Moenie toelaat dat slegte nuus jou blydskap steel nie (2)

2017-10-30
Nehemia 8:10 NLV

Toe Nehemia geskryf het, ‘…die blydskap wat die Here gee, sal julle krag wees’, was God se mense besig om Jerusalem te herbou nadat hulle sewentig jaar in Babel gevange gehou is. Hulle was omring, in die minderheid, en is elke dag deur vyandige nasies bedreig. Soortgelyk, is daar ook vandag slegte nuus. Daar is egter ook goeie nuus. 1) Kerke word teen ‘n yslike spoed geplant. Die kerkkundige, Ed Stetzer, sê dat nuwe kerke in die Verenigde Koninkryk vinniger geplant word as wat ou kerke uitsterf – en navorsing wys dat 60 tot 80 persent van mense wat by nuwe kerke aansluit uit ‘n onkerklike agtergrond kom. Dit is in ander lande ook waar. Dit beteken dat meer mense vandag deur die evangelie bereik word, as die dae toe dooie godsdienstige kerke oor die evangelie gepraat het, maar dit nie uitgeoefen het nie. 2) Latyns-Amerika ervaar ‘n politieke en geestelike bewuswording. Politieke verandering in Venezuela is nog ‘n aanduiding dat linksgesinde regerings besig is om mag te verloor. Soortgelyke bewegings teen korrupsie vind in Argentinië, Brasil en ander Latyns-Amerikaanse lande plaas – in ‘n tyd waar evangeliese kerke teen ‘n ongekende tempo groei. 3) Die Bybel is steeds die populêrste boek ooit. Dit is ook die beste verkoper en die boek wat die wydste versprei word. Nagenoeg vier biljoen kopieë is in die laaste vyf dekades wêreldwyd gedruk en verkoop – veel meer as enige ander boek. Moenie toelaat dat slegte nuus jou blydskap steel nie. As jy negatief en vol vrees geword het as gevolg van wat in die wêreld aangaan, herstel jou geestelike lewe deur weer jou blydskap te vind. God is aan die beweeg en almal wat in Hom vertroue het, het rede om fees te vier.

Sielskos: Jes 34-37; Joh 6:52-59; Ps 9; Spr 28:13-16

‘n Gebed vir vrede

2017-09-27
Jesaja 26:3 NLV

Hier is ‘n gebed vir vrede: ‘Here, u Woord sê, ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is.’ U Woord sê, ‘Die Here gee krag aan sy volk. Die Here seën sy volk met vrede’ (Psalm 29:11 NLV). U Woord sê, ‘Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle… Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie’ (Johannes 14:27 NLV). U Woord sê, ‘…Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:7 NLV). Ek het vandag hierdie vrede wat rede te bowe gaan nodig om my senuwees en gedagtes te kalmeer. In plaas van om aan my vrese en bekommernisse te dink, help my om op u goedheid, u getrouheid, u helende krag, u oorvloedige bronne en u vergewende hart te fokus. Kom bly binne my en vul my met u vrede. Wys my wat dit is wat my vrede steel. Ek wil regtig weet, Vader, sodat ek spesifiek kan wees in dit wat ek bely, dit waaraan ek my moet toewy, en dit wat ek moet verander. Ek maak myself nou oop vir U. Leer my die geheim van oneindige vrede. Ek dank U reeds vir dit wat my sal help om die vrede wat U so mildelik aangebied het, te ontvang. U Woord sê, ‘Verder, laat die vrede wat Christus bewerk het, in julle lewe skeidsregter wees…’ (Kolossense 3:15 NLV). Vandag wil ek deur u vrede, in plaas van my vrese en bekommernisse, regeer word. Ek gee al my sorge dus aan U oor en vertrou dat U dit vir die goeie sal laat uitwerk tot u glorie. In Jesus se naam bid ek dit: Amen.’

Sielskos: 1 Kor 7-9; Mark 15:1-11; Ps 68:1-18; Spr 25:13-16

Vry van mense se goedkeuring

2017-09-19
1 Tessalonisense 2:4 NLV

Daar is ‘n wêreld se verskil om vir mense se goedkeuring op te tree, en om vry te wees om aan hulle behoeftes te voldoen omdat jy weet dat jy reeds God se goedkeuring het. Die strewe na goedkeuring is soos enige ander dwelm; jy kan nooit genoeg daarvan kry nie. Net soos alle verslaafdes, word jy mal wanneer dit weerhou word. Dit laat jou aan die genade van ander mense se opinies oor en speel met jou emosies. Dis nie hoe God wil hê jy moet lewe nie! Paulus was vry om die waarheid in liefde te spreek: om mense te konfronteer of sagkens met hulle te werk. Wanneer iemand vir Paulus gesê het dat hulle nie van hom hou nie, het hy nie slapelose nagte daaroor gehad nie, omdat sy sekuriteit en selfwaarde nie op hulle aanvaarding gebou was nie. ‘Nee, ons praat omdat God ons gekeur het…’ (vers 4 NLV). Paulus het hom nie met ander mense vergelyk of sy superioriteit oor ander mense probeer bewys deur altyd in beheer te probeer wees nie. Met die wete dat hy reeds God se goedkeuring gehad het, was hy vry van sulke vrese en kon hy die lewe geniet waarvoor God hom geroep het. Wanneer ons onvolwasse is, is ons bekommerd oor wat ander mense van ons dink. Soos ons meer volwasse word, besef ons dat hulle die meeste van die tyd nie eers aan ons dink nie. Hulle is te besig om aan hulleself te dink – of om hulle te bekommer oor wat ons van hulle dink! Wanneer jy weet dat jy God se goedkeuring het, het jy die krag om kritiek en konflik te hanteer, omdat jy verseker van jou identiteit is. Jou identiteit is die volgende: Jy is verlos, geroepe en deur God goedgekeur.

Sielskos: Sag 1-4; Mark 14:1-11; Ps 39; Spr 24:26-28

Verstaan God se wil (3)

2017-08-28
Handelinge 20:23 NLV

Omtrent 75 persent van gelowiges woon nou in Derde Wêreld lande, dikwels in anti-Christen omgewings. Xu Yonghai is een van hulle. Hy het gepoog dat huiskerke in China gewettig word. Die regering het daarop gereageer deur hom vir twee jaar in ‘n 2.5m by 2.5m sel in ‘n tronk in Beijing op te sluit. Daar was nie ‘n badkamer nie, net ‘n pyp waaruit water op die betonvloer gevloei het. ‘My sel was die laaste stop vir gevangenes wat tot die dood veroordeel is,’ het hy gesê. ‘By tye was daar soveel as drie gevangenes in die klein, klam kamertjie wat op hulle afspraak met die laksman gewag het.’ Yonghai het dit deur gebed, meditasie en skryf oorleef. Deur ‘n stukkie seep te gebruik om op die mure van sy sel te skryf, het hy die hooftrekke van ‘n boek oor God uitgelê. Toe hy klaar was, het hy die punte gememoriseer en toe hy vrygelaat is, het hy sy notas in ‘n boek van vyftigduisend woorde, God the Creator, omskep. Meer dikwels as nie, bevestig jou moeilike omstandighede dat jy binne die wil van God leef! Paulus skryf: ‘Wat ek wel weet, is dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging voorlê. Al is my lewe kosbaar, ag ek dit van geen waarde as ek nie my lewenstaak en my bediening wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaarmaak nie. Om die Goeie Nuus te verkondig dat God mense liefhet sonder dat hulle iets hoef te doen om dit te verdien’ (verse 23-24 NLV). Dit maak nie saak hoe moeilik die wil van God is nie, jy kan dit bereik deur elke dag krag uit sy oneindige genade te put.

Sielskos: 2 Kron 35-36; 2 Joh; Mark 8:14-26; Ps 119:169-176; Spr 22:20-23

God se voorskrif teen stres

2017-08-05
1 Petrus 5:7 NLV

Voel jy gestres? Word jou gedagtes deur bekommernisse oorheers? Indien dit die geval is, wil God jou daarvan genees. Lees die volgende Skrifgedeeltes stadig en met gebed: ‘…Ek soek skuiling by U. In die skaduwee van U vlerke sal ek skuil totdat die onheil verby is’ (Psalm 57:1 NLV). ‘Maar vir die armes is U, Here, ‘n toevlug in die storm. Vir die behoeftiges in nood is U ‘n skuilplek…’ (Jesaja 25:4 NLV). ‘Ek sal by jou wees en jou beskerm waar jy ook al gaan… Ek sal jou nie verlaat nie, maar doen wat Ek beloof het’ (Genesis 28:15 NLV). ‘Die ewige God is jou skuilplek en onder jou is sy ewige arms…’ (Deuteronomium 33:27 NLV). ‘Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Moenie ontsteld word nie, want Ek is jou God. Ek maak jou sterk en wil jou help. Ek hou jou vas met my reddende regterhand’ (Jesaja 41:10 NLV). ‘…Tot julle stokoud is, sal Ek julle dra… Ek sal julle ondersteun en julle red’ (Jesaja 46:4 NLV). God se raad en voorskrif teen stres is dus: 1) God gee waarlik vir jou om. 2) Maak ‘n bewustelike besluit om al jou laste op Hom te werp. As jy voel dat jy te veel hooi op jou vurk het, vra Hom vir die wysheid om jou skedule te verander. Wanneer die probleem te groot is vir jou om te hanteer, gee dit vir God – en moenie dit terugvat nie. Laat Hom sy denke deur jou dink, en laat sy vrede, krag en geduld toe om beheer oor jou gedagtes te neem. Oefen elke oggend om dit te doen en soveel keer gedurende die dag soos wat jy nodig het. Dis God se voorskrif teen stres!

Sielskos: 1 Kron 4:24-5:26; Mark 2:13-22; Ps 119:9-16; Spr 20:19-21