2024-11-19
2 Timoteus 4:3 NLV
Mense wat hulle graag met diamante wil optooi, gebruik gereeld die tydlose namaaksels van kubieke sirkonia. Deesdae kan wetenskaplikes egter regte diamante in ‘n laboratorium skep. Hierdie diamante is so goed dat edelsteenkundiges sukkel om tussen diamante wat in ‘n laboratorium geskep is en diamante wat gemyn is, te onderskei. Om hulle van mekaar te onderskei, word ‘n kontrolelys gebruik: gewig, kleur, helderheid en briljantheid word ondersoek. Daarsonder kan ‘n bedrieër voorgee dat ‘n diamant wat net twee dae oud is, een is wat duisende jare geneem het om te ontwikkel.
Dieselfde is waar van geestelike waarheid. As Christene nie hulle Bybel ken nie, kan geestelike bedrieërs allerhande leuens as die waarheid voorhou. Dis nie genoeg vir iemand om wonderwerke in Jesus se Naam te doen nie. ‘Baie sal vir My op die oordeelsdag sê: ‘Here, Here, ons het dan in u Naam… baie wonders verrig!’ Dan sal Ek hulle antwoord: ‘Julle was nog nooit werklik mý mense nie. Gaan weg van My af!..’ (Matteus 7:22-23 NLV).
Die Bybel sê dat selfs Satan hom as ‘n engel van die lig kan vermom. Paulus waarsku ons: ‘Want daar kom ‘n tyd wanneer mense nie meer na die regte onderrig sal luister nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en leermeesters soek wat net verkondig wat hulle wil hoor. Hulle sal die waarheid verwerp en vreemde mites navolg’ (2 Timoteus 4:3-4 NLV).
Die Bybel gebruik die woord ‘leerstelling’ ongeveer vyf-en-vyftig keer. Dis hoe belangrik dit is. Ons moet die begeerte van ‘n diamantkenner hê – ‘n begeerte om nie mislei te word nie. As noukeurige ondersoek, studie en sorg geneem word om die kwaliteit van ‘n edelsteen te bepaal, hoeveel te meer moet dieselfde inspanning nie tot die kosbare Woord van God aangewend word nie?
Sielskos: Pred 1-4; Joh 11:28-37; Ps 50; Spr 30:7-10
2024-11-18
Johannes 12:46 NLV
John Ortberg skryf: ‘In 1780 was daar ‘n Jesus-volgeling in Groot Brittanje, genaamd Robert Raikes, wat nie kon verdra dat die siklus van armoede en onkunde ‘n hele generasie van kinders vernietig het nie. Hy het gesê: ‘Die wêreld marsjeer vorentoe op die voete van kinders.’ Dus het hy kinders wat ses dae ‘n week in armoede moes werk, begin leer. Sondae was hul vrye dag. Hy het gesê: ‘Ek gaan ‘n skool wat hulle gratis leer lees, skryf en oor God leer, begin.’ Hy het dit gedoen en dit Sondagskool genoem. Binne vyftig jaar was daar 1,5 miljoen kinders wat deur 160,000 vrywillige onderwysers, wat ‘n visie vir die opvoeding van ‘n generasie gehad het, onderrig is. Sondagskool was nie ‘n geprivatiseerde, opsionele program vir kerkkinders nie. Dit was een van die groot opvoedkundige oorwinnings in die wêreld.
Die alfabet van die Slawiese mense word Cirillies genoem. Dit is genoem na Sint Cyril, ‘n sendeling wat ontdek het dat die Slawiese mense geen geskrewe alfabet het nie. Dus het hy een vir hulle geskep sodat hulle oor Jesus in hul eie taal kon lees.
‘n Metodistiese sendeling, Frank Laubach, het sowat ‘n eeu gelede ‘n buitengewone ontmoeting met God gehad, wat hom op ‘n missie gestuur het om die wêreld uit onkunde op te hef. Hy het ‘n wêreldwye geletterdheidsbeweging begin. Die leuse: ‘Each one teach one,’ het uit die buitengewone lewe van hierdie man gevloei. Hy het na meer as honderd lande gereis, wat die ontwikkeling van leesboeke in 313 tale tot gevolg gehad het. Hy het as ‘die apostel van die ongeletterdes,’ bekend geword.’
Sielskos: Rom 15-16; Joh 11:17-27; Ps 8; Spr 30:5-6
2024-11-17
Matteus 4:16 NLV
Eerstens en die belangrikste, het Jesus die lig van verlossing vir die hele mensdom gebring. Een van die blywende voordele van sy koninkryk is egter sy impak op leer en opvoeding. Die woord universiteit het begin by diegene wat geglo het dat God die heelal geskep het; daarom moet sy weë bestudeer en geken word. Martin Luther het uit die Nuwe Testament die priesterskap van alle gelowiges uitgelig. In die proses het hy onderwys verander omdat hy gesê het dat elke persoon in staat moet wees om te lees en te skryf sodat hulle die Skrif self kan bestudeer. Dit het ‘n doelwit van wêreldwye geletterdheid vir almal in ‘n samelewing ingelui.
In Amerika is die eerste wet wat vir universele onderwys gevra het, in 1647 in Massachusetts aangekondig. Dit is genoem, glo dit of nie, ‘The Old Deluder Satan Act.’ Die bewoording daarvan lui: ‘It being one chief product of that Old Deluder Satan, to keep men from the knowledge of the Scriptures… and to the end that learning may not be buried in the graves of our forefathers.’ Dis ‘n lieflike idee wat deur almal nagestreef moet word: dat onkunde die duiwel se gereedskap is en dat God die God van waarheid is.
In nasie na nasie het Christensendelinge tale ontdek wat nie neergeskryf is nie. In dade van buitengewone opoffering het hulle hul lewens aan die taak gewy om hierdie tale neer te skryf. Hulle het die eerste woordeboeke saamgestel. Hulle het die eerste sinskonstruksie neergepen. Hulle het die eerste alfabette gevorm. Die eerste betekenisvolle eienaam wat in talle tale geskryf is, was die naam Jesus.
Sielskos: Dan 1:3-21; Dan 5:11-12; Dan 6:10-28; Dan 9:1-19
2024-11-16
Matteus 10:32 NLV
Om jou geloof op ‘n effektiewe wyse met ander mense te deel, moet jy die volgende drie struikelblokke oorkom:
1) Jy moet seker van jou eie verlossing wees. Johannes skryf: ‘Almal wat glo in die Seun van God, dra dié getuienis in hulle eie hart… En dit is die inhoud van sy getuienis: God het aan ons die ewige lewe gegee, en dié lewe bestaan in ‘n hegte verhouding met sy Seun… Ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle met die wete kan leef dat julle nou reeds deel het aan die ewige lewe, julle wat aanhou glo in die persoon van die Seun van God’ (1 Johannes 5:10-11, 13 NLV).
2) Jy moet oor jou vrees vir verwerping kom. Dit beteken dat jy by die wortel van jou vrees, jou ego, moet uitkom. Eers wanneer jou selfbehoud en eiebelang gekruisig is, kan jy Christus sonder vrees bekend maak. Jesus het gesê: ‘Ek verseker julle, wie iemand ontvang wie Ek stuur, ontvang My…’ (Johannes 13:20 NLV). As iemand jou verwerp, mag jy dalk aansien verloor. As hulle egter vir Jesus verwerp, sal hulle hul siel verloor.
3) Jy moet wysheid gebruik om die evangelie te deel. ‘Die vrug van die regverdige is ‘n boom van die lewe, en hy wat siele win, is wys’ (Spreuke 11:30 AFR53). God kan die hart van jou luisteraar voorberei sodat hulle oop is vir dit wat jy te sê het en Hy kan vir jou die regte woorde en die regte benadering gee om met hulle te praat. Jesus het gesê: ‘en wanneer die Raadgewer, die Heilige Gees, kom wat die Vader in my Naam sal stuur, sal Hy julle in alle opsigte onderrig en julle ook herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het’ (Johannes 14:26 NLV).
Sielskos: Rom 12-14; Joh 11:1-16; Ps 105:1-15; Spr 30:1-4
2024-11-15
Matteus 4:19 NLV
Jesus het vir professionele vissermanne gesê: ‘Kom! Word my dissipels, en Ek sal julle vissers van mense maak.’ Hierdie mans het drie dinge van visvang geweet:
1) Jy moet gaan waar die vis is. Jy sê: Ek dog ons is veronderstel om onsself apart van die wêreld te hou.’ Jesus het nie die kultuur vermy nie; Hy het daarby betrokke geraak om dit sodoende te verander. Jy moet dieselfde doen. Jesus het gebid: ‘Ek vra nie dat U hulle uit die wêreld verwyder nie, maar dat U hulle van die kwaad moet bewaar. Hulle behoort nie aan die wêreld nie, net soos Ek ook nie aan die wêreld behoort nie. Laat hulle vir U geheilig wees deur ‘n hegte verbintenis aan die waarheid. Net soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur’ (Johannes 17:15-18 NLV).
2) Jy moet gereed wees wanneer die vis begin byt. ‘Inteendeel, eerbiedig net Christus as die heer van julle lewe. As julle dit doen, en iemand vra julle uit oor die hoop wat in julle leef, wees altyd reg om te reageer’ (1 Petrus 3:15 NLV).
3) Jy moet die regte aas gebruik om die vis te vang. Paulus het gesê: ‘Vir hierdie Goeie Nuus is ek allesbehalwe skaam. Dit is immers God se krag wat hier aan die werk is. Dit bring redding vir elkeen wat glo…’ (Romeine 1:16 NLV). Die woord ‘evangelie’ beteken goeie nuus. Eerlike sondaars voel reeds sleg oor hulle sondes en stryd; wat hulle nodig het is die krag om te verander.
Hou hierdie drie beginsels voorop in jou gedagtes en gaan vang vandag siele van mense.
Sielskos: Rom 9:17-11:36; Joh 10:22-42; Ps 83:9-18; Spr 29:23-27
2024-11-14
Hebreërs 11:34 NLV
Volharding en die weiering om jou visie te laat vaar, het jou laat aanhou probeer totdat jy uiteindelik sukses behaal het. Probeer om jouself in te dink hoe die lewe sonder die gloeilamp of die polio-inenting sou gewees het. Tog het Thomas Edison en Jonas Salk eindelose hoofstukke van beproewing en mislukking beleef voordat hulle uiteindelik sukses behaal het. Suksesvolle mense neem kennis van hul mislukkings en leer daaruit. Hulle ondersoek dit versigtig, werk uit waar dinge verkeerd begin gaan het en gebruik dit dan om foute op die pad vorentoe reg te stel.
Te dikwels begin ons nuwe projekte met opgewondenheid en entoesiasme. Die nuutheid van wat ons doen dryf ons vorentoe. Dan gaan iets verkeerd en ons hou op. Die projek het makliker gelyk as wat dit in werklikheid is en ons is nie bereid om daarby te bly en daaraan te werk nie, dus gooi ons tou op. Tou-opgooiers wen egter nie en wenners gooi nie tou op nie.
As verloste kind van God, het jy ‘n verdere voordeel: ‘…my hulp kom van die Here…’ (Psalm 121:2 NLV). Dink daaroor. Met die Here wat jou in elke situasie en omstandigheid help, sal jy uiteindelik oorwin. Jy het ‘n bron van onfeilbare krag en leiding om hulp by te kry. Moses het deur kritiek, verraad en aanhoudende klaery geleef, maar tog het hy die grootste migrasie van mense in die geskiedenis van die mensdom gelei. Hoe het hy dit gedoen?
Die Bybel gee ons die antwoord in twee frases: ‘…hy [het] na die beloning uitgesien… Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien’ (Hebreërs 11:26-27 AFR83). Hou dus jou oë op die Here, hou aan vorentoe kyk na jou beloofde beloning, en jy sal oorwin.
Sielskos: Rom 7:1-9:16; Joh 10:11-21; Ps 83:1-8; Spr 29:19-22