2021-02-16
Genesis 1:24 NLV
Die teorie van evolusie is onversoenbaar met die Bybel. God het gesê: ‘Laat die aarde allerlei soorte diere oplewer… almal na eie aard.’ Ook, ‘…Toe God mense geskep het, het Hy hulle na sy beeld gemaak… Toe Adam 130 jaar oud was, is sy seun Set gebore. Hy was die ewebeeld van sy pa’ (Genesis 5:1,3 NLV). Met ander woorde, die mens is nie net nog ‘n dier op die evolusionêre ketting nie. ‘Mikro-evolusie’ leer mens dat daar variasies binne spesies is. Daar is byvoorbeeld verskillende soorte honde, ens. Daar is egter geen wetenskaplike bewyse om ‘makro-evolusie’ – een spesie wat in ‘n ander spesie ontwikkel – te staaf nie.
Met betrekking tot die skepping, het dr Derek Prince geskryf: ‘Ek is eenvoudig genoeg om te glo dat dit gebeur het soos die Bybel dit beskryf. Ek was vir nege jaar lank ‘n professor aan Brittanje se grootste universiteit (Cambridge). Ek het verskeie grade en akademiese onderskeidings ontvang en ek voel dat ek op baie vlakke intellektueel gesofistikeerd is. Ek voel egter op geen manier intellektueel minderwaardig wanneer ek sê dat ek die Bybelse weergawe van die skepping glo nie. Voordat ek die Bybel geglo het, het ek baie ander pogings om die mens se oorsprong te verduidelik, bestudeer, maar ek het hulle almal onbevredigend en in baie gevalle selfs teenstrydig gevind. Ek het die Bybel as professionele filosoof – nie as ‘n gelowige nie – begin bestudeer en vir myself gesê: ‘Ten minste kan dit nie dwaser as van die ander dinge wat ek gehoor het, wees nie,’ maar tot my verbasing het ek ontdek dat dit die antwoord bevat het.’
Is jy opsoek na antwoorde vir jou lewensprobleme? Of rigting vir jou toekoms? Lees die Bybel en lewe volgens sy voorskrifte!
Sielskos: Pred 9-12; Matt 15:1-14; Ps 5; Spr 5:1-2
2020-10-05
Filippense 2:16 NLV
Jy moet korttermyn bevrediging met langtermyn vervulling vervang. Paulus som sy lewe en bediening in hierdie vers op: ‘…sal ek tevrede wees dat ek nie verniet gejaag en geswoeg het nie.’
Niks in die lewe is belangriker as die keuses wat jy maak nie. Die Bybel sê: ‘…Lot [het] sy tente tussen die stede in die vallei opgeslaan tot by Sodom (Genesis 13:12 NLV), en vir ‘n ruk het dit met Lot goed gegaan. Aan die einde het alles waarvoor hy gewerk het, egter in rook opgegaan. Ons lees volgende: ‘Nadat Lot vertrek het, sê die Here vir Abram: ‘Kyk bietjie rond in alle rigtings, so ver as wat jy kan sien. Hierdie land gaan Ek vir jou en jou nageslag as permanente eiendom gee’ (verse 14-15 NLV). Lot het die verkeerde rigting gekies en verloor. Abraham het die regte rigting gekies en gewen.
Keuses! Wanneer dit by keuses kom, moet jy dit ‘n gewoonte maak om jouself af te vra: ‘Hoe sal hierdie keuse my karakter, my selfrespek en my vrymoedigheid waarmee ek God nader, beïnvloed? Hoe sal dit my invloed en respek by ander mense affekteer? Hoe sal dit my familie en diegene wat in my voetstappe volg, affekteer?’
Die Bybel gee vir ons die antwoord: ‘Met so ‘n magtige skare toeskouers rondom ons om ons in die wedloop van die geloof dop te hou – kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ‘n houvas op mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê, ons oë vasgenael op Jesus, die Een op wie ons geloof vanaf die wegspring tot by die eindstreep steun…’ (Hebreërs 12:1-2 NLV).
Sielskos: 1 Sam 16-17; Luk 24:45-53; Ps 63; Spr 22:17-23
2019-03-04
Jesaja 30:21 NLV
Hoeveel keer het iets binne-in jou jou aangepor om ‘n sekere ding te doen, maar jy het eerder toegelaat dat die stem in jou kop die stem in jou gees uitdoof? Daardie innerlike stem is jou geestelike intuïsie, die deel van jou waarmee God praat. Die Bybel sê: ‘Jy sal ‘n stem hoor sê: ‘Hier is die regte pad. Draai om en loop hierlangs.” Die apostel Johannes stel dit so: ‘Julle almal weet egter waaroor dit gaan, want julle dra die salwing van die Heilige Gees’ (1 Johannes 2:20 NLV). Leer om hierdie ‘salwing’ te vertrou, want dit sal jou aansê: a) wat jy moet doen; b) wanneer jy moet optree; c) watter rigting om in te slaan; c) watter veranderinge jy moet maak. Wat ‘n wonderlike gawe – en tog gebruik ons dit selde! Ons is bang dat ons onmoontlik iets kan weet sonder om dit te deurdink, of omdat dit te voor-die-hand-liggend lyk. Ons dink, ‘Dit kan nie reg wees nie. Ek kan dit onmoontlik doen.’ Ons stry namens ons beperkinge, wat ons dan beperk! Leer om jou geestelike intuïsie te herken en te vertrou. Dis jou konneksie met die grootste bron van wysheid in die heelal – God se wysheid. Moenie verras wees wanneer dit wat jy in jou gees hoor, klink soos dit wat jy reeds baie vantevore gedink het maar geïgnoreer het nie. Die Bybel sê: ‘Dis mos God wat julle gewillig maak om te doen waarvan Hy hou, en Hy gee julle ook die vermoë om dit te kán doen!’ (Filippense 2:13 NLV). Die volgende keer wat jou geestelike intuïsie jou aansê om iets te doen en dit in lyn met die Skrif is, moenie bang wees om daarvolgens op te tree nie!
Sielskos: Eks 25-27; Luk 13:18-35; Ps 136; Spr 6:30-35
2019-02-23
Romeine 12:6 NLV
Onseker mense sê dikwels ja, wanneer hulle eintlik nee wil sê. Mense wat egter tevrede met hulself is, laat nie ander mense toe om hulle te beheer nie. Hulle sien hulself soos God hulle sien; hulle word dus deur sy Woord, in plaas van die vrees vir verwerping, gelei. Jy kan só hard probeer om almal gelukkig te hou, dat jy jouself verloor. Voel jy of jy nie alles kan wees wat mense wil hê jy moet wees nie? Wil jy nee sê, maar die vrees om ander mense te mishaag laat jou aanhou instem? Intussen bou die druk binne-in jou op en jy dink, ‘Ek kan hierdie nie meer doen nie’? Moenie vir die mense wat meer en meer eise aan jou stel kwaad word nie. Jy is die een wat verantwoordelik is om jou eie lewe te reël! Dit verg ‘n duidelike sin van jou eie waarde, jou roeping, jou rigting, jou doelwitte en jou prioriteite. ‘n Christelike skrywer sê: ‘Vir jare het ek onder die druk van almal se verwagtings geleef. Ek het gedink, ‘Wat as ek hulle in die steek laat?’ Ek het gedink dat hulle my onder druk plaas, terwyl dit egter my eie vrese en onsekerhede was wat my afgetrek het. ‘Gee jy dan nie om wat ander mense dink nie?’ vra jy. Wat ander mense dink is nie my probleem nie, tensy ek dit my probleem maak. My eerste prioriteit is om God te behaag en te wees wie Hy wil hê ek moet wees. As ek iemand anders probeer wees, sal ek sy seën prysgee, want God kan nie ‘n namaaksel seën nie.’ Die oplossing is om daaraan te werk om seker te wees wie jy in Christus is. Alles anders sal dan in plek val.
Sielskos: Eks 4-6; Luk 11:45-54; Ps 53; Spr 6:9-11
2018-12-05
1 Petrus 5:7 NLV
In die fliek Limitless, ontdek die akteur Bradley Cooper ‘n wonderpil wat die totale kapasiteit van sy brein oopmaak. Hy kan tale en komplekse wiskunde in ‘n fraksie van die tyd wat dit normale mense neem, leer. Hy kan amper alles wat hy lees of sien onthou. Hy kan vinniger en meer in-diepte as die beste finansiële ghoeroes analiseer. Hy is onbeperk. Hy gebruik dan sy vermoë om miljoene dollars te verdien en groot sukses te behaal. Jy dink seker, ‘Waar kan ek van daai pille in die hande kry?’ Vandag ervaar meer as 50 persent van mense stres oor hulle verhoudings. Meer as 60 persent word deur hulle werk uitgestres. Meer as 70 persent stres oor geld. As dit op jou van toepassing is, is die woord vir jou vandag: ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om.’ Jy sê, ‘As jy my skedule kan sien, sal jy verstaan hoekom ek by breekpunt is.’ Wie bepaal elke dag jou skedule? Een van drie mense sal dit doen. Of iemand anders sal jou skedule bepaal, óf jy sal dit self bepaal, óf jy kan na God toe gaan en Hom vra om jou skedule te bepaal. Een van die redes hoekom God ons toelaat om breekpunt te bereik, is om ons te forseer om na Hom vir leiding, krag en rigting te gaan. Daar is oorgenoeg in die lewe wat jy nie kan hanteer nie, maar daar is niks in die lewe wat jy en God nie saam kan hanteer nie. Die geheim lê daarin om slegs die goed wat God wil hê jy moet hanteer, te hanteer, en die res aan Hom toe te vertrou.
Sielskos: Gen 32-34; Joh 16:1-18; Ps 130; Spr 31:28-31