Probleme? Kom nader aan God

2025-03-08
Jakobus 4:8 NLV

Ons sê dat ons God vertrou, maar ons vrees dikwels dat Hy nie daar vir ons gaan wees wanneer ons Hom die nodigste het nie. Dus neem ons verkeerdelik aan dat as ons aanhou om aan die probleem te dink en ons genoeg daaroor bekommer, sal ons op ‘n manier dit self kan oplos, net vir ingeval God nie opdaag en iets volgens ons tydrooster doen nie. Dit bring ons nader aan ons probleme, maar nie aan die Een wat dit kan oplos nie. Wanneer ons egter kies om te glo dat God in beheer van ons lewens is en enige situasie waarin ons onsself bevind kan hanteer, beweeg ons nader aan God en lyk ons probleme nie meer so kommerwekkend nie.

Dit werk as volg: Hoe nader jy aan die probleem beweeg, hoe kleiner lyk God en hoe nader jy aan God beweeg, hoe kleiner lyk die probleem. Die Bybel sê: ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie’ (Spreuke 3:5 NLV). Deur op God te vertrou, sal jou daarvan weerhou om dinge te probeer uitpluis waarvoor jy nog nie antwoorde het nie. In plaas daarvan om na die neulende stem te luister wat sê: ‘Wat gaan jy doen?’ beweeg eerder nader aan God en sê: ‘Ek gaan op God vertrou om my te wys wat ek moet doen.’

Dawid het verklaar: ‘My liggaam en my hart kan kwyn, maar God is my blywende krag en my erfdeel vir altyd… dit is goed om naby God te wees!..’ (Psalm 73:26, 28 NLV). Waar is God wanneer jy Hom die nodigste het? Reg langs jou!

Sielskos: Eks 39-40; Luk 15:11-32; Ps 135; Spr 7:21-23

Omarm onsekerheid en volg God

2025-03-05
Jesaja 55:8 NLV

‘n Deel van ons voel asof daar iets geestelik met ons verkeerd is wanneer ons onsekerheid ervaar. Dit is egter presies wat Jesus ons beloof het wanneer ons uit die Gees gebore word en Hom begin volg: ‘Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy suising, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarheen hy op pad is nie. Só is dit met elkeen wat uit die Gees gebore is’ (Johannes 3:8 NLV).

Wanneer jy deur die Gees van God gelei word, kan jy dikwels nie beskryf hoe dit gebeur nie. Selfs wanneer jy dag en nag daaroor nagedink het, sê God: ‘My gedagtes is anders as julle s’n, en julle paaie is nie my paaie nie.’ Enigiets kan dus gebeur wanneer jy God volg. Jy weet nooit wie jy gaan ontmoet, waarheen jy gaan of wat jy gaan doen nie. Hoe vinniger jy vrede met hierdie geestelike waarheid maak, hoe meer sal jy die reis geniet. Andersins sal jy met ‘n selfbehepte geestelikheid wat jou leeg laat voel, opeindig.

In plaas daarvan om die Gees te volg, nooi jy dan die Gees uit om jou te volg. In plaas daarvan om God se doelwitte te dien, wil jy hê dat Hy jou doelwitte moet dien. Alhoewel dit na ‘n subtiele onderskeid mag lyk, maak dit ‘n massiewe verskil.

Hier is dus jou opsies: 1) Volg die pad van sekerheid, wat jou in beheer hou, maar die avontuur wat God vir jou in gedagte het, by jou steel. 2) Aanvaar die onsekerheid van die ‘hoe’ en ‘waar’ wanneer jy besluit om God te volg en staan op hierdie belofte: ‘Op u ontferming kan mens altyd vertrou. Dit is elke oggend nuut’ (Klaagliedere 3:23 NLV).

Sielskos: Eks 30-32; Luk 14:15-24; Ps 106:24-48; Spr 7:3-5

Wanneer God opdaag

2025-01-26
Daniël 3:17-18 NLV

Toe Sadrag, Mesag en Abednego geweier het om voor koning Nebukadnesar se dertig meter hoë goue afgod te buig, het hy gedreig om hulle in ‘n vlammende oond te gooi. Hier is wat hulle vir hom gesê het: ‘Die God wat ons aanbid kán ons uit die vuur red. Hy sal ons uit u hand bevry, U Majesteit. En selfs al red Hy ons nie… sal ons nie u gode vereer nie…’ (verse 17-18 NLV).

Wanneer daag God op? Wanneer jy sê: ‘God is in staat om my te red, maar indien Hy nie doen nie, gaan ek Hom in elk geval dien.’ Dis wonderlik wanneer God dit wat ons nodig het voorsien. Tog is die tipe geloof wat God waarlik behaag die geloof wat sê: ‘Selfs al red Hy my nie, gaan ek God in elk geval vertrou.’

Petrus skryf: ‘Hieroor kan julle baie bly wees, al moet die baie beproewings julle vir ‘n rukkie laat swaarkry. Die doel met die beproewings is om die egtheid van julle geloof duidelik te laat word. Julle geloof word getoets soos goud met vuur getoets en daardeur gesuiwer word, en onthou: Julle geloof is vir God baie kosbaarder as goud. As die toetse die egtheid van julle geloof uitwys, loop dit uit op lof en heerlikheid en eer op die dag wanneer Jesus Christus aan die wêreld geopenbaar word’ (1 Petrus 1:6-7 NLV).

Die Bybel sê nie dat die drie Hebreeuse kinders die vierde man wat saam met hulle in die vuur was gesien het nie; dit sê dat Nebukadnesar Hom gesien het en Hom as ‘…’n hemelwese’ (Daniël 3:25 DB), beskryf het. Selfs wanneer jy dit dus nie weet nie, het jou geloof, jou lewe en jou getuienis ‘n impak op die mense rondom jou en bring dit eer aan God.

Sielskos: Eseg 47:1-12; Op 21:22-22:5

Vertrou God en gaan tot aksie oor

2024-12-16
Prediker 11:4 NLV

Daar is ‘n tyd om versigtig te wees en ‘n tyd om risiko’s te neem. Dit verg onderskeidingsvermoë om die verskil te ken. As jy vir die perfekte omstandighede wag voor jy ‘n geleentheid aangryp, sal jy totdat jy doodgaan huiwer. Die Bybel sê: ‘As jy heeldag na die wind kyk, sal jy nooit saai nie. En as jy na die wolke kyk, sal jy nooit oes nie.’ Dikwels is die enigste ding wat tussen jou en die vervulling van jou droom staan, ‘n verskoning: ‘Ek is te besig… Ek het nie genoeg geld nie… Ek het nie die regte kwalifikasies nie… Ek is nog nie gereed nie… Ek het baie probleme.’

Niemand is egter ooit heeltemal gereed nie. Net voor Christus se eerste wonderwerk het Hy ‘n sweem van huiwering getoon: ‘…My tyd het nog nie gekom nie’ (Johannes 2:4 NLV). Jesus het egter ‘n moeder gehad wat Hom lief genoeg gehad het om Hom te oortuig.

In sy boek Jump In! beskryf Mark Burnett sy pad as ‘n prominente TV-vervaardiger. Hy het trefferprogramme soos Survivor en The Apprentice geskep. Hy skryf: ‘Niks sal ooit perfek wees nie en niks kan ooit heeltemal beplan word nie. Die beste waarvoor jy kan hoop is om omtrent vyftig persent seker van jou plan te wees en te weet dat jy en jou span gewillig is om hard genoeg te werk om die onvermydelike probleme soos hulle opduik, te kan oorkom.’

Moet dus nie na die wind en die wolke kyk nie. Nadat jy gebid het en jouself voorberei het, is dit tyd om God te vertrou en tot aksie oor te gaan.

Sielskos: Est 5-10; Joh 21:1-25; Ps 18:1-29; Spr 26:24-27

Die rivier van God

2024-12-05
Eksodus 2:3 NLV

Moses se ma het hom in ‘n mandjie gesit, dit in die Nylrivier weggesteek en die gety het hom na die farao se dogter gedra, wat hom aangeneem en hom deel van die farao se familie gemaak het. Die volgende veertig jaar is bestee om hom vir een van die grootste opdragte in die geskiedenis voor te berei: die eksodus. Die rivier het vir Moses van ‘n plek van hopeloosheid en wanhoop geneem na ‘n plek waar alle dinge moontlik geword het. God kan dit vir jou ook doen.

1) Die rivier van sy genade kan jou sondes uitwis, jou in die geregtigheid van Christus klee en jou in ‘n nuwe verhouding met God bring.
2) Die rivier van sy krag kan jou van die plek van mislukking na die plek van oorwinning neem.
3) Die rivier van sy wysheid kan jou van die plek van foute en verwarring na die plek van visie en sukses neem.
4) Die rivier van sy voorsiening kan jou van die plek van gebrek na die plek van oorvloed neem.

Dit kan beteken dat God jou dalk van diegene wat jou afbreek mag verwyder en jou met ‘n nuwe vriendekring verbind, omdat hulle nie verstaan het wat Hy jou geroep het om te doen nie. Of jou in ‘n kerk plaas wat jou geestelik kan opbou en jou kan help toerus om God se plan vir jou lewe te vervul. As slaaf kon Moses se ma hom nie aan farao se dogter voorgestel het nie. God kon egter. En Hy het. Wat God vir Moses gedoen het, sal Hy vir jou doen as jy Hom in gebed soek en sy instruksies volg.

Sielskos: Gen 32-34; Joh 16:1-18; Ps 130; Spr 31:28-31