2024-11-07
Psalm 33:20 AFR53
Ons innerlike self kan opgelei word om op God te wag, selfs al is ons uiterlike self gestres en angstig vir antwoorde. Dit is nie maklik om dit in ons vinnige samelewing, waar die geestelike dissipline om op die Here te wag dikwels ontbreek, te doen nie. Ons wil alles dadelik hê. As ons egter altyd haastig is, sal ons die hegte gemeenskap met God wat tyd neem om te ontwikkel, misloop. Hy sal met ons harte praat, indien ons geduldig is om te luister.
Nadat hy Baäl se profete doodgemaak het, het Elia ‘n waardevolle les geleer oor hoe om op God te wag. Die Here het vir hom gesê om op ‘n berg te gaan staan. ‘n Groot rukwind het daar verbygekom, toe ‘n aardbewing en toe ‘n vuur, maar die Here was nie in een daarvan nie. Die Bybel sê: ‘…Na die vuur was daar die geluid van ‘n sagte fluistering’ (1 Konings 19:12 NLV). Die Here het in ‘n stil fluistering na die rukwind, aardbewing en vuur gepraat. As Elia ongeduldig was, sou hy nie die Here se stem gehoor het nie.
Dawid het ook geleer om op God te wag. ‘…Ek wil ervaar hoe goed Hy vir my is. Ek wil weer en weer daaroor nadink wanneer ek Hom aanbid’ (Psalm 27:4 DB). Om effektief te kan bid, moet ons kies om geduldig te wag en te luister vir sy Woord. Deur te wag en te luister, word die fokus van ons af geneem en op Hom, wat die antwoord op al ons behoeftes is, geplaas. Dit is dikwels in stilte wat die krag van God die magtigste beweeg. Laat dus die Heilige Gees toe om jou te leer om in sy teenwoordigheid te wag.
Sielskos: Jes 49-52; Joh 8:31-41; Ps 30; Spr 28:25-28
2024-11-06
Johannes 6:9 NLV
Indien jy voel dat jy nie talentvol genoeg is om deur God gebruik te word nie, lees die verhaal van die skare van vyfduisend wat deur vyf garsbrode en twee vissies gevoed is. Daar was eintlik vyfduisend mans in die skare. As jy die vrouens en kinders byvoeg, kan die getal meer as twintigduisend wees. Die seuntjie se middagete was kariger as wat jy dink. ‘n Brood was omtrent so groot soos ‘n klein pannekoek. Die vissies verwys na seediere wat omtrent so groot soos sardientjies was.
Wat daardie middagete egter ‘n groot fees gemaak het, is dat die seuntjie gewillig was om sy middagete op te gee. Hy het nie gesê: ‘Here, U kan een vissie en twee broodjies kry, maar ek gaan die res hou’ nie. Hy het vir Jesus alles gegee wat Hy van hom gevra het. Dink nou aan die gevolg van sy opofferende goedhartigheid.
1) Die oorspronklike middagete het nie eers ‘n enkele mandjie volgemaak nie, maar die oorskiet het twaalf mandjies volgemaak. Dit illustreer die oeswet wat in die Skrif geleer word. Wanneer jy vir God gee, kry jy altyd meer terug as wat jy gee (sien Lukas 6:38). Wanneer jy terughou, steel jy God se seën by jouself. ‘Mense wat graag uitdeel, ontvang altyd meer. Daar is ander wat suinig is en hulle word arm’ (Spreuke 11:24 NLV).
2) Deur aan ander mense se behoeftes te voldoen, is daar aan sy behoeftes voldoen. ‘Jesus het toe die brode geneem, ‘n dankgebed gedoen en dit aan die mense wat daar gesit het, uitgedeel en ook soveel van die vissies as wat hulle wou hê’ (Johannes 6:11 NLV). Die waarheid is dat wanneer jy dit wat jy het vir God gee, jy verwonderd sal wees oor wat Hy daarmee doen.
Sielskos: Jes 45-48; Joh 8:21-30; Ps 86; Spr 28:21-24
2024-11-05
Lukas 12:7 NLV
As jy wil weet hoe onbegryplik groot God is, lees die volgende: ‘Dit was my hand wat die aarde se fondamente gelê het. Met my regterhand het Ek die hemelkoepel gespan…’ (Jesaja 48:13 NLV). Kan so ‘n groot God vir jou daaglikse probleme en ellendes omgee? Ja. ‘Wat kos vyf mossies? ‘n Paar sent? Tog vergeet God nie ‘n enkele een van hulle nie. Selfs die hare op julle kop is getel. Moet dus nie bang wees nie; julle is vir Hom meer werd as ‘n hele swerm mossies’ (Lukas 12:6-7 NLV).
God gee vir mossies om – meer as wat jy weet. Hy gee vir hulle kos, voorsien hulle van bome, takkies vir hulle neste en ander mossies om mee te kommunikeer. Hy gee so baie vir hulle om dat Hy ‘n lopende inventaris van hulle hou. Wat van jou? ‘Selfs die hare op julle kop is getel…’ Wanneer jy vir iemand omgee, let jy na detail op.
Wat is die eerste ding wat ouers doen wanneer hulle hul nuwe baba se klein vingers en tone vir die eerste keer sien? Hulle tel hulle. As daardie kind een dag by die huis sonder een van daardie tien vingers of tone sou kom, sal die ouers dit dadelik opmerk. Selfs ontoereikende ouers doen dit. Jesus het inderwaarheid gesê: ‘God tel nie net jou vingers en tone nie. Hy het jou so lief dat Hy selfs die hare op jou kop tel. Hy weet hoeveel daar is. Hy weet watter kleur elkeen is.’ Spreuke 16:31 sê vir ons: ‘Grys hare is soos ‘n koning se kroon, ‘n mens kry dit by persone wat reg lewe’ (NLV). Die kruis bewys hoe lief God jou, insluitend die detail van jou lewe, het en hoeveel jy vir Hom beteken.
Sielskos: Jes 42-44; Joh 8:1-20; Ps 96; Spr 28:17-20
2024-11-04
Psalm 100:2 NLV
Die Psalmdigter het geskryf: ‘…Kom voor Hom en sing met vreugde… Gaan sy poorte in met dankliedere, sy hofsaal met lofgesange. Dank Hom en prys sy Naam’ (verse 2, 4 NLV). Wanneer jy ‘n koning nader, word ‘n sekere protokol vereis. Dawid gee vir ons die protokol om die teenwoordigheid van die Koning van Konings binne te gaan: ‘Gaan sy poorte in met dankliedere, sy hofsaal met lofgesange.’ Vraag: Is dit jou persoonlike ervaring in die kerk? Of staan jy soos ‘n toeskouer rond en luister terwyl die musikante, die aanbiddingspan, of die koor sing?
Ons word almal geroep om lofprysing ‘binne te gaan.’ Aanbidding is nie iets wat jy bloot met jou ore hoor nie; jy druk dit met jou lippe – en jou hart – uit. Wanneer jy versuim om dit te doen, is daar ‘n verbintenis met God wat nie gemaak word nie. Jy, persoonlik, moet God aanbid! Niemand anders kan dit vir jou doen nie, ongeag hoe begaafd en talentvol hulle ook al mag wees.
Jy sê: ‘Maar soms is ek nie lus om God te prys nie.’ Die Bybel sê: ‘Kom ons bring dan, met Jesus Christus se hulp, ‘n voortdurende lofoffer aan God – ‘n offer wat opklink van die lippe van hulle wat Hom bely’ (Hebreërs 13:15 NLV). God wil opofferende lofprysing hê. Wat is dit? Lofprysing wanneer jy nie lus is daarvoor nie. Lofprysing wanneer jy deur moeilike seisoene gaan. Lofprysing wanneer jy, menslik gesproke, nie aan ‘n enkele ding kan dink om God oor te loof nie. Die lofprysing wat jou iets kos, is die lofprysing wat by God tel. ‘Ek sal te alle tye die Here loof. Sy lof sal altyd op my lippe wees’ (Psalm 34:2 NLV).
Sielskos: Jes 38-41; Joh 7:45-53; Ps 9; Spr 28:13-16
2024-11-03
Psalm 22:4 NLV
Die Nuwe Lewende Vertaling sê: ‘Tog is U die heilige wat woon waar Israel U prys.’ Die 2020 vertaling sê: ‘U is tog die Heilige, U heers waar die lofliedere van Israel opklink.’ Jy vra: ‘Watter vertaling is die regte een? Beide is reg. Die woord ‘woon’ beeld ‘n inwoner wat tuis voel uit. Die woord ‘heers’ beeld iemand in ‘n posisie van mag en gesag uit, iemand wat bevele kan gee en dinge kan laat gebeur. God is dus tuis in ons lofprysing; sy mag word deur ons lofprysing vrygestel.
Toe God die aarde geskep het, het Hy dit met woorde – klank – gedoen. Dus kan God se krag deur klank beweeg. Sekere klanke roer sy hart. Sekere klanke roep sy teenwoordigheid aan. Sekere klanke beweeg Hom tot aksie. Die sleutel tot verlossing word in ‘n ontmoeting met God gevind. Liedere van redding kan so ‘n ontmoeting met God moontlik maak.
Lees hierdie drie Skrifgedeeltes aandagtig deur: ‘…Oordink dit in die nag op jou bed en wees rustig’ (Psalm 4:5 NLV). ‘Wees stil in die Here, en wag geduldig op Hom…’ (Psalm 37:7 NLV). ‘Hy wat woon in die skuilplek van die Allerhoogste, sal rus in die skadu van die Almagtige’ (Psalm 91:1 NLV). Let die woorde ‘oordink,’ ‘wees rustig,’ ‘wees stil,’ ‘wag geduldig’ en ‘hy wat woon in die skuilplek,’ op. Stel jouself nou voor waar jy die teenwoordigheid van God in jou laat insypel. Jou emosies is stil, jou gees is ingestel op God se teenwoordigheid, jy kan hoor wat Hy te sê het en van Hom ontvang wat jy nodig het. Dit is wat gebeur wanneer jy jouself met ‘liedere van redding,’ omring.
Sielskos: Hand 9:1-19; 2 Kor 11:21-33; 2 Kor 12:7-10; Hand 16:16-40
2024-11-02
Handelinge 16:25 NLV
Selfs die wetenskap stem saam dat musiek genesende krag het. Ons het deesdae musiekterapeute wat mense in hospitale, skole vir kinders met spesiale behoeftes, ouetehuise en ander omgewings bystaan. Navorsers aan die Harvard-universiteit het, onder andere, berig dat musiek ‘n genesende balsem vir beroerte, Alzheimer se siekte en die fisiese stres van voortydige geboorte, is. Hulle het ook gevind dat musiek chirurgiese uitkomste kan verbeter, help om verlore spraak te herstel, newe-effekte van kankerterapie kan verminder, pyn kan verlig en depressie kan beveg.
Dr Gottfried Schlaug, ‘n neuroloog verbonde aan Harvard Universiteit, het vir die Los Angeles Times gesê: ‘Musiek kan ‘n alternatiewe toegangspunt tot die brein bied, omdat dit soveel verskillende deure in ‘n beseerde of siek brein kan ontsluit.’ Sy navorsing wys dat toonhoogte, harmonie, melodie, ritme en emosie, wat almal komponente van musiek is, verskillende dele van die brein betrek – dele van die brein wat ook belangrik vir spraak, beweging en sosiale interaksie is. ‘Met ‘n woord het Hy hulle genees, en hulle van die dood weggeruk’ (Psalm 107:20 NLV).
Dus, wanneer musiek die medium is wat gebruik word om God te prys en sy kreatiewe en lewensveranderende Woord uit te druk, begin jy die potensiaal van musiek om redding mee te bring, insien. Dit was vir seker die geval vir Paulus en Silas: ‘Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister. Skielik kom daar ‘n groot aardbewing sodat die fondamente van die tronk geskud het. Al die tronkdeure het oopgevlieg en al die gevangenes se kettings het losgekom!’ (Handelinge 16:25-26 NLV). Verander jou houding. Verander jou omgewing. Verander jou lewensuitkyk. Begin om jouself met liedere van redding te omring!
Sielskos: Jes 34-37; Joh 7:25-44; Ps 104:24-35; Spr 28:9-12