Gebed (2)

2025-02-06
Lukas 18:1 NLV

‘n Doktorale student aan die Princeton Universiteit het eendag in Albert Einstein se kantoor ingeloop en gevra: ‘Wat is daar in die wêreld vir oorspronklike proefskrifnavorsing oor?’ Die briljante wetenskaplike het geantwoord: ‘Vind uit oor gebed.’ Einstein was nie die enigste persoon wat nuuskierig oor gebed was nie. Jesus het mense daarin onderrig, omdat die dissipels Hom gevra het om dit te doen. Hulle mag dalk nie proefskrifte daaroor wou skryf nie, maar hulle wou weet hoe om te bid.

“Eenmaal was Jesus êrens besig om te bid. Toe Hy klaar was, het een van sy dissipels na Hom gekom en gesê: ‘Here, leer ons om te bid…'” (Lukas 11:1 NLV). Die dissipels het Jesus gesien waar Hy besig was om te bid. Die manier waarop Hy gebid het was blykbaar soveel anders as die manier wat hulle gebid het, dat hulle gesê het: ‘Wys ons om te bid soos U bid.’ Voor Jesus die skare op ‘n bonatuurlike wyse kos gegee het, of sy twaalf dissipels uitgekies het, of die storm op die see van Galilea gekalmeer het, het Hy die tyd geneem om eers te bid. Die resultate van sy gebede was so wonderbaarlik dat sy dissipels gesê het: ‘Here, leer ons om te bid.’

Gebed gaan nie hoofsaaklik daaroor om vir God te sê wat jy nodig het nie; dis om nader aan God te beweeg. Soos een pastoor skryf: “Dis amper asof God sê: ‘Moenie vir My jou inkopielys bring nie. Ek weet klaar wat daarop staan. Ons sal dit later hanteer. Bring vir My jou hart. Bring vir My jou liefde. Bring vir My jou onverdeelde aandag.'” Gebed gaan nie hoofsaaklik daaroor om dinge van die Here te kry nie; dit gaan daaroor om tyd met God te bestee.

Sielskos: Gen 20-23; Luk 8:40-56; Ps 125; Spr 4:3-4

Gebed (1)

2025-02-05
Lukas 11:1 NLV

‘n Bekende pastoor het met ongekende eerlikheid gesê: ‘Gebed is die grootste stryd waarmee ek sukkel. Dit is moeilik om ‘n konsekwente gebedslewe te handhaaf en veral soms moeilik om die oortuiging te handhaaf dat dit werk.’ Gebed kom vir die meeste van ons nie natuurlik nie. Ons weet dat dit veronderstel is om ‘n dialoog te wees, maar dit voel meestal soos ‘n monoloog. Daar is niks ergers as om met iemand te probeer praat wat nie terug wil praat nie. Ons hou nie daarvan om dit te erken nie, maar wat ons dikwels oor gebed wonder is die volgende: ‘Hoe kan ek bid sodat God vir my dit wat ek wil hê sal gee?’ ‘n Klein seuntjie is gevra of hy elke aand sy gebed opsê. Hy het geantwoord: ‘Nee, party aande het ek niks nodig nie.’

Gebed gaan nie oor die spesifieke woorde wat jy gebruik of hoe lank jy bid nie. Dit gaan oor kennismaking. Dit gaan daaroor om ‘n verhouding te bou. As jy met iemand oor iets moet praat, mag jy dalk sê: ‘Kom ons kry gou ‘n plek waar ons kan gesels.’ Jy wil seker maak dat jy gehoor word en dat jy hoor wat die ander persoon sê. Wanneer jy die geraas van hierdie wêreld elimineer, verhoog jy jou vermoë om God te hoor. Dit wys God dat jy jou verhouding met Hom ernstig opneem.

Die psalmdigter het gesê: ‘Hy wat woon in die skuilplek van die Allerhoogste, sal rus in die skadu van die Almagtige’ (Psalm 91:1 NLV). Het jy ‘n ‘skuilplek’ waar jy alleen saam met God kan wees? Dit kan enige plek wees. Jy het egter ‘n plek nodig waar jy kan gaan en jou verhouding met God kan bou.

Sielskos: Gen 17-19; Luk 8:26-39; Ps 67; Spr 4:1-2

Bid met passie

2024-12-15
Kolossense 4:12 NLV

Hier is wat Paulus oor Epafras, ‘n dissipel wat so onbekend is dat jy heel waarskynlik nie sy naam herken nie, gesê het: ‘Epafras… bid altyd ernstig vir julle dat julle as volwasse gelowiges met volle oortuiging in alles die wil van God sal bly doen. Ek kan regtig daarvan getuig dat hy hom baie oor julle bekommer…’ (verse 12-13 NLV). Jakobus skryf: ‘Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word. Die gebed van iemand wie se saak met die Here reg is, het ‘n kragtige werking’ (Jakobus 5:16 NLV).

Biskop Joseph Hall, ‘n sewentiende-eeuse Anglikaanse priester, is in die Toring van London as gevolg van sy geloof opgesluit. Hy het sy laaste jare op ‘n plaas in die platteland deurgebring deur dagstukkies te skryf. Hier is wat hy oor gebed opgemerk het: ‘An arrow, if it be drawn up but a little way, goes not far; but if it be pulled up to the head, flies swiftly and pierces deep. Prayer, if it be only dribbled forth from careless lips, falls at our feet. It is the strength of [discharge] and strong desire that sends it to heaven, and makes it pierce the clouds. It is not the arithmetic of our prayers, how many they are; nor the rhetoric of our prayers, how eloquent they be; nor the geometry of our prayers, how long they be; nor the music of our prayers, how sweet our voice may be; nor the method of our prayers, how orderly they may be; nor the divinity of our prayers, how good the doctrine may be – which God cares for. Fervency of spirit is that which availeth much.’

Die Here antwoord die gebede van diegene wat met passie bid. Raak dus ernstig oor gebed en gee jouself ten volle daaraan oor!

Sielskos: Heb 11:1-6; Matt 21:18-22; Matt 8:5-13; Mark 6:1-6

Bid sonder om ‘n woord te sê

2024-04-05
Matteus 6:32 NLV

Jesus het gesê: ‘Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg’ (vers 33 NLV). Jy vra: ‘Wanneer ek aan God dink, is dit dieselfde as om te bid?’ Dit kan wees. Ons is almal bekend met die krag van ongesproke kommunikasie. Baie van ons het met ouers grootgeword wat niks hoef te gesê het om hul wil bekend te maak nie. Dit kon dalk ‘n sekere kyk in hulle oë of ‘n ander ongesproke gebaar gewees het. Ons het egter presies geweet wat gekommunikeer word en hoe daar van ons verwag was om te reageer.

Gebed werk dieselfde. Wanneer jy aan God dink, is dit ‘n gebed; en wanneer God sy gedagtes aan jou terug kommunikeer, is dit ‘n vorm van beantwoorde gebede. ‘n Seuntjie wou graag ‘n fiets vir Kersfees gehad het. Een aand het hy luidkeels gebid en presies vir God vertel watter kleur en maak sy fiets moes wees. Sy ma het gesê: ‘Seun, jy hoef nie te skree vir God om jou te hoor nie.’ Hy het geantwoord: ‘Ek weet Mamma, maar ek moet skree sodat Oupa kan hoor en vir my daardie fiets kan koop!’

Die waarheid is dat jy nie vir God hoef te skree om jou te hoor nie en jy hoef nie antwoorde op jou gebede te probeer optower nie. Jesus het gesê: ‘…Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.’ Hoekom dan die tyd neem om te bid? Want God wil hê dat jy Hom met vertroue moet nader, Hom met al jou behoeftes moet vertrou en ‘n verhouding met Hom moet bou. Dis waaroor dit gaan!

Sielskos: Jer 25-27; Mark 1:9-15; Ps 31; Spr 8:34-36

Gebed voorsien ons van God se oogpunt

2024-01-19
Kolossense 4:2 NLV

Die woord ‘waaksaam’ verwys na die Ou Testamentiese gebruik om op ‘n stadsmuur te sit en wag te hou. Hierdie manne was die eerste mense wat gewapende magte of reisende handelaars sien aankom het. Hulle het die optimale uitkykpunt gehad. Hulle het gesien wat niemand anders kon sien nie. Hulle het alles vroeër as almal anders gesien.

Dit is presies wat gebeur wanneer ons bid. Ons sien wat niemand anders sien nie en ons sien dit vroeër as ander mense. Hoekom? Omdat gebed ons van God se oogpunt voorsien; dit verhoog ons bewustheid en gee ons ‘n sesde sintuig wat ons in staat stel om geestelike realiteite te kan waarneem.

In hulle bekende boek, Geeks and Geezers, maak die besigheidskenners Warren Bennis en Robert Thomas ‘n interessante opmerking oor wat suksesvolle leiers in elke veld in gemeen het. Bennis en Thomas noem hulle eersteklas waarnemers. ‘Wanneer jy ‘n eersteklas waarnemer is, stel dit jou in staat om talent te ontdek, geleenthede te identifiseer en struikelblokke te vermy. Leiers wat oor en oor sukses behaal begryp konteks meesterlik. Dis een van daardie karaktereienskappe, soos smaak, wat moeilik is om te ontleed. Die vermoë om ‘n reeks faktore te oorweeg, sommige so subtiel soos hoe verskillende groepe mense ‘n gebaar sal interpreteer, is een van die kenmerke van ‘n ware leier.’

Gebed verander ons in eersteklas waarnemers. Dit help ons om te sien wat God wil hê ons moet waarneem. Hoe meer jy bid, hoe meer neem jy waar. Hoe minder jy bid, hoe minder neem jy waar. Dis so eenvoudig soos dit. Hier is ‘n Bybelse formule vir sukses in enige area van die lewe: ‘Hou aan om te bid. Bid terwyl julle geestelik waaksaam en dankbaar is.’

Sielskos: Dan 3-4; Matt 7:1-14; Ps 84; Spr 2:16-19