Die pad op, is af

2018-09-11
Filippense 2:7 ABA

Jerusalem is deur mure omring en een van die maniere om die stad binne te gaan, was deur die Dalpoort. Toe Nehemia die mure herbou het, lees ons: ‘…die inwoners… het die Dalpoort herstel…’ (Nehemia 3:13 NLV). In ‘n Christelike lewe moet daar beide ‘bergtop ervarings’ en ‘dal ervarings’ wees. Kom ons kyk na nog ‘n bekende teksvers: ‘Maar dié wat op hulle hoop op die Here stel, sal hulle krag terugkry. Hulle vlieg soos arende. Hulle sal hardloop en nie moeg word nie. Hulle sal loop en nooit vermoeid word nie’ (Jesaja 40:31 NLV). Wanneer jy nie die krag het om een van hierdie dinge te doen nie, sê Paulus, ‘…na die hele geveg verby is, sal julle nog vas staan’ (Efesiërs 6:13 NLV). Daar is ‘n seisoen in jou lewe vir al hierdie ervarings, en jy moet dit aangryp. Die Bybel sê Jesus ‘…het Homself verneder… Daarom het God Hom belangrik gemaak…’ (Filippense 2:7-9 NLV). Lukas skryf, ‘Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle’ (Lukas 24:30 AFR83). Geseënd en gebroke – dit is steeds God se patroon. Hoekom? Sodat jy sy seëning kan hanteer en nederig kan bly. Jy is in die moeilikheid as jy meer van jou beeld as van jou behoefte aan God bewus is. Dit is hoekom Hy jou toelaat om deur situasies te loop wat jou na ‘n plek van totale afhanklikheid aan Hom bring. Jy moet geneem, geseën en gebreek word voordat jy in diens aan ander weggegee kan word. In God se koninkryk is die pad op, af!

Sielskos: Jos 22-24; Luk 20:27-40; Ps 27; Spr 23:16-18