Luister na jou geestelike intuïsie

2019-03-04
Jesaja 30:21 NLV

Hoeveel keer het iets binne-in jou jou aangepor om ‘n sekere ding te doen, maar jy het eerder toegelaat dat die stem in jou kop die stem in jou gees uitdoof? Daardie innerlike stem is jou geestelike intuïsie, die deel van jou waarmee God praat. Die Bybel sê: ‘Jy sal ‘n stem hoor sê: ‘Hier is die regte pad. Draai om en loop hierlangs.” Die apostel Johannes stel dit so: ‘Julle almal weet egter waaroor dit gaan, want julle dra die salwing van die Heilige Gees’ (1 Johannes 2:20 NLV). Leer om hierdie ‘salwing’ te vertrou, want dit sal jou aansê: a) wat jy moet doen; b) wanneer jy moet optree; c) watter rigting om in te slaan; c) watter veranderinge jy moet maak. Wat ‘n wonderlike gawe – en tog gebruik ons dit selde! Ons is bang dat ons onmoontlik iets kan weet sonder om dit te deurdink, of omdat dit te voor-die-hand-liggend lyk. Ons dink, ‘Dit kan nie reg wees nie. Ek kan dit onmoontlik doen.’ Ons stry namens ons beperkinge, wat ons dan beperk! Leer om jou geestelike intuïsie te herken en te vertrou. Dis jou konneksie met die grootste bron van wysheid in die heelal – God se wysheid. Moenie verras wees wanneer dit wat jy in jou gees hoor, klink soos dit wat jy reeds baie vantevore gedink het maar geïgnoreer het nie. Die Bybel sê: ‘Dis mos God wat julle gewillig maak om te doen waarvan Hy hou, en Hy gee julle ook die vermoë om dit te kán doen!’ (Filippense 2:13 NLV). Die volgende keer wat jou geestelike intuïsie jou aansê om iets te doen en dit in lyn met die Skrif is, moenie bang wees om daarvolgens op te tree nie!

Sielskos: Eks 25-27; Luk 13:18-35; Ps 136; Spr 6:30-35