2024-12-15
Kolossense 4:12 NLV
Hier is wat Paulus oor Epafras, ‘n dissipel wat so onbekend is dat jy heel waarskynlik nie sy naam herken nie, gesê het: ‘Epafras… bid altyd ernstig vir julle dat julle as volwasse gelowiges met volle oortuiging in alles die wil van God sal bly doen. Ek kan regtig daarvan getuig dat hy hom baie oor julle bekommer…’ (verse 12-13 NLV). Jakobus skryf: ‘Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word. Die gebed van iemand wie se saak met die Here reg is, het ‘n kragtige werking’ (Jakobus 5:16 NLV).
Biskop Joseph Hall, ‘n sewentiende-eeuse Anglikaanse priester, is in die Toring van London as gevolg van sy geloof opgesluit. Hy het sy laaste jare op ‘n plaas in die platteland deurgebring deur dagstukkies te skryf. Hier is wat hy oor gebed opgemerk het: ‘An arrow, if it be drawn up but a little way, goes not far; but if it be pulled up to the head, flies swiftly and pierces deep. Prayer, if it be only dribbled forth from careless lips, falls at our feet. It is the strength of [discharge] and strong desire that sends it to heaven, and makes it pierce the clouds. It is not the arithmetic of our prayers, how many they are; nor the rhetoric of our prayers, how eloquent they be; nor the geometry of our prayers, how long they be; nor the music of our prayers, how sweet our voice may be; nor the method of our prayers, how orderly they may be; nor the divinity of our prayers, how good the doctrine may be – which God cares for. Fervency of spirit is that which availeth much.’
Die Here antwoord die gebede van diegene wat met passie bid. Raak dus ernstig oor gebed en gee jouself ten volle daaraan oor!
Sielskos: Heb 11:1-6; Matt 21:18-22; Matt 8:5-13; Mark 6:1-6
2024-04-05
Matteus 6:32 NLV
Jesus het gesê: ‘Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg’ (vers 33 NLV). Jy vra: ‘Wanneer ek aan God dink, is dit dieselfde as om te bid?’ Dit kan wees. Ons is almal bekend met die krag van ongesproke kommunikasie. Baie van ons het met ouers grootgeword wat niks hoef te gesê het om hul wil bekend te maak nie. Dit kon dalk ‘n sekere kyk in hulle oë of ‘n ander ongesproke gebaar gewees het. Ons het egter presies geweet wat gekommunikeer word en hoe daar van ons verwag was om te reageer.
Gebed werk dieselfde. Wanneer jy aan God dink, is dit ‘n gebed; en wanneer God sy gedagtes aan jou terug kommunikeer, is dit ‘n vorm van beantwoorde gebede. ‘n Seuntjie wou graag ‘n fiets vir Kersfees gehad het. Een aand het hy luidkeels gebid en presies vir God vertel watter kleur en maak sy fiets moes wees. Sy ma het gesê: ‘Seun, jy hoef nie te skree vir God om jou te hoor nie.’ Hy het geantwoord: ‘Ek weet Mamma, maar ek moet skree sodat Oupa kan hoor en vir my daardie fiets kan koop!’
Die waarheid is dat jy nie vir God hoef te skree om jou te hoor nie en jy hoef nie antwoorde op jou gebede te probeer optower nie. Jesus het gesê: ‘…Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.’ Hoekom dan die tyd neem om te bid? Want God wil hê dat jy Hom met vertroue moet nader, Hom met al jou behoeftes moet vertrou en ‘n verhouding met Hom moet bou. Dis waaroor dit gaan!
Sielskos: Jer 25-27; Mark 1:9-15; Ps 31; Spr 8:34-36
2024-01-19
Kolossense 4:2 NLV
Die woord ‘waaksaam’ verwys na die Ou Testamentiese gebruik om op ‘n stadsmuur te sit en wag te hou. Hierdie manne was die eerste mense wat gewapende magte of reisende handelaars sien aankom het. Hulle het die optimale uitkykpunt gehad. Hulle het gesien wat niemand anders kon sien nie. Hulle het alles vroeër as almal anders gesien.
Dit is presies wat gebeur wanneer ons bid. Ons sien wat niemand anders sien nie en ons sien dit vroeër as ander mense. Hoekom? Omdat gebed ons van God se oogpunt voorsien; dit verhoog ons bewustheid en gee ons ‘n sesde sintuig wat ons in staat stel om geestelike realiteite te kan waarneem.
In hulle bekende boek, Geeks and Geezers, maak die besigheidskenners Warren Bennis en Robert Thomas ‘n interessante opmerking oor wat suksesvolle leiers in elke veld in gemeen het. Bennis en Thomas noem hulle eersteklas waarnemers. ‘Wanneer jy ‘n eersteklas waarnemer is, stel dit jou in staat om talent te ontdek, geleenthede te identifiseer en struikelblokke te vermy. Leiers wat oor en oor sukses behaal begryp konteks meesterlik. Dis een van daardie karaktereienskappe, soos smaak, wat moeilik is om te ontleed. Die vermoë om ‘n reeks faktore te oorweeg, sommige so subtiel soos hoe verskillende groepe mense ‘n gebaar sal interpreteer, is een van die kenmerke van ‘n ware leier.’
Gebed verander ons in eersteklas waarnemers. Dit help ons om te sien wat God wil hê ons moet waarneem. Hoe meer jy bid, hoe meer neem jy waar. Hoe minder jy bid, hoe minder neem jy waar. Dis so eenvoudig soos dit. Hier is ‘n Bybelse formule vir sukses in enige area van die lewe: ‘Hou aan om te bid. Bid terwyl julle geestelik waaksaam en dankbaar is.’
Sielskos: Dan 3-4; Matt 7:1-14; Ps 84; Spr 2:16-19
2023-03-17
Psalm 51:9 NLV
Onthou jy toe die meeste restaurante vasgestelde ure gehad het? Hulle skedule het bepaal of jy honger moes gaan, al dan nie. Nie meer nie: nou kan jy enige tyd wanneer jy honger raak, by baie van jou gunsteling eetplekke inhardloop. Dis hoe God werk; Hy is 24/7 beskikbaar. Alhoewel gebed nie tot sekere tye beperk word nie, is daar sekere tye wat dit noodsaaklik is om met God te praat. Hier is twee van daardie tye:
1) Wanneer jy gesondig het. Jou emosies van skuld en skande, plus Satan ‘die aanklaer,’ sal jou aansê om God te vermy. Die enigste oplossing vir sonde is egter om na Hom toe te draai. Belas deur owerspel, misleiding en moord, het Dawid besef dat hy sy sonde aan God moet bely. ‘Neem weg my sonde met hisop sodat ek skoon kan wees, was my dat ek witter as sneeu kan wees… Skep vir my ‘n rein hart, o God. Gee vir my ‘n nuwe, standvastige gees’ (verse 9, 12 NLV). Johannes het gesê God ‘…is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede’ (1 Johannes 1:9 NLV). Het jy gesondig? ‘n Nuwe begin is net ‘n gebed weg.
2) Wanneer jy bekommerd en bang is. Jy hoef nie ver te kyk om dinge te kry om oor bekommerd te wees nie. Bekommernisse oor finansies, werk, gesondheid en familie kan jou gestres en angstig maak. Waarnatoe moet jy draai? Gebed is God se antwoord op vrees en angs. ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles… As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:6-7 NLV).
Sielskos: Job 1-4; Luk 18:1-17; Ps 11; Spr 8:4-5
2023-01-31
Filippense 4:7 NLV
Wyse mense maak nooit belangrike besluite terwyl hulle in ‘n verkeerde emosionele toestand is nie. Toe Elia uitgevind het dat koningin Isebel op sy spoor is, was hy gereed om sy rol as profeet op te gee en te sterf. Dus het God vir hom veertig dae van rus, gebed en herstel gegee. Toe was hy gereed om op die basis van sy geloof in God en nie as gevolg van sy vrees vir Isebel nie, besluite te neem. Sy besluit na veertig dae van rus was baie anders as wat dit voor sy rustydperk sou gewees het.
Jy het seker al gesien hoe mense vreeslike besluite, wat hulle nooit andersins sou geneem het nie, neem wanneer hulle gedreineer, moeg, ontmoedig en bang is. Oor die algemeen sal jy nie die regte plan van aksie kies wanneer jy in die verkeerde gemoedstoestand is nie. Wanneer jy ‘n belangrike besluit moet maak, is die wysste ding wat jy kan doen om te wag totdat jy uitgerus is. ‘n Angstige gemoedstoestand in ‘n moeë liggaam kan tot ‘n baie verkeerde besluit lei.
Die Bybel sê: ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (verse 6-7 NLV).
Die vrede van God sal jou gedagtes oppas, sodat jy nie impulsief, selfsugtig of kwaadwillig sal optree nie. Dit sal jou oppas sodat jy nie op enige manier optree wat verlies eerder as wins en spyt eerder as vreugde tot gevolg sal hê nie.
Sielskos: Gen 17-19; Luk 7:1-10; Ps 107:17-22; Spr 3:21-24