2022-12-15
Johannes 13:1 NLV
Ons hanteer ons verhoudingsprobleme op een van drie maniere: vlug, veg, of vergewe. Sommige kies om te vlug. Hulle verlaat die verhouding en begin êrens anders oor, alhoewel hulle dikwels verras is wanneer dieselfde kwessies weer kop uitsteek. Ander mense veg. Gevolglik word hulle verhoudings gevegsones en stres word ‘n lewenswyse.
As jy wys is, sal jy Christus se manier kies: ‘…Jesus was lief vir sy eie mense… Hy het hulle enduit liefgehad.’ Vir meer as drie jaar het Jesus dieselfde span gehad. Hy het dieselfde twaalf of so gesigte rondom die tafel gesien. Hoe het Hy dus so toegewyd aan sy dissipels gebly? Was dit moeilik vir Jesus om Petrus lief te hê, met die wete dat hy Hom eendag sou verraai? Was dit moeilik om Tomas te vertrou, met die wete dat hy eendag sy opstanding sou bevraagteken? Hoe het Jesus die drang weerstaan om ‘n nuwe groep volgelinge te werf?
Johannes wou een vyand vernietig en Petrus het die oor van ‘n ander een afgesny. Net dae voor Jesus se dood, het sy dissipels baklei oor wie van hulle die beste was! Hoe was Hy in staat om mense lief te hê, as dit moeilik was om van hulle te hou?
Hier is die antwoord: Jesus het hulle nie aan hulle voorkoms, IK, talente, besittings of persoonlikhede gemeet nie; nee, Hy het hulle aan hul potensiaal gemeet. Op die ou einde het hulle verander en aan sy verwagtinge voldoen. Nie in alle dinge of die hele tyd nie. Jesus het hulle egter vergewe en hulle geleer dat liefde ‘n verbintenis is wat ons eers met onsself, en dan met ander mense sluit.
Sielskos: Kol 1-2; Joh 16:19-33; Ps 105:8-15; Spr 30:5-9
2019-04-14
Nehemia 4:6 DB
Baie mense leef hulle lewens deur maar net deur die bewegings te gaan. Moenie een van hulle wees nie! As jy wil hê dat jou lewe moet tel, moet jy ‘n groter saak as jouself vind en jou alles daarvoor gee! Onthou jy die verhaal van Nehemia? Hy het sy lewe in gevaar gestel om Jerusalem se muur te herbou. Hy het voor dreigemente en struikelblokke te staan gekom, maar steeds die werk in ‘n rekordtyd voltooi. Hoe het dit gebeur? Omdat ‘…almal met hart en siel help bou het.’ ‘n 1828 kopie van die Webster woordeboek verklaar die woord ‘moed’ as die kwaliteit wat ons in staat stel om moeilikheid of gevaar sonder vrees of depressie in die gesig te staar. Dan voeg Webster die woorde van Moses by toe hy die leierskap van die volk aan Josua oorgedra het. ‘My opdrag aan jou is dat jy sterk en dapper moet wees. Moenie bang of huiwerig wees nie. Die Here jou God is saam met jou in alles wat jy doen’ (Josua 1:9 NLV). Op die ouderdom van honderd-en-twintig was Moses steeds besig om vir die mense van Israel te sê om moed te hou en hart en siel te gebruik, omdat enigiets wat die moeite werd is, die moeite werd is om voor te veg. Dit verg hart en moed om ‘n kind se opsetlike verset te hanteer, of om jou eie vrese te oorkom, of om die stukkies van jou lewe op te tel en oor te begin. Dis maklik om te praat oor wat verkeerd is, maar dit verg hart en moed om iets daaraan te doen. Waar kom hierdie tipe moed vandaan? Van God af! Praat dus vandag met Hom.
Sielskos: Ps 118:19-29; Matt 21:1-16
2019-03-22
Josua 1:5 NLV
Toe Josua op die drumpel van die Beloofde Land gestaan het, het hy besef dat hy eers sewe nasies en veertig konings moes verslaan voor hy die land in besit kon neem. God het toe vir hom gesê: ‘Niemand sal teen jou bestand wees solank jy leef nie… Ek sal jou nooit in die steek laat nie. Ek sal jou nooit los nie.’ Wanneer jy in God se wil, met al die kragte en hulpbronne van die hemel wat agter jou staan, optree, sal jy wen. Dit beteken nie dat jy nie sal moet veg nie, maar jy sal wen! Die rolprent Ben Hur het meer Oscars as enige ander rolprent in die geskiedenis gewen. Charlton Heston, wat die held in die fliek gespeel het, moes ‘n strydwa vir sy rol bestuur. Hy was veronderstel om die strydwa-ren aan die einde van die fliek te wen, maar daar was een probleem: Hy het gesukkel om te leer om die strydwa te hanteer. Hy het na die regisseur, William Wyler, gestap en gesê: ‘Meneer Wyler, ek kan skaars op die strydwa bly. Ek kan nie hierdie resies wen nie.’ Wyler het na Heston gekyk en gesê: ‘Seun, jou werk is om op die strydwa te bly; my werk is om jou te laat wen.’ Elke keer wat jy die kantoor binnestap, of ‘n belangrike vergadering of ‘n werksonderhoud moet bywoon, vertrou op God. Wanneer jy daardie gevreesde doktersafspraak moet maak, of ‘n vriend moet konfronteer wat jou sleg behandel het, vertrou op God. Bly op die strydwa. Moenie ophou om op God te vertrou nie. Jou werk is om gehoorsaam te wees; sy werk is om seker te maak dat jy wen. Wanneer jy jou deel doen, kan jy seker wees dat Hy sy deel sal doen.
Sielskos: Job 35-37; Luk 19:20-27; Ps 38:1-12; Spr 8:22-23
2018-09-01
Genesis 32:25 DB
Wanneer jy probeer weghardloop van God af, hardloop jy om elke draai in Hom vas. Dit het met Jakob gebeur. Hy het van sy broer, Esau, se woede af weggehardloop en toe dinge te warm vir hom by sy skoonpa se huis raak, het hy ook daarvandaan weggehardloop. Uiteindelik, toe hy nie meer kon hardloop nie, het hy in God by ‘n plek genaamd Pniël vasgehardloop. Dit is daar wat sy naam van Jakob, die bedrieër, na Israel, wat ”n prins met God’ beteken, verander is. Die Bybel sê: ‘Jakob het alleen duskant die rivier agtergebly. Terwyl hy nog so staan, het ‘n man hom skielik gepak en hulle twee het begin veg. Dit het tot dagbreek die volgende oggend aangehou. Toe die man sien Jakob is te sterk vir hom, het hy Jakob ‘n laaste harde hou op die heup gegee. Dit was so erg dat die heup heeltemal uit sy potjie gespring het. Die man sê toe: ‘Los my tog nou, want dit is al dagbreek.’ Jakob het toe gesê: ‘Ek sal nie. Voor ek jou los, moet jy my eers seën.’ ‘Wat’s jou naam?’ stotter die man. ‘My naam is Jakob,’ het Jakob geantwoord. ‘Van nou af,’ sê die man, ‘sal hulle jou Israel noem. Nie meer Jakob nie, maar Israel.’ Die man het verder gesê: ‘Vannag het jy teen God en mens geveg, en gewen’ (verse 24-28 DB). Toe God Jakob se heup ontwrig het, het Hy in wese vir hom gesê, ‘Jou dae van weghardloop is verby, en jou mankheid sal ‘n konstante herinnering aan jou totale afhanklikheid van My wees.’ Ons almal het ‘n ‘Jakob-ervaring’ nodig. Alles wat Jakob nodig gehad het, het hy gevind toe hy in God se arms ingehardloop het. Dieselfde is waar vir jou.
Sielskos: Jos 1-4; Luk 19:1-10; Ps 84; Spr 22:24-26
2017-07-23
2 Samuel 5:17 NLV
Paulus skryf, ‘Stry die goeie stryd vir dit waarin ons glo…’ (1 Timoteus 6:12 NLV). Jy moet veg vir sommige van God se beloftes. Die Jebusiete, wat Jerusalem beheer het, het vir Dawid gesê, ‘…Jy sal nooit hier inkom nie…’ (2 Samuel 5:6 NLV). Verwag dus teenstand teen jou visie, veral as jy nog nie bewyse het om dit te bekragtig nie. Om sake te vererger, was Jerusalem honderde meters bo Dawid se weermag en die enigste manier boontoe was deur ‘n waterkanaal, wat beteken dat hulle deur die modder sou moes optrek. ‘Nogtans het Dawid die Sionsvesting verower…’ (vers 7 NLV). Verstaan mooi, as Hy moet, sal God jou deur die modder optrek om jou op die troon te plaas. Let die woord ‘nogtans’ op. Wanneer jy tot by jou nek in probleme toegegooi is en die Vyand vir jou sê dat jy dit nie gaan maak nie, staan op God se beloftes en verklaar, ‘Nogtans.’ Staan in geloof op en eis wat God jou belowe het. ‘…Dié wat in hulle God glo, sal egter sterk staan en doen wat reg is’ (Daniël 11:32 NLV). Moet egter nie verwag dat almal behulpsaam gaan wees nie. ‘Toe die Filistyne hoor dat Dawid as koning gesalf is, het hulle almal opgetrek om hom te vang…’ Jy sal moet baklei om jou doelwit te bereik en jy sal moet veg om dit te behou. Met elke stryd sal jy na God toe moet draai vir nuwe instruksies. “Dawid raadpleeg toe die Here: ‘Moet ek teen die Filistyne optrek? Sal U hulle in my mag oorgee?’ En die Here het geantwoord: ‘Ja, trek op. Ek sal verseker die oorwinning aan jou gee'” (2 Samuel 5:19 NLV). Beweeg vandag vorentoe met die wete dat God by jou is.
Sielskos: Gen 5:22-24; Heb 11:5; 2 Kon 2:1-12; Hand 1:9-11