Vergewe ander mense (2)

2022-02-26
Jeremia 31:18 NLV

Die Bybel sê vir ons: “[Isak] het die putte wat sy pa gegrawe het… weer oopgegrawe… Maar die plaaslike skaapwagters het die fontein vir hulleself toegeëien. ‘Dis ons water,’ het hulle gesê… Hy het weer verskuif en nog ‘n put gegrawe. Hierdie keer het die plaaslike mense hom met rus gelaat. Hy noem toe die put Rehobot, ‘want,’ het hy gesê, ‘uiteindelik het die Here vir ons ruimte gemaak. Hier sal ons nou voorspoedig wees'” (Genesis 26:18-22 NLV).

Wat ‘n wonderlike voorbeeld van vergifnis wat beoefen word. Gedurende ‘n droogte het Isak putte grawe, maar sy vyande het inbeweeg en die putte vir hulself toegeëien. Dit was nie regverdig nie, maar in plaas daarvan om te baklei, het Isak aanbeweeg en nuwe putte gegrawe – en God het hom ryklik geseën.

Die waarheid is dat God die leegheid in jou lewe sal vul wanneer jy diegene wat jou seergemaak het, vergewe. So lank as wat ons hierdie planeet met ander onvolmaakte mense deel, sal hulle ons seermaak. Ons kan dit nie vermy nie. Wanneer die wond diep sny, kan dit moeilik wees om te vergewe.

Beteken dit dat jy moet rondgaan en maak asof niks verkeerd is nie en jou gevoelens moet ontken? Nee, die eerste stap na genesing is om jou gevoelens te erken. Jesus het vir ons die tweede stap gegee: ‘…Bid vir hulle wat jou seermaak’ (Lukas 6:28 NLV). Wanneer jy dit doen, gebeur daar iets onverwags. Jou hart begin sag word en jy begin om die oortreder deur God se oë, in plaas van jou eie rou emosies, te sien. ‘Maar ek wil hulle nie vergewe nie!’ sê jy. Dan is daar stap drie. Erken jou onwilligheid om te vergewe en vra God om jou gewillig te maak. Bid: ‘…Bring ons terug en herstel ons…’

Sielskos: Eks 4-6; Luk 12:1-12; Ps 58; Spr 6:12-15

Bid vir goeie oordeel (1)

2021-12-18
1 Kronieke 12:32 NLV

Wie het gesê: ‘Wellington is ‘n slegte generaal, die Engelse is slegte soldate; ons sal die kwessie teen middagete opgelos hê’? Napoleon Bonaparte, net voor die slag van Waterloo in 1815. Wie het gesê: ‘Ek dink daar is wêreldwyd ‘n mark vir omtrent vyf rekenaars’? Thomas J. Watson, die voorsitter van IBM, in 1943. Wie het gesê: ‘Ek het nie lyfwagte nodig nie’? Jimmy Hoffa, ‘n maand voor sy verdwyning in 1975.

Wat het al hierdie mense in gemeen? ‘n Gebrek aan goeie oordeel – wat hulle duur te staan gekom het. Jy het goeie oordeel nodig om die lewe se geleenthede raak te sien en die lewe se probleme op te los. As jy die ware oorsaak van ‘n probleem kan raaksien, sal jy ‘n baie groter kans hê om dit op te los.

Dit beteken dat wanneer jy in die area van jou kerngawe bly, jou oordeel sterker sal wees. As jy dus goeie oordeel aan die dag wil lê, moet jy in areas waar jy sterk is te werk gaan. Doen egter meer as dit. Bid vir goeie oordeel. Dis een van die nege ‘vrugte van die Gees’ wat in die Skrif aan ons belowe word (sien 1 Korintiërs 12:7-10).

Sommige van Israel se grootste oorwinnings het plaasgevind toe Dawid koning was. As ons kyk na die mans wat sy weermag opgemaak het, lees ons: ‘…Hierdie manne [van Issaskar] het die tye verstaan en geweet wat vir Israel die regte pad is.’ Goeie oordeel help jou om deure van geleenthede te sien waar ander mense net baksteenmure sien. Dis sal jou van die lewe se slaggate red en jou wys wat ‘die regte pad’ is – bid dus vir goeie oordeel.

Sielskos: Sag 5-8; Joh 20:19-31; Ps 67; Spr 30:29-33

Berei voor deur gebed

2021-11-05
Matteus 26:40 NLV

In Getsemane het Jesus teruggekom ‘…by die dissipels en kry hulle aan die slaap. Hy sê vir Petrus: ‘So, kon julle dan nie eers een uur saam met My wakker bly nie? Wees waaksaam en bid. Anders sal die versoeking vir julle te sterk word. ‘n Mens se gees is wel gewillig, maar jou liggaam hou nie altyd by nie’ (vers 40-41 NLV). Jesus was net ure van die kruis af weg en het sy dissipels gevra om vir Hom te bid.

Dink net hoe teleurgesteld Hy was om hulle aan die slaap te vind! Miskien het hulle nie genoeg rus die vorige aand gekry nie. Miskien was hulle uitgeput na ‘n harde dag se werk. Ons was al almal slagoffers van lomerigheid, dus moet ons nie verbaas wees dat hulle aan die slaap geraak het nie, maar ons is! Ons is geskok, omdat dit so ‘n belangrike nag was. Hierdie nag, meer as enige ander nag, het die dissipline van gebed vereis. Die dissipels het ‘n groot geleentheid om Jesus in sy uur van nood te bemoedig en versterk, misgeloop. Hulle het ook die geleentheid om hulself te versterk, misgeloop.

Satan weet dat as hy jou van gebed kan weerhou, jy magteloos sal wees. Hy is die meester van afleiding. Dink hoe dikwels hy jou al van stiltetyd met God besteel het, deur dinge soos die televisie, die telefoon, die internet, ‘n deurmekaar huis of jou swaar ooglede te gebruik. Jou stiltetyd met God is nie iets wat jy by jou skedule probeer ‘inpas’ nie, dis iets wat jy moet prioritiseer, of dit sal nie gebeur nie. Jy weet nie wat elke dag vir jou inhou nie, maar deur gebed en om tyd met God se Woord te bestee, kan jy jou hart vir enigiets voorberei.

Sielskos: 1 Kro 7:20-9:44; Joh 8:31-41; Ps 30; Spr 25:13-17

Rooi ligte en groen ligte (3)

2021-10-28
Jesaja 30:21 NLV

Iemand het een keer geskerts: ‘Toe Columbus sy reis begin het, het hy nie geweet waarheen hy op pad is nie. Toe hy daar aangekom het, het hy nie geweet waar hy is nie. En toe hy tuis gekom het, het hy nie geweet waar hy was nie.’ Ons het almal hulp nodig om te weet watter rigting om in te slaan; of ons moet verhuis of nie, ‘n sekere werk moet aanvaar, ensovoorts. Goeie nuus! God sal jou lei en wanneer jy ‘n verkeerde afdraai vat, sal Hy jou weer op die regte pad bring.

Hier is drie maniere waarop Hy dit doen: 1) Deur wyse raad. Ander was al in dieselfde situasie as jy. ‘Onthou julle voorgangers… Dink aan watter voorbeeldige lewe hulle enduit gelei het en vertrou soos hulle op God’ (Hebreërs 13:7 NLV). Is jou besigheid in die moeilikheid? Gaan praat met ‘n suksesvolle entrepreneur. Ondervind jy ‘n middeljarekrisis? Voor jy iets doen waaroor jy gaan spyt wees, vra vir hulp. Salomo het gesê: ‘Vir ‘n dwaas is net sy eie pad die regte een. Iemand wat wys is, luister na ander se raad’ (Spreuke 12:15 NLV).

2) Deur gebed en om te luister na God se stem. Jesus het gesê: ‘My skape luister na my stem; en Ek ken hulle en hulle volg My’ (Johannes 10:27 NLV). Jesaja skryf ook: “Jy sal ‘n stem hoor sê: ‘Hier is die regte pad. Draai om en loop hierlangs.'” Dis die tipe gerusstelling wat jy nodig het. Dus: ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles…’ (Filippense 4:6 NLV).

3) Deur die Skrif. Paulus sê: ‘Laat die rykdom van alles wat Christus ons leer, julle leefstyl bepaal…’ (Kolossense 3:16 NLV). Dit beteken egter dat jy die Skrif moet lees, dit moet verpersoonlik en daarvolgens moet optree.

Sielskos: Esra 9-10; Joh 7:1-13; Ps 104:1-18; Spr 24:26-27

Gebed (6)

2021-09-21
Johannes 15:7 NLV

In Mei 1996 het ValuJet vlug 592 in ‘n moeras in Florida neergestort. 110 passasiers is in die ramp oorlede. Kundiges in die vloot het met spesiale tegnologie, maar sonder sukses, probeer om die vliegtuig se swart boks op te spoor. Deur aan ‘n tou vas te hou wat hulle op ‘n afstand van ‘n meter uitmekaar gespasieer het, het die soekgeselskap deur elke sentimeter vuil water gesoek. Na veertien dae het hulle niks gekry nie. Die fisiese toestande was ondraaglik. Die son het op hulle neergebak en die temperatuur het tot bo dertig grade celcius gestyg. Diesel en bytende hidrouliese vloeistof het in die water gedryf, wat die soekgeselskap genoop het om verskeie lae beskermende rubber te dra. Die twee weke het hulle gedehidreerd gelaat, maar hulle moes die swart boks opspoor.

Sersant Felix Jimenez was deel van die soekgeselskap. Vir veertien dae lank het hy vir die bedroefde families en die veiligheid van sy medewerkers gebid. Toe hy op die vyftiende dag ‘n ruskans neem, het hy skielik besef dat hy vergeet het om vir een belangrike ding te bid: dat God hulle sou help om die swart boks te kry. Dus het hy God vir leiding gevra, die soektog hervat en toe hy sy paal in die water steek, het hy iets metaalagtig getref. Hy het die voorwerp uit die modder uit getrek. Dit was die swart boks.

Jimenez skryf: “Ek het aan die baie dae gedink wat ons vir die opnemer gesoek het, hoe ons verskeie kere daaroor moes geloop het en ek het gewonder hoekom dit ons so lank geneem het om dit op te spoor. Te midde van die lae geritsel van gras en die geroep van die wilde reier, het dit geklink asof ek die antwoord hoor: ‘Waarom het dit jou so lank geneem om te vra?'”

Sielskos: 2 Kor 11:16-13:14; Luk 22:39-53; Ps 19; Spr 21:3