Hartseer en hartsiek (2)

2018-06-12
Jesaja 40:29 NLV

Ons sê dinge soos, ‘Solank as wat daar lewe is, is daar hoop,’ of ‘Hoop is om ‘n knoop in ‘n tou te maak en vas te hou,’ en glo dat dinge sal beter raak. Wanneer hoop egter verminder of uitgewis word, kan geestelike en emosionele siektes mense vir ‘n uitkoms uit hulle omstandighede laat soek. Is selfdood verkeerd? Ja. Dis verkeerd omdat dit God uitsluit. Wanneer jy jou lewe neem is daar niks meer wat Hy vir jou kan doen nie. Dis verkeerd omdat jy ‘n nalatenskap van onopgeloste pyn in die harte van jou geliefdes agterlaat. Vir generasies al het Christelike leiers oor die vraagstuk van selfdood gedebatteer en van mekaar verskil. Elkeen van hulle glo egter hierdie woorde: ‘Bekommernis rem ‘n mens af…’ (Spreuke 12:25 NLV). As depressie nie bestuur word nie, kan dit tot self-vernietiging lei. Dit mag dalk nie die resultaat van ‘n koeël of ‘n oordosis dwelms wees nie; dit kan die besluit wees om op te hou eet, of om op te hou om na hulp uit te reik omdat die hulp wat hulle reeds ontvang het nie gehelp het nie. Die eindresultaat is egter dieselfde. ‘n Nasionale geestesgesondheidsorganisasie skat dat vroue twee keer meer geneig is om aan depressie te lei as mans. Mense in lae-inkomste groepe is minder geneig om vir hierdie siekte behandel te word, omdat hulle nie kan bekostig om hulp te kry nie. Het die Bybel die antwoord? Ja. ‘Hy gee krag aan dié wat moeg is. Hy maak die magteloses sterk. Selfs jongmense raak uitgeput en afgemat. Baie jongmense struikel en val. Maar dié wat hulle hoop op die Here stel, sal hulle krag terugkry…’ (Jesaja 40:29-31 NLV).

Sielskos: Eseg 22-23; Mark 15:1-20; Ps 132:1-10; Spr 15:1-4

Vier kategorieë van begeerte (1)

2018-06-05
Spreuke 13:12 NLV

Kom ons kyk vir die volgende paar dae na van ons algemeenste begeertes. Materiële begeertes: Lydia was ‘n besigheidsvrou wat in wolmateriaal gehandel het (sien Handelinge 16:14). Sy was een van Paulus se eerste bekeerlinge. Kan jy dink wat dit van ‘n vrou geverg het om in so ‘n patriargale samelewing suksesvol te wees? Sy was so suksesvol dat sy haar eie huis besit het. Hierdie huis was groot genoeg om die vergaderplek vir die eerste kerk in die geskiedenis van Europa te wees. Van al die godsdienstige geboue wat oor die eeue gebou is – Notre Dame, Westminster Abdy en die Sistyne kapel – was die eerste kerk die huis van hierdie besigheidsvrou. Nou, as jou begeerte om geld te maak jou vrygewigheid wurg, jou in skuld laat lewe of kroniese ontevredenheid skep, is dit tyd om dit waarmee jy besig is, te herevalueer. Dis God-gegewe begeertes om geld te maak, goeie produkte te skep en mense in diens te neem. ‘Onthou altyd dat dit die Here jou God is wat vir jou die krag gee om ryk te word…’ (Deuteronomium 8:18 NLV). Het jy al ooit gewonder hoekom jy dit geniet om met enjins te peuter of om met jou hande te werk? Dis omdat jy na die beeld van ‘n kreatiewe God geskape is wat hierdie ongelooflike kosmiese masjien met soveel kragte en energie geskep het, dat mense briljante wetenskaplike beroepe daaraan toewy om net ‘n klein deeltjie daarvan te verstaan. Die Bybel sê, ‘…Groot is die Here wat Hom verheug in die vrede van sy dienaar’ (Psalm 35:27 NVL). Wanneer jou begeerte na materiële sukses gebruik word om God mee te loof en ander mee te seën, sal Hy jou help om sukses te behaal.

Sielskos: Eseg 1-4; Mark 14:1-11; Ps 121; Spr 14:13-16

Strewe daarna om God te verheerlik (2)

2018-04-15
Jesaja 6:3 NLV

Die onderskeid tussen heilig en wêrelds is ‘n valse verdeling. Alle dinge is deur God en vir God geskep – daar is geen uitsonderings nie. Elke noot musiek, elke kleur op die palet, elke smaak wat jy proe. Arnold Sommerfield, die Duitse fisikus en pianis, het opgemerk dat ‘n enkele waterstof-atoom wat eenhonderd frekwensies uitstraal, meer musikaal is as ‘n klavier wat net sewe-en-tagtig frekwensies uitgee. Elke enkele atoom is dus ‘n unieke uitdrukking van lofprysing. Volgens die komponis Leonard Bernstein is die beste vertaling van Genesis 1:3 nie ‘En God het gesê’ nie, hy glo dat die beter vertaling ‘En God het gesing’ moet wees. Die Almagtige het elke atoom in bestaan in gesing en elke atoom eggo daardie oorspronklike melodie, in drievoudige harmonie deur die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Sensitiewe klankinstrumente het bevind dat erdwurms dowwe staccato geluide maak, terwyl walvisse duisende kilometers onder water gehoor kan word. Lewis Thomas het dit so gestel: ‘As ons beter kon hoor en die wysie van seevoëls kon onderskei, die ritmiese melodie van ‘n skool visse kon aanhoor of selfs die verre harmonie van vlieë wat in die son in die veld rondvlieg kon hoor, sou die gekombineerde klank ons van ons voete afgelig het.’ Een dag sal ons dit alles kan hoor. Oordromme wat verheerlik is, sal die volgende Skrifgedeelte wat vervul word hoor: “Die hele skepping – in die hemel, op die aarde en onder die aarde, op die see en alles wat in hulle bestaan, het ek hoor sê: ‘Aan Hom wat op die troon sit en aan die Lam, kom toe die lofprysing en die eerbetoning, die heerlikheid en die krag vir altyd en altyd'” (Openbaring 5:13 NLV). Maak dit vandag jou doel om God in alles wat jy doen te verheerlik.

Sielskos: Gal 5:22; Luk 2:8-20; Spr 3:13-18; Ps 119:161-168

Die verskil tussen Simson en Samuel (2)

2018-01-18
Rigters 14:3 NLV

Die tweede verskil: Verhoudings. “Sy ouers vra toe vir hom: ‘Is daar nie iemand tussen die mense van jou stam of onder jou volksgenote met wie jy kan trou nie? Moet jy nou onder die heidense Filistyne ‘n vrou vat?’ Simson het vir sy pa gesê: ‘Kry haar vir my. Ek wil haar hê.'” Wanneer dit by verhoudings gekom het, is Simson deur sy laer beginsels eerder as die beginsels van God se Woord gelei. Hy het duur daarvoor betaal. Drie keer lees ons in die Skrif: ‘Simson het afgegaan…’ (vers 1 NLV). Hy het afgegaan na Timna toe en met die verkeerde vrou getrou. Hy het afgegaan na Gasa toe en die nag met ‘n prostituut deurgebring. Hy het afgegaan na die Sorekvallei toe, in Delila se skoot opgeëindig en sy krag, sy vryheid, sy reputasie, sy seën en sy lewe verloor. Samuel, aan die ander kant, is grootgemaak om die bediening te suiwer. Eli, die Hoëpriester, het twee seuns gehad, Hofni en Pineas, wat hy vir die priesterskap bestem het. Hulle het egter omkoopgeld aanvaar om sondes te bedek en openlik met prostitute omgegaan. Daar is ‘n les vir elke verloste kind van God hieruit te leer: ‘Moenie saamspan met ongelowiges nie…’ (2 Korintiërs 6:14 NLV). Is God bevooroordeeld wanneer Hy dit sê? Nee, Hy is beskermend! Wanneer jy in ‘n verhouding met iemand ‘saamgespan’ is wat nie jou geloof, jou waardes, jou doelwitte en jou prioriteite deel nie, eindig jy op waar julle mekaar in verskillende rigtings probeer trek. Wanneer probleme te voorskyn kom, soos hulle verseker sal, het jy iemand langs jou sy nodig wat na dieselfde bron draai om die oplossing te kry: na God toe.

Sielskos: Dan 1-2; Matt 8:10-17; Ps 81; Spr 2:11-15

Hou aan verander!

2018-01-09
Hebreërs 11:34 NLV

Die woord metamorfose beteken om van een vorm na ‘n ander te verander. In Hebreërs hoofstuk elf, vind ons bekende mense soos Moses en Dawid. Het hulle swakhede gehad? Ja. Het hulle soms swaargekry? Absoluut. Maar, ‘…Hulle het krag in hulle swakheid ontvang [en] was magtig in die oorlog…’ Dink aan ‘n ruspe wat in ‘n skoenlapper verander. Dit begin stadig en slymerig. Wanneer dit die proses van metamorfose ondergaan, word die ruspe ‘n pragtige skoenlapper wat lang afstande kan vlieg deur die lugstrome te ry. Die skoenlapper se vlerke word ontwikkel wanneer dit sukkel om deur die kokon te breek. As hy nie veg nie, vlieg hy nie! Kry jy die idee? Dis jou swaarkry wat jou krag ontwikkel en jou stryd wat vir jou oorwinning bring. Satan wil nie hê dat jy dit moet weet nie. Hy hoop dat die stryd wat jy besig is om te stry jou sal vernietig in plaas van om jou te ontwikkel, dus hou hy aan om druk op jou uit te oefen. Toe Paulus se lewe so moeilik geraak het dat hy nie gedink het dat hy nog ‘n dag sou oorleef nie, het God vir hom gesê, ‘…My goedheid is vir jou genoeg. Dit is al wat jy nodig het. My groot krag word sigbaar in jou lewe wanneer jy swak en hulpeloos is….’ (2 Korintiërs 12:9 DB). Hoe het Paulus gereageer? Hy skryf: ‘…Ek het ontdek dat swaarkry en swakhede deel van die Here se plan met my lewe is… Wanneer mense my slegsê, wanneer ek mishandel word, wanneer ongelowiges my vervolg, of wanneer ek bang en benoud is omdat ek vir Christus werk, is ek doodtevrede. Want wanneer ek swak is, is ek juis sterk…’ (vers 10 DB)

Sielskos: Lev 11:1-13:37; Matt 5:27-37; Ps 42:6-11; Spr 1:24-28