou beeld as van jou behoefte aan God bewus is. Dit is hoekom Hy jou toelaat om deur situasies te loop wat jou na ‘n plek van totale afhanklikheid aan Hom bring. Jy moet geneem, geseën en gebreek word voordat jy in diens aan ander weggegee kan word. In God se koninkryk is die pad op, af!
Sielskos: Jos 22-24; Luk 20:27-40; Ps 27; Spr 23:16-18
2018-09-07
Jeremia 23:6 NLV
Die naam Jehova Tsidkenu: Die Here is ons geregtigheid, is deur Jeremia aan God gegee toe hy die koms van Jesus, die Verlosser, aangekondig het: ‘…Daar sal ‘n tyd kom wanneer Ek weer ‘n wettige afstammeling uit Dawid se familie koning sal maak… Sy naam sal wees: ‘Die Here ons geregtigheid’…’ (verse 5-6 NLV. Voor Jesus gekom het, het ons geregtigheid in ons eie inspanning gelê. ‘Wanneer ons al die bepalings gehoorsaam wat die Here ons God gee, sal ons regverdig wees’ (Deuteronomium 6:25 NLV). Ons het daardie geregtigheidstoets absoluut gefaal! ‘Die Here ons geregtigheid,’ het egter ons oplossing geword. ‘Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom’ (2 Korintiërs 5:21 AFR53). Dis slegs in Jesus wat ons die geregtigheid van God word! Jy moenie reg optree sodat jy geregverdig voor God kan voel nie, of sodat jy ‘n voorraad goeie werke kan opbou om te gebruik wanneer jy dit nodig ag nie. Jy moet deurentyd van die ‘geregtigheid’ wat Christus in jou rekening deponeer, gebruik. Dis nutteloos om binne-in jouself vir nederigheid, geduld, goedheid, liefde ens te soek. Dis nie daar nie! Jy moet hulle deur geloof uit die voorraad wat Jesus vir jou gestoor het, kry. Skuldige harte kan vergifnis daaruit kry, angstige siele kan vrede daaruit kry en moeë geeste kan krag uit Jehova Tsidkenu kry. Jy het redding alleenlik deur geloof gekry. Op dieselfde manier moet jy geregtigheid en alles anders wat jy mag nodig kry, deur geloof in dit wat God vervul het en vir jou gestoor het in Jesus, Die Here ons geregtigheid, kry!
Sielskos: Jos 16:1-19:23; Luk 20:9-19; Ps 20; Spr 23:10-12
2018-06-15
Filippense 3:20 NLV
Elke jaar kry die Stille Oseaan-salm, wat vyf tot ses jaar in die oseaan geleef het, skielik die drang om na die water van hul geboorte-rivier terug te keer. Met vissermanne, bere en enorme hidro-elektriese damme wat in hulle pad staan, veg hulle hul weg stroom-op om by hulle tuiste uit te kom. Wetenskaplikes weet nie hoe die salm dit regkry om na die presiese rivier waar hulle gebore is, terug te keer nie. Sommige wetenskaplikes dink hulle doen dit omdat hulle die vars water van hulle rivier kan proe of ruik. Ander wetenskaplikes dink dat hulle dalk die sterre gebruik om te navigeer. Ongeag hoe hulle dit doen, weet ons dat hulle nie kaarte en kompasse gebruik nie; hulle reis is instinktief. Hulle het ‘n verlange na ‘n spesifieke rivier en hulle sal nie rus totdat hulle die rivier vind nie. Dis presies hoe dit met ons is. God het ons vir die hemel geskep en niks in ons lewe sal daardie verlange stil nie (sien Prediker 3:11). Net soos daardie salm, is ons in hierdie wêreld, maar nie van hierdie wêreld nie. Ja, ons vind vreugde daarin om die lewenstaak wat God vir ons gegee het te vervul, maar dit is niks teenoor die vreugde wat in die hemel vir ons wag nie. Paulus stel dit so: ‘Ons daarteenoor het ons burgerskap in die hemel. Van dáár verwag ons ook die Here Jesus Christus as Redder. Hy sal ons vernederde liggame verander in liggame met goddelike heerlikheid, soos sy eie. Hiervoor sal Hy dieselfde krag gebruik as dié waarmee Hy alle dinge onder sy gesag bring’ (Filippense 3:20-21 NLV). Soos jou geredde geliefdes die aarde verlaat om hemel toe te gaan, sal jou verlange om by hulle aan te sluit, net groter word.
Sielskos: Eseg 31-33; Mark 16:1-20; Ps 80:1-11; Spr 15:11-14
2018-06-14
Kolossense 4:6 NLV
Bid: ‘Here, ek sluit by die psalmdigter Dawid aan en vra: ‘Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart vir U aanneemlik wees…’ (Psalm 19:15 NLV). Ek besef dat die woorde wat ek spreek geweldige krag het, in beide my eie lewe en in my verhoudings. U Woord sê, ‘Die tong het mag oor dood en oor lewe…’ (Spreuke 18:21 NLV). Leer my om woorde te spreek wat altyd getrou aan u Woord is en wat U verheerlik. Help my om versigtig te wees om woorde te spreek wat ander mense opbou in plaas van afbreek, wat komplimenteer eerder as kritiseer, wat in liefde en waarheid gespreek word en nie deur my eie verwagtings en begeertes verdraai word nie, en wat vertroue en nie mismoedigheid meebring nie. Waar ek woorde gespreek het wat negatief of skadelik vir iemand anders was, vergewe my. Weerhou my daarvan om dinge te sê wat ander mense op enige manier seermaak of afkraak. Ek wil vriendelik met my woorde wees en ‘n tong hê wat genesing en seën bevorder (sien Spreuke 12:18). Help my om geloof in u Heerskappy oor my lewe te hê dat ek ‘…alles sonder kla of teëpraat’ (Filippense 2:14 NLV) kan doen. Help my om nie negatiewe dinge van myself te sê nie. Help my om onmiddellik op te hou wanneer ek ‘n kritiese woord begin sê. U woord sê, ‘Met woorde wat altyd vriendelik en sinvol is, moet julle gereed staan om die regte antwoord vir elke mens te gee.’ Laat my woorde U vandag eer en verheerlik. In Jesus se naam bid ek dit. Amen.’
Sielskos: Eseg 27:25-30:26; Mark 15:33-47; Ps 143; Spr 15:8-10