Gebed (5)

2021-09-20
Romeine 8:26 NLV

Gebed werk soos die 911 noodgevalsisteem. Die sisteem werk as volg: Jy hoef net die nommer te skakel, voor jy dadelik aan ‘n operateur gekonnekteer word wat opgelei is om kalm in noodsituasies te bly en wat in staat is om kontak met die nooddiens wat nodig is om onmiddellik hulp te stuur, te maak. Jy mag dalk nie presies kan sê wat die probleem is nie. Miskien het ‘n geliefde pas ‘n hartaanval gehad en jy is so buite jouself dat jy net oor die telefoon kan skree. Geen probleem. Die operateur het nie al die details nodig nie. Hy weet waar die oproep vandaan kom en hulp is op pad.

Daar is tye wat ons in ons wanhoop en pyn 911-gebede nodig het. Ons is oorweldig. Soms weet ons nie watter woorde ons moet sê nie. God hoor ons egter. Hy ken ons naam en ons situasie. Hulp is op pad; Hy het alreeds die oplossing begin bring. ‘Die Gees van God help ons ook nog boonop in ons onbeholpenheid. Ons weet immers nie mooi wat en hoe ons moet bid nie. Maar die Gees self neem ons gebedsbehoeftes voor God op met versugtinge wat nie in menslike taal verwoord kan word nie. Dié God, wat die dieptes van elke hart deurgrond, weet wat die Gees in die oog het – dat Hy in harmonie met God se wil vir die gelowiges intree. En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe’ (verse 26-28 NLV).

John Bunyan het die volgende oor gebed gesê: ‘In gebed is dit beter om ‘n hart sonder woorde te hê, as wat jy woorde sonder ‘n hart het.’

Sielskos: Lev 23:33-44; Joh 7:1-40; Sag 14:16-21

Gebed (4)

2021-09-19
Psalm 91:15 NLV

Bill Gates was gekoppel aan die rekenaarnetwerk wat ons die Internet noem. Hiermee kan intekenare elektroniese pos (e-pos) aan ander gebruikers van die internet stuur. Oorspronklik het Gates, net soos almal anders, ‘n e-pos adres gehad. Hy het egter probleme begin kry toe The New Yorker tydskrif sy e-pos adres gepubliseer het. Skielik kon enigiemand vir die rekenaargenie ‘n e-pos stuur. Hy was blitsvinnig toegegooi onder duisende e-posse – hy kon eenvoudig nie al die boodskappe hanteer nie. Dus het hy sagteware op sy rekenaar gelaai wat sy e-posse kon filter, deur belangrike e-posse te laat deurkom, terwyl al die ander e-posse uitgewis is.

Ons is beperk; ons kan net soveel hanteer en soveel doen. God, aan die ander kant, raak nooit moeg vir g-pos (geestelike pos), nie. Sy oor is altyd oop vir ons gebede. Hy het ‘n onbeperkte kapasiteit om te help. Jy sal Hom nooit hoor sê: ‘As gevolg van ‘n buitengewone hoë oproepvolume, kan Ek jou oproep nie tans neem nie. Bel asseblief terug of los ‘n boodskap.’

Nee, die Bybel sê: ‘Hy sal roep, en Ek sal antwoord; in nood sal Ek by hom wees. Ek sal hom red en in eer herstel’ (Psalm 91:15 NLV). ‘…Die regverdige kry waarvoor hy gehoop het’ (Spreuke 10:24 NLV). ‘Die Here… is bly oor die gebede van opregtes’ (Spreuke 15:8 NLV). ‘Vra My, en Ek sal jou ‘n antwoord gee. Ek sal jou van ongelooflike dinge vertel. Dit is nou nog vir jou ‘n geheim, en jy weet niks daarvan nie’ (Jeremia 33:3 NLV). ‘As julle aan My verbind bly en my woorde ‘n stewige vastrapplek in julle gekry het, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry’ (Johannes 15:7 NLV).

Sielskos: Gen 2:7-25; 1 Kor 15:39-55

Gebed (3)

2021-09-18
1 Tessalonisense 5:17 NLV

Die Bybel sê: ‘Moenie ophou bid nie.’ As jy jouself aanhoudend kan bekommer, kan jy aanhoudend bid; jy moet net jou fokus verander! Probeer jou die volgende voorstel: ‘n vyandige leër het gekom om Israel uit te wis. Dus sê Moses vir Josua: ‘Neem jou beste soldate en gaan veg teen hulle. Ek gaan twee mans neem, die koppie uitklim wat oor die slagveld uitkyk, my hande na die hemel toe opsteek en vir oorwinning bid’ (sien Eksodus 17:8-9). Soos Moses se hande hemelwaarts gestrek het, het Josua se troepe geseëvier. Wanneer Moses se arms egter moeg geword het en hy hulle laat sak het, het die gety van die geveg gedraai. Weer het Moses sy arms na die hemel toe uitgestrek om die saak voor die Here te bring. Dadelik het die stryd se momentum weer na Josua en sy troepe toe verskuif. Toe het Moses besef – hy moet sy arms na die hemel toe uitgestrek hou indien hy die deur vir God se bonatuurlike ingryping hier op aarde, wou oopmaak.

Daar is ‘n les hieruit te leer. As jy gewillig is om God uit te nooi om by jou daaglikse lewe betrokke te raak, sal jy sy krag in jou huis, jou verhoudings, jou beroep, ensovoorts, ervaar. Die ander kant van die vergelyking is egter ontnugterend: dis moeilik vir God om sy krag in jou lewe vry te stel wanneer jy jou hande in jou sakke steek en sê: ‘Ek kan dit self hanteer.’ Wanneer jy dit doen, moet jy nie verbaas wees indien jy die knaende gevoel kry dat die gety van die geveg teen jou gedraai het en dat jy magteloos is om iets daaraan te doen nie. Om God se krag in jou lewe te ervaar, moet jy aanhoudend bid, Skriftuurlik bid, en in geloof bid.

Sielskos: 2 Kor 9:1-11:15; Luk 22:24-38; Ps 24; Spr 21:1-2

Gebed (2)

2021-09-17
Matteus 7:11 NLV

Phillips Brooks het gesê: ‘Bid die grootste gebede. Jy kan nie aan ‘n gebed dink wat so groot is dat God, wanneer Hy dit beantwoord, nie sal wens dat dit groter is nie.’ Wanneer ons vir ons kinders lief is, wil ons graag goeie dinge vir hulle gee. Dis hoe God oor ons voel: ‘As sondige mense soos julle dan goed weet om goeie dinge aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader goeie dinge gee aan hulle wat dit van Hom vra!’

Sommige van ons sukkel om die geskenke wat God vir ons gee, veral materiële dinge, te aanvaar. Een dame het gesê: ‘Ek onthou duidelik dat ek gevoel het dat God dalk ‘n fout gemaak het. Hoekom sou Hy dit vir my gee? Ek het inderwaarheid skuldig gevoel, asof ek iets verkry het wat God nie regtig wou gehad het ek moet hê nie.’

Dink hoe wreed die volgende woorde sou klink as hulle jou houding as ouer verteenwoordig het: ‘Ek is te besig. Ek wil nie van jou probleem by die skool hoor nie. Moenie my met jou persoonlike versoeke pla nie. Ek sal vir almal anders, behalwe vir jou, sorg. As jy lief is vir my, sal jy van brood en water leef. Ja, ek is ryk, maar hoekom sal ek enigiets vir jou gee?’ Goeie ouers praat nie so nie! Hulle wil net die beste vir hulle kinders hê.

Neem dus ‘n goeie ouer se gevoelens vir hul kind, vermenigvuldig dit eksponensieel, en jy sal begin verstaan hoe God oor jou voel. Niemand se stem klink vir Hom soeter as joune nie. Niks in die wêreld weerhou Hom daarvan om sy volle aandag aan jou versoeke te gee nie. Kom dus na Hom toe in gebed.

Sielskos: 2 Kor 5-8; Luk 22:14-23; Ps 78:65-72; Spr 20:26-30

Gebed (1)

2021-09-16
Psalm 65:3 NLV

Markus skryf: ‘Nog voor dagbreek die volgende oggend het Jesus opgestaan en alleen op ‘n stil plek gaan bid’ (Markus 1:35 NLV). Jesus het elke oggend deposito’s gemaak sodat Hy deur die dag onttrekkings daaruit kon maak. Baie van ons doen dit egter nie en ‘n mens kan dit sien! R.A. Torrey het gesê: ‘Ons is te besig om te bid en so is ons te besig om krag te ontvang. Ons het baie aktiwiteite, maar ons bereik min daardeur.’

Die pastoor van ‘n mega-kerk het erken dat hy vir jare meer van gebed geweet het as wat hy gebed beoefen het. Een dag het God sy skedule onderbreek en hom aangesê om gebed te ondersoek, te bestudeer en dit te beoefen totdat hy dit ten volle verstaan. Die resultate was lewensveranderend.

Hy skryf: ‘Dit is twintig jaar sedert ek die tyd begin neem het om te bid. My lewe is getransformeer. Die grootste vervulling wat ek daaruit ontvang het, is nie die lys van wonderbaarlike antwoorde wat ek op gebed ontvang het nie – alhoewel dit wonderlik is – die grootste opwinding daarvan is die verskil in kwaliteit in my verhouding met God. Toe ek begin bid het, het ek nie geweet wat gaan gebeur nie. God en ek was vroeër slegs terloops aan mekaar bekend. Ons het nie gereeld bymekaar gekom nie en nie baie gesels nie. Nou, kom ons egter baie bymekaar en het elke oggend wesenlike, siels-ondersoekende gesprekke met mekaar. Ek voel asof ek God baie beter leer ken het sedert ek begin bid het.’

Martin Luther het gesê: ‘Ek het dikwels al meer in een gebed geleer as wat ek deur baie studie en nadenke kon verkry.’ Wil jy God beter leer ken? Begin bid!

Sielskos: Lev 16; Lev 23:26-32; Heb 9:1-14; Heb 13:11-16