Neem jou probleme na Jesus

2024-10-27
Johannes 2:5 NLV

‘n Christelike leier sê: “‘n Bruilof was vir die Jode die heel grootste sosiale geleentheid. Dit het gewoonlik met ‘n seremonie teen sononder in die sinagoge begin. Dan het die hele trougeselskap met ‘n lang kersligoptog deur die middel van die dorp geloop. Die paartjie sou verby so veel as moontlik huise begelei word sodat almal kon uitkom en hulle gelukwens. Dan het hulle huis toe gegaan na ‘n partytjie wat verskeie dae aangehou het. Daar sou geskenke gegee word, toesprake sou gemaak word en hulle sou eet en drink. Gasvryheid by ‘n troue was gesien as so ‘n heilige plig dat die seremoniemeester vir ‘gasvryheidsbreuk’ gedagvaar kon word. Sou die kos en wyn opraak sou dit as ‘n enorme belediging gesien word.”

Dis opmerklik dat Jesus se eerste wonderwerk was om ‘n huishoudelike krisis op te los en die pasgetroudes van verleentheid te red. Dis ‘n fout om te dink dat God net vir groot dinge soos egskeiding, bankrotskap of die dood omgee. Hy gee ook vir klein dingetjies soos gebreekte borde, tandpyn, kwaai base, verlore honde, pap wiele en verpaste vlugte om. Die Bybel sê: ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om’ (1 Petrus 5:7 NLV). Wat vir jou saakmaak, maak vir Jesus saak.

Toe hierdie pasgetroudes uitnodigings na hulle troue toe uitgestuur het, het hulle ook een aan Jesus gestuur. Hy het opgedaag en aan hulle behoeftes voldoen. Let ook op hoe dit gebeur het. Maria, Jesus se moeder, het vir hulle gesê: ‘…Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle noukeurig gaan doen.’ Wat Jesus vir hulle gesê het om te doen, het nie rasioneel geklink nie, maar toe hulle Hom gehoorsaam het, het hulle ‘n wonderwerk ontvang. As jy bid, God vertrou en Hom gehoorsaam, sal Hy ook ‘n wonderwerk vir jou doen.

Sielskos: Rut 1:8-18; Rut 2:5-12; Rut 3:1-6; Rut 4:9-13