2024-11-13
Spreuke 27:1 NLV
Onverwagte gebeurtenisse kan ons van ons voete af slaan. Terwyl sommige van ons platgeslaan bly, staan ander weer op en gaan aan. Hulle weier om die nederlaag as permanent te aanvaar. Hulle is soos die man wat gesê het: ‘Ek is nooit af nie; ek is óf op, óf ek is besig om op te staan.’ Alles wat in die lewe gebeur, sien hulle as ‘n leerervaring. Om ‘n geliefde te verloor is hartverskeurend, maar dit kan ook ‘n wekroep wees om elke dag ten volle te leef. Deur te sukkel om ‘n slegte gewoonte te oorkom, kan daartoe lei dat jy jou lewe herprioritiseer en gesonde gewoontes instel.
Jy kan vir die ergste voorberei deur geld vir noodgevalle te spaar, klasse oor nuwe produkte en tegnologie by te woon, jou verhoudings en kontakte op datum te hou sodat wanneer jy iemand vir hulp skakel, daar iemand aan die ander kant is wat gewillig is om die foon op te tel. Om dit te doen is soos om ‘n spaarwiel en gereedskap in jou kattebak te hê om ‘n pap wiel mee om te ruil. Jy hoop dat dit nooit nodig sal wees om dit te gebruik nie, maar jy hou dit gereed vir ingeval jy ‘n slaggat tref.
Bo dit alles moet jy sorg dat jy jou verhouding met God in ‘n goeie toestand hou! ‘Die Here bepaal die rigting van ‘n mens, en met sý lewe is Hy tevrede. Al sou so een struikel, hy sal nie val nie, want die Here hou sy hand vas’ (Psalm 37:23-24 NLV).
Sielskos: Rom 3:21-6:23; Joh 10:1-10; Ps 133; Spr 29:15-18
2024-11-12
Romeine 12:11 NLV
Net soos ‘n EKG die gesondheid van ons fisiese hart en blokkasies wat dit kan bedreig, meet, is dit nuttig om ‘n instrument te hê wat ons ywer, toewyding en heelhartigheid wanneer dit kom by die dien van die Here, te kan meet. Die volgende ses vrae sal presies dit doen:
1) Praat ek openlik en gereeld oor my toewyding aan Christus om ‘n soort openbare aanspreeklikheid vir my dade te skep?
2) Aanvaar ek die verantwoordelikheid om te groei? Lees ek boeke, oefen vaardighede en ontmoet mense wat my kan help verbeter?
3) Kla ek oor probleme op ‘n manier wat halfhartige betrokkenheid weerspieël?
4) Hanteer ek teleurstellings deur met God te praat en vir Hom die krag om te volhard te vra?
5) Erken en vier ek selfs my klein treë in die regte rigting?
6) Die apostel Paulus skryf: ‘Moenie sleepvoet wees in julle toewyding nie; wees entoesiasties; wees werklik diensbaar vir die Here.’ Toewyding beskryf passie, volharding en krag. Dit is dinge wat ek kan dophou en oppas. Is ek tans eerlik oor my vlak van toewyding? Wanneer my toewyding afneem, neem ek stappe om dit te vernuwe?
Dink versigtig en met gebed oor elkeen van hierdie vrae. Wees eerlik met God en met jouself. As jy nie van die antwoorde hou nie, besluit vandag om tot aksie oor te gaan. Bestee meer tyd alleen met God in gebed en deur sy Woord te lees. Om ‘n brandende ywer vir God te hê, is soos om ‘n vuur op te pas; dit vereis konstante brandstof en onderhoud. Niemand anders kan dit namens jou doen nie.
Sielskos: Rom 1:1-3:20; Joh 9:24-41; Ps 99; Spr 29:11-14
2024-11-11
2 Kronieke 25:2 NLV
Die Bybel sê: ‘Amasia het gedoen wat reg was vir die Here, maar nie met sy hele hart nie’ (vers 2 NLV). Vergelyk dit met wat God oor Dawid gesê het: ‘…Ek het Dawid… gekry; hy is ‘n man na my hart. Hy sal alles doen wat Ek wil hê’ (Handelinge 13:22 NLV). Dit kan bietjie verwarrend wees, want wanneer jy oor Dawid se lewe lees, kry jy hoofstukke van owerspel, moord en toesmeerdery. Hy is ‘n ramp as man en ‘n onwaardige pa. Sy hart is egter aan God toegewy.
Hoe weet ons dit? Want wanneer hy foute gemaak het en gesondig het, het hy berou en die begeerte om dinge reg te maak by God, gehad. Toe Dawid die verbondsark na Israel toe teruggelei het, het hy ‘…met volle oorgawe voor die Here gedans…’ (2 Samuel 6:14 NLV). Hy het homself heeltemal daarin gewerp. Die Skrif sê dat Dawid voor die Here gespring en gedans het (sien 2 Samuel 6:16).
In die vroeë geskiedenis is die hart as die kern van die mens gesien. Dit het nie net gevoelens gehuisves nie, maar is as die middelpunt van ‘n persoon se wese, veral sy of haar wil, gesien. Heelhartige toewyding aan God wys dus wat jy kies om met al jou energie aan te gryp. Amasia het nege-en-twintig jare van sy lewe bestee om sy toewyding aan God te verfyn. Hy het gedoen wat reg is, maar sy hart was nie daarin nie. Dawid het, ten spyte van sy foute, God met sy hele hart nagestreef. Die woord vir jou vandag is dus – streef na heelhartige toewyding aan God.
Sielskos: Jes 63-66; Joh 9:13-23; Ps 115; Spr 29:7-10
2024-11-10
Psalm 37:8 NLV
Klein oortredings kan maklik vergewe word. Wanneer iemand ons egter baie seermaak en lyk of hulle daarmee wegkom, kan vergifnis ‘n groot uitdaging wees. Totdat jy die oortreding vergewe en dit laat gaan het, sal jy voortdurend voel hoe die gewig daarvan jou afdruk. Een van die grootste foute wat jy kan maak as dit by vergifnis kom, is om te dink dat wanneer jou gevoelens teenoor iemand nie dadelik verander nie, jy hulle nog nie regtig vergewe het nie. Nee, vergifnis is ‘n besluit. Dis ‘n daad van jou wil. Jy mag dalk steeds met gevoelens van seer en gegriefdheid sukkel. Dit maak nie jou besluit om te vergewe ongeldig nie; dit beteken slegs dat genesing tyd neem. Jou genesing begin die oomblik wat jy besluit om te vergewe.
Die Bybel sê: ‘Raak saam met alle ander slegte dinge ontslae van alle bitterheid… Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het’ (Efesiërs 4:31-32 NLV). Wanneer jy jou deel, om te vergewe, gedoen het moet jy God vertrou om sy deel, om jou emosies te genees en jou vrede en vreugde te herstel, te doen. Jy het die mag om die besluit om te vergewe te maak, maar net God het die mag om jou gevoelens teenoor die persoon wat jou seergemaak het, te verander. Vertrou dus op God om jou hart te verander. Jou gevoelens sal uiteindelik volg en in lyn met jou besluit kom.
Intussen: ‘Wees stil in die Here, en wag geduldig op Hom. Moenie die mens beny wat op sý manier floreer, of jou verknies oor sy bose planne nie. Moenie kwaad word nie; laat staan eerder jou woede. Moenie ander beny nie; dit lei net tot jou nadeel’ (Psalm 37:7-8 NLV).
Sielskos: Job 1; Job 2:7-10; Job 40:1-5; Job 42:7-17
2024-11-09
Matteus 13:26 NLV
Jesus het gesê: ‘…God se koningsheerskappy kan vergelyk word met ‘n man wat goeie saad op sy land saai. Maar een nag, terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, verskyn terselfdertyd ook die onkruid. Die slawe van die boer kom toe en sê vir hom: ‘Meneer, u het tog goeie saad op u land gesaai. Waar kom die onkruid dan vandaan?’ ‘Dis ‘n vyand se werk!’ het hy uitgeroep. ‘Moet ons die onkruid gaan uittrek?’ vra sy slawe hom. Maar hy antwoord: ‘Nee, dalk trek julle die koring saam uit wanneer julle die onkruid in bondels uittrek. Laat albei saam groei tot oestyd. Dan sal ek vir die mense wat oes, sê: ‘Maak eers die onkruid bymekaar. Bind dit dan in bondels vas om verbrand te word. Maar bring die koring bymekaar in my skuur’ (verse 24-30 NLV).
Om die onkruid (ongoddelike) van die koring (goddelike) te skei is nie ons werk nie. Ons moet op die verbouing van die koring konsentreer en God die skeiding laat doen. Hoekom? Omdat die wortels van beide plante (lewens) so nou verstrengel raak dat jy die koring saam met die onkruid kan uitruk. Jy sal ook die koring wat geplant is en later volwasse word, ontwortel. Boonop sal jy van die koring wat nog nie graankoppe gevorm het nie, met onkruid verwar. Jou werk is om goeie vrugte te dra en God se werk is om die koring van die onkruid te skei. Die woord vir jou vandag is dus – laat die oordeel aan God oor.
Sielskos: Jes 58-62; Joh 9:1-12; Ps 15; Spr 29:4-6
2024-11-08
Hebreërs 7:25 NLV
‘n Christelike leier skryf: ‘Die Italiaanse vioolmaker Antonio Stradivari was ‘n arm man. Tog is sy viole die kosbaarste viole wat nog ooit gemaak is, vanweë die ryk en resonante klank wat hulle voortbring. Die unieke klank van ‘n Stradivarius kan nie gedupliseer word nie. Wat jou dalk mag verras, is dat hierdie kosbare instrumente nie uit duur stukke hout gemaak is nie, maar uit weggooihout. Omdat Stradivari nie duur materiaal kon bekostig nie, het hy die meeste van sy hout uit die vuil hawens waar hy gewoon het gekry. Hy het dan daardie deurweekte stukke hout na sy winkel geneem, dit skoongemaak en uitgedroog. Dan, uit daardie vermorste stukke hout, sou hy instrumente van seldsame skoonheid skep.
Daar is sedertdien ontdek dat terwyl die hout in daardie vuil hawens gedryf het, mikrobes die hout binnegedring het en die middelpunte van die hout se selle gevreet het. Dit het ‘n veselagtige infrastruktuur in die hout agtergelaat wat resonerende kamers vir die musiek geskep het. Uit hout wat niemand wou gehad het nie, het Stradivari viole gemaak wat almal nou wil hê.’
Jy vra: ‘Hoe het dit betrekking op my?’ Net soos die vioolmaker gemors in iets kosbaars omskep het, kan God jou transformeer in dit wat jy eintlik bedoel is om te wees. Jy sê: ‘Jy weet nie hoe laag ek gedaal het of van die dinge wat ek gedoen het nie. Ek twyfel dat Jesus iemand soos ek kan red en transformeer!’ Stel Hom op die proef. Toets Hom. Jy sal nie teleurgestel word nie. Die Bybel sê: ‘Gevolglik kan Hy hulle wat deur Hom na God toe gaan, eens en vir altyd verlos…’
Sielskos: Jes 53-57; Joh 8:42-59; Ps 123; Spr 29:1-3