2021-06-05
Jesaja 55:12 NLV
God sal sy wil op verskeie maniere openbaar. Een daarvan is om vir ons ‘n sin van ‘vrede’ te gee, wanneer ons die regte ding doen. Paulus skryf: ‘Verder, laat die vrede wat Christus bewerk het, in julle lewe skeidsregter wees…’ (Kolossense 3:15 NLV). Weer skryf hy: ‘…Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:7 NLV).
Jy hoef nie al die antwoorde te hê om vrede daaroor te hê nie. Generaal Eisenhower het voor die verantwoordelikheid te staan gekom om een van die grootste besluite te maak; om die datum van V-dag op die laaste oomblik te verander. As hy die verkeerde besluit gemaak het, kon duisende geallieerde soldate sterf. Hy was egter die hoogste bevelvoerder en die enigste man wat die besluit kon maak.
Toe hy daarop terugkyk, het hy geskryf: ‘Ek het geweet dat ek nie die nodige wysheid gehad het nie en na God toe gedraai. Ek het Hom gevra om vir my wysheid te gee. Ek het myself aan Hom oorgegee en Hy het vir my duidelike leiding gegee. Hy het my die insig gegee om te weet wat reg is en vir my die moed gegee om my besluit te maak. Uiteindelik het Hy vir my die vrede gegee in die wete dat, omdat God my gelei het om die besluit te maak, ek die resultaat aan Hom kon oorlaat.’
Voel jy vandag angstig omdat daar van jou verwag word om ‘n besluit te maak; een wat nie net jou nie, maar ander mense ook sal affekteer? Die woord vir jou vandag is – bid, vertrou op God vir leiding, vra Hom vir vrede, maak die besluit en vertrou Hom vir die regte resultaat.
Sielskos: Op 19-22; Mark 14:27-42; Ps 129; Spr 12:27-28
2021-04-15
Matteus 3:8 NLV
Toe Israel se leiers na Jefta vir hulp gedraai het, was hulle in nood en wou hulle hom ‘gebruik.’. Dus het Jefta in wese gesê: ‘Kom ons verstaan mekaar mooi oor die tipe verhouding wat ons gaan hê.’ Op daardie punt het hy met hulle onderhandel en het in die hoogste leierskapsposisie geëindig.
Wanneer jou vertroue geskend word, moet jy vergewe. Deur dit te doen, maak jy jouself vry. Jy moet egter wysheid aan die dag lê om vorentoe te beweeg. God verwag nie van jou om jouself in ‘n posisie te sit waar jy weer seergemaak kan word nie.
Miskien het jy al die storie gehoor van die man wat met ‘n ernstige brandwond op sy regteroor dokter toe is. Hy het verduidelik: ‘Ek was besig om te stryk en televisie te kyk toe die foon lui en toe tel ek die strykyster in plaas van die foon op.’ Die dokter het verbaas gevra: ‘Maar hoe het jy die brandwond op jou linkeroor opgedoen?’ Die man het uitgeroep: ‘Want hy het weer gebel!’
Wanneer jy deur iemand seergemaak word, moet jy versigtig wees om jouself nie weer in ‘n situasie te plaas waar hulle jou oor en oor kan seermaak nie. Vergifnis moet onmiddellik wees, maar vertroue moet verdien word. Jou oortreder moet die vrugte van sy bekering wys – konsekwente gedrag wat bewys dat hy of sy verander het. Jesus het gesê: ‘Bewys eerder deur julle voorbeeldige lewe dat julle werklik tot inkeer gekom het.’
Jy benodig twee dinge: genade en wysheid. Genade beteken dat jy aan ander dieselfde vergifnis bewys wat God aan jou bewys het. Wysheid beteken dat jy weet watter tipe verhouding jy in die toekoms met daardie persoon kan hê.
Sielskos: Fil 1-4; Mark 2:1-12; Ps 43; Spr 10:10
2021-03-07
Eksodus 28:3 AFR53
God het vir Moses gesê: ‘En jy moet vir jou broer Aäron heilige klere maak, tot eer en tot sieraad. Jy moet ook spreek met almal wat kunsvaardig is, wat Ek met die gees van wysheid vervul het, dat hulle vir Aäron klere maak…’ (verse 2-3 AFR53). Let die woord ‘kunsvaardig’ op. God het vir ons kunssinnige vermoëns gegee en wanneer ons dit gebruik, verheerlik ons Hom. Klere ‘tot eer en tot sieraad’ verg kreatiwiteit.
Hou op om onderskeid tussen die geestelike en die sekulêre te tref! ‘Verder, doen alles – of dit nou met woorde of dade is – asof julle dit namens die Here Jesus doen…’ (Kolossense 3:17 NLV). Hoe word jy kreatief?
1) Deur te erken dat God jou gemaak het om kreatief te wees.
2) Deur Hom te vra om jou areas van talent en kreatiwiteit aan jou te openbaar.
3) Deur kreatiewe idees te waardeer. Maak nie saak wat jy tans doen, of hoe goed jy dit doen nie, ‘n kreatiewe idee sal jou in staat stel om dit beter te doen.
Kreatiwiteit is die vermoë om te sien wat almal anders gesien het, te dink wat niemand anders gedink het nie, om te kan doen wat niemand anders al gedoen het nie. Soms lê kreatiewe denke langs die lyne van uitvinding, waar jy nuwe grond breek. Ander kere beweeg dit langs die lyne van innovasie, wat jou help om ou dinge op ‘n nuwe manier te doen. In elke geval, is dit om die wêreld deur nuwe oë te sien sodat nuwe oplossings te voorskyn kom.
‘Op die sewende dag was God klaar met alles wat Hy gemaak het…’ (Genesis 2:2 NLV). Kreatiwiteit verg werk, daarom neig baie mense om dit te vermy. As jy egter gewillig is om aan jou kreatiwiteit te werk, sal God jou gebruik om groot dinge te doen.
Sielskos: Joel 2:23-32; Hand 2:1-21
2020-12-15
Psalm 119:104 NLV
Ware insig kom van God af – dis ‘n gawe wat slegs Hy kan gee. Dis hoekom Salomo vir God vir insig gevra het, eerder as om op sy eie staat te maak. God sal vir jou insig deur sy Woord gee. ‘Dit is tog die Here wat wysheid gee. Sy woorde gee kennis en insig’ (Spreuke 2:6 NLV). Dawid het gesê: ‘Deur u bevele kry ek insig…’ Die Bybel is geskryf sodat ons insig kan hê en die lewe kan interpreteer soos God dit doen.
Paulus, wat ‘n groot gedeelte van die Nuwe Testament geskryf het, het vir Timoteus gesê: ‘Dink na oor wat ek sê. Die Here sal jou help om al hierdie dinge beter te begryp’ (2 Timoteus 2:7 NLV). Soos jy jouself in die Skrif verdiep, praat God met jou. Hy sê in wese: ‘Dis hoe Ek dit sien, en dis hoe Ek wil hê jy dit moet sien.’ In die Bybel sal jy leer hoe om waarlik suksesvol te wees. Jy sal die antwoord op jou finansiële probleme kry, hoe om jouself van angs te genees en hoe om verhoudingsprobleme op te los. Dit sal jou gesinsverhoudings rig – die vloei van gesag in die huis, insluitend die posisie van die man, die vrou en die kinders. Dit bevat die kuur vir senuweeagtigheid en depressie. Dis selfs ‘n reinigingsmiddel om jou te help om sonde uit jou gedagtes en lewe te verwyder. ‘Hoe kan ‘n jongmens ‘n skoon lewe lei? Deur gehoorsaam te wees aan u woord’ (Psalm 119:9 NLV).
In kort, is die Bybel die beste handleiding vir sukses in die wêreld! Die psalmdigter het gesê: ‘Begrip van u woord bring lig; dit gee insig aan die eenvoudige’ (Psalm 119:130 NLV). As jy dus ware insig wil hê, mediteer vandag oor die Skrif.
Sielskos: Neh 5-7; Joh 19:31-42; Ps 105:23-36; Spr 30:15-19
2020-11-02
Spreuke 18:4 NLV
Wanneer Salomo van ‘diep waters’ praat, verwys hy na die water in die bodem van die put wat die skoonste en die koelste is. As jy wil weet watse tipe water ‘n put het, moet jy na die bodem toe gaan. As jy wil weet wat in ‘n persoon se hart is, moet jy na sy of haar woorde luister. ‘n Ou boer het dit so gestel: ‘Wat onder in die put is, kom altyd in die emmer uit!’
Een van die sekerste bewyse van wysheid en volwassenheid is die vermoë om die regte ding, op die regte manier, op die regte tyd, aan die regte persoon te sê – of om niks te sê nie. Soos jy wyser word, sal jy minder praat en meer sê.
Wanneer iemand in Amerika gearresteer word, word daar van die polisie vereis om hulle Miranda regte aan hulle voor te lees: ‘You have the right to remain silent. Anything you say can and will be used against you in a court of law.’ Tensy jou woorde dus bedoel is om iemand op te bou eerder as om hulle af te kraak, is stilte ‘n reg wat jy elke dag moet uitoefen. Soms is die wysste woorde dié wat nooit gespreek word nie.
Iemand het gesê: “‘n Wyse man is iemand wat twee keer dink voordat hy niks sê nie.” Salomo sê ook: ‘Iemand wat kennis het, praat nie baie nie. Iemand met insig bly kalm. Wanneer ‘n dwaas stilbly, kan dit lyk of hy wys is; en as hy sy mond toehou, lyk hy soos iemand met insig’ (Spreuke 17:27-28 NLV). Dis dus beter om jou mond toe te hou en mense te laat dink dat jy ‘n dwaas is, as om jou mond oop te maak en enige twyfel daaromtrent uit die weg te ruim.
Sielskos: Esra 6-8; Joh 7:45-53 Ps 9; Spr 24:30-34