2024-06-04
Lukas 6:46 NLV
Onthou jy die woorde van die ou Sondagskoolliedjie: ‘Die wyse man bou sy huis op die rots… Die dwase man bou sy huis op die sand’? Die storm het beide huise getref, maar slegs die wyse man se huis het staande gebly. Jesus het nie bloot die deugde van wysheid bo dwaasheid aanbeveel nie. Die waarheid is dat ons almal soms wys en ander kere dwaas is. Hy het ook nie gesê dat die huis wat vasgestaan het ‘n gelowige se huis was, terwyl die huis wat platgevee was ‘n ongelowige se huis was nie. Hy het ook nie probeer impliseer dat die huis op die rots ‘n kerkganger s’n was, terwyl die huis op die sand iemand wat nie kerk bywoon nie, s’n was. Sy punt was eenvoudiger.
Wanneer dinge op hulle ergste is en ons in die hoek vasgedruk is, wanneer ons aan ons kans op oorlewing twyfel, wanneer ons ons laaste greintjie weerstand opgebruik het, is dit nie ons wysheid, redding of kerkbywoning wat ons deur die storm kry nie. Baie wyse, getroue gelowiges gaan in die lewe se storms onder: ‘n verhouding waarin mishandeling plaasvind, ‘n finansiële ineenstorting, ‘n ontroue eggenoot, die verlies of siekte van ‘n kind, ‘n geestelike of fisiese gestremdheid.
Albei huiseienaars het sy Woord verstaan, maar om eenvoudig te sê: ‘Here, ek stem met U saam,’ is nie genoeg om jou deur die storm te bring nie. Die punt wat Jesus hier probeer maak het is dat jy deur die storm sal kom wanneer jy doen wat jy Hom hoor sê! God het Homself daaraan verbind om sy Woord te eer en jou gehoorsaamheid bring jou in lyn daarmee en aktiveer sy krag namens jou.
Sielskos: Amos 5:18-9:15; Mark 13:24-37; Ps 117; Spr 14:9-12
2023-03-30
Spreuke 16:3 NLV
As ‘n volgeling van Jesus Christus, moet jou rigting nie van mense kom en deur God bevestig word nie; dit moet van God af kom en deur mense bevestig word. Die Bybel sê: ‘Mense kan planne maak, maar die finale besluit kom van die Here af. Alles wat hy doen, kan vir die mens reg lyk. Die Here weet egter waarom hy dit alles doen. Alles wat jy doen, moet jy opdra aan die Here, dan sal jou planne slaag. Die Here het alles gemaak vir ‘n bepaalde doel…’ (verse 1-4 NLV).
Jy mag dalk in staat wees om dit wat iemand anders gedoen het, te doen en om dit selfs beter te doen. Het God jou egter geroep om daardie spesifieke ding te doen? Voor jy iemand anders se leiding volg, doen eers die volgende dinge:
1) Gaan die bron van hulle wysheid na. ‘Dit is tog die Here wat wysheid gee. Sy woorde gee kennis en insig. Hy laat hulle wat reg leef, sukses behaal. Hy beskerm hulle wat hulle pad suiwer hou… As jy aanvaar wat ek vir jou sê, sal jy insig hê in wat regverdig, reg en billik is. Jy sal op die goeie pad bly’ (Spreuke 2:6-9 NLV).
2) Gaan hulle beweegredes na. Johannes skryf: ‘Ek het ook die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan. Daarna is die boekrolle oopgemaak…’ (Openbaring 20:12 NLV). Sal een daarvan ‘die boekrol van beweegredes’ wees? As dit is, sal jou optrede en prestasies onder goddelike ondersoek staande kan bly?
3) Gaan die uitkoms wat hulle verlang, na. As jy sukses soek om mag en aansien te hê, of rykdom soek net om gemak te hê, oortree jy een van die kernbeginsels van God se Woord: Jy is geseën om ‘n seën vir ander te wees.
Sielskos: Job 38-39; Luk 22:24-38; Ps 6; Spr 8:32-33
2023-03-26
Filippense 3:20 NLV
Daar is ‘n verhaal van ‘n pastoor wat vir sy gemeente gevra het: ‘Wie van julle wil hemel toe gaan?’ Almal, behalwe een klein seuntjie, het hulle hande opgesteek. Die pastoor het gesê: ‘Seun, wil jy nie hemel toe gaan nie?’ Hy het geantwoord: ‘Ja, maar ek dog jy maak ‘n groep bymekaar om nou dadelik te gaan!’
Kom ons wees eerlik, totdat ‘n geliefde sterf of ons oud word en voel dat ons ons opdrag hier op aarde voltooi het, dink of praat ons nie baie oor die hemel nie. Dan voel ons hoe die hemel ons begin aantrek. Ons moet so voel. Ons sal gemiddeld so sewentig of tagtig jaar hier deurbring, terwyl ons die ewigheid in die hemel sal deurbring. ‘Daarna sal ons… vir altyd by Hom… wees’ (1 Tessalonisense 4:17 NLV).
Hier op aarde kry ons ‘n gemengde telkaart; soms doen ons goed, ander kere nie so goed nie. In die hemel sal ons egter net soos Jesus wees. ‘Ons daarteenoor het ons burgerskap in die hemel. Van dáár verwag ons ook die Here Jesus Christus as Redder. Hy sal ons vernederde liggame verander in liggame met goddelike heerlikheid, soos sy eie…’ (Filippense 3:20-21 NLV).
C.S. Lewis het geskryf dat in die hemel sal elkeen van ons “‘n skitterende, stralende, onsterflike skepsel, wat deurgaans pols met sulke energie en vreugde en wysheid en liefde as wat ons ons nie nou kan voorstel nie,” wees. Al die patriarge, profete en predikers in die Bybel het na die hemel verlang. Sagaria het dit as volg beskryf: ‘…Hulle sal ook soos ‘n juweel in ‘n koning se kroon wees. Hulle sal blink en skitter in sy land’ (Sagaria 9:16-17 DB).
As jy vandag sou sterf, sal jy hemel toe gaan? Jy kan, deur jou vertroue in Jesus Christus te plaas.
Sielskos: 1 Kon 17:1-24; 1 Kor 12
2023-03-02
Filippense 2:13 NLV
Onthou jy die kinderspeletjie ‘Steek Vas die Donkie se Stert’? Om daardie speletjie te wen was net ‘n ‘skoot in die donker’. Baie van God se kinders gebruik ‘n soortgelyke metode om God se wil en doel vir hulle lewe te ontdek. Dit hoef egter nie so te wees nie. Hier is ‘n paar Skriftuurlike stappe wat jy kan neem om die raaiwerk uit die proses te neem:
1) Wy jouself daaraan toe om God se wil te gehoorsaam. Dis onmoontlik om God se wil te verstaan totdat jy jouself daaraan toewy om dit onvoorwaardelik te gehoorsaam. Enige begeerte om jou eie wil te behou, maak jou blind vir sy wil. Vertrou dat God lief is vir jou, die beste vir jou wil hê en dat wanneer jy jouself aan Hom onderwerp, jy ‘…goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is’ (Romeine 12:2 NLV).
2) Luister na die Skaapwagter se stem en plaas jou vertroue daarop. Jesus los jou nie alleen om uit te pluis wat sy wil vir jou lewe is nie. Hy is ons Goeie Skaapwagter en ‘…die skape luister fyn na sy stem… en die skape hou aan om hom te volg omdat hulle sy stem ken’ (Johannes 10:3-4 NLV). Met tyd en ervaring, sal jy ook leer om God se stem te ken.
Soos Abraham homself aan God se wil onderwerp het sonder om te weet waarheen hy gelei sou word, so word jy geroep om jou wil oor te gee sonder om te weet waarheen Hy jou lei. God beloof wysheid, insig en begrip – nie aan mense wat geestelik slim is nie, maar aan enige persoon wat wysheid kort (sien Jakobus 1:5-6). Glo dus dat sy wysheid joune is!
Sielskos: Eks 13-15; Luk 12:35-48; Ps 66:13-20; Spr 6:23-25
2023-02-03
Spreuke 24:3 NLV
By ‘n konferensie vir onderwysers, het een kollega neerhalend vir ‘n ander een se vrou gevra: ‘En watse werk doen jy, skat?’ Die man het later geskryf: “My vrou het teruggekap: ‘Ek sosialiseer twee Homo sapiens in die dominante waardes van die Joods-Christelike tradisie sodat hulle die instrumente kan wees vir die transformasie van die sosiale orde in die soort eskatologiese utopie wat God van die begin van die skepping af wou hê.’ Toe het sy ewe gevra: ‘En watse werk doen jy?’ Die vrou het nederig geantwoord: ‘Ek…ek… gee klas in sosiologie.'”
Die Bybel sê: ‘Met wysheid word ‘n huis gebou. Insig is nodig om dit te onderhou’ (vers 3 NLV). Wysheid is om onderskeidingsvermoë aan die dag te lê. Insig is die vaardigheid om met begrip te reageer. As jy sukses in alles in die lewe behaal, maar by die huis misluk, sal geen van jou suksesse saak maak nie.
Een skrywer merk op: ‘Ons moet ons kinders met lig vul sodat hulle dit wat donker is kan onderskei. Ons moet hulle help om ‘n lewe van vrede te kultiveer sodat hulle onenigheid kan herken. Ons moet hulle leer wat reg is sodat dit wat verkeerd is, duidelik daarmee kontrasteer. Ons moet vir hulle die soet reuk van die waarheid aanbied sodat hulle ‘n leuen kan ruik. Ons moet hulle selfvertroue in Christus opbou sodat hulle nie maklik deur ander mense se opinies afgebreek sal word nie. Ons moet hulle fondasie op ‘n rots bou sodat hulle onstabiele grond sal herken. Ons moet hulle leer om vir wysheid te bid sodat hulle besef dat om slim te wees, nie genoeg is nie.’
As ouers, mag ons nie dadelik die opbrengs op ons beleggings sien nie, maar ‘…as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes’ (Galasiërs 6:9 NLV).
Sielskos: Gen 25:19-27:46; Luk 7:36-50; Ps 111; Spr 3:29-30