Wie gee jou raad? (1)

2022-12-16
Spreuke 13:10 NLV

Om in die lewe te wen, moet jy lewenslank ‘n leerder wees. Om te leer verg onderdanigheid; ‘n karaktereienskap wat sommige van ons dink nie van toepassing op ons is nie. Ons dink dat onderdanigheid net vir die mense wat gelei moet word, toepaslik is. Dis veral waar in ons jonger jare wanneer ons seker is dat ons alles weet en elke geleentheid gebruik om dit te bewys. Om na ‘n goeie raadgewer uit te reik, verg nederigheid.

Die waarheid is dat indien jy nie onderrigbaar is nie, is jou toekoms reeds besluit! Hoe meer jy dink jy weet, hoe minder geneig is jy om jouself onder die invloed van diegene wat waarlik weet en jou kan help, te plaas. Dis veral waar as jy jouself as meer bekwaam, passievol en talentvol as die ander mense rondom jou, ag.

Wyse mense soek altyd raad. As jy wys is, sal jy jou beperkinge erken; slegs ‘n dwaas glo dat hy of sy geen swakpunte het nie. Net die naïewe is dwaas genoeg om met die veronderstelling te lewe dat hulle al die regte besluite sonder goeie insette kan maak. Hulle kan egter nie.

Hier is drie Skrifgedeeltes uit die boek Spreuke wat jy vandag oor moet nadink:
1) ‘Vir ‘n dwaas is net sy eie pad die regte een. Iemand wat wys is, luister na ander se raad’ (Spreuke 12:15 NLV).
2) ‘Sonder beraadslaging loop planne skeef. Sukses is afhanklik van baie raadgewers’ (Spreuke 15:22 NLV).
3) ‘Luister na raad. Wees bereid om tereggewys te word sodat jy uiteindelik daardeur wysheid kan hê’ (Spreuke 19:20 NLV).

Dis nie net wat jou raadgewer weet nie, maar ook wat hulle sien wat hulle waardevol maak. Hulle is ‘n ekstra paar oë en ore. Hoekom sal jy sonder hulle wil lewe?

Sielskos: Kol 3-4; Filemon; Joh 17:1-12; Ps 105:16-22;
Spr 30:10-14

‘n Hart van vleis

2022-04-09
Esegiël 36:26 ABA

Wanneer jy seerkry, is dit maklik om verskansings op te rig. Wees egter versigtig – ‘n beskermende muur kan in ‘n ‘klip-hart’ verander: wederstrewig, ondeurdringbaar en onontvanklik; selfs vir God.

Een Christenskrywer merk op: ‘Die enigste ding wat pynliker, met ernstiger gevolge, as ‘n gebroke hart is, is ‘n verharde hart. Paulus waarsku ons daarteen om toe te laat dat ons harte verhard: ‘…hulle is ver van God en hulle het nie die ware lewe nie omdat hulle niks van God wil weet nie. Hulle harte is so hard soos klip’ (Efesiërs 4:18 ABA).

‘n Sagte hart is nie swak of naïef nie. Inteendeel, wysheid, ervaring en geloof versterk ‘n hart wat deur deernis verweer en deur barmhartigheid besaai is. Na ‘n week wat soos een pynlike toets op die volgende gevoel het, het ek my beste vriendin in trane gebel. ‘Hoekom eindig dit nie? Hoe sterk wil God hê ek moet wees? Ek kan dit nie langer vat nie!’ Sy het uit haar Godgegewe wysheid geantwoord: ‘Miskien is dit andersom. Jy was nou vir lank sterk genoeg. God wil hê dat jou hart sag en oop moet wees.’

Ek het nie so daaraan gedink nie. Dis maklik om ‘n klip-hart in reaksie op hartseer, verraad of skande te ontwikkel. Ons dink dat dit ons van nog pyn sal beskerm. Die probleem met klip is egter dat dit niks voel nie – nie pyn nie, maar ook nie liefde nie. Dit is ‘n strik wat soos selfbehoud voel, maar inderwaarheid selfvernietigend is. God wil vir jou ‘n hart van vleis gee. Met sy liefde kan jy aan die einde van ‘n pynlike seisoen van verlies met ‘n hart wat toegewyd en gereed is vir die gawes wat Hy vir jou wil gee, na vore kom.’

Sielskos: Lev 15-17; Luk 22:54-62; Ps 25:1-7; Spr 10:1

Lewe uit geloof

2022-04-01
Hebreërs 10:38 NLV

Om uit geloof te leef, is iets wat jy leer om te doen deur dit daagliks te beoefen. Voor jy ‘n Christen geword het, het jy op jou eie vermoë en intellek staatgemaak. Nou vertrou jy op God vir die wysheid, leiding, hulpbronne en vermoë om sy wil vir jou lewe te vervul. Die Bybel sê vir ons: ‘Omdat hy geglo het, het Noag… gehoorsaam die ark gebou. Daardeur is sy huisgesin gered…’ (Hebreërs 11:7 NLV).

Om uit geloof te lewe maak nie altyd sin nie. Dit beteken nie dat jou probleme in die niet gaan verdwyn nie. Soms verander geloof jou omstandighede; ander kere verander dit jou perspektief. Hoe? Deur jou die volharding te gee om vas te byt wanneer die tjek nie in die pos kom nie, of wanneer die dokter sê dat die siekte ongeneeslik is, of jou eggenoot jou vra om te skei, of die kinders die pad byster raak.

Geloof gee jou die krag om te volhard, met vertroue dat God dinge namens jou sal laat uitwerk. Paulus sê vir ons: ‘Wat is geloof dan? Dit is ‘n vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien, inderdaad sal gebeur…’ (Hebreërs 11:1 NLV).

Om uit geloof te lewe, beteken: 1) Om God te gehoorsaam en te glo dat Hy jou nooit in die steek sal laat nie; 2) om in die voetspore van gewone mense, wat buitengewone dinge vir God gedoen het, te loop; en 3) om jou geloof te gebruik omdat jy weet dat dit die enigste geldstelsel is wat in die hemel erken word.

Wanneer die Bybel sê: ‘Dié mense wat my wil doen, sal uit die geloof lewe…,’ beteken dit nie klein, sporadiese opwellings van geloof nie; dit beteken dat jy geloof ‘n leefstyl maak.

Sielskos: Fil 1-2; Luk 21:1-11; Ps 31:14-24; Spr 9:1-3

‘Dankie, Mamma’

2022-03-27
Efesiërs 6:2 NLV

Daar is geen opdrag op aarde wat die verskeidenheid vaardighede en begrip vereis wat deur ‘n ma benodig word om haar alledaagse pligte na te kom nie. Stop en dink wat haar werk vereis. Sy moet die inwonende sielkundige, dokter, teoloog, onderwyser, verpleegster, sjef, taxibestuurder, brandweerman en by geleentheid die polisieman, wees. Dink wat dit jou sou kos om al hierdie vaardighede te huur. Selfs al kon jy, hoe sou jy weet dat jy hulle kan vertrou?

Gaan in die middel van die oggend saam met Ma op ‘n besoek aan die pediater. Nadat sy vyf-en-veertig minute met ‘n moeilike, koorsige kind op haar skoot deurgebring het, word sy en die baba uiteindelik by die spreekkamer ingeroep. Die dokter ondersoek die siek kind en sê dan met ‘n reguit gesig vir die vrou: ‘Maak seker dat jy hom vir vier of vyf dae stil hou. Moenie toelaat dat hy die uitslag krap nie. Maak seker hy hou sy medisyne in en jy sal ook sy stoelgange moet dophou.’ ‘Reg so, dokter! Enige ander voorstelle?’ ‘Net een. Hierdie siekte is aansteeklik, so hou jou vier ander kinders weg van hom af en dan sien ek julle weer oor ‘n week.’

Die wonderbaarlike ding is dat die meeste ma’s hierdie werk gedoen sou kry – en hulle sou dit met liefde en wysheid doen. Dit gebeur omdat God hulle goed gemaak het met wat hulle doen. Hy het hulle ook ‘n passie vir hulle kinders gegee. Hulle sal, letterlik, hulle lewe vir die kinders wat aan hulle sorg toevertrou is, neerlê. Dis hoekom hulle ons bewondering verdien. Die woord vir jou vandag is dus – ‘Eer jou… moeder…’.

Sielskos: 1 Sam 17:4-51; Ef 6:10-18

Luister na die regte stem

2022-03-09
Jesaja 30:21 NLV

‘n Gerespekteerde skrywer was saam met haar man en vriende op die toppunt van ‘n berg, besig om te bespreek watter rigting om te stap. Een ou het gesê: ‘Dis suid!’ ‘n Ander een het geantwoord: ‘Nee, dis oos in daardie rigting.’ Elkeen het ‘n stuiwer in die armbeurs gegooi, totdat die vrou se man uiteindelik ‘n kompas na vore gebring het en gesê het: ‘Ons kan hierdie argument vinnig opklaar.’ Binne sekondes het die kompas bevestig dat hulle inderwaardheid wes moes gaan! Die enigste betroubare bron het die laaste woord gehad en niemand kon daarmee stry nie.

Gedurende die dag wedywer baie stemme vir jou aandag en sommige wat soos kundiges klink, mag heeltemal verkeerd wees. Jy moet weet na watter stem om te luister, want as jy net na jou omstandighede kyk, sal jy gedisoriënteerd word. ‘n Onverwagte telefoonoproep, ‘n sukkelende verhouding, ‘n werk wat verloor is of ‘n siek kind kan noord soos suid en oos soos wes laat lyk. Wanneer dit gebeur, is dit maklik om tot die verkeerde gevolgtrekkings te kom en op die verkeerde pad op te eindig.

Die Bybel sê: “Jy sal ‘n stem hoor sê: ‘Hier is die regte pad. Draai om en loop hierlangs.'” Daar is net een ware bron van wysheid en waarheid en Petrus het dit besef toe hy gevra het: ‘…Here, na wie toe sal ons teruggaan? U het die woorde wat ewige lewe gee’ (Johannes 6:68 NLV).

Jy hoef nie elke liewe detail vooraf te weet nie; dis nie hoe God te werk gaan nie. Dikwels wys Hy nie vir ons die groter prentjie nie, omdat dit ons sal oorweldig. Hy wil hê dat jou vertroue in sy karakter en goedheid onwrikbaar moet wees; en dat jy van sy krag afhanklik moet wees om sy plan vir jou te vervul.

Sielskos: Eks 30-32; Luk 14:25-35; Ps 106:24-48; Spr 7:3-5