2024-11-25
Johannes 10:11 NLV
Jesus het die gelykenis van ‘n skaapwagter wat ‘n honderd skape besit het, vertel. Toe een van hulle wegraak, het hy die ander nege-en-negentig skape in die kraal gelos en gesoek totdat hy die een verlore skaap gekry het. Toe het hy die skaap op sy skouers getel en was bly toe hy hom huis toe bring. Goeie skaapwagters gee nie net vir sommige of die meeste van die kudde om nie, maar vir die hele kudde. Dit word duidelik wanneer een skaap wegraak.
Daar is ‘n verhaal van ‘n klein dogtertjie wat in die woud afgedwaal en weggeraak het. Toe dit donker word, het vrees haar hart vasgeklem. Sy het geskree en gehuil totdat sy, uitgeput, gaan lê en aan die slaap geraak het. Haar pa, sy stem hees soos hy aanhoudend haar naam geroep het, het al vir ure na haar gesoek voor hy haar gevind het. Hy het uitgeroep en hom na haar toe gehaas. Die dogtertjie het wakker geword, in sy arms gespring, hom omhels en gesê: ‘Pappa, ek is so bly ek het jou gevind!’ Dis ons verhaal.
Ons vind egter nie vir Jesus nie, Hy vind ons. Hy vind ons, omdat Hy konstant op die uitkyk vir ons is. Jesus het sy gelykenis met die volgende woorde afgesluit: ‘Net so sal die hemel blyer wees oor een sondaar wat tot inkeer kom as oor 99 ander wat regverdig is en nie afgedwaal het nie!’ (Lukas 15:7 NLV). Elke keer wat ‘n verlore mens gevind word, juig die hemel. ‘Bedoel jy dat ek so baie vir die Here beteken?’ Ja. Net soos die skaapwagter nege-en-negentig skape agtergelaat het om die een te gaan soek wat weg was, is Jesus vir jou lief en het Hy gesterf om jou te red. Kom dus vandag na Hom toe.
Sielskos: Gen 7-9; Joh 12:37-50; Ps 102:18-28; Spr 30:24-28
2024-11-24
Lukas 10:36 NLV
Jesus vertel die verhaal van die Joodse reisiger wat op die pad na Jerigo deur rowers oorval, aangerand en vir dood agtergelaat is. Twee Jode, beide in die bediening, het verby hom geloop sonder om hom te help. Toe het ‘n Samaritaan hom gered. Die Jode het geen groep mense meer as die Samaritane gehaat nie. Hulle is openlik in die sinagoge vervloek en is van tempelaanbidding verbied.
Wat hierdie Samaritaan dus gedoen het was niks minder as wonderbaarlik nie. Hy het al sy persoonlike hulpbronne gebruik – sy persoonlike klere, olie, wyn, sy tyd, pakdier, geld en energie – om hierdie Joodse man na die beste van sy vermoë by te staan. Toe het hy sy lewe gewaag om die gewonde man na ‘n herberg in ‘n Joodse area te neem. Bo dit alles het hy die herbergier vir die man se kos en kamer vir verskeie dae betaal en beloof om terug te keer en vir enigiets meer wat die man skuld, te betaal. Dit was van kardinale belang omdat enigiemand wat nie hul rekening kon betaal nie, deur die herbergiers as ‘n slaaf verkoop kon word sodat hulle volle betaling vir die skuld kon ontvang.
Jesus sluit die verhaal met hierdie woorde af: ‘Nou, watter van hierdie drie sou jy sê, was ‘n naaste vir die man wat deur rowers aangeval is?..’ Geen wet sal jou ooit ‘n goeie buurman laat wees nie, maar die liefde van Christus sal. “A neighbour is not identified by color or creed; a neighbour is identified by the nearest need.” Hier is dus ‘n gebed vir jou om te bid: ‘Here, gee my die moed om ‘n naaste in nood te herken en te help.’ Dis ‘n gebed wat Hy sal beantwoord!
Sielskos: Luk 1:26-56; Luk 2:1-52; Luk 8:19-21
2024-11-23
Jesaja 55:9 NLV
Jou interne beeld van God bepaal hoe jy alles anders sien. Die meerderheid van ons probleme is nie ‘n produk van omstandighede nie, maar as gevolg van ons uitkyk. Ons kan ons grootste probleme na ‘n onvoldoende begrip van wie God is, terugspoor. God sê: ‘Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is wat Ek doen, hoër as wat julle doen, en my gedagtes is hoër as julle gedagtes.’
‘n Bekende skrywer lig ons in: ‘Sterrekundiges het sterrestelsels 12,3 biljoen ligjare van die aarde af bespied. Om daardie afstand in perspektief te plaas, oorweeg die feit dat lig wat teen 186 000 myl per sekonde beweeg, slegs agt minute neem om die 93 miljoen myl tussen die son en planeet aarde af te lê. Sonlig is net agt minute oud. Lig van die verste sterrestelsel neem egter 12,3 biljoen ligjare om hier te kom. Daardie afstand is feitlik onverstaanbaar. God sê dit is minder as die afstand tussen sy gedagtes en ons gedagtes. Jou beste gedagte oor God op jou beste dag skiet 12,3 biljoen ligjare tekort van hoe groot en hoe goed God werklik is. Miskien is dit tyd om op te hou om vierdimensionele perke op God te plaas. Miskien is dit tyd om op te hou om God in ‘n boks so groot soos jou serebrale korteks te plaas.’
Hoe meer ons groei, hoe groter moet God word. Hoe groter God word, hoe kleiner sal ons probleme word. Die gesangskrywer Oscar C. Eliason het geskryf: ‘Got any rivers you think are uncrossable? Got any mountains you can’t tunnel through? God specializes in things thought impossible. He can do just what none other can do.’
Sielskos: Gen 4-6; Joh 12:20-36; Ps 102:12-17; Spr 30:21-23
2024-11-22
Psalm 139:16 NLV
Lank voor God die aarde se fondasies gelê het, het Hy jou in gedagte gehad. Hy het aan alles wat jy moontlik kon nodig hê, gedink. Verstommend, is dit nie? ‘n Gerespekteerde skrywer merk op: ‘God het vir elke gebeurlikheid wat jy ooit mag teëkom, voor die begin van tyd reeds beplan. Dit is onmoontlik vir ons verstand om die soewereiniteit van God te begryp, maar laat ek dit in skaakterme verduidelik.
In 1997 het ‘n span IBM-ingenieurs Deep Blue, die rekenaar wat die skaakgrootmeester Garry Kasparov uitoorlê het, ontwerp en ontwikkel. Deep Blue was toegerus met twee-en-dertig verwerkingsenjins wat 200 miljoen skaakskuiwe per sekonde kon bereken. Ek sukkel met die vyftig-vyftig goed. Waar of vals. Links of reg. Sjokolade of vanielje. Ek kan my nie eers indink om 200 miljoen gebeurlikhede in ‘n sekonde te bereken nie.
Dis lagwekkend in vergelyking met die Alwetende Een wat elke gebeurlikheid in ag geneem het voordat selfs ‘n nanosekonde van die horlosie van tyd afgetik het. Dink aan jou lewe as ‘n skaakspel. Jy is die pion en God is die Groot Meester. Jy het geen idee wat jou volgende skuif moet wees nie, maar God het reeds die volgende 200 miljoen skuiwe beplan.’
God sê: ‘Ek maak die einde bekend vanaf die begin…’ (Jesaja 46:10 NLV). Sukkel jy om God se wil vir jou lewe te ontdek? Hier is die eenvoudige waarheid: God wil hê jy moet aankom waar Hy wil hê jy moet gaan, meer as wat jy wil aankom waar God wil hê jy moet gaan. As jy in pas met die Gees bly, sal God seker maak jy kom waar Hy wil hê jy moet gaan.
Sielskos: Gen 1-3; Joh 12:12-19; Ps 102:1-11; Spr 30:18-20
2024-11-21
Spreuke 4:18 NLV
Wanneer dit by groei kom, kom jy nooit by jou ‘bestemming’ uit nie. Dis nie ‘n plek wat jy bereik nie; dis ‘n pad wat jy stap. ‘Die pad van die regverdiges is soos die lig met dagbreek. Dit word al helderder tot die volle dag aanbreek.’
‘n Pastoor skryf: ‘Baie mense leer net deur probleme. Moeilike ervarings leer hulle lesse op die harde manier en hulle verander – soms tot voordeel, soms tot nadeel. Die lesse is willekeurig en moeilik. Dis baie beter om jou groei doelbewus te beplan. Jy besluit waar jy wil of wat jy nodig het om te groei, jy besluit wat jy wil leer en jy volhard met dissipline teen die pas wat jy gestel het. Dink wat dit is wat jy wil doen. Wie jy wil wees? Maak ‘n lys van dinge wat jou sal help om jou doelwit te bereik en daardie persoon te word. Is daar iets op daardie lys wat jy nou kan doen? Vandag? Doen dit dan. Of jy nou aangespoor voel of nie, dit is nou die tyd om te begin groei.
As jy nie reeds doelbewus groei nie, moet jy vandag begin. As jy dit nie doen nie, kan jy dalk sekere doelwitte bereik wat jy kan vier, maar jy sal uiteindelik ‘n plato bereik. Wanneer jy egter doelbewus begin groei, kan jy aanhou groei en aanhou vra: ‘Wat is volgende?’ Wanneer jy aktief na jou doelwit begin werk, sal jy vind dat die deur na persoonlike groei ‘n skrefie begin oopgaan. Deur daardie skrefie sal jy orals nog geleenthede vir groei begin sien. Jou wêreld sal vir jou begin oopgaan. Jy sal meer bereik. Jy sal meer leer. Ander geleenthede sal hulself begin voordoen.’
Sielskos: Pred 9-12; Joh 12:1-11; Ps 76; Spr 30:15-17
2024-11-20
1 Timoteus 1:12 NLV
Een van die grootste sendelinge in die geskiedenis van die kerk was Mary Slessor, alhoewel sy as ‘n onwaarskynlike kandidaat begin het. As gevolg van haar pa se alkoholisme, het die elfjarige Mary twaalf uur skofte by die meule gewerk om haar familie te help om hulle rekeninge te betaal. Sy het ontdek dat sy boeke op haar weefstoel kon stut terwyl sy gewerk het. Terwyl sy oor die land Calabar (moderne Nigerië) gelees het, het Mary oortuig geraak dat sy daarheen as ‘n sendeling moet gaan.
In 1876 het sy aanboord die S.S Ethiopia, wat ironies genoeg met vaatjies whisky gelaai was, na Wes-Afrika vertrek. Met die herinnering aan hoeveel skade alkohol aan haar familie aangerig het, het sy gesê: ‘Soveel vate whisky en net een sendeling.’ Maar wat ‘n sendeling! Mary was ‘n kombinasie van prediker, kinderoppasser, verpleegster, dorpsonderwyseres en onderhandelaar wat stokalleen drie heidense streke deur die evangelie te verkondig, getransformeer het. Sy het stamoorloë voorkom en vroue en kinders by die honderde gered. Vir veertig jaar het sy vir God geswoeg.
God hou daarvan om mense te gebruik wat die wêreld miskyk of weggooi. Mary Slessor was een van hulle. So ook Paulus. ‘…[Jesus] het my aangestel om Hom te dien, selfs al het ek voorheen met die Naam van Christus gespot. Ek het sy mense vervolg en hulle op enige moontlike manier benadeel. Maar God het sy onverdiende goedheid aan my bewys omdat ek dit uit onkunde en ongeloof gedoen het. O hoe barmhartig en genadig was die Here nie! Hy het my volledig vervul met geloof en die liefde van Christus Jesus’ (verse 12-14 NLV). Die God wat die apostel en Mary Slessor gebruik het kan jou ook gebruik – mits jy jou lewe aan Hom oorgee.
Sielskos: Pred 5-8; Joh 11:38-57; Ps 81; Spr 30:11-14