Staan op en probeer weer

2018-11-28
Jesaja 41:10 NLV

Om sukses in die lewe te behaal, het jy twee dinge nodig: 1) Die regte mense. Soms is die eerste stap om uit moedeloosheid te kom, om iemand te vind wat jou daaruit kan lig. Moenie soos die ou wees wat op die punt was om by die brug af te spring toe ‘n polisieman hom genader het en gesê het, ‘Niks kan so erg wees nie. Vertel my daarvan.’ Toe die ou klaar gepraat het – het hulle altwee gespring! Jy mag dalk glimlag, maar die geselskap wat jy hou, kan jou of oplig of aftrek. Paulus het geskryf, ‘God, wat die vernederdes bystaan, het ons ook ondersteun deur die teenwoordigheid van Titus’ (2 Korintiërs 7:6 NLV). Jy het ‘n Titus in jou lewe nodig en jy moet ‘n Titus vir ander mense word. Die Bybel sê, ‘Help ander gelowiges wat swaarkry…’ (Galasiërs 6:2 NLV). 2) Die regte perspektief. Meer as die helfte van verkoopsmense misluk omdat hulle nie ‘n tweede of derde keer teruggaan nie. Omtrent 58 persent maak een oproep en stop dan. 25 persent maak twee oproepe en stop dan. Vyftien persent maak drie oproepe en stop dan. Die twaalf persent wat weer en weer teruggaan, maak 80 persent van alle verkope uit. Dis die groep waarin jy behoort. Moenie met mislukking tevrede wees nie; staan op en probeer weer! God sal saam met jou werk (sien Filippense 1:6). Weier om nederlae te aanvaar. Onthou, jy sal beloon word vir dit wat jy klaargemaak het, nie vir dit wat jy begin het nie. Soms is die laaste sleutel aan die ring die een wat die deur oopsluit, so vra dus vir God vir die krag om aan te hou totdat jy wen!

Sielskos: Gen 17-19; Joh 13:31-38; Ps 118:1-9; Spr 31:6-9

Oorwinnaars van reuse (3)

2018-11-18
1 Samuel 17:40 NLV

In Dawid se tyd het hulle deur middel van ‘verteenwoordiging’ geveg. Een man sou die nasie as ‘n geheel beveg en die land van die soldaat wat verloor, sou onderdanig aan die land van die wenner word. Dus was die geveg tussen Dawid en Goliat inderwaarheid ‘n geveg tussen Israel en die Filistyne. Ons is bekend met Dawid se oorwinning oor die reus met geloof, ‘n klippie en ‘n slingervel. Tog sê die Skrif vir ons dat hy nie net een klip opgetel het nie, maar ‘…vyf gladde klippies…’ Hoekom? Dit was nie ‘n gebrek aan geloof nie – hy het geweet dat Goliat vier broers het. Let op: 1) Oorwinnaars van reuse besef dat hulle reus groter kwessies verteenwoordig. ‘n Reus staan nooit alleen nie, agter hom lê sy redes. Verslawing, mishandeling en woede word almal deur ander kwessies voortgedryf en ondersteun. Iewers agter die ooglopende reus is sy ondersteunende broers – pyn, skuldgevoelens, verlies en skaamte. Dawid was voorbereid met vyf klippies – een vir Goliat en een vir elk van sy vier broers. Wat lê agter jou reus? Met God se hulp kan jy beide jou reus en sy ondersteuningspan oorwin. 2) Oorwinnaars van reuse word nie deur die uitdagings oorweldig nie. Moet nooit toelaat dat jou vrese jou geloof oorweldig nie. Die Bybel sê dat ‘…God het ons nie ‘n gees van skugterheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing’ (2 Timoteus 1:7 NLV). Vrees sal op die mislukkings in die verlede voed, maar jy kan nie toelaat dat gister se vrees vandag se geloof oorweldig nie. Neem dus vandag jou mislukkings; maak ‘n lys daarvan op ‘n stuk papier en skryf in groot letters bo-aan die bladsy: ‘Dinge wat ek nie weer hoef te probeer nie! Ek het die les geleer.’

Sielskos: Dan 1:3-21; Dan 3:7-30; Dan 5:10-12; Dan 9:1-19

Wees heeltemal verbind

2018-11-11
Filippense 3:8 NLV

Al ooit van ‘een-rigting sendelinge’ gehoor? Hulle het ‘n een-rigting kaartjie na die sendingsveld gekoop en in plaas daarvan om ‘n tas te pak, het hulle hulle besittings in ‘n kis gepak, met die wete dat hulle nooit weer huiswaarts sou keer nie. A.W. Milne was een van hulle. Hy het na die Nuwe Hebrides in die Stille Oseaan vertrek, met die wete dat jagters elke sendeling voor hom dood gemartel het. Hy het egter nie vir sy lewe gevrees nie, omdat hy reeds vir homself dood was. Vir vyf-en-dertig jaar het hy tussen hulle geleef en hulle bedien. Toe hy sterf, het die stam hom in die middel van hulle dorp begrawe en die volgende woorde op sy grafsteen geskryf: Toe hy gekom het, was daar geen lig nie. Nêrens in die Skrif staan daar dat God ons na veilige plekke toe sal stuur om maklike dinge te doen nie. Toe Jesus voor die kruis te staan gekom het, het hy die fundamentele gebed van verbintenis gebid: ‘…Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geld!’ (Lukas 22:42 NLV). Paulus het geskryf: ‘Alhoewel ek hierdie menslike dinge eers as ‘n wins beskou het, beskou ek dit ter wille van Christus nou as ‘n verlies. Ja, om Christus Jesus, my Here, te ken is só wonderlik dat ek alle ander dinge as ‘n verlies beskou… Ek beskou dit as gemors sodat ek Christus as wins kan verkry en een met Hom kan wees… Op hierdie manier kan ek Christus ken en die krag beleef wat Hom laat opstaan het. Deur saam met Hom te ly kry ek deel aan sy dood’ (Filippense 3:7-10 NLV). Dis wanneer jy gewillig is om saam met Hom te ly, wat jy die krag van sy opstanding kan ervaar. Wees dus heeltemal verbind.

Sielskos: Job 1; Job 2:7-10; Job 40:1-5; Job 42:7-17

Om God se wil te ken is kragtig!

2018-11-02
Efesiërs 1:9 NLV

Wat ‘n vreugde is dit nie wanneer die wil van God nie meer ‘n geheim is nie, omdat Hy dit aan ons bekend gemaak het! Skielik is jou uitkyk anders, jou houding verander en vrees kan nie meer speletjies met jou gedagtes speel nie. Nou weet jy – kennis is mag! Die Bybel sê, ‘…Dié wat in hulle God glo, sal… sterk staan en doen wat reg is’ (Daniël 11:32 NLV). Daar is tye wat jy dinge in jou gees weet wat jy nie in jou kop kan uitpluis nie. Dit kan veroorsaak dat jy verkeerd verstaan word. Jy kan die kennis van ‘n deurbraak of ‘n seëning lank voor dit gebeur, in jou gees saamdra. Die Bybel sê, ‘maar ons ken hierdie geheim omdat God dit deur sy Gees aan ons bekend gemaak het…’ (1 Korintiërs 2:10 NLV). Wanneer God wysheid met jou deel, plaas dit jou in ‘n posisie om suksesvol te wees. Wat onderskei die president van die bank van die skoonmaker? Dit wat hy of sy weet! Hulle mag dalk gelykes in alle ander sin van die woord wees, maar een het ‘n prys betaal om dinge te leer wat hom of haar in ‘n ander posisie geplaas het, wat ander belonings meebring. God kan veroorsaak dat jy iets weet wat die koers van jou lewe verander. Hy kan jou iets in die nag wys wat jou gevoel in die oggend kan beïnvloed. In sy teenwoordigheid ontvang jy insigte wat jou ‘n doelwit, hoop, waardigheid, rigting en die krag om op te staan en te baklei vir dit wat Hy jou in sy Woord beloof het, gee. Kom dus vandag in sy teenwoordigheid – en bly daar totdat Hy sy wil in die saak aan jou geopenbaar het.

Sielskos: Jes 34-37; Joh 7:25-44; Ps 104:24-35; Spr 28:9-12

Jou sondepatroon (8)

2018-10-28
Romeine 12:10 NLV

Entoesiaste: Entoesiaste is die lewe en siel van die partytjie. Hulle is geneig om storievertellers te wees en hulle hou daarvan om oor hulleself te praat. As jy met hulle oor jou probleme probeer praat, sal hulle dalk aan die begin luister, maar dit sal nie lank aanhou nie. Die skrywer John Ortberg vertel dat hy saam met ‘n vriend by ‘n restaurant was. Elke keer wanneer hulle iets bestel het, het die kelnerin ‘Wonderlik,’ of ‘Uitstekende keuse,’ of ‘Briljant,’ gesê. Toe Ortberg haar vra, ‘Sê jy ooit, ‘Dit was ‘n simpel keuse,’ of ‘Dit gaan aaklig proe’?’ het sy geantwoord, ‘Nee, in die kombuis het ons ‘n lys van bevestigings en elke keer wat iemand iets bestel, moet ons vir hulle een van hierdie bevestigings gee.’ Entoesiaste het nie ‘n lys bevestigings nodig nie, omdat hulle altyd besig is om dinge soos ‘wonderlik,’ ‘wow,’ of ‘fantasties’ te sê. Soms kan hulle vir jare gaan sonder om die pyn en donkerte in ander mense, of selfs binne hulself, te sien. Hulle kom ook in die versoeking om hulle lewe om die najaging van positiewe gevoelens – die begeerte van bevrediging – te laat wentel; en hulle kan ontevrede raak wanneer hulle nie genoeg aandag kry nie. Wat is dus die antwoord? a) Spreek jou behoefte om die middelpunt van aandag te wees, aan. ‘As broers en susters in God se huisgesin moet julle mekaar in liefde koester en voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer.’ b) Spreek jou ongewilligheid om pyn en ongemaklike situasies te hanteer, aan. Dit is ‘n eienskap wat tot isolasie en verslawing kan lei. ‘…Vind julle krag in julle verhouding met die Here, ja, in die krag van sý sterkte!’ (Efesiërs 6:10 NLV).

Sielskos: Rut 1:8-18; Rut 2:5-12; Rut 3:1-6; Rut 4:9-13