Doen iets daaraan!

2018-04-03
Efesiërs 2:10 NLV

Die Bybel sê God het ons ‘…só gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe.’ Ons lewe in ‘n verwoestende tyd. ‘n Biljoen mense ly honger, miljoene word as slawe verkoop en pandemiese siektes wis hele nasies uit. Elke jaar word amper twee miljoen kinders in die globale sekshandelbesigheid uitgebuit. In die paar minute wat dit jou neem om vandag se dagstukkie te lees, het amper negentig kinders aan voorkombare siektes gesterf. Meer as die helfte van die mense in Afrika het nie toegang tot moderne gesondheidsfasiliteite nie. Gevolglik sterf tien miljoen elke jaar as gevolg van diarree, longkwale, malaria en masels. Baie van hierdie sterftes kon deur een inspuiting voorkom gewees het. Jy vra, ‘Wat kan ek daaraan doen?’ God beantwoord gebede, dus kan jy bid vir diegene wat ly. Jy kan gee, of dit nou min of baie is. Jy kan ook vrywillige werk doen. Jy word deur wonderlike organisasies omring wat na die behoeftes van mense omsien. Jy moet betrokke raak, want jou lewe snel verby en as jy nie versigtig is nie, sal jy een dag opkyk en jou een kans op ‘n sinvolle lewe sal verby wees. Sommige mense bemoei hulle nie met sulke gedagtes nie. Hulle beweeg deur hulle dae sonder om hulle oë op te lig en te kyk. Hulle lewe en sterf en vra nooit hoekom nie. As jy wil hê dat jou lewe moet saakmaak, lewe dit op so ‘n manier dat die wêreld oor jou bly sal wees. Jy is geskep en verlos sodat jy ‘…die goeie werke wat Hy vir [jou] bestem het, kan uitlewe.’ Wanneer jy eendag voor God staan, sal Hy jou vra hoe goed jy jou opdrag uitgevoer het en jou daarvolgens beloon.

Sielskos: Jer 18-21; Matt 28:16-20; Ps 69:19-36; Spr 8:30-31

Wees lief vir jou kerk (2)

2018-03-27
Handelinge 27:31 NLV

Elke kerk het probleme – en mense wat die probleme veroorsaak. Dit was nog altyd so. Dink aan die kerk in Korinte. Sommige lidmate het gedurende nagmaal dronk geword, ander wou nie luister tensy hul gunsteling prediker aan die woord was nie. Een ou het selfs met sy stiefma ‘n verhouding gehad (sien 1 Korintiërs 5:1). Langs jou op Sondagoggende in die kerk sit daar ‘n paar baie disfunksionele mense. God hou egter aan om met ons te werk, omdat Hy ons potensiaal vir sy koninkryk sien. Nadat hy oor mense wat kla, kerm, begeer en gierig is geskryf het, het Judas sy kort boek met die volgende woorde afgesluit: ‘Aan Hom wat magtig is om julle van val te bewaar, en julle sonder vlek met groot vreugde voor sy heerlike teenwoordigheid stelling te laat inneem… behoort die heerlikheid…’ (vers 24 NLV). Paulus en 276 ander mense was in ‘n storm wat nie oorleefbaar gelyk het nie. Nogtans het hy vir hulle gesê, ‘…As hierdie mense nie op die skip bly nie, kan julle nie gered word nie.’ Beteken dit dat dit altyd verkeerd is om ‘n kerk te verlaat? Nee, maar maak seker dat jou redes Skriftuurlik en nie self-gesentreerd is nie. Jy sê, ‘Die pastoor se preke is te lank.’ Paulus het een keer so lank gepreek dat ‘n man wat in ‘n venster op die derde vloer gesit het, aan die slaap geraak het en tot sy dood geval het. Wat het Paulus gedoen? Hy het hom die hande opgelê, hom weer lewendig gemaak en hom weer in die venster laat sit om na die res van die preek te luister (sien Handeling 20:9-11). As jou kerk probleme het, moenie loop nie; bly en bid. Dis hoe dinge verander.

Sielskos: Jer 4-6; Matt 27:11-19; Ps 55:12-23; Spr 8:19-21

Breek jou albaste fles (3)

2018-03-14
Markus 14:6 NLV

Toe die vrou haar albaste fles gebreek het, was die reaksie van die dissipels treffend. ‘…Hoekom hierdie verkwisting van duur olie?..’ (vers 4 NLV). Hulle het gedink sy verspil haar parfuum toe sy dit oor Jesus se voete gegiet het. Hulle het dit ‘n vermorsing genoem, maar Hy het dit “‘n weldaad” genoem. Toe het Hy voortgegaan om te sê, ‘Ek verseker julle, waar hierdie Goeie Nuus ook al oor die hele wêreld verkondig sal word, sal daar ook gepraat word van wat sy gedoen het, en so sal sy vir altyd onthou word!’ (vers 9 NLV). Kan jy jou indink wat so ‘n stelling vir haar selfvertroue gedoen het? Sy het heel waarskynlik jare laas ‘n vriendelike woord of ‘n kompliment gekry. Niemand kan potensiaal soos Jesus raaksien nie, omdat Hy die Een is wat dit in die eerste plek vir ons gee. Dis ook hoekom God nooit op jou sal opgee nie. Dis nie in sy aard nie (sien Filippense 1:6). Sy ‘…goedheid en trou vergesel [jou] al die dae van [jou] lewe…’ (Psalm 23:6 NLV). Hierdie vrou was desperaat genoeg om ongenooid by die partytjie op te daag. Jesus reageer op desperate mense. Hoe desperaat is jy? Desperaat genoeg om ‘n verandering te maak, om ‘n opoffering te maak? Desperaat genoeg om deurnag te bid? Die hele Bybel te lees? Die konflik op te los? Met ‘n vriend, wat ‘n verlore saak is, te pleit? Om jou spaargeld vir die uitbreiding van die koninkryk te skenk? Die pad van die minste weerstand sal jou nie bring waar jy moet wees nie. As jy egter vir God uit jou pad gaan, sal God vir jou uit sy pad gaan.

Sielskos: 2 Kon 9-10; Matt 23:15-28; Ps 28; Spr 7:14-20

Gee jou beste vir God

2018-03-09
2 Samuel 24:24 NLV

In plaas van om God vir oorwinning oor sy vyande te vertrou, het Dawid uit sy eie uit besluit om die aantal soldate in sy weermag te tel om te sien hoe sterk hulle is. God het dit as ‘n ‘klap in die gesig’ gesien en ‘n plaag het Israel getref wat sewentig duisend mense uitgewis het. Om die plaag te stop, moes Dawid die volgende doen: ‘…Gaan bou ‘n altaar vir die Here op die dorsvloer van Arauna die Jebusiet’ (vers 18 NLV). Toe Arauna agterkom wat aan die gang is, het hy sy dorsvloer en osse vir Dawid verniet aangebied. Dawid het egter gesê: ‘Nee, Arauna, ek dring aan om dit te koop teen die volle prys. Ek kan nie vir die Here my God brandoffers aanbied wat my niks kos nie…’ Dus het Dawid hom 50 sikkels silwer vir die osse en die dorsvloer betaal. Dawid het ‘n altaar vir die Here daar gebou en die brandoffers en maaltydoffers daar gebring. Die Here het sy gebed beantwoord, ‘…Daarna het die Here die gebede vir die land verhoor, en die plaag in Israel het opgehou’ (vers 25 NLV). Wanneer dit kom by die dien van die Here, as dit jou niks kos nie, tel dit nie! God weet dat ons nie almal dieselfde aantal of bedrag kan gee nie. Hy vra egter nie iets van jou wat gelyk is aan aantal of bedrag nie, maar wat gelyk is aan opoffering! Die Bybel sê, ‘Vereer die Here met alles wat jy besit. Gee vir Hom die beste van jou oes’ (Spreuke 3:9 NLV). Of dit nou by lofprysing, bediening of gawes kom, maak seker dat jy jou beste vir God gee.

Sielskos: Op 19-22; Matt 22:1-14; Ps 106:1-23; Spr 7:1-2

Geheime vir selfbeheersing (7)

2018-03-06
Galasiërs 5:16 NLV

Maak op Christus se krag staat om jou te help.   ‘… Laat julle leefstyl eerder deur die Gees bepaal word. Dan sal julle glad nie aan die begeertes van julle sondige geaardheid toegee nie.’  Let op dat dit nie sê dat jy glad nie daardie begeertes sal hê nie. Geesgevulde mense ervaar steeds die begeertes van die menslike vlees, dis net dat hulle nie daaraan toegee nie.  Ons het dit gewoonlik andersom. Ons sê, ‘Ek is nie goed genoeg om God se Gees in my lewe te hê nie. Sodra ek my lewe in orde kry, dan gaan ek toelaat dat die Heilige Gees my lewe beheer.’  God sê nie, ‘Kry jouself onder beheer en dan sal Ek jou help’ nie. Hy sê, ‘Laat my Heilige Gees jou beheer terwyl jy steeds met die probleem sukkel. Ek sal jou help verander.’ Dit maak ‘n groot verskil. Jy sal nie sê, ‘Ek gaan eers beter word en dan gaan ek die dokter sien nie.’ Dis absurd! Jy het Christus nou in jou lewe nodig! Hy het die mag om jou te help verander. Jy sê, ‘Maar ek geniet wat ek doen.’ Dit is omdat daar ‘…kortstondige genieting van die sonde’ (Hebreërs 11:25 NLV), is. Niemand van ons sal sondig as dit ons onmiddellik ongelukkig maak nie. Moenie van God verwag om die versoeking van sonde tot niet te maak nie; vra Hom vir die krag om die versoeking te oorkom. ‘Dis mos God wat julle gewillig maak om te doen waarvan Hy hou, en Hy gee julle ook die vermoë om dit te kán doen!’ (Filippense 2:13 NLV). Jy sal die begeerte en krag ontvang om dit te doen wat reg is.

Sielskos: Op 5-9; Matt 21:1-17; Ps 77; Spr 6:29