Wanneer voorbereiding geleentheid ontmoet

2022-02-22
2 Timoteus 4:7 NLV

Seneca die Jonger het gesê: ‘Sukses gebeur wanneer voorbereiding, geleentheid ontmoet.’ Soos jy in die Skrif van die mense wat God gebruik het om groot dinge te bereik, lees, sal jy agterkom dat hulle baie tyd bestee het om vir ‘n relatiewe kort opdrag voor te berei. Die ego in elkeen van ons smag na twee dinge – die kollig en ‘n lang lewe! Vir God maak net een ding egter saak: om sy wil te doen. Wanneer jy soos Paulus kan sê: ‘Ek het die wedloop voltooi,’ het jy suksesvol gelewe.

Vir wie gebruik God dus? Diegene wat voorbereid is! Of jy nou na besigheid, kuns, opvoeding, politiek, die mediese veld of die bediening geroep word, bly hierdie beginsel onveranderd: Die wat voorbereid is, ontvang geleenthede. Disraeli het gesê: ‘Een geheim tot sukses in die lewe is vir ‘n man om gereed te wees wanneer sy tyd kom.’ Dis ook nie genoeg om net eenvoudig voorbereid te word nie, jy moet voorbereid bly. Salomo skryf: ‘Hou vas aan die reëls wat ek jou leer. Moet dit nie laat los nie. Bly daarby, want dit verryk jou lewe’ (Spreuke 4:13 NLV).

Kennis in die meeste velde verdubbel ongeveer elke vyf jaar en tensy jy aanhou groei, sal jy met verouderde vaardighede opeindig wat nie by die uitdagings van die wêreld waarin jy leef, aanpas nie. Wanneer jy glo dat more se sukses van vandag se voorbereiding afhang, sal jy vandag anders sien. Koningin Elizabeth I het na bewering die koninklike geneeshere die helfte van haar boedel aangebied indien hulle haar lewe kon verleng. Hulle kon natuurlik nie. Ons lewens is kort, dis hoekom die Bybel sê: ‘Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom’ (Psalm 90:12 AFR83).

Sielskos: Jes 58-62; Luk 11:1-13; Ps 36; Spr 5:21-23

Hanteer jou finansies met wysheid (3)

2021-12-23
Spreuke 15:27 NLV

J. Paul Getty se boedel het vier biljoen dollars oorskry. Hy was een van die rykste mans op aarde. Die Los Angeles Times het een van Getty se skrywes aangehaal: ‘Ek raak nooit maklik afgunstig nie, behalwe vir die afguns wat ek teenoor mense wat die vermoë het om ‘n huwelik te laat werk, voel. Dit is ‘n kuns wat ek nog nooit kon baasraak nie. My rekord: vyf huwelike, vyf egskeidings. Kortom, vyf mislukkings.’

Die koerantartikel vertel verder: ‘Getty het die herinneringe aan sy verhouding met sy vyf seuns, as ‘pynlik’ beskryf. Baie van sy pyn is saam met sy boedel aan sy nasate nagelaat. Timothy, een van Getty se seuns, het in 1958 in die ouderdom van twaalf aan komplikasies na ‘n operasie gesterf. Hy was die meeste tyd van sy lewe siek en het sy pa wat alewig weg op besigheid was, min gesien. Ander lede van die Getty familie het ook tragiese omstandighede gehad. ‘n Kleinseun, J. Paul Getty III, is ontvoer en vir ‘n losprys van $2.9 miljoen aangehou. Toe Getty weier om die losprys te betaal, het die ontvoerders die seun vir vyf maande aangehou en uiteindelik sy oor afgesny. Getty se oudste seun het onder vreemde omstandighede selfdood gepleeg. ‘n Ander seun, Gordon Paul Getty, se omstandighede was baie moeilik. Sy pa het hom gespot en hy was definitief nie sy pa se gunsteling nie. Soortgelyke droefheid het ander lede van hierdie ongelukkige familie soos ‘n skaduwee gevolg.’

Wanneer jy geld eerste en jou familie tweede stel, maak dit jou niks anders as ‘n ryk mislukking nie. As jy dus besig is om jou familie vir jou loopbaan op te offer, begin veranderinge maak! Moenie eendag terugkyk en besef dat jy vir die verkeerde dinge gelewe het nie.

Sielskos: 1 Kor 1-3; Matt 1:6b-11; Ps 113; Spr 31:14-17

Hanteer jou finansies met wysheid (2)

2021-12-22
Deuteronomium 8:18 NLV

Nadat jy jou kinders geleer het hoe om met God die pad te stap, is die belangrikste lewensles wat jy hulle kan leer hoe om hulle geld met wysheid te hanteer.

Dr James Merritt skryf: ‘Ons het vroeg reeds ons kinders die beginsels van werksaamheid, eerlikheid en verantwoordelikheid begin leer. 1) Gee vir jou kinders van vroeg af werkies wat hulle sonder vergoeding moet doen, soos om hulle beddens op te maak, hulle speelgoed op te tel en hulle kamers skoon te maak. Inspekteer hulle kamers elke keer, moedig hulle soveel as moontlik aan, maar laat hulle weet dat jy ‘n sekere standaard van hulle werk verwag (daar moenie speelgoed op die vloer wees, die bed moet mooi opgemaak wees ens.). Dit sal hulle oor die waarde van werk, die vervulling oor ‘n werk wat goed gedoen is en die dissipline om die bevele van iemand in outoriteit te volg, leer.

2) Soos jou kinders ouer word, kies werk wat hulle in staat is om te doen (die kar te was, die vloer te stofsuig ens.), en besluit dan op billike vergoeding. Dit sal hulle die waarde van geld begin leer en die idee van beloning vir werk wat goed gedoen is, versterk. Weereens moet jy sekere standaarde van hulle werk verwag en hulle nie betaal totdat die werk heeltemal voltooi is nie.

3) Moenie jou kinders sakgeld gee of hulle leer om dit te verwag nie. Leer hulle eerder dat mens geld ontvang deur daarvoor te werk. Daar is niks daarmee verkeerd om vir jou kind geld uit liefde of as ‘n beloning (soos byvoorbeeld vir ‘n goeie rapport) te gee nie, maar kinders moet die verhouding tussen eerlike werk en regverdige vergoeding leer.’

Hierdie is drie beginsels wat hulle dwarsdeur hulle leeftyd, goed te pas sal kom.

Sielskos: Maleagi 1-4; Matt 1:1-6a; Ps 128; Spr 31:10-13

Hanteer jou finansies met wysheid (1)

2021-12-21
Spreuke 10:22 NLV

Daar is ongeveer vyfhonderd Bybelverse wat oor gebed handel en meer as tweeduisend verse wat handel oor hoe om geld en besittings te hanteer. Dit is nie verrassend om te hoor dat kwessies oor geld dikwels die rede is hoekom mense skei nie. Daar is ook ‘n goeie rede hiervoor: geld en stres gaan dikwels met mekaar gepaard. Die Bybel sê: ‘Dit is die Here se seën wat rykdom bring…’

Nie net verwag God van ons om geld te maak nie, maar wanneer ons Hom eer, sal Hy ons help op meer te maak. Daar is egter ‘n regte en ‘n verkeerde manier om dit te doen. Die Bybel leer ons dat geld deur harde werk bekom moet word. ‘Mense wat lui is, word gou arm. Hulle wat fluks is, word ryk’ (Spreuke 10:4 NLV). ‘Rykdom wat maklik kom, verdwyn net so maklik. Wie bietjie vir bietjie bymekaarmaak, het naderhand baie’ (Spreuke 13:11 NLV).

God verwag van ons om te werk, net soos Hy van diegene in bestuursposisies verwag om ‘n goeie dagloon te betaal. Werkers help die bestuur om ‘n wins te maak, terwyl die bestuur werkers help om ‘n salaris te ontvang. ‘n Wins wat deur harde werk verdien is en ‘n salaris wat eerlik verdien is, behaag die Here. Jou geld moet egter deur eerlike werk bekom word. ‘Wie arm mense veronreg om homself te verryk, of vir die rykes geskenke gee, sal self in armoede verval’ (Spreuke 22:16 NLV). Dit is ‘n waarskuwing aan diegene wat mense indoen deur buitensporige rentekoerse te hef. Die Boodskap parafraseer dit as volg: ‘Die Here haat dubbele standaarde. Besighede wat mense kul of minderwaardige produkte verkoop, is vir die Here ‘n gruwel’ (Spreuke 20:10 DB).

God stel dit duidelik: Wenners kul nooit, en Hy sal seker maak dat verkullers nooit wen nie!

Sielskos: Sag 12-14; Joh 21:15-25; Ps 47; Spr 31:6-9

Heers, of word oorheers

2021-06-17
Genesis 1:26 NLV

Tydens die skepping het God iets interessants oor ons gesê: ‘Laat hulle soos konings heers.’ Met ander woorde, Hy het volle outoriteit in jou geplaas om jou lewe te beheer. Jy dien as sy agent hier op aarde om seker te maak dat sy wil gedoen word. Wees egter versigtig. Satan sal probeer dat jy jou heerskappy aan hom oorgee, of jou mislei om te glo dat jy geen mag het nie en dat hy al die mag het. Hy sal jou ook moontlik probeer oortuig om jou lewe volgens jou eie verwronge oordele en sieninge te regeer.

Eers wanneer jy met wysheid volgens die voorskrifte van God se Woord regeer, sal jy ‘n volkome en volledige besef van sy ontwerp vir jou lewe kry. God heers oor alles, maar Hy het vir jou heerskappy in jou invloedsfeer gegee. ‘Die hemele behoort aan die Here, maar die aarde het Hy vir die mensdom gegee’ (Psalm 115:16 NLV). God bemagtig jou om die regte keuses en besluite te maak en pas sy reaksie by jou aksies aan. Soms sit en wag ons vir God om op te tree, terwyl Hy vir ons wag om ‘n skuif te maak.

Een pastoor skryf dat God: ‘…’n basis van soewereine grense handhaaf; ‘n sfeer wat Hy nie mense sal toelaat om te oortree nie, maar terselftertyd ‘n veld oopmaak waar ons kan regeer en waar Hy dan dienoorkomstig kan reageer.’ As jy byvoorbeeld volop wil oes, moet jy volop saai. As jy vergewe wil word, moet jy ander vergewe. As jy saam met Hom in sy seën wil stap, moet jy gehoorsaam wees. Jy is geroepe om deur Jesus Christus ‘…koninklik oor die sonde en die dood [te] triomfeer’ (Romeine 5:17 NLV).

Sielskos: Hosea 1-5; Luk 1:26-38; Ps 139:1-6; Spr 13:21-23