Glo God vir groter dinge

2026-01-22
Jakobus 4:2 NLV

Sommige mense dink dat ons nie veronderstel is om God vir te veel te vra nie; andersins is ons selfsugtig. God wil egter hê dat jy Hom moet vra. ‘…en eintlik is die rede hoekom julle nie het wat julle wil hê nie, die feit dat julle God nie daarvoor vra nie.’ Wanneer jy nie vra nie, gee jy nie jou geloof vrye teuels nie. Jesus het gesê: ‘…Soos julle geglo het, sal dit vir julle gebeur’ (Matteus 9:29 NLV). Jy moet leer om vrymoedige gebede te bid en van God groter dinge te verwag en te glo. ‘Vra My, en Ek gee vir jou nasies as erfporsies, die einde van die aarde as jou besitting’ (Psalm 2:8 NLV). Dis ‘n vrymoedige gebed! As God egter vir jou sê om dit te bid, is dit omdat Hy gewillig is om jou gebed te beantwoord.

Jy mag dalk ‘n droom in jou hart hê, maar kan nie insien hoe dit ooit sal kan gebeur nie. Jesus het vyfduisend mense met vyf brode en twee vissies gevoed. Hy is ‘n God van vermenigvuldiging. Hy kan jou tyd vermenigvuldig en jou help om meer gedoen te kry. Hy kan jou wysheid vermenigvuldig en jou help om beter besluite te maak. Hy kan jou finansies vermenigvuldig: ‘God wat saad voorsien aan die saaier… sal ook aan julle saad gee en dit laat toeneem en die vrugte van julle goedhartigheid lieflik laat groei’ (2 Korintiërs 9:10 NLV).

In plaas daarvan om met blote oorlewing tevrede te wees, wil God hê jy moet floreer. ‘n Oorlewingsmentaliteit sal jou van God se beste weerhou. Skud dit af en sê: ‘God, U het belowe dat U dit wat vir my skade sou beteken, tot my voordeel sal gebruik (sien Romeine 8:28). Ek mag dalk deur die vuur, die hongersnood en die vloed gegaan het, maar ek weet dis my tyd van guns. Dis my tyd om meer van u goedheid in my lewe te sien.’ Glo God vir groter dinge.

Sielskos: Jak 1-2; Luk 5:1-11; Ps 91; Spr 3:3-4

Vertrou God vir ‘n deurbraak

2026-01-11
1 Kronieke 14:11 NLV

Die Bybel sê: “Die Filistyne het aangekom in die Refaimdal en dit geplunder. Dawid het God gevra: ‘Moet ek uitgaan en teen die Filistyne gaan veg? Sal U hulle aan my oorgee?’ Die Here het geantwoord: ‘Ja, gaan voort! Ek gee jou die oorwinning.’ Dawid en sy soldate het toe na Baäl-Perasim gegaan en die Filistyne daar verslaan. ‘God het dit gedoen!’ het Dawid uitgeroep. ‘Hy het my gebruik om soos ‘n watervloed deur my vyande te bars…'” (verse 9-11 NLV).

Let op hoe Dawid God se krag soos ‘n watervloed wat deurbars vergelyk het. Hy sê dat wanneer God opdaag en sy krag loslaat, sal dit soos ‘n vloed van sy goedheid, sy krag, sy guns, sy genesing, sy wysheid, sy hulpbronne en alles jy nog nodig het, wees. Dink aan hoe kragtig water is: Net ‘n paar sentimeter water kan ‘n groot kar wat duisende kilogramme weeg, oplig en rondstoot. Ons sien op die nuus hoe geboue en huise deur waterstrome meegesleur word. Niks kan dit keer nie. Niks word toegelaat om in die pad te staan nie.

Dis wat gebeur wanneer God jou ‘n deurbraak gee en ‘n vloed van guns namens jou loslaat. God het nie verander nie. Sy krag het nie verminder nie. ‘Ag Here, U het die hemel en die aarde deur u groot mag en krag gemaak. Niks is vir U te moelik om te doen nie!’ (Jeremia 32:17 NLV). God is in staat om namens jou te beweeg. Hy is ook gewillig om dit te doen – vra Hom dus vir ‘n deurbraak.

Sielskos: Gal 5:22-23; Neh 8:10; Heb 12:1-2; Jak 1:2-3

Verwyder die ‘vleeslike’ element

2025-10-05
Eksodus 4:4 NLV

Moses het sy herderstok op die grond neergegooi en dit het in ‘n slang verander (sien vers 3). Hy was so bang dat hy wou weghardloop. Toe het God egter vir hom gesê: ‘Gryp dit aan sy stert!’

Een Bybelonderwyser wys die volgende uit: ‘Gedurende jou opleidingsreis deur die wildernis, sal jy waarskynlik dink dat God jou op die verkeerde pad lei; dat Hy goed sê wat nie sin maak nie. Sy bevele gaan nie gewoonlik met ‘n verduideliking gepaard nie. Wanneer jy nie kan agterkom wat Hy besig is om te doen nie, moet jy Hom vertrou. Nadat Moses die slang aan sy stert opgetel het, het dit weer ‘n herderstok geword. Dit het van ‘n eenvoudige herderstok in ‘n stok waarmee God vir Moses ‘n teken gegee het, verander (sien Eksodus 4:1-20; 17:9).

God het die slang in Moses se herderstok verwyder. Moses moes die een ding waarop hy kon staat maak – sy ou, bekende, beproefde herdersstok – prysgee. God mag jou van sekere dinge stroop sodat jy jou afhanklikheid aan Hom kan besef. Hierdie stroping gaan egter met krag gepaard. Daar is dinge waaraan jy wil vashou wat jy moet loslaat, sodat God die slang daarin kan verwyder.’

Waaraan hou jy vandag vas? ‘n Begeerte om ‘n onderwyser te wees?’n Musikale talent? ‘n Aanleg vir besigheid? Leierskapseienskappe? Neem jou gawe, wat dit ook al mag wees, en gooi dit voor God op die grond neer. Hy is die enigste een wat weet of daar ‘n slang daarbinne skuil. Hy kan die ‘vleeslike’ element verwyder, dit seën en vir jou ‘n instrument wat vir diens geskik is, teruggee.

Sielskos: Est 4:9-5:3; Heb 4:7-16

Hou aan om God te vertrou

2025-04-14
Job 13:15 Kontemporêre Afrikaanse Bybel (KAB)

Die verhaal van Job lees as volg: In die eerste hoofstuk is hy een van die rykste mans van sy generasie. In die tweede hoofstuk verloor hy alles, insluitend sy rykdom, sy gesondheid en sy kinders. Teen hoofstuk 42 is hy weer op die boonste sport van die leer. Sal jy nie graag wil weet wat van die derde hoofstuk tot die 41ste hoofstuk plaasgevind het nie? Indien wel, moet jy die boek van Job lees en uitvind hoe hy alles gehad het, dit alles verloor het, alles teruggekry het en met twee keer meer as wat hy gehad het, opgeëindig het.

Het Job onbeantwoorde vrae gehad? Baie daarvan. Het hy smart beleef? Ja, op ‘n skaal wat moeilik is om jou dit in te dink. Job het egter nooit sy mening oor God verander nie en God het nooit sy mening oor Job verander nie. Hierdie Skrifgedeelte som Job se houding die beste op: ‘Al maak hy my dood, ek sal op hom vertrou…’

As jy tans op ‘n plek vasgevang is wat jy nie verstaan nie, moenie tou opgooi nie. Wanneer jy nie jou omstandighede verstaan nie en dit voel of dit meer is as wat jy kan hanteer, staan op hierdie wonderlike Bybelse belofte: ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is. Vertrou deurgaans op die Here, want die Here God is vir altyd ‘n veilige toevlug’ (Jesaja 26:3-4 NLV).

Die woord vir jou vandag is dus – hou aan om op God te vertrou en Hy sal jou daardeur bring.

Sielskos: Dan 8-10; Luk 22:54-62; Ps 103:13-22; Spr 10:14

‘Gooi dit neer’

2025-04-10
Eksodus 4:2 NLV

Die Bybel sê: ‘Toe vra die Here vir hom: ‘Wat het jy daar in jou hand?’ “‘n Herderstok,” antwoord Moses. ‘Gooi dit op die grond neer,’ het die Here vir hom gesê. Hy gooi dit toe op die grond en dit het ‘n slang geword. Moses het geskrik en hy wou weghardloop. Maar die Here sê vir hom: ‘Gryp dit aan sy stert!’ Toe Moses dit gryp, het dit weer ‘n herderstok geword’ (verse 2-4 NLV). Toe het God vir Moses die opdrag gegee dat hy na Egipte moes terugkeer en vir die farao sê om die kinders van Israel vry te laat. ‘Maak seker dat jy jou herderstok by jou het sodat jy daarmee die tekens kan doen wat Ek jou geleer het’ (vers 17 NLV).

Die herderstok het Moses se sekuriteit verteenwoordig. Dit het hom fisiese sekuriteit teen wilde diere gegee. Dit het hom finansiële sekuriteit gegee – sy skape was sy finansiële bate. Moses se stok het hom ook as ‘n herder geïdentifiseer. Hierdie ervaring het die einde van een seisoen en die begin van ‘n nuwe seisoen in sy lewe gekenmerk. Die herderstok wat Moses op die grond gegooi het is gebruik om na skape om te sien, maar die een wat hy opgetel het sou gebruik word om die waters van die Rietsee te skei en God se mense na die Beloofde Land te lei.

Vra God jou om dit wat jou sekuriteit en identiteit verteenwoordig op die grond neer te gooi? Moenie bang wees nie, doen dit! Wat jy terugkry sal baie groter wees as enigiets wat jy gevra word om prys te gee. Die enigste manier om jou nuwe identiteit te vind, is om jou ou een te laat gaan. Die enigste manier wat jy jou sekuriteit in Christus sal vind, is om die menslike sekuriteit waaraan jy vasklou, neer te gooi.

Sielskos: Dan 1-2; Luk 22:24-38; Ps 127; Spr 10:11