2024-11-01
Psalm 32:7 NLV
Die Psalmdigter het geskryf: ‘U is vir my ‘n skuilplek. U beskerm my van teëspoed. U omring my met liedere van redding.’ Wanneer moeilikheid opdaag, kan jy na God toe draai en by Hom wegkruip. Hoe? Deur jouself met liedere van redding te omring. Ruth Ward Heflin gee ons ‘n padkaart na God se teenwoordigheid toe: ‘Jy lofprys totdat die gees van aanbidding kom, jy aanbid totdat die heerlikheid kom en dan staan jy in die heerlikheid.’ Dit is daar waar alle dinge moontlik is. God het vir Jeremia gesê: ‘…Ek staan gereed om te doen wat Ek gesê het gaan gebeur’ (Jeremia 1:12 NLV). Die harp wat Dawid gebruik het om God op die heuwels te loof terwyl hy na sy skape omgesien het, is dieselfde harp wat God gebruik het om koning Saul van die geeste wat hom in die greep van depressie gehad het, te bevry.
Dit was ook nie die enigste keer wat God musiek gebruik het om ‘n wonderwerk mee te verrig nie. Toe die mense van Juda uitwissing as gevolg van droogte in die gesig gestaar het, het die profeet Elisa gesê: “Laat iemand wat die lier kan speel, hiernatoe kom. Terwyl iemand op die lier gespeel het, kom die krag van die Here oor Elisa. Hy sê: ‘Dit is wat die Here sê: Hierdie droë vallei sal met poele water gevul word'” (2 Konings 3:15-16 NLV). God het daardie vallei vol water gemaak en hulle ‘n skouspelagtige oorwinning oor hul vyande gegee.
Die sanger Julie True sê: ‘Op ‘n geestelike vlak omseil musiek ons verstand en gaan reguit na ons hart, siel en gees toe. Dit raak plekke aan wat deur niks anders bereik kan word nie. Aanbidding maak die hemele oop en roer God se hart.’
Sielskos: Jes 30-33; Joh 7:14-24; Ps 104:1-23; Spr 28:5-8
2024-10-31
Markus 12:30 NLV
Wat beteken dit om God met al jou krag lief te hê? ‘n Pastoor definieer dit as volg: ‘Dit beteken om geweldige hoeveelhede energie aan koninkryksake te bestee. Dit beteken bloed, sweet en trane. Dit beteken diensbaarheid en opoffering. Dit beteken goeie outydse harde werk. Hoe ons ons energie gebruik, openbaar ons ware prioriteite.’ Dit openbaar hoe baie ons iemand liefhet; in hierdie geval, God.
Die pastoor gaan voort: ‘Christenskap was nooit bedoel om ‘n selfstandige naamwoord te wees nie. Christenskap was altyd bedoel om ‘n werkwoord te wees. Ons moet gehoorsaam aan die vermanings van die Heilige Gees wees. Ons moet geleenthede aangryp om te dien. Aan die einde van die dag gaan God nie sê: ‘Goed gesê, goeie en getroue dienaar,’ nie, maar ‘Welgedaan, goeie en getroue dienaar.’ Niks is meer vervullend as om kalorieë vir ‘n koninkryksaak te verbrand nie. Enigiets minder as om al ons krag vir God se doeleindes te benut, is op sy beste vervelig en skynheilig op sy ergste.
So baie Christene is so verveeld en so gefrustreerd deur die gaping tussen hulle teologie en die werklikheid. Die manier om daardie gaping toe te maak en om weer daardie heilige stormloop van adrenalien te ervaar, is om ander te dien. Dit kan so eenvoudig wees soos om ‘n enkelma wat ‘n aand uit nodig het se kinders op te pas, of om in ‘n bediening in jou plaaslike kerk te dien, of om vrywilligerswerk by ‘n plaaslike ouetehuis te doen. Dit maak nie saak hoe groot of hoe klein nie, elke kalorie wat vir ‘n koninkryksaak verbrand word, verdien saamgestelde rente in die ewigheid. Dit sal die leegheid in jou siel met pure vreugde vul.’
Sielskos: Deut 18:9-14; Dan 2; Jes 47:5-15; Hand 16:16-34
2024-10-30
Job 12:8 NLV
Die patriarg Job het geskryf: ‘Praat met die aarde. Dit sal julle onderrig…’ George Washington Carver word as een van die geskiedenis se grootste wetenskaplike denkers geag. Om en by die draai van die twintigste eeu het landbou in die suidelike state van Amerika swaar gekry. Die bolkalander was besig om katoengewasse te vernietig. Omdat die boere jaar na jaar katoen geplant het, was daar ook min voedingstowwe in die grond oor.
Dit was George Washington Carver wat die idee van wisselbou begin het. Hy het die boere aangemoedig om grondbone te plant, wat hulle toe gedoen het. Die plan het die grond weer laat herstel, maar die boere was ontsteld omdat daar nie ‘n mark vir grondbone was nie. Toe hulle by Carver daaroor kla, het hy gedoen wat hy altyd gedoen het – hy het gebid; hy het gereeld vieruur in die oggend opgestaan, deur die woud gaan stap en God gevra om die geheimenisse van die natuur aan hom te openbaar. Een van sy gunsteling Skrifgedeeltes was: ‘Praat met die aarde. Dit sal julle onderrig…’ Carver het letterlik vir God gevra om die natuur se geheime aan hom bekend te maak en God het dit gedoen.
Gevolglik het Carver meer as driehonderd gebruike vir grondbone ontdek. Of dalk meer akkuraat, die Here het meer as driehonderd gebruike daarvoor geopenbaar. Dit het alles van skeerroom tot gom tot skoonheidsmiddels tot seep tot souse tot insekdoder tot linoleum tot houtvernis tot kunsmis, behels. Carver het gesê: ‘Ek hou daarvan om aan die natuur as ‘n draadlose telegraafstasies waardeur God elke dag, elke uur en elke oomblik van ons lewe met ons praat, te dink.’ Vandag sal God op baie verskillende maniere met jou praat; jy moet net sensitief daarvoor wees en luister.
Sielskos: Jes 26-29; Joh 7:1-13; Ps 114; Spr 28:1-4
2024-10-29
Jesaja 43:4 NLV
Raai wie het gesê: ‘Jy is vir My kosbaar en belangrik’? God. Moet dus nie toelaat dat iemand jou anders vertel nie. Hoekom is dit so belangrik? Want om te verstaan wie jy as ‘n persoon is en opreg te glo dat jy liefde en aandag van ‘n ander persoon verdien, noodsaaklik is vir jou eiewaarde. Die vermoë om dit suksesvol en op ‘n bedagsame wyse oor te dra, is noodsaaklik vir enige gesonde, wedersyds bevredigende verhouding.
‘n Gevoel van eiewaarde is nie arrogansie nie. Dit help jou om grense te stel en waarborg dat dit nie saakmaak wie jy ontmoet nie, daardie grense nooit oorgesteek sal word nie. Dikwels wanneer ons in verhoudings gebruik voel, is dit omdat ons toegelaat het dat daardie grense oorskry word. Of erger nog, ons het nog nooit gedink oor waar die grense moet wees nie. Die manier om hierdie situasie te voorkom, is om duidelik te wees oor wie jy is en wat jy bereid is om in ‘n verhouding te doen. Om die waarheid oor ‘n ander persoon of jouself te ontken, sal met verloop van tyd op ‘n ramp afstuur.
Met ‘n stewige grondslag om te weet wie jy is en wat jy verteenwoordig, sal jy die dapperheid besit om die regte vrae te vra en die antwoorde te kan ondersoek. Jy sal inligting en bewyse bekom wat jou help om te besef wie ‘n persoon werklik is en of hulle by jou lewe inpas. Jy sal eerlik met jouself en ander oor wie jy is, jou behoeftes en die manier waarop jy jou lewe wil leef, wees. Buiten jou verhouding met God is daar geen ander belangriker verhouding as die een wat jy met jouself het nie. God sê: ‘Omdat jy vir My kosbaar en belangrik is…’ Glo dit en lewe daarvolgens.
Sielskos: Jes 22-25; Joh 6:52-71; Ps 127; Spr 27:25-27
2024-10-28
2 Korintiërs 5:7 NLV
Impalas is een van die kragtigste diere in Afrika. Hulle kan hoër as drie meter spring en ‘n afstand van meer as nege meter in een sprong aflê. Tog kan die impala in ‘n kamp met ‘n heining wat nie meer as drie meter hoog is nie, aangehou word. Hoekom? Omdat die impala nie sal spring as hy nie kan sien waar sy voete gaan land nie. In ‘n sin wandel impalas deur sig, nie geloof nie.
Wat beteken dit om te ‘wandel’? Om een voet voor die ander te sit en deur een tree op ‘n slag aan te hou om vorentoe te beweeg. Wat beteken dit om ‘geloof’ te hê? Om die Here te vertrou en sy Woord te gehoorsaam, maak nie saak hoe dinge vir jou lyk of voel nie. Geloof doen nie met intelligente denke en rede weg nie. Daar is egter ‘n verskil.
Wanneer intelligente denke en rede jou nie nog ‘n tree verder kan neem nie, hou geloof reguit aan vorentoe beweeg. Hoekom? Omdat intelligente denke en rede die hand van die mensdom wat uiteindelik in ‘n doodloopstraat beland, vashou, terwyl geloof die hand van God vashou, die God wat ‘n pad maak waar dit lyk asof daar geen pad is nie.
Dit was Abraham se verhaal: ‘Omdat hy geglo het, het Abraham, toe God hom geroep het, gehoorsaam weggetrek na die land wat God vir hom as ‘n erfdeel sou gee. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou beland’ (Hebreërs 11:8 NLV). Is jy angstig oor die toekoms? Moenie wees nie; neem net die volgende tree in geloof, en jy sal een tree nader aan die seëninge en belonings wat God vir jou in gedagte het, wees.
Sielskos: Jes 17-21; Joh 6:35-51; Ps 98; Spr 27:23-24
2024-10-27
Johannes 2:5 NLV
‘n Christelike leier sê: “‘n Bruilof was vir die Jode die heel grootste sosiale geleentheid. Dit het gewoonlik met ‘n seremonie teen sononder in die sinagoge begin. Dan het die hele trougeselskap met ‘n lang kersligoptog deur die middel van die dorp geloop. Die paartjie sou verby so veel as moontlik huise begelei word sodat almal kon uitkom en hulle gelukwens. Dan het hulle huis toe gegaan na ‘n partytjie wat verskeie dae aangehou het. Daar sou geskenke gegee word, toesprake sou gemaak word en hulle sou eet en drink. Gasvryheid by ‘n troue was gesien as so ‘n heilige plig dat die seremoniemeester vir ‘gasvryheidsbreuk’ gedagvaar kon word. Sou die kos en wyn opraak sou dit as ‘n enorme belediging gesien word.”
Dis opmerklik dat Jesus se eerste wonderwerk was om ‘n huishoudelike krisis op te los en die pasgetroudes van verleentheid te red. Dis ‘n fout om te dink dat God net vir groot dinge soos egskeiding, bankrotskap of die dood omgee. Hy gee ook vir klein dingetjies soos gebreekte borde, tandpyn, kwaai base, verlore honde, pap wiele en verpaste vlugte om. Die Bybel sê: ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om’ (1 Petrus 5:7 NLV). Wat vir jou saakmaak, maak vir Jesus saak.
Toe hierdie pasgetroudes uitnodigings na hulle troue toe uitgestuur het, het hulle ook een aan Jesus gestuur. Hy het opgedaag en aan hulle behoeftes voldoen. Let ook op hoe dit gebeur het. Maria, Jesus se moeder, het vir hulle gesê: ‘…Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle noukeurig gaan doen.’ Wat Jesus vir hulle gesê het om te doen, het nie rasioneel geklink nie, maar toe hulle Hom gehoorsaam het, het hulle ‘n wonderwerk ontvang. As jy bid, God vertrou en Hom gehoorsaam, sal Hy ook ‘n wonderwerk vir jou doen.
Sielskos: Rut 1:8-18; Rut 2:5-12; Rut 3:1-6; Rut 4:9-13