Op ‘n ompad gelei

2024-09-22
Eksodus 13:18 NLV

Die Bybel sê: ‘Toe die farao uiteindelik die volk laat gaan, het God hulle nie kortpad deur die Filistynse gebied laat trek na die land wat Hy vir hulle beloof het nie. Die Here het gesê: ‘As die volk nou met oorlog moet te doen kry, gaan hulle van plan verander en omvlieg terug Egipte toe.’ Daarom het God hulle eerder met die woestynpad… laat trek…’ (verse 17-18 NLV).

Daar is ‘n les hieruit te leer. God weet waar jy op jou geestelike reis is en Hy lei jou daarvolgens, selfs al lyk dit asof jy op ‘n ompad is. ‘Die Here bepaal die rigting van ‘n mens, en met sý lewe is Hy tevrede’ (Psalm 37:23 NLV).

Die kortste roete van Egipte tot by die Beloofde Land was deur vyandige grondgebied en God het geweet dat sy mense nie reg vir ‘n oorlog was nie. Om God se mense uit Egipte te kry was op die ou einde die maklike deel; om Egipte uit God se mense te kry was veel moeiliker. Nadat hulle veertig generasies lank van die farao afhanklik was, moes hulle God en sy maniere leer ken en leer om Hom te vertrou. Dus het Hy hulle reis gevolglik bepaal.

Is jy tans besig om ‘n woestynervaring te hê? Wees bemoedig. Die vervulling van dit wat God jou beloof het mag dalk langer neem as wat jy gedink het, maar dis nie tyd wat gemors word nie. God is ook nie besig om jou te straf nie; Hy is besig om jou vir jou roeping op te lei. Wat moet jy dus doen? 1) Bestee tyd saam met Hom in gebed en sy Woord. 2) Maak minder op jouself en meer op God staat. 3) Put krag uit sy genade en volg sy leiding.

Sielskos: 1 Kon 17:1-6; 1 Kon 18:16-39; 1 Kon 19:9-18; 2 Kon 2:1-12

Wanneer jy nie seker is nie, vertrou God

2024-09-13
2 Korintiërs 5:7 NLV

Om te leef deur te glo, beteken dat jy geloof in die onveranderende karakter van God, die goedheid van God, die liefde van God en die waarheid dat Hy altyd jou beste belange op die hart dra, het. God deel inligting met jou soos jy dit nodig het. God bepaal ook wat ons nodig het om te weet en wanneer ons dit moet weet. Hier is ‘n voorbeeld daarvan: Die vroeë kerk moes besluit of God hulle roep om ook nie-Jode in te sluit. Na baie gebed, stuur hulle die volgende brief uit: ‘Die Heilige Gees en ons het besluit om geen verdere las op julle te lê nie…’ (Handelinge 15:28 NLV).

Alhoewel die kerk nie al die inligting van God tot hul beskikking gehad het nie, het hulle in gebed en deur leiding van die Heilige Gees gemaklik gevoel om hierdie brief uit te stuur. Dit was klaarblyklik God se wil dat sy mense nie presies moes weet wat sy wil is nie, of ten minste nie oor al die detail beskik nie. Hy het vermoedelik geweet dat hulle meer sou groei as hulle die kwessie moes oordink en bespreek, eerder as om ‘n gedetailleerde memo te kry. Die vroëe kerk het nie sekerheid vereis nie. Dit was vir hulle genoeg om met opregte gehoorsaamheid tevrede te wees.

Wanneer Paulus sê dat ons moet leef deur te glo, verwys hy na ‘n proses wat een tree op ‘n slag plaasvind. God het die oorhoofse uitsig; Hy sien jou hele reis van begin tot einde en beplan elke tree. Hy sal vir jou wys wat om te doen en wanneer jy dit gedoen het, sal Hy jou wys wat om volgende te doen.

Sielskos: Neh 1-4; Luk 21:12-24; Ps 78:17-31; Spr 23:26-28

Vertrou op God en bly binne die grense

2024-08-01
Galasiërs 5:16 NLV

Daar is net genoeg ego en onafhanklikheid in ons dat ons dinge op ons eie manier wil doen. Dit hou aan om ons in die moeilikheid te kry. Paulus skryf: ‘…Laat julle leefstyl eerder deur die Gees bepaal word. Dan sal julle glad nie aan die begeertes van julle sondige geaardheid toegee nie. ‘n Mens se sondige geaardheid wil dinge doen wat teen die Gees is, en die Gees wil dinge doen wat teen jou sondige geaardheid is, want hulle is mekaar se vyande…’ (verse 16-17 NLV).

Wat is die sleutel tot oorwinning? Eerstens, steun meer op God en minder op jouself. Tweedens, stel grense in jou lewe. Dis hoekom dit so belangrik is om daagliks Bybel te lees. Dit hou jou in God se veilige sone deur vir jou te sê wat jy kan doen en wat jy eerder nie moet doen om veilig te bly nie.

Snelweë het lyne: een aan elke kant en een in die middel. Hierdie lyne gee vir ons grense vir ons veiligheid terwyl ons bestuur. As ons oor die lyn aan die een kant gaan, loop ons die risiko om in ‘n sloot te beland. As ons oor die lyn in die middel gaan, loop ons die risiko om deur aankomende verkeer getref te word. Ons waardeer daardie lyne, omdat hulle ons veilig hou.

Dieselfde geld in ons persoonlike lewe. Wanneer ons duidelik gemerkte grenslyne het, voel ons baie beter en ervaar ons God se vrede. Wanneer God vir ons sê om iets nie te doen nie, probeer Hy nie met ons naar wees nie. Hy probeer ons beskerm. Jy is deur die kosbare bloed van Jesus verlos, jy is kosbaar in sy oë en Hy wil net die beste vir jou hê.

Sielskos: Esra 6-8; Luk 10:13-24; Ps 78:9-16; Spr 19:24-26

Jou oes is oppad

2024-04-14
Markus 4:27 NLV

Het jy al ooit ‘n ‘saad’ van geloof gesaai en nou wonder jy wanneer jy die ‘oes’ wat God in sy Woord beloof het, sal kan insamel? Indien dit die geval is, lees verder: ‘…God se koningsheerskappy is soos ‘n boer wat saad op sy land saai. Dan gaan hy voort met sy ander daaglikse aktiwiteite. Intussen ontkiem en groei die saad – hoe, weet hy self nie mooi nie. Die grond produseer die graan vanself: eers kom die eerste blaartjie uit, dan vorm die aar en uiteindelik sit die volgroeide koringkorrel in die aar. En sodra die koring ryp is, steek die boer die sekel in, want die oestyd is daar’ (verse 26-29 NLV).

Voor jy die seën wat God belowe het kan oes, gaan jy deur sekere stadiums. Eers is daar die stadium wat jy self nie weet nie. Jou saad is in die grond begrawe. Hoe en wanneer jou oes kom is totaal van God afhanklik. Jy moet egter glo dat dit gaan gebeur. Volgende kom die blaartjie uit. Dis net ‘n klein blaartjie wat in die bries waai, maar dis genoeg om jou moed te gee en vir jou te wys dat jou oes op pad is. Volgende kom die aar. Die saad het ontkiem en lyk soos dit waarvoor jy gebid het. Dis dan wanneer jy dit met gebed moet water gee, dit met God se Woord moet bemes en dit van enigiets of enigiemand wat dit deur twyfel en ongeloof kan ontwortel, moet beskerm. Uiteindelik is dit die stadium van die koringkorrel, wanneer die koring ryp word en jy onmiddellik begin oes.

Maak nie saak in watter stadium jy jou vandag bevind nie, staan vas en hou aan om op God te vertrou. Jou oes is op pad.

Sielskos: Gal 5:22; Luk 2:8-20; Spr 3:13-18; Ps 119:161-168

Om werksekerheid te hê (1)

2024-04-07
Spreuke 12:11 NLV

As jy dink dat die perfekte lewe een sal wees waarin jy nie hoef te werk nie, dink weer. God het die tuin van Eden geskep, toe het Hy Adam geskep, en toe het Hy vir Adam gesê dat dit sy werk is om die tuin te versorg. Hoekom? Omdat werk waardigheid en betekenis tot ons lewe toevoeg. Dis hoekom die Bybel sê: ‘Wie sy grond bewerk, het volop om te eet. Wie met nuttelose dinge besig is, het nie verstand nie’ (vers 11 NLV). Kom ons kyk vir die volgende paar dae hoe om werksekerheid te hê.

Die vrees om jou werk te verloor is in die volgende kernvrese gewortel: Gebrek: ‘Hoe sal ek my verpligtinge nakom?’ Ontoereikendheid: ‘Ek is nie goed genoeg nie.’ Hulpeloosheid: ‘Wat doen ek nou?’ Eensaamheid: ‘Ek sal geïsoleerd word.’ Vir sommige mense is die skaamte en vernedering om hul werk te verloor net so verwoestend as die verlies aan inkomste. Dit kan ‘n selfvervulde profesie word as jy aanhoudend wroeg dat jy jou werk kan verloor, omdat angs jou minder doeltreffend en effektief in jou werk kan maak.

As jy dus met die konstante vrees leef dat jy jou werk kan verloor, is dit tyd om op te hou om jouself te bekommer en te begin om ‘n strategie te ontwikkel wat jou posisie by die werk sal verbeter, of jou van ‘n sagte landing as jy ontslaan word sal verseker. Jou eerste en belangrikste strategie moet wees om op God se getrouheid te vertrou: ‘Die Here jou God sal jou dan voorspoedig maak in alles wat jy doen… Die Here sal Hom daarin verbly en jou voorspoedig maak… Dit sal gebeur as jy jou God gehoorsaam…’ (Deuteronomium 30:9-10 NLV).

Sielskos: Gal 5:22; Jes 61; Heb 12:2; Jes 35:3-10