2023-10-25
Jesaja 41:10 NLV
Die eerste vrou wat ‘n Nobelprys gewen het, was die Franse fisikus madame Marie Curie. Sy het gesê: ‘Niks in die lewe moet gevrees word nie, maar slegs verstaan word.’ Dus:
1) Kry die feite oor dit wat jy vrees om sodoende die geheimsinnigheid en verkeerde informasie daaroor, uit die weg te ruim.Juf Lize Hattingh help hiermee. sy kan password reset
lhattingh@monnies.co.za2) In plaas daarvan om op jou fobie te fokus, fokus op God se beloftes: ‘Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Moenie ontsteld word nie, want Ek is jou God. Ek maak jou sterk en wil jou help. Ek hou jou vas met my reddende regterhand’ (vers 10 NLV). Soos jou geloof in God sterker word, sal die bedreiging van jou vrese swakker word.
3) Ontspan. Verbeel jouself dat jy vredevol en vry van die kettings van vrees is. Stel jou die positiewe uitwerking op jou lewe voor wanneer jy daarvan verlos word.
4) Konfronteer elkeen van die vreesaanjaende omstandighede een vir een. Elke enkele hekkie wat jy oorwin, versterk jou.
Verbind jouself dus om die vrese wat verwoesting oor jou gemoedsrus saai, te oorkom. Jesus het gesê: ‘Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie’ (Johannes 14:27 NVL). Moenie toelaat dat vrees jou regeer nie! Word pro-aktief en bewapen jouself met God se beloftes. Hardloop jou vrese trompop soos Dawid na Goliat gehardloop het, met die wete dat jy in die Naam van die Here oorwinning sal behaal.
Sielskos: 2 Pet 1-3; Joh 6:16-24; Ps 85; Spr 24:11-14
2023-09-28
Psalm 39:8 NLV
Die lewe werk selde uit soos ons hoop of dink dit sal. Toe Job alles verloor het, het hy gesê: ‘Ek het nie die krag om aan te gaan nie. Ek het geen doel om na te streef nie… Nee, ek is hulpeloos. Daar is geen kans dat ek kan slaag nie’ (Job 6:11, 13 NLV). Tog het Job op die ou einde twee keer soveel as wat hy verloor het, teruggekry. Die ervarings en teëspoed waardeur hy gegaan het, het egter sy houding teenoor God diep verander: ‘Ek weet nou U kan enigiets doen en niemand kan U keer nie… Tot nou toe het ek net met my ore van U gehoor, maar nou het ek U met my eie oë gesien’ (Job 42:2, 5 NLV). Wat het Job ontdek? Dat God almagtig is! Ons moet sy Woord gehoorsaam om in sy seëninge te kan wandel – maar die finale uitkoms van alle dinge rus in sy hande.
Baie van ons sukkel met beheer. Ons wil nie net ons eie omstandighede nie, maar ook ons doelwitte, planne, verhoudings en alles wat op ons betrekking het, beheer. Sulke vrese is dikwels die teken van ‘n onbewuste begeerte om onafhanklik van God te wees; om die argitek van ons eie lot te wees. Soms is dit omdat jy in ‘n chaotiese omgewing grootgeword het en besluit het om nooit die ervarings van jou vroeë lewe te herhaal nie. Miskien dink jy dat jy as gevolg van jou opleiding, finansies of ander prestasies in beheer van jou lewe is.
Dis nie waar nie. God het jou in staat gestel om alles wat jy al gedoen het, te doen. Paulus skryf: ‘Maar deur God se onverdiende goedheid is ek wat ek vandag is…’ (1 Korintiërs 15:10 NLV). God is vandag in beheer – vertrou Hom!
Sielskos: Hoogl 1-4; Mark 15:12-20; Ps 13; Spr 21:22-27
2023-08-29
Psalm 37:3 NLV
Soms wanneer ons probleme het, onttrek ons onsself van die alledaagse lewe en bestee ons al ons tyd om daaroor obsessief te wees en dit te probeer oplos. Ons praat met enigiemand wat sal luister daaroor. Dit is alles onproduktiewe aktiwiteite wat ons daarvan weerhou om te doen wat ons eintlik moet – om te doen wat goed is. As jy die voordele van God se getrouheid wil ervaar, moet jy twee dinge doen: 1) ‘Vertrou op die Here.’ 2) ‘En doen wat goed is.’
Wanneer ons probleme het, voel dit teenproduktief om daarop te fokus om ander mense te seën. Dis egter nie, dis inderwaarheid ‘n baie kragtige ding om te doen. Dit lei jou gedagtes van jouself en jou probleme af. Dis ook wanneer jy goeie sade saai wat dit vir jou ‘n goeie oes sal bring. Om in selfbejammering te verval, jouself te kwel en op ‘n negatiewe manier te praat, verhoed dat God jou help. Om Hom egter te vertrou en aan te hou om goeie dinge vir ander te doen, stel Hom vry om namens jou te werk.
Ons moet besef dat geen van God se beloftes vir ons sal werk totdat ons sy Woord gehoorsaaam nie. Kennis alleen sal nie jou probleme oplos nie; jy moet daad by die woord voeg en gehoorsaam wees, ongeag hoe jy voel. Jy mag dalk nie daarna voel om ‘n belofte na te kom of iets te doen om iemand anders te help nie, maar wanneer jy dit doen, spring God namens jou aan die werk. Een van die sleutels om dus vrees en bekommernis te oorkom, is om te doen wat God jou beveel het om te doen, ongeag hoe jy voel.
Sielskos: Gal 4-6; Mark 9:1-13; Ps 119:161-168; Spr 19:3-8
2023-07-04
Spreuke 24:10 NLV
Die laaste paar dae het ons gesels oor hoe om Satan se aanvalle te hanteer soos hulle voorkom. As jy dus vandag aangeval word, doen die volgende:
1) Wees taai. Die lewe is ‘n reeks gevegte, wat beteken dat dit ook ‘n reeks oorwinnings kan wees. ‘…omdat die Gees wat in julle woon, magtiger is as die gees wat in die wêreld woon’ (1 Johannes 4:4 NLV). Put krag uit God se mag binne-in jou. Hy wil jou graag wys wat Hy vir jou kan doen. “…Onthou dat God die versekering gegee het: ‘Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie.’ Daarom kan ons moed skep en antwoord: ‘Die Here is my hulp. Daarom sal ek nie bang wees nie. Wat kan nietige mensies my aandoen?'” (Hebreërs 13:5-6 NLV). Daar is krag in sy Woord wanneer jy dit spreek, dit glo en daarvolgens optree.
2) Maak op God se wysheid staat. Jesus het gesê: ‘Laat dit swaar op julle harte rus om nie bekommerd te wees oor julle verdediging nie, want Ek sal aan julle die regte woorde en die wysheid gee wat al julle teenstanders nie sal kan opponeer of weerlê nie’ (Lukas 21:14-15 NLV). God het vir jou twee dinge gegee wat altyd werk: jou mond en sy wysheid. Wanneer onverwagte dinge voorval, sal die Heilige Gees opstaan en deur jou praat, wees dus van Hom afhanklik.
3) Vertrou op God om die aanval te stop. Die Bybel sê: ‘Aanskou die werke van die Here wat… oorloë beëindig oor die hele aarde…’ (Psalm 46:9-10 NLV). God is in beheer, Hy is groter as jou probleem en jy is op hierdie einste oomblik in sy gedagtes. Hy het jou trane, jou vrese en jou pyn opgelet – en Hy sal namens jou beweeg.
Sielskos: Jer 22-24; Matt 23:23-39; Ps 102:1-11; Spr 14:35-15:2
2023-04-06
Filippense 3:14 NLV
Om God se wil vir jou lewe te vervul, moet jy die volgende doen:
1) Na ‘n hoër vlak van geloof beweeg (sien Romeine 1:17). Voor Dawid vir Goliat doodgemaak het, moet hy eers ‘n leeu en ‘n beer doodmaak. Deesdae worstel ons met kwessies wat vereis dat ons God nog meer moet vertrou.
2) God se leiding in elke situasie soek (sien Spreuke 3:6). Hy belowe: ‘…Ek sal jou onderrig en die pad wys waarop jy moet gaan. Ek sal vir jou raad gee, my oog sal op jou wees’ (Psalm 32:8 NLV).
3) Jouself geestelik belyn. God is besig om sy volk in lyn te bring en diegene saam te bring wat as een man sal staan wanneer die stryd aanbreek. Dit is noodsaaklik om te weet wie jy kan vertrou om saam met jou te veg en jy ontdek sulke mense net in tye van beproewing (sien Josua 8:1).
4) God se wil vir jou lewe ken. God speel nie wegkruipertjie met sy wil nie. Wanneer jy tyd met Hom bestee, sal jy dit ontdek (sien Psalm 143:10) Wanneer jy dit doen, sal jy floreer.
5) God se Woord in die stryd te gebruik. Die Godgegewe woorde wat in die Skrif gevind word, is jou krag in tye van moeilikheid en toetse. Jesus het die Woord gebruik om Satan die aftog te laat blaas (sien Matteus 4). Die wapen van God se Woord werk steeds vandag.
6). Moenie oormatig introspektief wees nie. Net die Heilige Gees het die vermoë om ons harte en gedagtes te ondersoek en te ken (sien Johannes 16:8-15). God sal areas wat korreksie nodig het volgens sy tyd openbaar. Totdat dit gebeur, beweeg in geloof vorentoe.
7) Pas jou gedagtes op. Maak dit ‘n ommuurde stad wat toegang tot negatiewe gedagtes en skadelike invloede weier (sien Spreuke 4:23 NLV).
Sielskos: Lev 8-10; Luk 23:13-25; Ps 26; Spr 9:10-12