Wees met al jou krag lief vir God
2024-10-31Markus 12:30 NLV
Wat beteken dit om God met al jou krag lief te hê? ‘n Pastoor definieer dit as volg: ‘Dit beteken om geweldige hoeveelhede energie aan koninkryksake te bestee. Dit beteken bloed, sweet en trane. Dit beteken diensbaarheid en opoffering. Dit beteken goeie outydse harde werk. Hoe ons ons energie gebruik, openbaar ons ware prioriteite.’ Dit openbaar hoe baie ons iemand liefhet; in hierdie geval, God.
Die pastoor gaan voort: ‘Christenskap was nooit bedoel om ‘n selfstandige naamwoord te wees nie. Christenskap was altyd bedoel om ‘n werkwoord te wees. Ons moet gehoorsaam aan die vermanings van die Heilige Gees wees. Ons moet geleenthede aangryp om te dien. Aan die einde van die dag gaan God nie sê: ‘Goed gesê, goeie en getroue dienaar,’ nie, maar ‘Welgedaan, goeie en getroue dienaar.’ Niks is meer vervullend as om kalorieë vir ‘n koninkryksaak te verbrand nie. Enigiets minder as om al ons krag vir God se doeleindes te benut, is op sy beste vervelig en skynheilig op sy ergste.
So baie Christene is so verveeld en so gefrustreerd deur die gaping tussen hulle teologie en die werklikheid. Die manier om daardie gaping toe te maak en om weer daardie heilige stormloop van adrenalien te ervaar, is om ander te dien. Dit kan so eenvoudig wees soos om ‘n enkelma wat ‘n aand uit nodig het se kinders op te pas, of om in ‘n bediening in jou plaaslike kerk te dien, of om vrywilligerswerk by ‘n plaaslike ouetehuis te doen. Dit maak nie saak hoe groot of hoe klein nie, elke kalorie wat vir ‘n koninkryksaak verbrand word, verdien saamgestelde rente in die ewigheid. Dit sal die leegheid in jou siel met pure vreugde vul.’
Sielskos: Deut 18:9-14; Dan 2; Jes 47:5-15; Hand 16:16-34